CHRISTIAAN RUDOLPH DE WET VERTEL…

Toe die oorlog in 1914 tussen Engeland en Duitsland uitbreek, het ons dit as die aangewese geleentheid gesien om ons verlore onafhanklikheid te herwin op 'n tydstip wanneer Engeland al sy aandag in die oorlog aan sy vyande sou bestee.  Ag, hoe maklik sou ons nie daarin geslaag het nie, maar ... min het ons geweet dat ons toe nie meer bondgenote gehad het in die persone van ons Eerste Minister en sy Minister van Verdediging nie.  Generaal Louis Botha en generaal Jan Smuts, bittereinders van die Tweede Vryheidsoorlog, wat saam met my en al die ander die heroïese stryd teen Groot-Brittanje vir die behoud van ons onafhanklikheid gevoer het, het hulle Boereharte vir Engelse harte verruil en Suid-Afrika as bondgenoot van Engeland in die stryd laat toetree.

Die rebellie wat toe as protes daarteen plaasgevind het, was feitlik uit die staanspoor tot mislukking gedoem.  Ek moes uiteindelik, met nog net ses man by my, aan Botha se troepe oorgee.

Gedurende die ses maande wat ek as gevangene aangehou is, het ek dikwels daaraan gedink hoe anders die verloop van ons vryheidstrewe sou gewees het indien daar in alle lae van ons Afrikanervolk nie die menigvuldige dade van verraad in eie geledere ons in ons stryd teen die vyand lam gelê het en verhinder het om ons einddoel te bereik nie.  Maar die wete dat ons gedurende ons vryheidstryd nie tevergeefs gestry het nie en dat uit die vernedering van ons neerlaag teen die vyand, nuwe hoop en daadkrag by ons verslane ou volkie besig was om te ontwaak en te groei totdat daar weer volkome vryheid oor ons Suid-Afrikaanse velde sal skyn, was my stukrag en my troos om met berusting voort te gaan totdat die aandskaduwees ook oor my lewe sou verdonker.

Genl Christiaan Rudolph de Wet is in 1922 oorlede . Sy begrafnis het soos dié van president Steyn, aan die voet van die Vrouemonument plaasgevind.  Later het ook die stoflike oorskot van sy vriend, ds Daniël Kestell bygekom en ook dié van daardie uitsonderlike vrou, Emily Hobhouse, wat so baie gedoen het om die lyding van die vroue en kinders in die konsentrasiekampe en daarna, te versag.

In die dood is die drie goeie vriende, wat soveel vir mekaar beteken het, weer bymekaar op die terrein van die monument: Christiaan de Wet die krygsman, president MT Steyn die staatsman en prof dr JD Kestell die Godsman.

Die Here het hulle gebruik om op verskillende terreine diens te lewer aan ons swaarbeproefde Afrikanervolk.