VOORTREKKER-PIONIERS IN OOS-TRANSVAAL
Dr JP Botha
Lees reeks by Voortrekker-pioniers
Potgieter verhuis na Ohrigstad (3)
So tref ons dan die kommissie gedurende die winter van 1844 weer aan opreis op die lang ongebaande pad na Delagoabaai, met ‘n aantal ossewaens en gedeeltelik te perd. By Kommissiedrif, net anderkant Rooibokkop, is hulle die Olifantsrivier deur en daarvandaan het hulle in ‘n oostelike rigting getrek oor Magneetshoogte, deur die Steelpoortrivier, Joubertshoogte uit en toe links oor ‘n nek in die berg wat deur Casper Kruger ontdek is en vandag nog as Caspersnek bekend staan.
Ongeveer 24 kilometer verder is die waens onder toesig van sowat die helfte van die reisgeselskap agtergelaat omdat die terrein so moeilik begaanbaar was. Vandaar het Potgieter, Mocke en Vermeulen met die res van die geselskap die tog te perd voortgesit tot in Delagoabaai waar hulle in Julie 1844 aangekom het, gelukkig betyds om Smellekamp wat juis op die punt gestaan het om weer na Holland te vaar, te ontmoet.
Die Hollander het hulle verseker van sy opregte voornemens om spoedig ‘n gereelde handel tussen Nederland en die Trekkers tot stand te bring en het hulle die raad gegee om met die oog daarop en met die oog op die Cape of Good Hope Punishment Act, van die Portugese toestemming te verkry om hulle noord van die 26e graad suiderbreedte te vestig, waar hulle buite die Engelse invloedsfeer sou wees, want hy was oortuig dat die Engelse hulle ten suide van dié lyn, nog steeds sou bly agtervolg.Ook moes hulle, met die oog op die bevordering van die handel nie alleen met Holland nie, maar ook met die Portugese, hulle in die gebied wat die Portugese hulle sou aanwys, hulle nader aan Delagoabaai vestig en intussen niks doen wat enige bemoeiing van Britse sy kon uitlok nie, “maar stil opstaan, zyn grondgebied te verlaten.” Hy was bereid om die kommissie persoonlik behulpsaam te wees in onderhandeling met die Portugese goewerneur, maar die kommissie moes, indien die onderhandelings slaag, so spoedig moontlik vanaf hulle nuwe aanleg ‘n pad na die baai maak en nie vir die tsetsevlieg en malaria terugdeins nie.
Vir Potgieter en sy metgeselle het hierdie plan aanloklik voorgekom en vergesel van Smellekamp as tolk, het hulle hul dan ook terstond begeef na die Portugese goewerneur, wat hulle vriendelik ontvang het. Uit die samesprekings wat gevolg het, is op 22 Julie 1844 ‘n mondelinge ooreenkoms met die Portugese goewerneur gebore, wat deur die kommissie dadelik op skrif gestel is. Hy gee aan hulle toestemming om agter hulle hawens noord van die 26e graad suiderbreedte en suid van die 10e graad noorderbreedte in te trek, mits hulle hul nie nader as vier dagreise van die hawens af vestig nie en ook nie swartes wat in Portugese gebied bly, in diens neem nie.
Die rede vir die inskiklikheid van die Portugese was dat hulle gehoop het om op aansienlike skaal ivoor, velle en volstruisvere van die Boere te handel, terwyl laasgenoemde ‘n kanaal begeer het waarlangs hulle lewensbehoeftes, kruit en lood ingevoer kon word en waardeur hulle vrye verbinding met die buitewêreld kon hê. Die Boere het egter nie besef dat die aanspraak van die Portugese op die gronde in die binneland van Suid-Afrika maar op onvaste grondslag berus het nie. Die Cape of Good Hope Punishment Act het hulle egter bekommernis besorg en om hierdie rede het hulle die raad van Smellekamp om verder te trek, met gretigheid aanvaar.
Genoemde wet het die jurisduksie van die Kaapse geregshowe uitgebrei oor die hele gebied tot aan die 25e graad suiderbreedte, maar hulle het dit vertolk - ongetwyfeld op Smellekamp se advies - dat hulle hul Britse onderdaanskap kon afskud deur noord van dié breedtegraad te trek. Eers later het hulle en Smellekamp tot die gevolgtrekking gekom dat hulle, volgens Engelse opvatting altans, nooit vry kon trek nie maar dat soos Smellekamp dit in 1850 vertolk het, ‘n persoon volgens Engelse opvatting ‘n Britse onderdaan bly, selfs in vreemde lande, indien hy eenmaal op Engelse gebied gewoon het. Trouens, volgens Van Jaarsveld het die Engelse self aan diegene wat vryheid oorkant die “graad” wou gaan soek maar self nie wis waar die lyn geleë was nie, verduidelik dat wanneer hulle saans na die tog van die dag hulle osse uitspan en die jukke neerlê, dan sou die grens van die Engelse invloedsfeer maar nog ‘n entjie verder wees as waar die voorste juk lê.
Op daardie tydstip, die winter van 1844, het Potgieter en diegene wat saam met hom in die baai was egter wel geglo dat die Engelse hulle noord van dié lyn ongemoeid sou laat en het hulle die terugtog Transvaal toe met nuwe geesdrif aangepak. Toe hulle die stroom bereik waar hulle die walaer twee maande tevore agtergelaat het, was dié egter weg. Die persone in die laer het naamlik toe Potgieter en sy geselskap ‘n maand nadat hy beloof het om terug te wees, nog steeds wegbly, besluit dat hulle almal omgekom het. Hulle het die rivier waar hulle gelaer was, die naam Treurrivier gegee en in ‘n treurige stemming die terugreis aangevang. Hulle was egter nouliks by die volgende rivier, toe die perdekommando op pad van die baai af terug hulle inhaal, met die gevolg dat hulle hierdie rivier toe die naam Blyderivier gegee het.
Teen die einde van Augustus 1844 was die ekspedisie te Magaliesberg terug en kon hulle verslag doen van wat hulle uitgerig het. Die burgerraad het die besluit om nader aan die Portugese hawe te trek, goedgekeur, oortuig daarvan dat die verhuising nie alleen voordelig sal wees met die oog op voorsiening in hul stoflike behoeftes nie, maar ook op die verkryging van ‘n predikant uit Holland om in hul geestelike behoeftes te voorsien. Die nuwe trek kon dus ‘n aanvang neem.
Die leiding en organisasie skyn feitlik uitsluitlik of byna uitsluitlik op die skouers te gerus het van Potgieter, klaarblyklik in opdrag van die burgerraad wat tydens die verhuising opgehou het om te bestaan.
Potgieter het hom van hierdie taak goed gekwyt. Hy het in die Oorvaalse gebied, by name die streek Potcheftroom-Magaliesberg, byeenkomste gehou en die mense te woord gestaan en aangemoedig om na die nuwe land te trek. Daarby het hy hulle egter duidelik te kenne gegee dat die gebied wat hulle gaan verlaat nie prysgegee sou word nie en dat diegene wat die verhuising meemaak se regmatige aansprake op die plase wat hulle agterlaat, gehandhaaf sou word want wat Smellekamp ook al te sê gehad het oor die Britse aansprake ten suide van die 25e breedtegraad, Potgieter was nie van plan om die gebied wat hy skoongemaak en vir die Voortrekkers gewen en bewoonbaar gemaak het, sommer met koue hande prys te gee nie. Immers, baie van diegene wat hulle in die Oorvaalse gevestig het, het nie daaraan gedink om die verhuising mee te maak nie, hoe Potgieter ook al daarvoor propaganda gemaak het. Daar is dus besluit dat dié gebied as ‘n “Adjunkt Colonie” vanaf die nuwe hoofkwartier van die staat in die noordooste bestuur sou word.
Van ‘n prysgawe van dië streek was daar dus geen sprake nie en die voorgenome verhuising sou nie die stigting van ‘n nuwe Voortrekkerstaat beteken nie, maar alleen die verplasing van die volksraad na ‘n nuwe setel. Daar is dan ook persone in gesag in Potchefstroom agtergelaat, te wete JH Visage, om beheer oor die agterblywendes uit te oefen en die besitsreg van die betrokkenes se plase te handhaaf, en Gert Kruger wat deur Potgieter in sy eie plek as kommandant van Mooirivier en Magaliesberg aangestel is.
(Vervolg)