Dr JP Botha
Lees reeks by Voortrekker-pioniers
Die skeuring in die gemeenskap (2)
Potgieter het op hierdie stadium ‘n veel groter aantal ondersteuners as die volksraad gehad. Die byeenkoms van 20 September 1846 is deur 222 persone bygewoon en die genome besluite is kort daarna deur ‘n totaal van 633 handtekeninge bekragtig.
Met die aanvang van die vergadering is JJ Burger aangeskryf om met alle volksraadstukke teenwoordig te wees sodat die ondersoek ‘n aanvang kon neem, dog hy het nie opgedaag nie.
Indien die griewe van die twee partye op hierdie vergadering behoorlik uitgepluis kon word en as daar ‘n gees van toenadering bestaan het, sou die breuk miskien in groot mate geheel kon word. Albei partye het egter ‘n styfhoofdige houding ingeneem wat enige samewerking onmoontlik gemaak het. Die Potgieter-volgelinge, bewus van hul krag, het die vergadering ‘n geleentheid gemaak om, met volle miskenning van die volksraad en bestaande bestuursinstellinge, ‘n splinternuwe grondwet op te stel waardeur die bestaande regeringsvorm totaal verander is en feitlik teruggekeer het tot die toestand wat tydens die Groot Trek bestaan het. Alle regeringsgesag is naamlik geplaas in die hande van die hoofkommandant. Hy sou die staatshoof wees en die wetgewende en uitvoerende gesag uitoefen onderhewig aan die goedkeuring van die publiek. Wat die regspraak betref, sou die veldkornette in hulle wyke met alle minder belangrike sake soos geskille tussen partye belas word, terwyl gewigtiger sake behartig en besleg sou word deur die hoofkommandant en ‘n Raad van Gezworenen, wat van 6 tot 72 kon wissel en by die samestelling waarvan die hoofkommandant self die belangrikste aandeel sou hê.
Bowendien sou in die distrikte Potchefstroom en Winburg ‘n addisionele Raad van Gesworenen uit 6 lede saamgestel om die twee kommandante aldaar behulpsaam te wees in die beslegting van geskille wat nie deur die plaaslike veldkornette opgelos kon word nie en vir die verhoor van sake in appèl, maar teen die vonnisse van hierdie plaaslike rade kon appèl aangeteken word by die hoofkommandant.
Ten slotte het die grondwet voorsiening gemaak vir die aanstelling van twee boedelberedderaars en ‘n kommissaris van huweliksake in elk van die drie distrikte Winburg, Potchefstroom en Andries Ohrigstad en vir ‘n klerk van die hoofkommandant. In laasgenoemde betrekking is die heer CJ Rabe aangestel en met die taak belas om vir die aantekening van plase in die Ohrigstadse distrik te sorg.
By die eerste oogopslag is dit duidelik dat die bestuursvorm wat deur hierdie konstitusie geskep is, nie aan ‘n wydverspreide gemeenskap se behoeftes kon voldoen nie, want alhoewel die hoofkommandant verplig was om die goedkeuring van die publiek te verkry vir alles wat hy wou aanpak, was dit vir die inwoners onmoontlik om regstreeks sonder verteenwoordiging hulle begeertes te kenne te gee weens die uitgestrekte woongebied. Vir ‘n verteenwoordigende liggaam van die publiek, dit is ‘n volksraad, is in die grondwet geen voorsiening gemaak nie. Die bestaande volksraad is in teendeel met hierdie grondwet deur die Potgieter-mense formeel afgeskaf en die kloof tussen die twee partye in die maatskappy is daardeur onoorbrugbaar gemaak want die Burger-party sou hulle by hierdie eensydige reëling nooit neerlê nie.
In werklikheid het daar te Ohrigstad nou twee regerings en twee administrasies bestaan wat mekaar se gesag nie erken het nie.
So het byvoorbeeld die klerk van die hoofkommandant, die huwelikskommissarisse en krygsamptenare deur Potgieter aangestel, nou gesamentlik landdroswerk verrig op gesag van die bestuur deur die Potgieter-konstitusie geskep, terwyl aan die anderkant landdros Grobler dieselfde funksies in die selfde gebied uitgeoefen het onder gesag van die raad! ‘n Ryker bron van potensiële moeilikhede as wat hierdie toestand gebied het, is werklik ondenkbaar. Die volkraad het dan ook nie gewag om op hierdie uitdading te reageer nie. Pas nadat Rabe begin het om plase vir Potgieter-volgelinge aan te teken, het Jacobus Burger hom laat weet dat sy raad dit as onwettig beskou en Rabe gedreig met stappe wat voor u onaangenaam zyn zal. Op dieselfde wyse het die volksraad heftig beswaar gemaak teen Potgieter se pogings om ‘n kerkgebou op die dorp te laat oprig.
Die Potgieter-ondersteuners daarenteen, het weer heftig beswaar gemaak teen ‘n besluit van die raad om aan die Portugese handelaar Joao Albasini ‘n erf op Ohrigstad toe te ken as beloning vir diens deur hom gelewer in verband met die ontdekking van ‘n vliegvrye pad na Delagoabaai, op grond daarvan dat die baan van die nuwe weg reeds vantevore al deur die hoofkommandant beplan is.
Soos aangedui was die Potgieter-volgelinge aan die begin egter nog ver in die meerderheid en die volksraad is só swak ondersteun dat op 10 Desember 1846 besluit is dat maar net 9 lede ‘n voltallige raad sou uitmaak. Gevolglik kon die raad aanvanklik niks doen om die miskenning van sy gesag aan bande te lê en aan die toestand wat feitlik aan rebellie gegrens het ‘n einde te maak nie. Gedurende 1847 het die toestand egter radikaal verander en het die gesag van die hoofkommandant baie getaan omdat ‘n groot gedeelte van sy mense uit die Ohrigstadse gebied weggetrek het.
Reeds vanaf die begin van 1846 het die neiging onder die bevolking van Ohrigstad ontstaan om weer na die weste terug te trek, waar hulle nog hul plase gehad het, meesal met die verskoning om te gaan klaar oes en dan weer terug te keer wat gewoonlik nie gebeur het nie. Ohrigstad het aan die verwagtings wat van hom gekoester is nie voldoen nie en na die skeuring in die gemeenskap het die aantrekkingskrag van die nedersetting snel verminder. Dit was veral die ondersteuners van die hoofkommandant wat gevestigde grondbesitters in Wes-Transvaal was wat in hoofsaak die wegtrekkers was, met die gevolg dat die volksraad eerlank in ‘n baie sterker posisie teenoor Potgieter te staan gekom het. Dit het laasgenoemde, wat gevrees het dat die volksraad planne beraam om hom en sy mense aan te val, met so ‘n donker onrus vervul dat hy twee maal ‘n dringende beroep op kommandant Gert Kruger te Magaliesberg gedoen het om die mense in daardie omgewing te beweeg om onmiddellik na Ohrigstad te kom ten einde die volksraad teen te staan.
Aan hierdie oproep het, na dit voorkom, ‘n aansienlike getal persone uit die weste gehoor gegee en tydelik na Ohrigstad gekom, sodat die volksraad oor so baie gewapende burgers se teenwoordigheid op die dorp begin onrustig word het. Inderdaad het hulle rede daartoe gehad want die Potgieter-party het werklik beoog om nou ‘n einde aan die regering van die volksraadsparty te maak en om hierdie doel te verwesenlik, besluit om die staatsdokumente in die hande te kry. Die heersende opvatting was naamlik dat besit van die staatspapiere sinoniem was met die besit van staatsgesag.
Die volksraad daarenteen het onversagde pogings aangewend om die hoofkommandant in ‘n slegte lig by die publiek te bring en hom te verneder. Hy is onder andere van verskeie onwettige vergrype teenoor naturelle-opperhoofde soos afpersing van osse en slagvee beskuldig en daarna op 10 Januarie 1847 skriftelik gedaag om voor die volksraad verantwoording te kom doen vir sy wandade. Twee volksraadsondersteuners, Diederik Lafnie en Piet Joubert, is afgevaardig om dié vermetele dagvaarding, wat die bewys moes lewer dat Potgieter nog onder die gesag van die raad staan, aan hom te gaan oorhandig. Hulle is egter deur ongeveer dertig ondersteuners van die hoofkommandant voorgekeer en hardhandig gedwing om onverrigter sake terug te keer.
Vererg oor hierdie astrantheid van sy teëstanders het Potgieter nou besluit om die volksraad ‘n slag deeglik te verneder en met die oog hierop het hy drie dae later Jacobus Burger met sy seuntjie in die omgewing van Strydfontein deur veldkornet Minnaar laat voorkeer en gevange neem onderwyl hulle na afloop van die volksraadsvergadering op die dorp besig was om na Burger se plaas terug te ry. Die seun is egter weer vrygelaat en Burger is toegelaat om per brief die toedrag van sake aan sy ondersteuners oor te bring.
(Lees in die volgende artikel oordie voortgesette twis)