ANDRIES PRETORIUS

ONS EIE HELDE (3)

Dr JP  Botha

Lees reeks by Ons eie helde

Andries Pretorius vertel self:

Die berig van die Zoeloe-verraad teen Piet Retief en sy manne, toe Dingaan hulle op 6 Februarie 1838 laat vermoor het, en die tyding van die gruwelike moorde daarna op die weerlose Trekkers by Bloukrans en Boesmansrivier, het ons inwoners aan die Oosgrens van die kolonie diep geskok.  Dit het veral my hart besonder geraak want ek het saam met hulle al die onreg deurgemaak wat die Kaapse regering voortdurend teen ons gepleeg het.  Ek het in 1838 nog op my mooi plaas Letskraal, naby Graaff-Reinet gewoon, nadat ek in 1837 die  Voortrekkerlaers in die binneland besoek het.  Ek het dus hulle behoeftes geken en geweet hoe volkome weerloos hulle was toe die straftog teen die Zoeloes misluk en Maritz later in die jaar ook te sterwe kom.

Daarna het ek nie ‘n oomblik geaarsel toe die wekroep na my kom om hulle te gaan help nie.  Met my ervaring van ons stryd teen die Kôsas hier op die Oosgrens en wat met die strafkommando in Natal gebeur het, het ek besef dat as ons sukses wil behaal in ons stryd teen die Zoeloes, dit noukeurige beplanning en voorbereiding sal verg.

Ek was op 1 Oktober 1838 gereed om te trek en op 31 Oktober het ek en my geselskap die Kolonie reeds vir goed agtergelaat.  Saam met my vrou en sewe van my agt kinders en 23 ander gesinne, het my trek uit 138 persone bestaan.  Ons het 68 waens gebruik om ons besittings te vervoer.

Toe ons die laers langs die Klein Tugelarivier nader, het ek te perd vooruit gery en hulle op 22 November 1838 bereik. Ons koms was baie welkom.  Die Trekkers in Natal was leierloos en die bloeddorstige Zoeloe-impies kon enige tyd weer toeslaan, aangemoedig deur die sukses van hul gruwelmoorde by Weenen en die Bloukransrivier.  Die Trekkers het my as hul kommandant-generaal benoem, waarna ek onmiddellik begin organiseer het om ‘n kommando saam te stel wat teen die Zoeloes moes uittrek om Dingaan se mag te breek.

Ek het besef dat dit uiters waagsaam sou wees om met ‘n klein kommando die talryke vyand op die oop veld aan te durf.  Daarom het ons besluit om hulle met waens, waarop al ons benodighede gelaai sou word, tegemoet te trek.  Ons sou elke aand laertrek om ons teen nagaanvalle te beveilig.

Met hierdie doel voor oë het ons die nodige voorbereidings getref.  Ons het stewige houthekke vervaardig waarmee die laer verskans moes word indien ons op ‘n plek beland waar ons nie die spasies tussen die wawiele met doringtakke sou kon toeslaan nie.

Met hierdie toerusting, ammunisie en proviand op 57 waens gelaai, waaronder ook twee kanonnetjies was wat ek uit die Kolonie saamgebring het, het ek met my laerkommando in die maanlignag van 3 Desember 1838 met 464 manskappe vertrek.  Ek het gereeld verkenners onder die leiding van Hans Dons uitgestuur, om te verhoed dat die vyand ons verras.

Ons het elke middag laat, nadat ons vir die nag uitgespan het, behoorlik laergetrek en ons osse en perde in die beskutte ruimte binne die laer gehou.

Ons het nie op die spore van Retief en Uys getrek nie, maar oor die Tugela en sy oostelike takriviere ‘n noordelike ritging ingeslaan.  Na ‘n week het ons op Sondag 9 Desember die bowaters van die Sondagsrivier onder die Biggarsberge, by Danskraal of Wasbankspruit bereik.  Hans Dons het toe reeds vasgestel dat Dingaan se impies in die nabyheid was.

Daar het ‘n ernstige stemming daardie aand in die laer geheers.  Na ons godsdiensoefening wat deur Sarel Celliers waargeneem is, het ons almal saam in groot erns ‘n plegtige gelofte aan die Here afgelê.  Ons het belowe dat as Hy die volgende dag, of wanneer die vyand ons gaan aanval, hulle in ons hand sal gee, sodat ons die oorwinning behaal, dan sal ons in die toekoms elke jaar op hierdie dag en datum ‘n dankdag hou en die dag as ‘n Sondag reken en so deurbring.  Ons sal ook sorg dat ons kinders en toekomstige geslagte saam met ons moet deel deur die dag te onderhou en ons het ook beloof om vir die Here ‘n huis te bou waar ons Hom kan aanbid en hierdie dag kan gedenk.  Ons het die gelofte op skrif gestel en dit elke aand in die laer voorgelees.

Die Zoeloes het nie die volgende dag aangeval ne.  Die enkeles wat Hans Dons se verkenners die vorige dag gewaar het, was seker ook net spioene wat moes vasstel waar ons ons bevind het.  Eers die volgende Saterdag toe ons by ‘n plek aankom wat later Bloedrivier genoem is, is weer die nabyheid van ‘n groot vyandelike mag aan ons gerapporteer.  Toe het ons op ‘n baie geskikte terrein laergetrek, strategies goed in ‘n driehoek geleë, tussen die rivier wat baie vol was en ‘n diep sloot wat in die rivier uitmond.  Ons het die hekke onder die waens vasgemaak en dit verder toegeslaan met doringtakke en oor die wiele beesvelle getrek om die kleiner openinge toe te stop.  Die twee kanonnetjies het ons opgestel waar hulle die meeste skade onder ‘n aanstormende vyand kon aanrig.  Toe dit donker word het ons brandende lanterns wat aan sweepstokke geheg is aan die waens rondom die laer gehang.

Met sononder het daar ‘n dik mislaag uit die rante met die rivier afgedryf, sodat die dowwe lanternlig naderhand spookagtig deur die newels geflikker het.  Dit het my bekommer, want indien dié toestand lank genoeg voortduur, sou ons buskruit van die vogtigheid aanklam en in ons gewere weier om te ontplof indien die vyand ons onverhoeds sou aanval.  Die nag het egter stil sonder enige gebeurlikhede verloop en toe die son op daardie gedenkwaardige Sondagmôre van 16 Desember 1838 in die ooste opkom, merk ek met groot dankbaarheid dat ons gebede beantwoord word met ‘n wonderwerk wat besig was om te gebeur:  Die digte misnewels rondom die laer was besig om stadig op te klaar en weg te dryf.  ‘n Rukkie later toe die omgewing mooi sigbaar word, het ons hulle gewaar waar hulle in hul duisendtalle gehurk gesit het, gereed en wagtende op die bevel om die laer aan te val.

Meteens het die voorste massas op hul voete gerys en met ‘n bloedstollende krygsgeskreeu na ons toe aangesnel gekom.  Toe hulle onder skoot kom, het ek die bevel gegee om te vuur.  Die grootste deel van ons mannekrag was aan die oopkant van die laer wat nie deur die rivier en die sloot begrens was nie, gekonsentreer.  Ook die twee kanonnetjies is aan hierdie kant geplaas waar die Zoeloes nou met oorweldigende getalle op ons neerstort.  Die gebulder van ons sannas en kanonne het met die oorverdowende lawaai van die aanstormende hordes gemeng.  Hulle het met doodsveragtende waansin op ons afgestorm, maar toe ons eerste sarsie hul frontlinie tref, was dié nie meer op hul voete nie.  Dit was duidelik dat die vyand nie op so ‘n ontvangs voorbereid was nie, want hul malende geledere is ‘n paar oomblikke lank gestuit, voordat hulle weer met nuwe venyn op die laer afgestorm gekom het.

Elke man in die laer het met  kalme vasberadenheid gedissiplineerd op sy pos gebly en so vinnig op die aanswermende barbare gevuur as wat die herlaai van sy gewere dit toegelaat het.  Daarby het ons twee kanonnetjies, wat met allerhande skrootyster gelaai  is, letterlik paaie in die bewegende swart muur oopgekloof.

Maar hulle het doodsveragtend vlaag op vlaag al skreeuend nader gestorm, net om maar keer op keer deur ons goedgerigte geweervuur afgemaai te word.  Na ‘n ruk het daar ‘n swaar rookdamp oor die laer gehang wat ons uitsig begin belemmer het.  Die geveg was toe al bykans twee uur lank ononderbroke aan die gang en indien dit nog ure lank so sou voortduur, sou ons ammunisie opraak.  Maar ek het opgemerk dat elke nuwe aanval van die Zoeloes minder heftig word en besluit toe om hulle met ‘n afdeling perderuiters uit die laer aan te tas.  Ons het die hekke oopgemaak en uitgejaag en hulle van een kant af aangeval, terwyl die geweervuur uit die laer nog steeds onderhou is.

Dit het die gewenste uitwerking gehad.  Toe die moordende kruisvuur hulle verder begin afmaai, raak hulle heeltemal verward.  Ek merk op dat hulle begin vlug en laat die res van die kommando uit die laer by ons aansluit.  Dit was te veel vir Dingaan se toe al baie gehawende impies toe 460 ruiters met hoewegedonder en dodelike blitsvuur op hulle afpeil.  Hulle spat uitmekaar en slaan op die vlug en toe ons drie uur later met ons moeë perde en leë kruithorings weer na die laer terugkeer, was die fleur van Dingaan se strydmag in duisende afgemaai en die skrikbevange res daarvan ver oor die heuwels versprei.

Rondom die laer en verder, het meer as 3 000 van die tien tot twaalfduisend Zoeloes wat die laer aangeval het, gelê.  Die rivier se water was by tye merkbaar rooi gekleur van die bloed van dosyne wat wou deurswem om ons aan te val, maar in die water doodgeskiet is.

Ons ongevalle het uit drie persone bestaan wat elkeen ‘n assegaaiwond opgedoen het.  Ek was een van hulle.  Toe ons die eerste keer uit die laer storm, het my onstuimige perd so buite beheer geraak dat ek uit die saal moes spring.  ‘n Zoeloe was op my, maar ek slaag daarin om sy assegaaisteek met my arm af te weer.  Dit het egter my hand deurboor en toe ek met die barbaar worstel, het een van ons manne bygespring,  die lem uit my hand geruk en die Zoeloe met sy eie assegaai van kant gemaak.

Nadat ons perdekommando teen sononder weer voltallig in die laer terug was en ons die nodige opruimingswerk afgehandel het, het die hele laer spontaan saam vergader om die Here in ‘n dankdiens te loof, want Hy het sy deel van die gelofte reeds nagekom.  Die vyand is verpletterend verslaan.

Ons het ‘n paar dae later met ons agtervolging van die voortvlugtende Zoeloes ‘n paar gevang wat almal dieselfde vraag gevra het:  “Wie was dit wat vir julle gehelp het?  Rondom die laer was daar baie soldate met wit klere.”

Die volgende dag was ons met ons seëvierende laerkommando reeds op pad na Dingaan se hoofstat, Oemkoenghoenglovo, om die tiran wat vir soveel trane, ellende, moord en doodslag verantwoordelik was, in sy nes te gaan aanpak.  Maar toe ons na vyf dae die plek nader, was al wat ons daar aangetref het net nog enkele smeulende rooksuile wat uit die verlate en verwoeste stat opstyg.  Dingaan het sy stat aan die brand laat steek en gevlug.

‘n Rukkie later was ons by die moordkoppie, Hlomo-amaboeta, waar ons met deernis in die hart lank bly staar het na die oorblyfsels van die ongelukkige slagoffers van die barbare se moordlus, bykans ‘n jaar vantevore op 6 Februarie 1838 gepleeg.  Daar het ‘n groot aantal geraamtes rondgelê, maar ons kon dié van Retief en sy makkers uitken aan stukkies klere wat nog daaraan gekleef het.  Retief s’n het nog die leer bladsak om gehad waarin die opgevoude traktaat nog ongeskonde was.

Toe ons ‘n rukkie later die oorblyfsels van hierdie martelare in ‘n groot graf weggelê het, het ek gewonder deur hoeveel sulke smeltkroese ons jong ou Afrikanervolkie nog moet gaan voordat ons die eindbestemming waarheen die Here besig was om ons te lei, sou bereik.  Na Bloedrivier se oorwinning het ek geweet ons sal nie ondergaan nie,  maar wat sou nog vir ons langs die opdraande pad in die toekoms wag?`

Ons het die agtervolging van die Zoeloes in ‘n noordelike rigting voortgesit, maar in die rotsagtige deel van die Wit Umfolozi kon die waens nie meer verder nie.  Ek het toe 300 ruiters onder Landman gestuur om die Zoeloes agterna te sit en self by die waens agtergebly, want my gewonde hand was baie pynlik.  Die voortvlugtende Zoeloes slaag toe waarlik weer ‘n keer daarin om die kommando in die omgewing van ‘n spelonk in ‘n hinderlaag te lok.  Hulle het vyf uur lank om lewe en dood geveg om weer daar uit te kom en vyf van ons manskappe het daar gesneuwel,  maar daar het weer meer as 1 000 Zoeloes op die slagveld bly lê.

Die Zoeloes se mag was totaal gebreek.  Dingaan was ‘n voortvlugtende op pad na Swaziland.  Ons kon nou ons Voortrekkerrepubliek waarvoor ons reeds soveel al opgeoffer het, gaan oprig en uitbou rondom ons hoofstad wat ons Pietermaritzburg genoem het.

Maar die Engelse wou ons nie in vrede laat nie.  Op die selfde dag wat ons teen lewe en dood die Zoeloe-aanslag by Bloedrivier moes trotseer, is ‘n sekere Samuel Charters deur die Kaapse goewerneur Napier gestuur om die Britse vlag in Port Natal te plant.  Hy eis toe nogal van my om nie die arme ou Zoeloetjies verder te vervolg nie!

Charters is voor die einde van 1839 weer teruggeroep en ons het ons Voortrekkervlag in Port Natal geplant en een groot Republiek geproklameer.  Hendrik Potgieter was kommandant-generaal vir die gebied Winburg-Potchefstroom en ek vir Natal.

Toe land daar in Augustus 1841 ‘n Amerikaanse handelskip, die Levant, in Port Natal om met ons handel te dryf.  Dit het die Engelse dwars in die krop gesteek, maar toe die Hollander Smellekamp in Maart 1842 in Port Natal met die Brazilië land, was dit die laaste strooi.  Napier stuur toe vir kaptein TC Smith met 250 man, 60 waens, ‘n aantal Hottentotte, 10 perde en drie kanonne.  Hy het op 3 Mei 1842 in Port Natal aangekom en sy kamp by Congella opgeslaan.  Vyf dae later was ek ook daar met ‘n kommando en slaan my laer omtrent 5 km van Smith se kamp af op.

Die oormoedige Smith maak toe op 23 Mei ‘n nagaanval op ons laer, met 123 soldate en twee kanonne, maar ons het hulle hard teruggeslaan en met ‘n verlies van 17 dooies en ‘n aantal gewondes gelaat.  Hul kanonne het ook op die strand agtergebly..  Twee dae later op 25 Mei het ons die bemanning van die skoener, die Mazeppa gedwing om oor te gee en 56 wavragte goedere, geld en ‘n kanon gebuit.

Ons het die Engelse kamp behoorlik omsingel en ‘n maand lank beleër, maar Dick King, een van Smith se manne, het daarin geslaag om in die nag ons te ontglip en het te perd na Grahamstad gejaag en hulp gaan ontbied.  Ons het besef dat ons nie sou kon standhou teen 300 Britse soldate met 50 kanonne wat op 25 Junie met twee skepe aangekom het nie.  Daarom het ek ons kamp laat opbreek en na Pietermaritzburg teruggekeer.

Dit was die einde van ons Natalse Republiek. Baie Trekkers het Natal verlaat en na die Vrystaat en Transvaal getrek, maar ‘n aantal van ons het in Natal agtergebly om te sien hoe dit onder Engelse bewind sou gaan.  Ek het op my plaas Welverdiend, naby Pietermaritzburg bly woon, tot ek dit nie meer met die Britte en die Zoeloes kon uithou nie.  Daarom het ek in Februarie 1848 met ongeveer 400 Trekkers Natal verlaat en Transvaal toe getrek.  Ek het my op ‘n plaas by Hartebeespoort  by die Magaliesberge gaan vestig.

In die Vrystaat het toe baie Trekkers gewoon, veral in die noordelike Winburg-gebied.  Dit was vir die Engelse net so ‘n begeerlike gebied om te besit soos Natal en daarom het hulle die Vrystaat in 1848 geannekseer en dit die Oranjerivier-Soewereiniteit genoem.  Die Trekkers by Winburg het my gevra om hulle teen die Engelse te kom help.  Ek het in Augustus 1848 met 500 man vir Harry Smith by Boomplaas gepak, maar die Brit se duisend manskappe, moderne wapentuig en kanonne was te veel vir ons primitiewe ou sannas.

In die Vrystaatse gebied wat deur Smith geanneksser is, het dit na 1848 nog steeds gekook. Die Engelse het ‘n opdraande stryd teen die Griekwas, maar veral teen Mosjes gevoer.  Ek het hierin die moontlikheid gesien om weer in die troebel sake van die Vrystaat in te gryp, ter wille van die welsyn van ons mense wat die slagoffers was van die Engelse owerheid se onvermoë om die astrante Mosjes se plundertogte hok te slaan.  Ek het dit aan die twee kommissarisse, Hogge en Owen, wat daarheen gestuur is om sake te beredder, laat weet.

Deels om my uit die Vrystaat weg te hou en deels omdat die Engelse in dié stadium nie in verdere koloniale uitbreiding belang gestel het nie, het die kommissarisse my op 16 Januarie 1852 by Sandrivier ontmoet, waar die Britse regering die onafhanklikheid van die hele Oorvaalse gebied erken het.

Uiteindelik is ons Voortrekkerleiers se jarelange strewe, stryd, opoffering, volharding en geloof suksesvol beloon en kon ons begin bou aan ‘n verenigde front in die staatsbestel van ons vrye Republiek.

Ek was bevoorreg om my hierna op my plaas terug te trek en met ‘n dankbare hart die laaste jaar van my veelbewoë lewe deur te bring.  Die spanningsvolle tye en gebeurtenisse, oorloë en stryd het hul invloed en merk gelaat, maar menige keer, wanneer ek so teen die aandskemering opgekyk het teen die majestueuse kranse van die Magaliesberg, het ek die almagtig God wat dit alles gemaak het, gedank dat Hy my saam met ander leiers van ons jong Afrikanervolk gebruik  het om in tye van nood op die voorpunt te staan.  My belangrike lewenstaak was afgehandel.

***

Andries  Pretorius is in Julie 1853 op 54-jarige ouderdom oorlede en op sy plaas begrawe, maar baie jare later in 1891 herbegrawe in die ou kerkhof van Pretoria, die stad wat na hom vernoem is.