DIE DAPPER KOOS vd MERWES!

Daar word dikwels oor die naam Koos van der Merwe grappies gemaak, kortes en langes. Maar daar is ook ‘n ernstige en ware gebeure oor ‘n regte Koos van der Merwe. Omdat een grappie en die ware verhaal soveel ooreenkoms toon wil ons beide hier vertel.

Een van die langer grappies het gegaan oor die onblusbare groot vuur in Amerika –almal het al probeer, maar onsuksesvol. Toe besluit Koos van der Merwe van Suid-Afrika, hy ook gaan probeer om die verskriklike vuur te blus en kort voor lank is hy op ‘n spesiale vliegtuig met sy Jeep agter in die romp van die vliegtuig saam met ‘n hele spul geswore vuurslaners.

Die vliegtuig land toe ook sommer teenaan die yslike vlamme daar in Amerika, die romp word oopgemaak en daar jaag die Jeep met ‘n groot aantal vuurslaners met spoed reguit die vuur in. Omstanders sien net rook trek, hoor ‘n vreeslike geskreeu en harde taal wat hulle snaaks genoeg, komende van die vreemde klomp Suid-Afrikaners, nogal verstaan, maar woeps-waps en daar is die vuur dood.

‘n Pikswart Koos en sy vuurslaners kom uit die digte rook gestap en almal prys hulle. ‘n Toeskouer naby aan Koos klap hom op die skouer en vra: “Weldone Sir, and what are you going to do now?”  Koos kyk die man op en af en sê: “My magtag man, ek gaan natuurlik nou eers daai Jeep se brieke laat reg maak!”

Nou volg die ware verhaal waarin ‘n regte jong Koos van der Merwe in alle erns en baie dapper, regtig ‘n pragtige heldedaad verrig het.

Koos en sy ouers het in die Vereniging-distrik gewoon. Dit was die jaar 1953, hy was vyftien jaar oud en in standerd agt.

Koos was op 'n dag in Augustus per fiets op die pad toe hy sien hoe 'n verwoestende veldbrand vyf beeste in 'n kamp vaskeer. Die hitte was so erg dat hulle benoud en amper histeries was. Koos het van sy fiets afgespring en dwarsdeur die vlamme na die beeste gehardloop met die idee dat hy hulle terug deur die vuur sou jaag, maar daarvoor was hulle nie te vinde nie. Toe begin Koos om een van die beeste se stert so styf op te wen dat die pyn te veel vir die arme dier was. Hy het deur die vlamme gebars, en natuurlik het die ander vier vinnig gevolg. Koos is sommer saam met die laaste bees deur die vuur gesleep maar sy broek was halfpad afgebrand en ook sy fiets toe hy daar kom.

Koos se beloning was egter genoeg: die stadsraad van Vereniging het vir hom 'n nuwe fiets gegee, die Dierebeskermingsvereniging het aan hom 'n silwer horlosie gegee, en Die Voortrekkerbeweging waarvan hy lid was, het aan die hom die Reddingsboei, 'n medalje vir dapperheid, oorhandig.

Ons mag dalk nou met ‘n ander oog na die Koos van der Merwes in ons land kyk...