Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe ons dink, bepaal wie ons is. Ons lewe is wat ons gedagtes daarvan maak. Gedagtes regeer die wêreld. Jou denke speel ‘n baie groter rol in jou lewe as wat jy ooit sal besef. Daarom moet ons ophou om aan lelike dinge te dink. Om van bose gedagtes vry te wees, is groot genade! Sê vir jouself: “Wat ek nie kan wegdink nie, gaan ek regdink”.
NAPOLEON EN GIDEON
Dr Gustav Norval
(Hier volg ‘n kosbare dog minder bekende uittreksel uit die lewens van bogenoemde helde - Red)
Napoleon het bekendheid verwerf met die oorlog teen die Oostenrykers gedurende 1796 en teen die Turke en Egipte tydens 1798. Gedurende November 1799 het hy die Franse revolusionêre regime omver gewerp en hoof van die land geword. 1800 Het hy Oostenryk aangeval en 1804 het hy homself as emperator van Frankryk gekroon. Gedurende 1806 het hy Europese lande ingeval en Europa aan hom onderwerp. Hy het die Britte, Duitsers en Russe verslaan en Spanje tydens 1808 ingeval. Die volgende jaar het hy Oostenryk weer aangeval en 1810 was Rusland ingeval, maar die Russiese winter het sy weermag uit die land verdryf.
Gedurende 1813 het gekombineerde magte van Pruise, Oostenrykers en Russe vir Napoleon aangeval en hy het hulle by Leipzig verslaan. Die volgende jaar het dieselfde alliansie hom opnuut aangeval. Hy het onder druk van die Europese koningshuise geswig en was toe na die eiland Elba verban. Februarie 1815 het hy van Elba ontsnap en daarna die Franse regering met geweld onttroon, maar die Britte, Oostenrykers en Duitsers het Napoleon opnuut rondom Junie 1815 aangeval en by Waterloo verslaan. Daarna was hy deur die Britte vir die res van sy lewe na die eiland St. Helena verban, waar hy onder toesig van Lt.genl. Hudson Lowe geplaas was.
Napoleon se medikus en ‘n paar van sy weermag-offisiere was ook saam met hom verban. Napoleon het gely aan erge periodieke maagkrampe en verlamming van sy bene, alles simptome wat eers baie later deur ‘n Sweedse tandarts as arseen-vergiftiging herken was. Napoleon het op 51 jarige leeftyd op 5 Mei 1821 ‘n baie pynlike dood gesterf.
Napoleon en sy sarkofaag
Napoleon se hare is afgesny en onder die aanwesiges verdeel. Napoleon was aanvanklik op St. Helena begrawe. Napoleon se dokter Louis Marchand het ‘n noukeurige dagboek van Napoleon se simptome gehou vandat hy siek begin word het. In 1950 was Marchand se dagboek op ‘n veiling deur ‘n Sweedse tandarts, Sten Forshufvud gekoop. Volgens sy boek “The murder of Napoleon”, het hy agtergekom dat Napoleon se simptome met die van arseen-vergifting ooreenstem.
Die verkoper van Marchand se dagboek het ook ‘n bietjie van Napoleon se hare gehad. Sten het van Napoleon se hare by hom gekry om toetse vir die teenwoordigheid van arseen uit te voer. Die hare was 9 cm. lank en verteenwoordig 6 maande se groei. Dit is bekend dat hare arseen stoor soos dit in die liggaam kom. Een van Napoleon se hare was in 8 stukkies verdeel en elk getoets : slegs een deel het minimum arseen getoon, die ander 7 dele was gelaai met arseen. Dit dui aan dat Napoleon vergiftig was. Ook Napoleon se lyfwag/kosbereider Cipriani was vergiftig.
Grafiek wat die hoeveelheid arseen in die 8 stukkies hare wys
‘n Post-mortem op Napoleon se lyk het aangetoon dat al sy lyfhare uitgeval het, wat ook ‘n teken van arseenvergifting is. Sy oorskot is gedurende 1840 opgegrawe en sy lyk het uiters goed bewaar gebly, wat nog ‘n bewys is van arseenvergiftiging. Sy oorskot was daarna na Parys geneem waar dit herbegrawe is in ‘n massiewe marmer sarkofaag. Waarskynlik is sy oorskot steeds in dieselfde toestand as die dag toe dit in 1840 opgegrawe was en dít weens die bewaringseienskap van arseen. Sy generaals se harte is in flesse, rondom die kis, in nisse teen die mure geplaas.
Wie was verantwoordelik vir die vergiftiging? Napoleon was versot op Groot Constantia soetwyn afkomstig van die Kaap, wat deur die Britte vir hom ingevoer was. Dit blyk dat een of meer van Napoleon se Britse oppassers die gif in die wyn aan hom toegedien het. Die 6 Britse dokters wat teenwoordig was by sy lykskouing, het sy dood toegeskryf aan “early signs of stomach cancer.” Volgens die lykskouing was daar geen pertinente tekens van maagkanker nie, maar slegs rooi vlekke in die maagwand. Gif kan dieselfde beeld in die maagwand veroorsaak. Sodoende het die Britte ontslae geraak van hul grootste teenstaander, aangesien hulle bang was dat hy weer kon ontsnap, die wêreld dan weer in oorlog sou dompel en weer diktator oor die hele Europa sou speel.
Gideon Jacobus Scheepers (“Johnny”) is gebore te Middelburg Transvaal op 4 April 1878 en hy het op 16-jarige leeftyd by die Staats Artillerie in Pretoria as telegrafis aangesluit. Hy het hom verloof aan ene Johanna Scheepers en hy was later na die Vrystaat se heliografiste-afdeling oorgeplaas. Tydens die Engelse Oorlog was hy saam met die Boere-magte op Kimberley en Magersfontein. Daarna het hy te lande gekom in Genl. De Wet se kommando, waar hy bevorder is tot kaptein van ‘n 30-man spioenkorps. Vanaf September 1900 het hy hom toegespits om spoorlyne op te blaas en Britse treine te ontspoor.
Gedurende Oktober 1900 is hy en sy groep van 220 man in die Phillipolis-gebied in gevegte gewikkel. De Wet het Gideon na Rouxville gestuur, vanwaar hy en sy burgers die Kaap-kolonie moes inval. Na gevegte op 13 Desember 1900 in die Rouxville-distrik, het Gideon, kmdt. Fouche en genl. Kritzinger die nag van 15 Desember 1900 die Kaap naby Aliwal Noord met 300 burgers ingeval. Die doel van die inval was om nuwe rekrute vir die oorlog te werf en om die Kaapse Afrikaners opstandig te maak teen Britse oorheersing. Sodoende kon hulle ook baie Britse troepe uit die Transvaal en Vrystaat na die Kaap lok om die oorlogsdruk op die Transvalers en Vrystaters te verlig.
By Venterstad was hulle weer in ‘n geveg betrokke, waar hulle wapens en voorraad gebuit het. Daarvandaan het hulle na Jansenville, Murraysburg, Graaff-Reinet en Cradock versit, waar hulle telegraaflyne, treine en spoorlyne verwoes het. Gedurende 1901 het Gideon se kommando van 150 man die Britte oral lastig geval in die Aberdeen-, Willowmore-, Oudtshoorn-, Uniondale-, Grahamstad-, Riversdal-, Montague- en Laingsburg-distrikte. Hulle was ‘n hoogs mobiele eenheid, wat vinnig en hard toegeslaan het en ‘n doring in die Britte se vlees. Gideon se burgers was almal jong manne en seuns en elkeen was uiters geheg aan hul leier. Elk het hoede gedra met wit bande om – elke avontuurlustige tiener-seun se droom was om by hierdie kommando aan te sluit. Baie meisies het aan Gideon geskryf en wou hom graag ontmoet.
Daar was ook ander Boere-kommando’s doenig in die Kaap, soos die van Genl. Wynand Malan, kommandante Willem Fouche, Van Reenen, Manie Maritz, Jan Smuts ea. en 45,000 Britse troepe was gemobiliseer om die kommando’s uit te wis. Die Britse offisiere hiermee gemoeid was Col. Parsons, Col. Scobel, Col. Grenfell, Genl. Settle, Col. Haig, Col. Doran, met Genl. French in algehele beheer.
In Murraysburg het Gideon hom voorgedoen as ‘n Britse offisier en het saam met hulle in die hotel gesit en gesels. So het hy hul planne te wete gekom sonder dat hulle bewus was met wie hulle te doen gehad het. In Uniondale het hy gedurende ‘n nagmaal-geleentheid die magistraat gedwing om die tronk oop te sluit en Afrikaner politieke gevangenes los gelaat, waarna hy die Vierkleur gehys het en die aanklag-dokumente teen die gevange Afrikaners verbrand het. Gideon het telkemale die Britse kolonne ore aangesit met vals heliografiese seine.
Sy kommando het in die rigting van Oudtshoorn beweeg waar hulle kort-kort met Britse troepe slaags was. Hy het daarna met sy 250 jong burgers en met Genl. Wynand Malan se burgers in die Kamdebo in die Murraysburg-Willowmore-Aberdeen-distrikte aktief opgetree. Tydens die eerste 6 maande van 1901 het hy reeds 6 treine gebuit en verniel, talle gevegte met Britse troepe en Town Guards gehad, honderde Britse troepe geskiet, gewond of gevang en uitgeskud, ‘n aantal swart spioene en bruin soldate tereggestel en omtrent 12 huise van pro-Britse Afrikaners afgebrand.
Die Britse owerhede was raadop met Gideon se kommando omdat hy altyd suksesvol was met sy strategie en aanvalle. Britse prestige was in die gedrang en honderde Kapenaars het by Gideon of by Fouche en Malan se kommando’s aangesluit. Die Britte het ‘n algemene opstand van Kaapse Afrikaners teen hulle bewind in die Kaap gevrees en daarom het Kitchener sy beste offisier, Genl. French, opdrag gegee om die Boere-kommando’s in die Kaap uit te wis. Hy moes ook alle Kaapse rebelle vang en teregstel.
In die begin van Julie 1901 het Gideon Murraysburg aangeval en die regeringsgeboue afgebrand en regeringsgelde in die Standerd Bank gekonfiskeer. Daarna het hy ‘n proklammasie uitgevaardig dat diegene wat kommando-bewegings aan die Britse troepe verraai, se huise afgebrand sou word. Gideon was teen die tyd al beskou as die gevaarlikste vyand van die Britse imperiale agenda in die Kaap. Die Britte het teruggekap met ‘n krygswet wat gelei het tot ‘n skrikbewind en 45 gevange Kaapse rebelle was geskiet of gehang. Op 27 Julie 1901 het Gideon twee verraaiers se huise op Aberdeen afgebrand, waarna hy teen Willomore se “Defence Force’’ geveg het en Millerstasie afgebrand het. Op 6 Augustus 1901 het sy burgers ‘n swart polisieman geskiet en ook was ses verraaiers se huise in die maand afgebrand.
Talle rebelle het teen die tyd by Gideon se kommando aangesluit en op 11 Augustus was hulle betrokke in gevegte met Col. Scobell se troepe en toe met Col. Alexander se troepe. Hulle het daarna na Steytlerville getrek, waar ook geveg was en waarna het die kommando na Humansdorp versit het. Teen die einde Augustus het hulle naby Calitzdorp geveg, daarna weer te Ladismith en op 30 Augustus was hulle betrokke in gevegte met die Riversdal Defence Force. Op dieselfde dag is weer ‘n verraaier se huis afgebrand en op 31 Augustus het hulle naby Barrydale geveg. Daarna volg die geveg met Montague se Defence Force, waarna hulle na Touwsrivier versit het. Hier was 2 swart spioene geskiet, waarna hulle oor Laingsburg weer na die Ladismith-distrik versit het. Op 9 en 10 September het die geveg te Driefontein in die Swartberg-area plaasgevind, waar 7 burgers gesneuwel het en 20 weens verraad gevang was.
Etlike treine is deur Gideon se burgers ontspoor en gebuit. A.g.v. van ‘n treinaanval naby Middelburg, het die Britte 3 onskuldige plaasmense naby die ontsporingstoneel aangekeer en as waarskuwing op 19 Maart 1901 in De Aar doodgeskiet. Die slagoffers was Petrus Nienaber, sy vader Charel GJ Nienaber en Jan Niewoudt. Op 12 September het een van Gideon se burgers oorgegee en net daarna het ene Danie Hugo (wat ‘n Britse agent was) na Gideon gekom om by sy kommando aan te sluit. Hy was ‘n broer van een van Gideon se burgers en ook broer van Regter-kommandant Hugo van Bloemfontein. Danie Hugo het aan Gideon verklaar dat hy oppad na die Kaap vanaf die Vrystaat uit ‘n trein ontsnap het, maar Gideon se burgers was skepties oor die man se gladde maniere, sy swart pak klere en wit handskoene. Hy het aangebied om die kommando se kos te kook.
Op 21 September het die kommando op ‘n plaas langs die Kamanassie-rivier naby Dysseldorp afgesaal. Hugo het aan Gideon en sy 16-jarige adjudant, Karel Lehmkuil, in die plaashuis elk ‘n glas wyn aangebied en daarna van die toneel verdwyn. Lehmkuil wat net een sluk van die bitter wyn geneem het, was die eerste om die arseen se effek te toon. In die Huisgenoot van Mei 1938, het Lehmkuil beweer dat hy en Gideon saam vergiftig was. Die man verantwoordelik vir die vergifting was die einste Danie Hugo van Smithfield, wat in die 1930’s in die Kaapse Midlande-distrik verdrink het. Dit blyk dat Hugo deur een of meer Britse offisiere betaal was om Gideon met arseen te vergiftig. A.g.v. Gideon se vergifting het hy in Britse hande geval en is hy ter dood veroordeel. Dieselfde Hugo het later by Manie Maritz se kommando opgeduik om Manie te vergiftig, maar die poging het misluk.
Britse troepe het die plaasopstal aangeval en twee manne het hul lewe hier verloor. Gideon en sy burgers het uitgejaag en Karel was by ‘n ander plaashuis gelaat, waar ‘n tante hom behandel het vir vergifting deur hom braakmiddels in te jaag. Gideon het die volgende dag erge maagkrampe, spier-swakheid, verlamming van die bene en naarheid ondervind, alles simptome van arseenvergiftiging. Op 23 September was hulle naby die Kangogrotte, vanwaar Gideon ‘n burger met ‘n witvlag na Oudtshoorn gestuur het om ‘n dokter te ontbied, maar die dokter was nie bereid om ‘n siek Boer te kom help nie.
Gedurende September het Gideon en sy burgers in die Swartberg-distrik deurgebring, terwyl sy toestand steeds versleg het. Hy was later met ‘n perdekar vervoer wanneer sy kommando versit het. Vroeg in Oktober was hulle naby Calitzdorp waar hulle byna elke dag moes veg. Op 6 Oktober is ‘n burger na Ladismith gestuur om ‘n dokter te ontbied. ‘n Britse militêre dokter het gekom en aan Gideon gesê: ‘’You have been poisoned by a slow poison” en dat hy moes hospitaal toe, waarvoor Gideon toe nie kans gesien het nie. Aan Karel Lehmkuil het die dokter gesê :
“Most of the poison is out of your body, but your stomach suffered permanent damage.” Karel sou vir die res van sy lewe sukkel met sy maag. Al die burgers en plaasmense en selfs die media het teen die tyd geweet dat Gideon en Karel vergiftig was. Op 7 September 1901 vind ons Gideon en sy burgers by die Witteberge, Wes van die Swartberge en vroeg Oktober was hulle naby Prins Albert. Teen die tyd was Gideon se toestand ernstig en op 10 Oktober het hulle op die plaas Koppieskraal, 20 km. Noord van Gamkaskloof, afgesael.
Hier het Gideon afskeid van sy burgers en agterryer geneem. Iemand was na Prins Albert gestuur met die boodskap dat Gideon wou oorgee en dat hy versoek het dat ‘n ambulans hom moes kom haal vir behandeling in die dorp. Dr. Mearns en Britse troepe het later opgedaag en Gideon per trein na Matjiesfontein vervoer. Na ‘n week, is hy op 19 Oktober vir ‘n maand na Beaufort-wes se hospitaal oorgeplaas en vandaar op 14 November weer vir drie weke na Noupoort hospitaal.
Gideon in die Britse hospitaal
Op 8 Desember was hy na Graaff-Reinet vervoer, waar hy in die hof moes verskyn op aanklagte van “moord op swart soldate” en aanklagte van brandstigting. Scheepers het tereggestaan op 31 aanklagtes: 7 van moord, 1 van poging tot moord, 1 aanklag dat hy gevangenes in die vuurlinie geplaas het, 1 van mishandeling van gevangenes, 3 aanklagtes dat hy mense ʼn loesing met ʼn sambok gegee het, 2 aanklagtes van saakbeskadiging (spoorlyn en trein) en 16 aanklagte van brandstigting. Die aanklaer Tennant het 52 getuies geroep, meestal leuenaars wat omgekoop was om te lieg. Scheepers het die prokureur Thomas Auret, aangestel om hom te verdedig. Gideon se verweer was dat hy onder Genl. De Wet se bevele opgetree het om swart spioene tereg te stel en dat die Britse troepe baie duisende huise in die Transvaal en Vrystaat tydens 1900 en 1901 afgebrand het. Een van die mense wat teen Gideon getuig het, was Jan Momberg, ‘n gevange rebel van Gideon se kommando en wat in ruil vir sy vrylating teen Gideon wou getuig. Hy het volgens voorskrif talle valshede en leuens in die hof kwytgeraak. Die verhoor het vanaf 16 Desember tot op 28 Desember geduur en Kitchener het sy doodsvonnis op 14 Januarie 1902 bekragtig.
Op 17 Januarie 1902 moes die siek Gideon sy doodsvonnis op Graaff-Reinet se markplein voor talle dorpsmense aanhoor waar Col. A Henniker dit aangekondig het. Sy stem het gebewe toe hy die vonnis aflees, waarna Gideon sy hoed afgehaal en gebuig het. Op daardie oomblik het ‘n groot rots van die berg agter die dorp losgeraak en donderend die steilte afgerol, voordat dit in twee stukke gebreek het. Dit was asof die hemele uitgeroep het teen die skreiende onreg wat teen Gideon gepleeg was. Gideon het die Britte versoek om deur Britse troepe, en nie deur Afrikaner-verraaiers in Britse diens, geskiet te word. Die aand voor sy dood, het hy aan sy ma geskryf, maar sy het nooit die brief ontvang nie. Hy het geskryf : “ek is tot die dood veroordeel op valse getuienis, gelewer deur leuenagtige getuies, waarvoor hulle betaal was, maar moeder moet nie oor my ween nie - ek verlaat ‘n land waar ‘mag is reg’ en gaan na ‘n land waar ‘reg is mag’ ’’. Hy sou die oggend van 18 Januarie 1902 geskiet word, maar die teregstelling was tot die middag uitgestel om die offisiere kans te gee om eers polo te speel, siende dat hulle graag die teregstelling wou bywoon.
Gideon se laaste foto in die tronk geneem
Gideon is die middag per ambulans buite die dorp geneem, waar hy aan ‘n stoel gebind en geskiet is deur 10 troepe, op die plek waar voorheen 8 ander Boere geskiet was. Gebluste kalk is in die gat gegooi tesame met sy lyk, die stoel en sy hoed. Die nag van die 18e het lt. Campbell, pastoor Miller en 4 soldate op Henniker se bevel, tydens ‘n donderstorm die graf geopen en Gideon se lyk uitgehaal om elders te begrawe. Waar die graf was is onbekend en is waarskynlik toe onder die Sondagsrivierdam, wat later Noord van Graaff-Reinet gebou was. Dit is duidelik dat die Britse owerhede bang was dat die Boere die lyk later sou opgrawe en ‘n martelaar van hom sou maak. Daar was gerugte dat hy vergiftig was en dit sou moles afgee as toetse uitgevoer sou word en arseen in sy lyk gevind was. Dit sou ‘n groot verleentheid vir die Britse owerhede veroorsaak, aangesien hulle die vergiftiging beplan en die gif aan Hugo verskaf het. Wie dit was, is onbekend, maar dit kon Tennant wees, wie se taak dit was om Kaapse rebelle te jag, verhoor en te vonnis. Waarskynlik was Col. Henniker (Britse stafhoof Graaff-Reinet) betrokke, want hy het beveel dat Gideon se lyk in die geheim in ‘n ongemerkte graf herbegrawe moes word die nag na sy moord.
Henniker
‘n Amerikaanse senator het by die Britse regering om begenadiging vir Gideon gevra, maar dit was nie beskore nie. Ook het Duitse- en Hollandse koerante die moord op Gideon sterk veroordeel. Gideon se moeder het vir dekades na hom gesoek toe sy verneem het dat die graf leeg gevind was. Sy het briewe na Britse hooggeplaastes en na die Suid-Afrikaanse regering geskryf, maar sy kon nêrens berusting vind nie. Mense het haar vir jare lank bombardeer met stories dat hy lewe en dat hy gesien was.
Gideon Scheepers het sy plek ingeneem in die Boere-martelaar gallery, saam met Jopie Fourie, Genl. De La Rey en Genl. Beyers. Die nadraai van sy onregverdige moord sou vir dekades bitterheid in politieke kringe veroorsaak. Soos in die geval van Napoleon Bonaparte, wat ‘n groot brommer in die salf vir die Britse regering was, so was Gideon Scheepers ook ‘n lastige vlieg. Die Britte kon nooit Napoleon en Gideon se krygsvermoë, hul bewonderingswaardige vernuf en veggees op die slagveld oorwin nie en het hulle die twee mense op ‘n laakbare manier vergiftig. Om alles te kroon, was Gideon midde sy pyn en lyding, deur ‘n klugverhoor tot die dood veroordeel en moes hy voor honderde dorpsmense sy vonnis aanhoor.
Baie sterftes in die konsentrasiekampe was te wyte aan vergifting met strignien, skaapdip of arseen in vrouens en kinders se voedsel, of saam met medikasie vir kinders toegedien (soos bevestig in Emily Hobhouse se boek “The Brunt of the War”). Ook was daar pogings om Paul Kruger en Genl. De Wet te vermoor. Genl. De Wet se burgers het twee verraaiers gevang in eie geledere wat betaal was om De Wet om die lewe te bring. Saam met die Britse oorwinning in 1902 het gekom die oorheersing deur volksvreemdes, plundering van die Boere se goud- en diamant-myne deur geldmagnate wat die Britse oorlogspoging beheer het, aftakeling van die Boere se nasionalisme, kultuur en identiteit, asook die vestiging van humanistiese beginsels en verheerliking van materialisme. Dit was vergiftiging en moord op die psige en gees van ons Boerevolk.