ONS EIE HELDE
Lees reeks by Ons eie helde
Dr JP Botha
"Ek was eenkeer op besoek aan 'n inrigting vir rehabilitasie van persone wat deur senuweestoornisse ontwrig is. Die hoof van die inrigting het aan my 'n gids toegesê om my deur die gebou te vergesel. Hierdie persoon was een van die pasiënte wat reeds in so 'n mate herstel het dat hy binnekort weer tot die normale lewe sou terugkeer. Toe ons die besigtigingstoer voltooi het, vra hy my: 'En toe, oukêrel, wie is jy nou eintlik?' Ek sê toe ek is dr Malan, die Minister van Gesondheid. Hy lag toe heerlik en sê: 'Ag nee! Toe maar, hier sal jy nog regkom. Weet jy wat het ek gesê toe ek hier gekom het? Ek het gesê ek is die Keiser van Duitsland!' "
Ek is op 22 Mei 1874 op die plaas Allesverloren in die distrik Riebeeck-Wes gebore en in Junie gedoop as Daniël Francois Malan. My hardwerkende ouers op die plaas was afstammelinge van die Hugenote, wat vroeg reeds by ons kinders 'n warme vaderlandsliefde en innige godsdienssin gekweek het. In ons huis was daar ook die besef van die waarde van onderwys.
Ek het by meester Stoffberg op Riebeeck-Wes skoolgegaan en in 1890 die School Higher-sertifikaat in die eersteklas geslaag. Daarna is ek Stellenbosch toe waar ek in 1893 die matrieksertifikaat behaal het. Ek skryf toe in vir die BA-graad in Mathematics en Science en nadat ek dit in 1895 behaal het, slaag ek ook in die volgende jaar in die Admissie-eksamen vir toelating tot die Teologiese Seminarie, waar ek in 1897 begin studeer het. Maar ek het ook terselfdertyd vir die MA-kursus in Wysbegeerte ingeskryf, wat ek in 1899 behaal.Na voltooiing van my teologiese studies, het ek in 1901 na Holland vertrek waar ek in 1905 'n doktorsgraad in Godgeleerdheid (DD) behaal het.
Een van my medestudente op Stellenbosch het later oor my gesê: "Hy is begaaf met 'n goeie sin vir humor, 'n helder verstand en skerp redeneervermoë, 'n ingebore pligsgetrouheid en deursettingsvermoë, sodat hy van die begin af 'n ernstige student was. Hy het nooit 'n ding gesê as hy nie 100 persent oortuig was dat hy reg is nie. Daarom kon sy maats hom nooit oortuig nie. Hy is 'n denker en hy kon sê wat hy gedink het."
Onderwyl ek hier in die buiteland studeer het, het ek as gebore Kapenaar my die lot van my volksgenote in Transvaal en die Vrystaat, waar die Tweede Vryheidsoorlog gewoed het, besonder aangetrek, want dit was my Afrikanernasie wat besig was om onder die onregverdige aanslag van Brittanje te ly. Ek het op 10 Oktober 1900 die erediens by die groot Nieuwe Kerk in Amsterdam, ter ere van president Kruger se verjaarsdag, bygewoon en aan my ouers geskrywe dat dit 'n Afrikaner se hart goed doen om soveel warmte vir ons saak te sien. Ek was ook in Desember 1900 teenwoordig by die geesdriftige ontvangs van president Kruger by die spoorwegstasie van Utrecht en na die oorlog het ek president Steyn en sy gesin, wat toe vir mediese behandeling in Duitsland was, gaan besoek. Voor ek uit Nederland weg is, het ek aan 'n vriend in Suid-Afrika geskryf dat ek my voorgeneem het om met my swakke kragte vir die Afrikaanse volk te gaan werk en daar nie 'n duimbreedte van af te wyk nie.
Die eerste geleentheid wat ek daartoe gekry het, was toe ek na my terugkeer in Suid-Afrika in 1905 as predikant van die NG-kerk in Heidelberg, Transvaal georden is en nou vir die eerste keer as Kolonialer in aanraking gekom het met die Afrikaners wat nog die liggaamlike en ekonomiese wonde van die Tweede Vryheidsoorlog getoon het. In 1906 het ek predikant geword op Montagu, waar ek ses jaar lank my beywer het vir die opheffing van die verarmde Afrikaner. In 1913 is ek na Graaff-Reinet beroep.
Gedurende hierdie vroeë jare van my lewe in die Kaapkolonie het die ontwikkeling van ons volkstaal, Afrikaans, my sterk aangegryp en het ek vir Onse Jan Hofmeyr met sy "Is't ons ernst?" en vir Gustav Preller met sy "Laat het ons toch ernst wesen!" geantwoord: "Het is ons ernst!" Hulle wou Afrikaans as spreektaal erken en Nederlands as skryftaal behou, maar ek het gepleit om Afrikaans as skryftaal aan ons jong Afrikaners te gee as bolwerk teen die verengelsing van ons volk. Die Tweede Taalbeweging het hierdeur mooi momentum gekry en ek was bevoorreg om in 1925 Afrikaans as amptelike landstaal van Suid-Afrika deur die parlement erken te kry.
'n Jaar na hierdie gebeurtenis, toe ons al 16 jaar lank die Unie van Suid-Afrika was, het ek in die parlement 'n wetsontwerp gestel vir die verkryging van 'n eie vlag. Ek het gesê 'n vlag is nie net 'n doek nie, 'n vlag is die sinnebeeld van volksbestaan; dit is 'n lewende iets, dis die middelpunt van die volksgevoel. Na 'n vreeslike stryd teen die Engelse, wat niks anders as die Union Jack wou hê nie, is die Unievlag uiteindelik aanvaar en op 31 Mei 1928 gehys.
Gedurende die eerste paar jaar na Uniewording in 1910, was ek nog predikant te Montagu en later te Graaff-Reinet. Ek het in 1914 met groot kommer in my hart die bitter verdeling in Afrikanergeledere beleef toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek en die rebellie as protes teen generaal Botha se deelname aan Engelse kant plaasvind. Toe Jopie Fourie tot die dood veroordeel is, was ek in Pretoria en 'n sestal van ons het as afvaardiging met versoekskrifte aan generaal Smuts om Jopie se lewe te spaar, tevergeefs probeer om hom te spreek. Hy het almal ontglip en Jopie het, in sy eie woorde, vir God en vaderland gesterf.
Ek het op middelbare leeftyd eers sover gekom om my in die huwelik te begeef. Op 16 Junie 1926 is ek getroud met die weduwee Mattie van Tonder, wat 'n paar jaar na die geboorte van ons twee seuns op 33-jarige ouderdom na 'n siekbed oorlede is. Daarna is ek in 1937 weer getroud met Maria Louw. Ons het in 1949 'n Duitse weeskindjie aangeneem en grootgemaak en haar Marietjie genoem. Sy was een van die 83 Duitse wesies wat in 1948 deur die DKF na Suid-Afrika gebring is om aan Duitsland ons meegevoel en spyt te toon oor Smuts se onpatriotiese besluit om Suid-Afrika se ondersteuning aan Engeland te gee tydens die Tweede Wêreldoorlog en teen Duitsland te veg.
Ek was net twee jaar lank predikant op Graaff-Reinet, toe daar 'n ernstige en dringende beroep op my gemaak is om die bediening te verlaat en redakteur te word van die toe pasgestigte koerant Die Burger. Die Nasionale Party is die vorige jaar, in Julie 1914 in Bloemfontein gestig en het 'n nasionale koerant baie nodig gehad om sy boodskap van nasionalisme aan die verdeelde volk oor te dra. Die direkteure van die nuwe blad was toe op soek na 'n belangrike, gesiene en alom geëerde persoon, 'n man met waardigheid, groot idealisme, onverskrokke moed en met 'n innige liefde vir sy volk, wat die kwalifikasies moes wees van die persoon wat hulle graag as redakteur van die koerant wou aanstel. Hulle sê toe vir my ek is die man wat aan al hierdie eienskappe voldoen, want ek is reeds bekend as kerkman, taalstryder en pleitbesorger vir die handhawing van Afrikanernasionalisme. Toe hulle vir my die aanbod maak, het ek vir hulle gesê hulle weet nie wat hulle vra nie, maar ek het uit alle oorde briewe ontvang wat my aangemoedig het om die redakteurskap te aanvaar.
Maar toe het daar 'n brief uit die sentrale gevangenis in Bloemfontein my in Graaff-Reinet bereik wat deur generaal De Wet en 94 medegevangenes onderteken is en by my aangedring het om die redakteurskap te aanvaar. Generaal De Wet het geskryf: "De Godvrugtige Generaals Beyers en De la Rey zyn daar niet meer vandag, hunne plaatsen moeten worden ingenomen onder ons volk door mannen die bereid zullen zyn met ons voor ons volk te lyden."
Ek het die saak nou baie ernstig begin oorweeg en toe oud-president Steyn ook nog vir my skryf, "U ziet hoe ons volk verdeelt is en hoe het roept naar een man om hem te verenigen --- Er is alleen een die dat werk kan doen en u is die man," toe kon ek nie meer weier nie. Ek het my bediening verlaat, redakteur geword van Die Burger en my in die aktiewe politiek begewe.
By my afskeid op Graaff-Reinet het ek aan my gemeente gesê ek begewe my op die breëre terrein van ons volkslewe omdat ons tans in die ernstigste nasionale krisis verkeer wat ons ooit beleef het. Groot geestelike en sedelike beginsels is op die spel. Die vraag kan gestel word of die Afrikanervolk nog reg van bestaan het en nie liewer nasionale selfmoord moet pleeg nie. In Die Burger het ek gesê ons het in die dal van die skaduwee van die dood gekom en vir ons volk is dit die donkerste ure. Daar was 'n tyd toe ons almal een van hart was, maar nou is ons harte geskeur en ons volkslewe is verbitter. Om ware eenheid te bewerkstellig, moet ons almal bymekaar bring wat deur innerlike oortuiging bymekaar hoort.
Een van die veronderstellings van die aanstelling was dat ek ook leier moes word van die Nasionale Party in Kaapland . Ek het dadelik hierdie stryd aangeknoop en was in Oktober 1915 die NP se kandidaat in die kiesafdeling Cradock, maar is deur die SAP-kandidaat verslaan. Eers in Januarie 1919 het ek die setel Calvinia verower en dit jarelank vir ons party verteenwoordig. In 1924 het Afrikanernasionalisme geseëvier toe generaal Hertzog die verkiesing gewen het en Eerste Minister geword het. Hy het my in sy kabinet opgeneem as Minister van Binnelandse Sake, Gesondheid en Onderwys. Ek het toe my amp as redakteur neergelê.
Daarna het vir ons, die eerste nasionale regering van Suid-Afrika, 'n harde maar vrugbare tydvak van volksdiens aangebreek, waar ek saam met generaal Hertzog sy stelreël van Suid-Afrika eerste, in die praktyk verwesenlik het. My strewe om uit liefde vir my volk 'n bydrae te lewer tot bestendiging van ons blanke voortbestaan in Suid-Afrika en ware demokrasie te bevorder en volkseenheid uit die verdeeldheid te bewerkstellig, terwyl ons republikeinse ideaal lewendig gehou word, het gedurende hierdie eerste termyn van die Hertzogregering soveel vrug afgewerp dat ons in die verkiesing van 1929 'n tweede keer aan bewind gestel is.
Gedurende hierdie tyd was ek eenkeer op besoek aan 'n inrigting vir rehabilitasie van persone wat deur senuweestoornisse ontwrig is. Die hoof van die inrigting het aan my 'n gids toegesê om my deur die gebou te vergesel. Hierdie persoon was een van die pasiënte wat reeds in so 'n mate herstel het dat hy binnekort weer tot die normale lewe sou terugkeer. Toe ons die besigtigingstoer voltooi het, vra hy my: "En toe, oukêrel, wie is jy nou eintlik?" Ek sê toe ek is dr Malan, die Minister van Gesondheid. Hy lag toe heerlik en sê: "Ag nee! Toe maar, hier sal jy nog regkom. Weet jy wat het ek gesê toe ek hier gekom het? Ek het gesê ek is die Keiser van Duitsland!" Ek het agterna gewonder of ek nie miskien ook sou "reggekom" het as ek nog langer daar gebly het nie.
Ons tweede termyn van nasionale regering vanaf 1929 is bemoeilik deur die ontwikkeling van probleme in ons landsomstandighede, waarvoor daar nie kitsoplossings bestaan het nie. My verarmde Afrikanervolk het nog steeds gely onder die naweë van die Tweede Vryheidsoorlog se verwoesting en 'n kwaai depressie het ons land geteister, sowel as 'n langdurige en ernstige droogte. Generaal Hertzog was van mening dat 'n sterk koalisieregering saam met Smuts se SAP-party in staat sou wees om die land se probleme die hoof te bied. Dit het tot samesmelting van die twee hoofpartye in 1934 gelei en die Verenigde Party het begin om die land te regeer, met generaal Hertzog as premier en Smuts as sy adjunk.
Ek kon my met hierdie gebeurtenis nie vereenselwig nie. Generaal Hertzog het my 'n kabinetspos in die nuwe regering aangebied wat ek van die hand gewys het.. Ek was nie gewillig om te "smelt" nie, want in hierdie proses sou die dryfveer vir ons volksdiens, ons Afrikanernasionalisme verongeluk word. Die Kaapse Nasionale Party het my gesteun, in die Vrystaat was daar net 'n paar en in Transvaal was dit net advokaat Hans Strydom van Waterberg wat nie wou smelt nie. Ons, die "Gesuiwerde Nasionale Party" het nou in die parlement die opposisie gevorm, met net 20 lede in die Volksraad..
Die vyf jaar, vanaf 1934 tot 1939 wat die Smelterregering aan bewind was, het die verwesenliking van Afrikaner-volkseenheid erg benadeel. Die meerderheid van ons volksgenote het nou die liberale pad saam met die regering geloop en ons uitgeskel vir "die ou skeurders", maar in 1938 het ons daarin geslaag om ons parlementêre verteenwoordiging op te stoot van 20 tot 27 lede, sodat ons weerstand teen die onpatriotiese regering van die land merkbaar toegeneem het. Dit was die Voortrekker-eeufeesjaar wat momentum gegee het aan die ontwaking en groei van 'n nuwe Afrikanernasionalisme, wat tot latere volkseenheid sou lei.
Generaal Hertzog se strewe om Suid-Afrika se belange altyd eerste te stel bo dié van Engeland, wat hy in 1912 al by De Wildt so duidelik gestel het en deurgaans gehandhaaf het tot by samesmelting in 1934, wou hy weer in 1939 met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog verwesenlik deur Suid-Afrika buite die Europese stryd te hou. Ek het hom ons nasionale opposisie se heelhartige steun hierin belowe en dit ook gegee toe die saak in die parlement tot stemming gebring is. Maar Smuts het geseëvier en Suid-Afrika verder op die oorlogspad gelei en ek en generaal Hertzog het mekaar weer gevind, terwyl ons saam probeer vasstel het waarlangs die pad van Suid-Afrika werklik loop.
Op Monumentkoppie het ons op 9 September 1939 in 'n hulde-verwelkoming waar duisende Afrikaners saamgestroom het, in Totius se woorde beloof om mekaar se hande te gryp op die pad van Suid-Afrika en dit nooit weer te los nie. Maar in ons gesamentlike beplanning het generaal Hertzog in sekere sake van ons verskil, soos ons republikeinse strewe en die hantering van die Engelssprekendes se regte. Daarop het hy hom aan die politiek en die openbare lewe onttrek en op sy plaas Waterval gaan woon. Ons het ons party nou die Herenigde Nasionale Party of Volksparty genoem en die stryd verder teen Smuts en sy oorlog voortgesit, met 41 lede in die volksraad.
Die Ossewa-Brandwag, wat as 'n kultuurorganisasie gedurende die oorlog ontstaan het en later pogings aangewend het om Smuts se oorlogspoging te saboteer, het hom uiteindelik op die politieke terrein begewe en gepoog om die Afrikanervolk agter hom te verenig en van die Nasionale Party te vervreem, met propagering van 'n vreemde ideologie. As hoofleier van die Nasionale Party het ek 'n verbete stryd teen hierdie organisasie gevoer, wat uiteindelik met sukses bekroon is.
Die ontberings wat die Afrikanervolk gedurende die Tweede Wêreldoorlog van 1939 - 1945 moes ly, het hulle uiteindelik finaal teen generaal Smuts met sy oorlogsbeheptheid laat keer, want vir hom was dit gedurende hierdie oorlog "alles vir Engeland" en "niks vir Suid-Afrika nie". Daarom het hy met groot skok drie jaar na die oorlog in April 1948 sy neerlaag by die algemene verkiesing beleef toe ons hom by die stembus verslaan het en die regering van die land oorgeneem het.
Smuts se SAP-regering het ook nie 'n oplossing gehad vir die Unie se groeiende rassevraagstuk of kleurprobleem wat gedurende hierdie jare kommerwekkende afmetings begin aanneem het nie. Daarom het ons die stryd vir hierdie verkiesing van 1948 aangeknoop met propagering van 'n noukeurig uitgewerkte, weldeurdagte beleid van rasseskeiding of afsonderlike ontwikkeling of apartheid, wat ons slagspreuk geword het en wat ons spoedig na ons bewindsoorname deur wetgewing stap vir stap begin toepas het, omdat dit die enigste werkbare maatreël is om in 'n veelrassige land soos Suid-Afrika rassesuiwerheid, vreedsame naasbestaan en ekonomiese vooruitgang te bewerkstellig en te handhaaf. My liewe ou Afrikanervolkie wat sedert sy wording 'n natuurlike afkeer gehad het in die kosmopolitiese vermenging wat die filantrope en liberaliste gepredik het en nie self toegepas het nie, het ons stem in hierdie verkiesing duidelik gehoor en gereageer en aan ons die oorwinning besorg. Ek het op 4 Junie 1948 in 'n radiorede gesê apartheid beteken vir die nieblanke die opbou van groter selfstandigheid en selfrespek, sowel as die verskaffing van ruimer geleentheid vir ontwikkeling ooreenkomstig hulle aard en vatbaarheid.
Ons het met die geleidelike toepassing en uitvoering van ons beleid sommer uit die staanspoor al groot sukses en voorspoed beleef, alhoewel dit met groot teenkanting van die opposisie gepaard gegaan het en Suid-Afrika se ander binnelandse en buitelandse vyande ons beleid gekritiseer, veroordeel en sleggemaak het en die swartes en ander gekleurdes teen ons probeer beïnvloed het. Ten spyte daarvan was Suid-Afrika nou stadig maar seker op pad na 'n rooskleurige toekoms, want ons moes hom ook help loswring uit die neerdrukkende oorlogslas wat die Smutsregering ons land mee opgesaal het.
Ek het met diepe dankbaarheid ervaar dat my volksgenote, wat uit innerlike oortuiging bymekaar gehoort het, besig was om in 'n volkseenheid saam te snoer. Die volgende algemene verkiesing wat in 1953 plaasgevind het, het dit bewys. Waar ons in 1948 70 setels verower het teenoor die Verenigde Party se 65, het ons nou regeer met 95 setels teenoor die VP se 57 uit 'n totaal van 159.
Maar ek het geweet dat die internasionale aanslag van die vyande van hierdie geloftevolkie besig was om in felheid toe te neem met die doel om hom uit Afrika weg te vee en ek het dit nodig gevind om 'n ernstige waarskuwing tot die volk te rig om gereed te wees om weerstand te bied teen die subtiele aanslae van die vyand wat daarop gemik is om ons om te haal om die nasionale pad van Suid-Afrika te verlaat en vas te val en te versink in die liberalistiese moeras van babelse verwarring en volksondergang. Hierdie geleentheid en voorreg was my beskore by die inwyding van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1949, waar ek aan ons 250 000 feesgangers by hierdie pragtige gebeurtenis gesê het dat hierdie monument nie maar net 'n sierlike bouwerk van kunstig verwerkte klip en graniet is nie, maar die draer van 'n boodskap. As jou oog op hom val, lees jy daar 'n diep ernstige en sieldeursoekende vraag: Volk van Suid-Afrika, waar gaan jy heen? Lê die pad van Suid-Afrika voor jou nog helder en oop tot aan die verre aanlokkende blou berge van nog onbereikte Voortrekkerideale, of kyk jy vas teen 'n grys misbank waarop daar uitdagend 'n groot vraagteken voor jou afgeteken staan?
Wat dreigend voor jou staan is niks minder nie as moderne en uiterlik beskaafde heidendom sowel as versinking in semi-barbarisme deur bloedvermenging en die desintegrasie van die blanke ras. Hierdie monument staan hier vir die Voortrekkers se nagedagtenis en huldiging. Maar dit staan hier langs die Pad van Suid-Afrika, ook vir u en u nageslag. Dis 'n Quo Vadis-heiligdom, Afrikaner, nou en deur al die toekomende geslagte heen! As u weggedwaal het van die Voortrekkergees en -gedagte, as u die Voortrekkers wat u vandag huldig, met die daad verloën en opnuut kruisig en u oog val op hierdie monument waar u en die Voortrekkers vandag in die gees mekaar van aangesig tot aangesig ontmoet; as daardie sieldeursoekende vraag hom dan aan u opdring: Afrikaner, Quo Vadis, waar gaan jy heen?
Staan dan stil en draai terug! Terug na u volk; terug na u volk se hoogste ideale; terug na die pand wat ook aan u toevertrou is om te bewaar; terug na die volksaltaar waarop u u offers moet lê en as dit geëis word ook uself as 'n offerande; terug na die heiligheid en onskendbaarheid van die gesinslewe; terug na u Christelike wamdel; terug na u Christelike geloof; terug na u kerk; terug na u God!
Ek kon maar net bid dat my geliefde Afrikanervolk, die geloftevolk van Bloedrivier, in staat sal wees om die aanslag van die vyand wat ek sien naderkruip het, te weerstaan. Vir die huidige was ons besig om op 'n golf van oorwinning na 1953 te beweeg. Maar my gesondheid was nie meer van die beste nie en ek het in 1954 besluit om die tuig neer te lê en my uit die aktiewe, openbare lewe te onttrek. Ek het gevoel dat die taak wat ek 40 jaar vantevore in 1914 aangepak en met die hulp van die Here uitgevoer het, volbring was en dat iemand anders nou weer vir my volk in die bres kon tree. Ek en my vrou het op Môrewag gaan woon, waar ek die laaste paar jaar van my lewe gebruik het om my lewenservarings op te teken vir my boek Afrikaner-volkseenheid.