DR HF VERWOERD

ONS EIE HELDE

Lees reeks by Ons eie helde

Dr JP Botha

Toe ek, Hendrik Frensch Verwoerd, op 8 September 1901 in Amsterdam gebore is, was die uitwissingsoorlog wat Groot Brittanje teen die Boere in Suid-Afrika gevoer het in al sy felheid aan die gang.  My ouers, Wilhelm en Anje Verwoerd, het intens meegeleef met die heroïese stryd wat Transvaal en die Vrystaat teen die Engelse oormag gevoer het en het ywerig gehelp om geld in te samel om die ellende van die vroue en kinders te verlig.  Toe president Kruger in die mooi dorp Hilversum naby Amsterdam kom woon, het my pa hom persoonlik gaan besoek en soveel deernis ervaar met die lot van die eensame President en sy geteisterde volk in Suid-Afrika, dat daar by hom 'n begeerte ontstaan het om na Suid-Afrika te verhuis en sy lot met dié van die dapper Boere te gaan inwerp.

Ek was nog maar skaars twee jaar oud toe ons huisgesin op 16 Oktober 1903 Holland verlaat en na Suid-Afrika verhuis het.  Hier het ek en my ouer broer Len 'n paar jaar later in Wynberg in die Lutherse laerskool skoolgegaan.  Toe ek al kon lees, was JHH de Waal se avontuurverhale 'n feesmaal om te verslind en ek het ook baie gehou van D'Arbez se historiese verhale.

In 1912 het ek, my broer en suster Lucie, wat aan die Kaap gebore is, saam met my moeder na Bulawayo verhuis, waar my pa toe al 'n rukkie lank as oefenaar sendingwerk gedoen het.  Hier in die Milton High School is in 1915 'n Beit-beurs aan my toegeken en my naam op die ererol van die skool geplaas.  Ek het die hoogste punte in Rhodesië in Engelse letterkunde behaal en die Engelsmannetjies so 'n bietjie Engelse stof in die oë geskop.  Ek was ook paaltjieswagter en kaptein van die skool se tweede krieketspan.

Onderwyl ons hier in Rhodesië gebly het, het die Eerste Wêreldoorlog in Europa uitgebreek.  Generaal Hertzog het met sy De Wildt-toespraak en kreet van "Suid-Afrika eerste", generaal Botha se oorlogspoging aan die kant van Engeland teengestaan, die Nasionale Party is in Bloemfontein gestig en die rebellie het uitgebreek.  Toe ons in 1917 na die Vrystaat verhuis, is ons gewaarsku dat ons na 'n rebelleland gaan, maar ek het toe gesê dit pas my, want ons ís rebelle!

My pa se werk in Rhodesië het opgedroog en ons het nou in Brandfort gaan woon waar hy as kolporteur vir die Vrystaatse NG Kerk aangestel is.  In ons nuwe skool het ek gou reggekom en later losskakel gespeel vir ons rugbyspan, maar ek kon nie in 1918 die matriekeksamen aflê nie, want ons het almal siek geword aan die groot Griepepidemie wat die hele wêreld geteister het en waaraan in Suid-Afrika byna 12 000 blankes en 128 000 gekleurdes omgekom het.  Ek het toe eers in Februarie 1919 die eksamen afgelê en eerste in die provinsie gekom en vyfde in die land.

My  universiteitsjare het toe voorgelê en ek het op Stellenbosch gaan inskryf.  Onder die oudstudente se name het ek dié aangetref van JC Smuts, JBM hertzog, DF Malan en JG Strydom.  My studentejare is gekenmerk deur volle deelname aan die meeste aktiwiteite en bedrywighede waarmee 'n mens jou, afgesien van studie, kan besig hou.  Deur dosente en studente is gedurende hierdie mooi jare 'n pragtige gees van volkstrots en nasionalisme uitgestraal, wat uiting gevind het in sang, toneel- en musiektoere.  Dit was aangenaam.

Aan die einde van 1921 het ek die BA-graad met lof behaal en my toe as MA-student in Sielkunde ingeskryf, wat ek aan die einde van 1922 ook met lof verwerf het, voordat ek in 1923 my doktorale studies voortgesit het onderwyl ek in dieselfde jaar ook voorsitter van die studenteraad was.  Een van die lede van die raad was die aantreklike Betsie Schoonbee, met wie ek later getroud is.

Die volgende jaar, 1924, het ons die vreugde beleef van die oorwinning van die Nasionale Party by die algemene verkiesing waar generaal Smuts verslaan is en generaal Hertzog die leisels oorgeneem het.  Ek het aan die einde van die jaar gepromoveer  tot doktor in die Wysbegeerte en in my vak Sielkunde as lektor begin klasgee.  Ek het kort daarna twee studiebeurse verower, maar die kleiner Duitse aanbod aanvaar omdat dit beter geleentheid vir navorsing gebied het.

Ek het in 1925 in Duitsland aangekom toe die volk nog niks van Adolf Hitler wou weet nie en hulle nog gladnie gesteur het aan sy boek Mein Kampf, wat  hy in die tronk geskryf het nie.  Onderwyl ek in Berlyn was, is 'n koerantredakteurspos uit Suid-Afrika my aangebied, wat ek nie aanvaar het nie, want die volk van Suid-Afrika het my in die opvoeding nodiger gehad en ek wou my liewer daarin verder bekwaam.

My verloofde, Betsie Schoonbee, het in 1927 in Europa aangekom, waarna ons in die huwelik getree het.  Ons vriende het gepraat van die kontras tussen die lang, blonde man en die klein, donkerkop meisie, wat so 'n gelukkige paartjie uitmaak.  Sy het toe reeds 'n skitterende akademiese opleiding voltooi met BA met lof, Onderwysdiploma met lof, BEd met lof en MA in Afrikaans-Nederlands.  Ons het deur Europa getoer, die VSA besoek en is toe huis toe waar 'n taak op ons gewag het.

Ek is in 1928 by die Universiteit van Stellenbosch aangestel as professor in toegepaste sielkunde en psigotegniek en in 1933 weer as professor in sosiologie en maatskaplike werk en het toe die hoof geword van hierdie departement.  Die sosiologie het my in aanraking gebring met ons land se groeiende armblankevraagstuk.  Ons het 'n volkskongres op Kimberley gereël om te beraadslaag wat aan hierdie kommerwekkende probleem gedoen kon word.

Twee jaar later is aan my die hoofredakteurspos van die nuwe nasionale koerant, Die Transvaler, wat in 1937 in Johannesburg tot stand gekom het, aangebied.  Die paar jaar wat ek aan die universiteit verbonde was, het my laat besef dat my diens maar net tot 'n klein groepie uitgelese studente beperk was.  Daarom het ek die aanbod aangeneem met die voorneme om vir ons Afrikanervolk tot groter diens te wees met my toetrede tot die joernalistiek en koerantwese.

Na die samesmelting van die ou NP en SAP in 1934, wat toe Smuts en Hertzog se Verenigde Party geword het, het hulle lyfblad in Transvaal, Die Vaderland, 'n baie vyandige houding teen dr Malan se Gesuiwerde Nasionale Party ingeneem en was die stigting van Die Transvaler baie nodig om die boodskap van suiwer Afrikaner-nasionalisme in ons noordelike provinsie uit te dra en  saam met die Leeu van Waterberg, advokaat JG Strydom, sy aan sy te veg.

Ek het in ons nuwe koerant sommer uit die staanspoor 'n sterk republikeinse klank laat hoor, om by ons Afrikaanse lesers weer die begeerte te wek en die strewe te versterk om in Suid-Afrika weer 'n eie, vrye republiek tot stand te bring.  Dit het gelei tot die grootste samewerking en vriendskap met meneer Strydom, wat die republikeinse ideaal net so sterk soos ek verwesenlik wou sien.  Die simboliese ossewatrek wat gedurende die Voortrekkereeufeesjaar plaasgevind het, het die Afrikaner laat ontwaak uit sy moedelose slaap en stukrag gegee aan die republikeinse strewe.  Maar toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitbreek, het dit almal se gedagtes oor 'n republiek tydelik op die agtergrond geskuif.

Die oorlog het voortgewoed en generaal Smuts het Suid-Afrika letterlik uitgemergel om moeder Engeland ter wille te wees.  Ons Afrikaners was verward en het in 'n barre politieke woestyn verkeer.  Klein groepies soos die Gryshemde, die Nuwe Orde en die Afrikanerparty wou elkeen op sy eie manier teen die Smutsregering veg.  Die Ossewa-Brandwag is as 'n kultuurorganisasie gestig, maar het hom spoedig op die politieke veld begewe en vir ons Nasionale Party 'n mededinger geword.  Te midde van al die onsekerheid en harwar het ek Die Transvaler suiwer op die republikeinse pad gehou.  Die teëparty het nie daarvan gehou nie en al antwoord wat hulle daarop kon gee, was om in die nag van 2 Februarie 1941 'n horde amokmakende soldate die gebou van Voortrekkerpers te laat plunder.  Maar ons het dit oorleef en voortgegaan.

Toe die oorlog in Mei 1945 tot 'n einde kom, het ons Nasionale Party met rasseskrede begin groei, deels as reaksie teen al die ellende wat Smuts met sy oorlogmakery ons aangedoen het en ook as gevolg van die onvermoeide ywer en werk van manne soos JG Strydom, dr Albert Hertzog, CR Swart en natuurlik ons hoofleier, dr DF Malan self.  Maar die pragtige oorwinning wat ons by die algemene verkiesing van April 1948 oor die Smutsparty behaal het, was nogtans vir almal 'n verrassing.  Ek het voor die verkiesing as redakteur van Die Transvaler bedank en my in Alberton verkiesbaar gestel, maar nie die paal gehaal nie.  Toe ons nuwe Nasionale regering die Senaat hersaamstel, is ek as senator benoem.  Ek het my deur selfstudie en ondersoek deeglik op die hoogte gestel met die aard en funksies van hierdie gewigtige regeringsliggaam en met die omvang en besonderhede van die dreigende naturellevraagstuk.  Dit was ook baie nodig, want in die wantrouedebat van 3 September 1948 het die opposisieleier beweer dat ons regering nie die volle implikasies van apartheid aan die volk stel nie.

Ek het toe vir hulle beskryf watter ideale verwesenlik kan word deur die toepassing van ons apartheidsbeleid.  Niemand sal ontken dat vir die naturel sowel as vir die blanke volkome skeiding die ideaal sou gewees het as die geskiedenis so verloop het nie.  As hier 'n blanke Suid-Afrika was, soos daar 'n blanke Engeland en blanke Nederland en 'n blanke Frankryk is, en as daar êrens vir die naturelle 'n naturellestaat was, en as hierdie blanke staat ekonomies en andersins selfgenoegsaam kon ontwikkel het soos daardie Europese state op hul eie ontwikkel het, dan sou ons die wrywing en moeilikhede wat ons vandag het, nie gehad het nie.  Dit is die ideale toestand en al kan dit nie bereik word nie, moet 'n mens sy oog na die sterre rig om te kyk hoe naby jy kan kom aan wat die beste is, die volmaakte.  Hou in die oog wat vir jou land die beste sal wees en probeer om dit te bereik binne die beperkings wat in jou weg gelê word.

Toe het ek vir hulle die praktiese uitwerking van apartheid geskets ten opsigte van gebied- en woonbuurtskeiding en hoe dit die selfstandige ontwikkeling van die naturel in alle opsigte sal stimuleer en bevoordeel.  Maar ek het ook aangetoon dat apartheid met regverdigheid gepaard gaan, ook teenoor die blankes. Vir die toekoms is dit inderdaad nie die naturel wat bedreig word nie maar die blanke, wie se regte verdedig moet word.  Apartheid is vir ons land die enigste "weg na die sterre", wat vir die behoud en voordeel van wit en swart  met alle mag en krag deurgevoer en verwesenlik moet word.

Sou daar iets met die opposisie se intelligensie geskort het omdat hulle nie kon verstaan wat ek aan hulle probeer verduidelik het nie?  Hulle pers het hoog ingesit op die wysie van "Don't give them a sporting chance".  Ons parlementêre meerderheid was maar bitter klein, maar ons regering wou nie skrik nie en het deur wetgewing in die toepassing van ons apartheidsbeleid die Suid-Afrikaanse bevolking in sy tradisionele beddings begin uitkeer.  Daar het aparte geriewe op die Skiereilandse treine, in poskantore en ander openbare plekke gekom en huwelike tussen blank en nieblank is verbied.

In 1950 het daar belangrike politieke verskuiwings plaasgevind toe generaal Smuts oorlede is en deur advokaat Strauss as leier van die opposisie opgevolg is en ek as Minister van Naturellesake in dr Malan se kabinet aangestel is.  Ek het my met hart en siel aan my taak gewy en kort daarna die Senaat vier en 'n halfuur lank toegespreek en vir hulle ons regering se Bantoebeleid uiteengesit, ontleed, verdedig en uitvoerig op al hulle vrae geantwoord.  Ek het die Bantoes in hul eie reservate in die vier provinsies en Suidwes besoek.  Ek het soms klein groepies in die veld toegespreek en ander kere weer magtige skares.  Ek het 'n strooihoed as geskenk ontvang, tromme, skildvelle, assegaaie, skape en beeste en potte bier.  Hulle het lofgedigte op my gemaak en my begroet as Rapula - die man wat reën gebring het.  Ek het oral my boodskap van geregtigheid aan almal en van vreedsame naasbestaan in 'n groot land verkondig.  Daar was probleme ook, maar ek het geglo dat moeilikhede altyd verbygaan en dat 'n volk en sy drome voortleef.

My werk in hierdie pos as 'n sleutelminister in die kabinet van dr Malan het die opposisie verontrus toe hulle sien hoeveel sukses ons behaal.  Hulle pers het op my losgetrek en gesê ek is 'n nazis, 'n apartheidsapostel en ek staan net vir blanke baasskap.  Ek is Verwoerd die onversetlike, Verwoerd die meedoënlose, Verwoerd die diktator.  Hul beledigings het nie inslag by ons mense gevind nie en ook nie by almal van hulle s'n nie.

Maar die meule het bly maal.  Ons het die Groepsgebiedewet deurgevoer om aparte woongebiede vir al die rassegroepe af te baken en 'n bietjie later ook 'n wet op die onderdrukking van Kommunisme om die Rooi gevaar te stuit.  Die armblanke-vraagstuk is teen 1950 opgelos en planne is beraam om Sasol op te rig om petrol uit steenkool te vervaardig.

Toe breek die algemene verkiesing van 15 April 1953 aan waarmee ons Nasionale Party sy meerderheid in die volksraad tot nege en twintig vergroot.  Ons Afrikanerdom was koersvas op die oorwinningspad.  Maar dr Malan het gevoel dat sy volkstaak afgehandel was en het op 10 Oktober aangekondig dat hy gaan uittree.  Ek het in meneer Strydom wat hom opgevolg het, se kabinet voortgegaan met my werk as Minister van Naturellesake.  Vir die senatore het ek weer die apartheidsbeleid gekarakteriseer as die beleid wat groei uit eie wortels, uit eie instellings en uit eie krag.  Dit is die beleid van gestadigde ontwikkeling:  deur moedertaal en deur omgewingsleer tot geletterde en bruikbare mense binne hulle eie kringe; deur stabilisering van die grond na die optimum gebruik daarvan; deur erf- en diensskemas na goeie ekonomiese behuising vir almal; van tradisionele stam deur stamowerheid na streeksowerheid en na territoriale owerheid; deur elementêre opvoeding vir almal na die skepping van 'n breë basis waarop vooruitgang moontlik is; vir die uitstaandes en die sterk persoonlikhede onder die Bantoe, deur gemeenskapsdiens na konstruktiewe leierskap.  Ons het ons ten doel gestel om dit alles te verwesenlik, maar miskien nie binne afsienbare tyd nie.

In meneer Strydom se kort tydperk as premier het ons die Union Jack amptelik gestryk, Simonstad as vlootbasis by Groot-Brittanje oorgeneem en Die Stem van Suid-Afrika as volkslied aanvaar.  Maar gedurende die laaste paar jaar voor meneer Strydom se betreurde heengaan, het ons almal begin besef dat indien die republiek nie binne die volgende vyfjaar-periode tot stand gebring word nie, die tyd miskien vir altyd verby sou gaan.  Ek was van mening dat ons 'n republiek kon uitroep met 'n meerderheid van selfs net een stem, maar daarvan wou meneer Strydom nie hoor nie.  Hy het ons party in  April 1958 tot 'n nuwe hoogtepunt in die algemene verkiesing gelei en vir die eerste keer ons getal setels tot oor die honderd opgestoot.  Ek het in Heidelberg gestaan en die setel verower.

Die Eerste Minister het in Julie ernstig siek geword.  Hy is op 24 Augustus oorlede en die Nasionale Party-koukus het my as hoofleier aangewys, sodat ek op 2 September 1958 Suid-Afrika se sesde premier geword het.  Ek het daardie dag voor die parlementsgebou gesê ons glo ons plig is aan Suid-Afrika as 'n geheel en ons sal aanhou om, soos in die verlede, ons land te dien soos dit vir ons die beste lyk ooreenkomstig die beginsels van groot belang, en beginsels waaraan ons altyd getrou sal bly.  Ek aanvaar my verkiesing as 'n roeping om my plig te doen.  Ek het nog daardie selfde dag my kabinet aangekondig en kennis gegee dat ek hom gaan vergroot.

My verkiesing en aanstelling as Eerste Minister van ons land het uit verskillende oorde verskillende reaksie en kommentaar uitgelok.  Toe my ou vader in Brandfort daardie dag met gelukwensings oorstroom is, het hy ewe trots opgemerk:  "Toe ek die dag in 1903 by Kaapstad aan wal gestap het met die tweejarige knaap aan my hand, het ek nooit kon dink dat ek vir Suid-Afrika 'n premier bring nie."  Maar die oorsese pers het gebulder dat ek een van die mees onwrikbare voorstanders van blanke baasskap is, dat my loopbaan op ekstremisme gegrondves is, dat ek in werklikheid 'n diktator is wat weinig van die Nazi's verskil.

Maar daardie aand het ek ons volk oor die radio gerus gestel en verseker dat ek nie so'n bullebak is as wat ons vyande wil voorgee nie, maar dat ek as toekomstige regeerder van 'n gelowige land steeds my krag en leiding by ons God sal soek wat die lotgevalle van nasies beheer.  Hy het toegelaat dat ons land tans in rou gedompel is, maar die lewe van 'n volk duur altyd voort.  Ek is volgens sy wil aangewys om in 'n nuwe tydperk die leiding van die regering op my te neem.  Dat dit met ons land en ons nasie wel sal wees, glo ons vas want God regeer.

Ek het ook ons begeerte om vreedsame en viendskaplike verhoudings met die buiteland en Afrika te handhaaf, uitgespreek en ons kleurbeleid, soos in afsonderlike ontwikkeling vervat, uiteengesit en die totstandkoming van 'n eie, vrye republiek vir Suid-Afrika in die vooruitsig gestel.  Ek ag ook die ekonomiese ontwikkeling van ons land, soos die landbou, die mynwese, nywerheid en die handel van groot belang.  Daarby is ons ook van plan om opbouwerk aan die kultuurfront nie te verwaarloos nie.  Die vraagstukke van ons land raak al hoe meer ingewikkeld, maar ek aanvaar my taak blymoedig en met vaste geloof, want die geweldige sterk stroom van besielde nasionalisme wat ons volk beetgepak het soos nog nooit tevore nie, dra ons voort. So lank as  wat hierdie onoorwinlike krag uit die volk gebore ons bly dra, sal ons doen wat Suid-Afrika van ons eis.

In die parlement was ek genoodsaak om ook onmiddellik die stryd teen die opposisie aan te knoop.  Hulle het my uitgesonder met die blykbare doel om my te ontsenu, deur met 'n vlaag aanvalle en kritiek oor ons verklaarde beleid vorendag te kom wat nie altyd ter sake was nie, maar na 'n week het 'n verteenwoordiger van die opposisiepers half moedeloos en verslae geskryf:  "Ons het 'n hele week van ons nuwe Eerste Minister in elke denkbare gedaante agter die rug  -  ontstoke Verwoerd, vrolike Verwoerd, profetiese Verwoerd, nederige Verwoerd, innemende Verwoerd, gesellige Verwoerd, selfs demokratiese Verwoerd.  As 'n mens oor die saak nadink, sien jy inderdaad net 'n hele optog van dr Verwoerds.  Dit is merkwaardig hoe dr Verwoerd daarin geslaag het om die hele Suid-Afrikaanse toneel te oorheers sedert hy regeringshoof geword het."

Maar die opposisie was nie werklik so beïndruk met my doen en late dat hulle ooit ons beleid sou goedkeur nie.  Ons het in 1959 voortgegaan met die uitbouing daarvan ter voorbereiding vir die skepping van onafhanklike Bantoestans, soos die latere Transkei en Bophutatswana.  Ons het die blankes van Suid-Afrika se belange ook nie laat agterbly nie deur die stigting van 'n republiek en watter voordele dit vir ons land sou meebring, in die vooruitsig te stel.  Ek het die aankondiging in die parlement op 20 Februarie 1960 gedoen dat die beslissing oor republiekwording deur 'n vraag aan die volk gestel sal word by wyse van 'n volkstemming, 'n referendum.  Die nasionaliste het gejuig, maar die opposisie het verpletter gelyk.  Hulle het beteuterd en verslae in hul banke bly sit, asof my aankondiging 'n bom tussen hulle laat ontplof het, so oorbluf was hulle.

Kort daarna in Februarie 1960 kom Harold Macmillan, Britse premier en sy vrou en sy gevolg in Kaapstad aan, na 'n Afrika- toer en spreek 'n gesamentlike vergadering van die Unie-parlement toe.  Hy vertel toe dat die "winde van verandering" wat eers in Indië en omstreke gewaai het en tot daardie lande se onafhanklikheid gelei het met Britse goedkeuring en hulp, ook nou besig is om oor Afrika op te steek en dat moeder Engeland onderneem het om dié Afrika-state waar die nasionale bewussyn so toeneem, tot volle onafhanklikheid te lei.  Daarom hou hy nie van Suid-Afrika se beleid van afsonderlike ontwikkeling nie omdat dit sogenaamd 'n stok in die wiel steek van die Britse planne.

Ek het toe vir hom gesê die neiging in Afrika dat volke onafhanklik word en die behoefte om aan almal reg te laat geskied, beteken nie net regverdigheid teenoor die swartman van Afrika nie, maar ook regverdigheid teenoor die witman van Afrika.  Ons glo in   ewewigtigheid.  Ons glo daarin om presies dieselfde geleenthede as vir die swartes binne bereik van die witman te laat in die gebiede wat hy beset het, want die witman het alles wat in Afrika tot stand gekom het, moontlik gemaak.  Ons is 'n deel van die Westerse wêreld, 'n ware blanke staat in Afrika wat aan die swartman 'n volle toekoms in ons midde wil toeken, maar ons weier om voor swart oorheersing te kapituleer, want ons is onontbeerlik vir die blanke wêreld.

Ek weet nie of Macmillan op die vliegtuig huis toe weer verder aan hierdie inligting geherkou het nie. In dieselfde jaar was daar heelwat onrus en onluste soos by Sharpeville wat deur die ANC en ander vyande van Suid-Afrika onder die swartes aangeblaas is, maar wat ons gou onder beheer gebring het.  Maar ek het ook in dieselfde jaar, 1960, geleentheid gehad om verskeie groot vergaderings te hou waar ek aan ons mense die noodsaaklikheid van die totstandkoming van 'n republiek vir Suid-Afrika voorgehou het.  By Meyerton, waar 80,000 mense op 26 Maart byeen was, het ek met 'n briefie in my sak verhoog toe gestap wat 'n veiligheidsbeampte aan my gegee het en waarop gestaan het:  "Today we kill Verwoerd."  Die mooi vergadering, waar ek die skare uitgenooi het om saam met ons te stry om die republiek te verwesenlik, het egter verder sonder voorval verloop.

Op Saterdag, 9 April het ek om 2:15 namiddag voor 30 000 mense in Milnerpark, Johannesburg gestaan om die jaarlikse Paastentoonstelling in die Uniefeesjaar te open.  Na my toespraak en besigtiging van die diere in die arena, sou ek die bekers oorhandig.  Net toe het 'n man die afskorting vir eregaste binnegestap en my met 'n rewolwer twee skote in my gesig geskiet.  Dit was David Pratt, glo 'n ryk en gesiene persoon.  Hy het sy rewolwer met 'n glimlag tussen die bekers ingeslinger voordat hy oorrompel is.  Die hof het later verklaar dat Pratt geestelik versteurd was.  Hy het sy eie lewe geneem onderwyl hy in 'n inrigting aangehou is.

Ek het hierdie aanslag op my lewe oorleef en merkwaardig gou herstel want Pratt se skote met my gelukkig net in die regterwang en -oor getref, sodat ek op 31 Mei al weer by die hoogtepunt van die Uniefees in Bloemfontein kon optree.

Intussen het in Afrika die dinge begin gebeur waarteen ek vir Macmillan gewaarsku het, met die onafhanklikheidwording van die Kameroen, Togo, Mali, Senegal en die Belgiese Kongo.  Die blankes is gemartel, vermink, vermoor en verkrag, wat die resultaat was van dié tipe gelykstelling en onbesonne vryheid wat in hierdie gebiede toegestaan is.  Is dít wat hy ook vir Suid-Afrika beoog het?

Ons het voortgegaan om ons sake te reël soos dit die beste vir ons gepas het.  Ek het in Augustus 1960 aangekondig dat die stemming oor 'n republiek op 5 Oktober sou plaasvind.  Die kiesers moes JA stem vir 'n republiek, of  NEE, daarteen.  Die uitslag was:     JA  850 458 en NEE 775 878.  Republikeinse meerderheid:  74 580.  Persentasie stemming:  90,73.

Dit was asof ons mense dit nie kon glo nie.  'n Nasionale kommentator het dit uitgejubel:  "Generaal Hertzog het die republikeinse terrein voorberei, dr Malan het die fondamente gelê, meneer Strydom het die mure gebou en nou het dr Verwoerd die dak opgesit.  Mag hy gespaar word om die hele gebou te voltooi en lank daarin te woon."

Op 2 Maart het ek en my vrou en meneer Eric Louw na Londen vertrek om die Britse Statebond se Premierskonferensie by te woon.  Ek het 'n aansoek tot hierdie liggaam gerig om voortgesette lidmaatskap van die Statebond vir Suid-Afrika na republiekwording, maar daar was soveel teenkanting en vyandigheid van die kant van die Afro-Asiatiese Statebondspremiers, dat ek op 15 Maart aangekondig het dat ek my aansoek terugtrek en dat Suid-Afrika 'n soewerein-onafhanklike republiek gaan word, buite die Statebond.  Dit het die ou spulletjie nie juis vriendeliker teenoor ons gestel nie, maar ek het die indruk gekry dat meneer Macmillan verlig was om van Suid-Afrika in sy gekleurde Statebond verlos te raak.

Ons langverwagte Republiek van Suid-Afrika het op 31 Mei 1961 'n heerlike werklikheid geword toe 'n groot skare geesdriftige volksgenote daardie môre op Kerkplein, Pretoria byeen was om na ons eerste Staatspresident, meneer CR Swart, te luister, ná sy inhuldiging in die Bosmanstraat-kerk.

Daarna het vir my, my regering en die jong Republiek gedurende die eerste vyf jaar wat gevolg het 'n veelbewoë tydperk van harde werk, stryd, teenkanting, opstande, sukses, ekonomiese groei en stabiliteit aangebreek.  Ons het ver gevorder met die uitbouing van ons beleid van afsonderlike ontwikkeling tot voordeel van alle rasse in Suid-Afrika.  Die teëstanders van ons beleid het die opposisiebanke gevul en my die skyf vir hul aanvalle gemaak en dit was duidelik dat hulle my baie graag uit die pad sou wou hê.  Ek het vir hulle gesê dit is nie vir my so danig lekker om in hierdie posisie te wees nie.  Ek bly alleen hier omdat my gewete vir my sê dat ek nie mag weghardloop van die taak wat die volk aan my toevertrou het nie. Ek is oortuig dat dit my plig is om as Eerste Minister aan te bly in die beste belang van alle dele van die bevolking.

Ek het ook vir hulle gesê ek is oortuig daarvan dat die beleid van eiesoortige ontwikkeling die wil van die volk is  -  nie net van die Afrikaners of van die Nasionaliste nie maar van tagtig tot negentig persent van die kiesers van ons land.  Ek is ook in my siel oortuig dat die weg wat ons volg, die beste vir ons Kleurlinge is, want ek vrees dat hulle vernietig gaan word indien enige ander beleid ingevoer word.  Ek is oortuig dat ons weg ook die beste is vir die groot getalle van gewone Bantoes in ons land wat hulle welsyn en hulle voorspoed betref, want spoedige stemreg aan hulle sal net soos in Ghana op 'n diktatuur uitloop waaruit die massa van die Bantoebevolking niks sal kry nie.

Ten spyte van die teenkanting van oraloor en spesifiek van hierdie opposisiegroep, het ek aansienlike sukses behaal by 'n groot deel van die Engelse bevolking, wat begin het om ons te ondersteun.  In die algemene verkiesing van 1966 het ons ons getal setels tot 'n nuwe rekord van 126 opgestoot, sodat ons met nog meer vertroue verder op die Nasionale Pad van Suid-Afrika  kon loop.  Ek het met dankbaarheid kennis geneem dat daar gesê is:  "Waar daar aanvanklik van sy mense was wat aan hom getwyfel het, leer hulle vertrou soos hulle nog nie vertrou het nie.  Hy staan waar ander soos die blare val.  Hy wys die koers aan waar ander nie verder weet nie.  Hy word meer as leier van sy volk:  Hy word simbool van die witman se wil om voortbestaan in Afrika.  Hy word meer as leier en simbool:  Hy is die profeet wat vér vorentoe moet kyk dat die toekoms vir sy volk mooi en goed kan wees.  Hy neem sy plek in die hart van sy mense in, soos hulle weet dat hulle altyd in sy hart is."

Maar my en Suid-Afrika se vyande was nie tevrede met die voorspoed wat ons land beleef het nie.  Ons het op 'n golf van ekonomiese welvaart gery met 'n nietige inflasiekoers van minder as twee persent.  Daar was feitlik geen werkloosheid onder alle bevolkingsgroepe nie.  Ons het oor 'n sterk weermag beskik en ons doeltreffende polisiemag kon enige onluste, komplotte of opstande die hoof bied.  Ons het die Suidwes-saak in die Wêreldhof gewen en die internasionale gemeenskap wat so graag wou sien dat ons van die aardbol af verdwyn, het radeloos gestaan.  Daarom het hulle die kreet aangehef van "Verwoerd must go!" en hulle het geweet die enigste manier om my uit die pad te kry is om my te laat vermoor.  Ek het dikwels gewonder of die vyand dan so kortsigtig is om nie te besef dat dit hulle niks sou baat om my uit die weg te ruim nie, want dan sou 'n man soos dr Albert Hertzog voortgaan om waar ek opgehou het die volk verder op die aangewese pad van Suid-Afrika te lei.

By die tweede sitting van ons Parlement in 1966, wat alreeds in Augustus begin het, sou my begrotingspos die middag van 6 September behandel word.  Die klokkies het begin lui vir die aanvang van die sitting  en ek was reeds in my bank, onderwyl die ander lede aangestap gekom het.  By die ingang van die raadsaal het 'n bode binne toe gedruk.  Ek het hom eers gewaar toe hy uit die gang by my bank inswaai en hom feitlik op my werp.  Ek het opgekyk en geglimlag want ek het gedink hy het seker net gestruikel.  Toe ek my arm oplig om hom te help, het ek meteens die vier dolksteke gevoel wat hy behendig een na die ander in my hart geplant het.  Dit was Demitrio Tsafendas, 'n tydelike bode wat deur die vyand daar geplant is met die opdrag om my te vermoor.  Hulle het in hul doel geslaag en met hierdie tweede aanslag op my lewe my uit die weg geruim.

So het dr Verwoerd se loopbaan, sy eersteministerskap en sy lewe twee dae voor sy 65e verjaarsdag geëindig.  Die skok van sy moordenaar se gemene daad het deur Suid-Afrika getrek en die volk momenteel sprakeloos gelaat.  In die parlement het die waarnemende Eerste Minister in 'n huldeblyk gesê:

"Selde is dit  'n leier beskore om nog in sy leeftyd
so baie van sy en ons lewensdrome vervul te sien. Sy
agt jaar van Eerste Minister was agt jaar van bruisende
groei, van tintelende lewe wat, onder die Opperwese,
teruggelei kan word tot die verbasende werkkrag, die
heldere verstand en die onkreukbare wilskrag van
Hendrik Frensch Verwoerd.  Hy het gelewe en gewerk
in diens van Suid-Afrika, en hy het gesterwe in die tuig
en op die terrein van sy grootste prestasies. Sy besondere
gawes van liggaam, gees en verstand het hy ten volle en
met toewyding aan sy land beskikbaar gestel."

Die dag na sy dood het daar in Die Oosterlig gestaan:

"Soos Paul Kruger voor hom, was hy die kolos                                                                                                                                          
onder sy mense - die verpersoonliking van hul                                                       
stryd, hul ideale, hul geloof en hul vasberadenheid
in teenspoed en aanvegting.  Niemand was meer
onversetlik in beginsel, meer gestaal in oortuiging
en meer getrou aan die gloed van die idealisme
in die siel van sy volk as hierdie groot Afrikaner nie."

Daar is later ook gesê:  "Wie dr Verwoerd se nagedagtenis wil afkraak, byt aan graniet en dat na mate daar in die tyd verder weg beweeg word van die era van Verwoerd, sal net soos in die geval van president Kruger, sy beeld al groter groei teen die horison van die Suid-Afrikaanse geskiedenis."

Wat dr Verwoerd vir die welsyn van sy volk in Suid-Afrika tot stand kon bring en beteken het, was alleen moontlik deur die onderskragende hand van die almagtige God wat hy gedien het en aan hom die nodige gawes en toerusting geskenk het en in staat gestel het om sy Bloedrivierse geloftevolk na die hoogtes van Suid-Afrika se nuwe republikeinse vryheid te lei.