Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Soos ons ouer word verwyt ons onsself dikwels vir tyd wat nie reg gebruik was nie, verlore gegaan het omdat ons onbelangrike dinge gedoen het – baie mense sal eendag by God hoor dat hulle baie dinge goed gedoen het waarvan hulle nooit eers bewus was nie.
ELKE HOND KRY SY DAG
GUSTAV NORVAL
Teen die einde van Desember 1838 het Piet Retief en 10 trekkers vanaf Kerkenberg in die Oos Vrystaat na Dingaan se stat vertrek. Retief wou met die Zulu-koning onderhandel vir die verkryging van die landstreek tussen die Tugela- en Umzimvuburiviere. Oppad soontoe het die kommissie op inboorlinge te perd afgekom, wat soos Boere geklee en gewapen was. Hulle was besig om honderde Nkuni-Zulubeeste in ‘n noordwaartse rigting al langs die Drakensberge aan te jaag.
By Dingaan gekom, het Retief-hulle verneem dat hy die Boere verdink het van moord op sy beeswagters en roof van sy koninklike beeskudde. Retief het dadelik besef dat sekere mense besig was om hom en sy trekkers as moordenaars en rowers aan die Zulu’s voor te hou. Retief het daarom vir Dingaan gevra om van sy induna’s beskikbaar te stel om die burgers te vergesel na die eintlike rowers wat in die huidige Witsieshoek gebly het. Retief en sy burgers het met die induna’s in hoofman Sikonjella se stat aankom, waar hulle die geroofde vee gevind het. Retief se burgers het die Zulu-beeste, perde, westerse klere en gewere gekonfiskeer, asook addissionele beeste vir die moeite wat die Makatese die burgers aangedoen het.
Twee sendelinge, byname Dumas en Allison, het Retief en die burgers uitgeskel vir alles wat laag en gemeen was. Britse militêre offisiere was as agente deur die Anti-Slavery Society en Aborigenes Protection Society in London na Dingaan en na Umzilikaze, koning van die Matabeles, gestuur. So was Captain Cornwallis Harris, Lt. Moultrie en Captain Sutton na die Matabeles en Captain Allen Francis Gardiner na Dingaan gestuur om die twee swart konings te oortuig dat die Voortrekkers drosters was wat hul rug gekeer het op hul koningin Victoria, dat sy die slawe bevry het uit die Boere se hande en dat die trekkers uit die Kaap padgegee het met die doel om die Matabeles en die Zulu’s as slawe te vang en om hul vee te roof. Dit was juis die beesrowers, wat hulle as Boere voorgedoen het waarop Retief en sy kommissie afgekom het. Die Britse agente het die swart kapteins omgehaal om die trekkers te vermoor. Engeland het hul oog gehad op Natal se steenkool en die Boere se teenwoordighied in Natal was dus ‘n probleem
Allen Gardiner, Cornwallis Harris en Lord Napier
Harris en Sutton, wat hulself as jagters voorgedoen het, het ná die moorde deur die Matabeles op Potgieter se trekkers langs die Vaalrivier, heel gemaklik tussen die Matabeles aangebly sonder om lastig geval te word. Harris het selfs in sy boek geskryf dat hy vier ontvoerde trekkerkinders by die terugkerende Matabele-soldate gesien het.
Die sendelinge by Sikonjella se stat was deel van die komplot, net soos die sendelinge wat die Pondo’s van Suid-Natal in 1840 opgestook het om die trekkers aan te val. Volgens Preller het die rowers op die Zulu’s gevuur en “amabula” (Boere) geskree. Die trekkers was deeglik bewus van die gemene rol wat die Britse Lords en Sirs en hul Societies in London, asook die sendelinge van die London Missionary Society en Goewerneur Lord Napier van die Kaap gespeel het in die moorde op Retief en sy 69 man, die Bloukransmoorde op 201 kinders, 54 man en 64 vroue en die sowat 30 moorde langs die Vaalrivier op Potgieter se trekkers.
Die trekkers se dagboeke, asook die boeke van Gustav Preller (“Voortrekkermense deel 1 tot 6”) en Bird se “Annals of Natal” getuig van die komplot wat in London gesmee was om die trekkers te laat vermoor soos in fyn besonderhede in die boek “Bloed, sweet en trane” (EJG Norval, Bienedell Uitgewers) beskryf. Napier het daarbenewens die trekkers se wapens by die Oranjerivier laat afneem, ook het hy Adam Kok teen die trekkkers laat opsteek om hulle in die Suid Vrystaat aan te val. Selfs ‘n skip vol wapens wat bestem was vir die trekkers in Natal, was deur sy toedoen voorgekeer. Die Britse owerhede se poging om die trekkers geheel en al uit te delg, het egter nie geslaag nie.
Na sy verblyf by Dingaan in Zululand, het Commander Captain Allen Gardiner van die Britsh Royal Navy homself geroepe gevoel om die bewoners van Nieu Guinea en die Indiane van Noord- en Suid-Amerika te bekeer. Hy het die South American Missionary Society gestig met die doel om die Suid-Amerikaanse Indiane te bekeer. Gardiner en ses sendelinge het in 1850 met twee kleinerige bote en met ses maande se voorraad via die Falkland eilande na Tierra del Fuego geseil. Dit is die groot eiland aan die suidpunt van Suid-Amerika en die doel van die reis was om God’s woord aan die primitiewe Yaga-Indiane te bring. Die groep het gedurende Desember 1850 daar geland, maar hulle was deur die Indiane verjaag en gejag, sodat hulle vir hul lewens moes vlug.
Lede van die nou-uitgestorwe Yaga-Indiane vir wie Gardiner wou bekeer.
Die Indiane het die meeste van hul voorrade en al hul ammunisie afgeneem en al hul Bybels het in die see beland. Vir maande moes hulle in grotte en onder een van die gestrande bote leef en wag vir die skip wat voorraad in September 1851 sou bring.
Die sendelinge het een vir een weens siekte, koue, honger en blootstelling beswyk en volgens Gardiner se dagboek-inskrywings was hy die laaste van die sewe wat toe nog gelewe het. So het die man, wat gestuur was om Dingaan teen die trekkers op te hits, uiteindelik ‘n eensame hongerdood op ‘n ysige Godverlate plek in September 1851 gesterf. Bemanning van die voorraadskip het die volgende maand sy oorskot langs ‘n omgeslane boot gevind. Die Anglikaanse kerk vereer steeds vir Gardiner as ‘n “saint of the Christian Faith”. Mense van die stad Durban vereer Gardiner as die stigter van Durban, maar in die Boeregeskiedenis is hy maar nog een in die lang lys van moordenaars van ons volk in die empire se belang… en hieroor swyg ons geskiedenisboeke dekades lank soos die graf.
Bronne:
Voortrekkermense deel 1 tot 6 deur Gustav Preller
Captain Allen Gardiner of Patagonia deur Jesse Page WH Stirling
The story of Commander Allen Gardiner deur JW Marsh en WH Stirling
Bloed sweet en Trane, Bienedell uitgewers 2004 deur EJG Norval