Dr JP Botha
Lees reeks by Voortrekker-pioniers
Vestiging van die Ohrigstadse gemeenskap (3)
Met hierdie klein “amptenary” - ‘n hoofkommandant, ‘n volksraadsekretaris, ‘n paar veldkornette, huwelikskommissarisse en ‘n landdros, aangevul wanneer omstandighede dit vereis het met persone uit die publiek om spesiale take te verrig soos die inspeksie van plase, het die raad die taak wat op hom gerus het, aangepak.
Die eerste taak wat aandag vereis het, was die permanente vestiging van die mense wat getrek het in die nuwe gebied en daar is dus onverwyld ‘n aanvang gemaak met die uitgee van erwe in die nuwe dorp Andries-Ohrigstad en van plase in die nuwe distrik wat nou ontwikkel moes word.
Regulasies in verband met die aantekening van plase, die grootte daarvan en die manier waarop dit uitgegee sou word, is reeds op 2 Augustus 1845 deur die volksraad aangeneem. Die grootte van die plase is deur die ligging daarvan bepaal en die meeste plase is aan die vernaamste riviere en spruite uitgegee om die eienaars daarvan in staat te stel om vir besproeiing voorsiening te maak.
Vanaf 2 Augustus 1845 tot 22 Januarie 1846 is 67 plase langs die Dorpsrivier (later Ohrigstadrivier genoem), Kasperrivier, Bleyrivier, Kaloniesrivier, Wagenpadsrivier, Vlakfonteinspruit, Tafelbergspruit, Bergrivier, Treurrivier, Vaalkopspruit en Kranskloofspruit uitgegee. In dieselfde omgewings is vanaf 22 Januarie 1846 tot 9 Oktober 1847 nog 26 plase toegeken, sodat die totaal vir hierdie streek uiteindelik op 93 te staan gekom het.
Ook is daar vanaf 4 Augustus 1845 tot 10 Augustus 1846 ‘n totaal van 95 plase vanaf die oorsprong van die Spekboomsrivier tot waar hy in die Steelpoortrivier inloop, uitgegee. Terselfdertyd is ook 81 plase in die omgewing van die Steelpoortrivier vanaf 4 Augustus 1845 tot 8 Desember 1847 uitgegee en aangeteken. Van Magneets hoogten al de waters die af loop naar Olifan(s)rivier en over tot aan Streypoort, is vanaf 4 Augustus 1845 tot omstreeks 15 Oktober 1847 sowat 98 plase uitgegee. Verder is ook vanaf 6 November 1845 tot 15 Mei 1846 in die omgewing van “Delagoa’s berg”uitgegee.
Strydfontein, die plaas van die hoofkommandant, was 7 kilometer noord van die dorp aan die Ohrigstadrivier geleë en het min or meer, soos ook die geval met die ander plase was, ‘n oppervlakte van 3 000 morge beslaan. Nooitgedacht, die plaas van Jacobus Burger, was 5 kilometer onderkant Strydfontein geleë en die plase van sy vernaamste ondersteuners soos DJ Joubert, WJ Joubert, Van Breda en T van Niekerk was nie ver daarvandaan nie.
Volgens die getal aangetekende plase was die Ohrigstadse bevolking aan die begin dus gladnie onaansienlik nie, ‘n feit wat ook deur tydgenote bevestig word. Daar kon dus spoedig met die ontwikkeling van die landbou ‘n aanvang gemaak word om in eie behoeftes te voorsien.
Die dorp self het ook van groei en vooruitgang getuig. Die Trekkers het kort na hul aankoms op die terrein waar Ohrigstad sou verrys ‘n gesamentlike poging van stapel gestuur om ‘n voor te grawe wat die nuwe dorp van water moes voorsien. Tydens ‘n publieke byeenkoms wat reeds op 30 Julie 1845 gehou is, is besluit om die grootte van die erwe wat uitgegee sou word op 100 tree in die vierkant te bepaal. Burgers wat aan die watervoor arbei, sou elkeen as beloning ‘n erf ontvang. Hierdie beplanning het ook vir jong mans bo 16 jaar oud gegeld, mits binne tydperk van een jaar ‘n woning op die bepaalde erf opgerig word. Erwe is ook aan persone wat nie aan die watervoor help grawe het nie teen die som van 25 Rds te koop aangebied. ‘n Sekere Tobias Smuts was met die taak van opmeting van die erwe en strate van die dorp belas en sou as vergoeding vir sy diens ‘n stuk grond buite die dorp ontvang.
Die werksaamhede aan die watervoor het nie na wense gevorder nie, sodat die volksraad spoedig genoodsaak was om aan elkeen wat nog 50 tree ver daaraan arbeid lewer, ‘n tweede erf as beloning aan te bied. Frans Schutte, die opsigter by die werksaamhede, is eweneens met ‘n erf vir sy diens vergoed. Die voor moes een en ‘n half meter wyd wees en omtrent ‘n half meter diep. Die raad het verder streng voorsorgmaatreëls getref dat die water skoon en bruikbaar sou bly deur alle diere van die voor te laat weghou.
Soos dit gewoonlik met die verdeling van water onder belanghebbers aan dieselfde voor gebeur, het hier ook ongeregeldheden als onaangenaamenheden plaasgevind. Om hierdie rede was die volksraad later verplig om vir Marthinus Joubert as opsigter oor die watervoor en –sluise van die dorp aan te stel.
Reeds teen die begin van 1846 was die aanvraag na erwe te Ohrigstad so te sê versadig, want politieke verwikkelinge wat tot skeuring in die gemeenskap gelei het, het veroorsaak dat die getal inwoners mettertyd verminder het. Nietemin was daar aan die begin spoedig sowat 30 wonings en twee winkels aan die hoofstraat, ongeveer twee kilometer lank, te sien, terwyl aan die noord- en suidekant van die dorp twee skanse opgerig is om moontlike inboorlingaanvalle die hoof te bied. Die volksraad het planne beraam om ‘n raadsaal te laat oprig want gedurende die eerste maande is die vergaderings by private woonhuise op die dorp gehou.
Intussen het die raad nie uit die oog verloor dat een van die vernaamste oorwegings wat aanleiding tot die trek gegee het, was om in opvolging van Smellekamp se advies, deur middel van die Portugese hawens verbinding met die buiteland te bewerkstellig nie en daar is dan ook kort na die aankoms van die mense in die nuwe gebied besluit om ‘n kommissie na die baai te stuur om die geskikste pad daarheen te vind en sake met die Portugese owerheid te bespreek. As so ’n weg eers gevind en bevredigende reëlings met die Portugese getref is, so het die emigrante gehoop, sou hulle spoedig uit Holland artikels soos klere, gereedskap, verf, medisyne en ander verbruikersgoedere waaraan daar groot behoefte was, kon verkry in ruil vir velle en ivoor en dat hulle binne afsienbare tyd ook in staat sou wees om onderwysers en ‘n predikant te verwelkom om in hul geestelike nood te voorsien.
Die leiding van die ekspedisie wat deur ‘n geselskap van 26 man onderneem sou word, is opgedra aan Carolus Trigardt wat nou deur die raad met die rang van veldkornet beklee is. Hy was in staat om deur middel van sy kennis van die Portugese en hulle taal, belangrike diens aan die emigrante te bewys en het ook van die volksraad volmag ontvang om aan die oostekant van die Lebombo plase ten behoewe van die Trekkers aan te teken.
Carel Trigardt het voorgestel dat die geselskap die reis te voet moes aflê om eers die geskikste pad wat die minste gevaarlik vanweë tsetsevlieë sou wees, te vind, maar sy togmaats het verkies om te perd en met waens met velle en ivoor belaai, af te reis.
Teen 27 Oktober 1845 was hulle die Lebombo reeds oor langs ‘n betreklik maklike roete en nie lank daarna nie het hulle die baai bereik, maar hulle het al hul trekdiere en perde as gevolg van die tsetsevlieg en perdesiekte verloor.
Die Portugese wat daarvan oortuig was dat daar voordeel uit die handel met die Boere te hale was, het beleefd en hulpvaardig voorgekom, maar toe die kommissie op hul terugtog na Ohrigstad, waar hulle teen die einde van die jaar aangekom het, hulself vermeet het om op afstand van enkele dagreise van die baai af ‘n baken in te plant om die grens van die Portugese grondgebied volgens hul opvatting, aan te dui, het die vriendskap in gramskap oorgegaan. Die Portugese goewerneur het dadelik toe hy van die daad verneem, by Potgieter daaroor geremonstreer en hom laat weet dat die baken net so goed op die middel van sy lyf ingeplant kon gewees het. Hy wou weet of dit in opdrag van Potgieter geskied het en sy boodskap het gelui dat indien dit die geval was, hy niks meer met die emigrante te doen wou hê nie en dat die handelsbetrekkinge wat daar bestaan het, gestaak word.
Dit het die Trekkers laat skrik en die volksraad het, om ‘n herhaling van sulke insidente te voorkom, nou voorsorgmaatreëls getref om te verseker dat niemand hom binne die Portugese gebied ter woon vestig nie; ook mog in die toekoms niemand sonder toestemming van die volksraad ‘n reis na Lourenco Marques onderneem nie.
Ontmoedig deur die mislukking van hierdie eerste poging om ‘n behoorlike handelsverbinding met Delagoabaai daar te stel, het die owerheid te Ohrigstad meer as ‘n jaar lank nie weer ernstige aandag aan ‘n handelstog na die hawe geskenk nie en ‘n individuele poging van ‘n sekere J van Helsdingen om as vennoot in ‘n sekere Portugese handelsmaatskappy handelsbetrekkinge op te bou, is verydel deur die te vroeë oorlye van die betrokke persoon.
Eers teen die einde van 1846 het daar nuwe hoop opgevlam toe ‘n Portugese handelaar, Joao Albasini, met ‘n paar vragte negosie vanaf Delagoabaai te Ohrigstad aangekom het en met die berig dat hy van ‘n pad na die baai weet wat deur ‘n vliegvrye, waterryke en berglose streek gaan. Dit sou dus ‘n pad wees wat die vernaamste struikelblokke in die weg van die opbou van ‘n gereëlde handel, te wete tsetsevlieë, koors en berge uitgeskakel het. Die pad het egter een groot nadeel gehad: Dit het deur die gebied geloop van Manukosi, die Kaalswarte wat na bewering vir die moord op die Van Rensburg-trekgeselskap verantwoordelik was. Manukosi was die Boere geensins goedgesind nie. Die volksraad het hiervoor egter nie teruggedeins nie. Hulle het met Albasini ooreengekom dat hy in Mei 1847 weer na Ohrigstad sou terugkeer om die pad te gaan aanwys. Om moontlike aanvalle van Manukosi die hoof te bied, sou hy op dié tog vergesel word van minstens 150 gewapende man en 40 waens terwyl hy self vir 50 kg kruit en 200 kg lood sou sorg.