Deur Fred Barnard
(Lees reeks by 13 Jaar in die skadu van dr HF Verwoerd)
DIE PRIVAATSEKRETARIS VAN 'N MINISTER
"Ek neem aan,” lees die brief, "dat u ‘n dame is en dus nie veel weet nie, want ek kan net nie glo dat in die tyd van mannetekort, ‘n man as privaatsekretaris kan optree nie. Want dames kan net so goed die pos as privaatsekretaris vul, en dan kan die man handewerk gaan doen. Ja, dame, ek dink toe u nog in doekies rondgekruip het en uit u bababottel gedrink het of aan u fopspeen gesuig het toe het ek al lankal gewerk om die regering aan bewind te help bring . . ."
Nou ja, moenie baie van ‘n privaatsekretaris verwag nie; hy hoef nie veel te weet nie en boonop is hy ‘n staatsamptenaar!
Die pligte van ‘n privaatsekretaris is baie en uiteenlopend. Vandag moet hy die Minister verteenwoordig, more moet hy met Mevrou se skoothondjie gaan wandel en gaan stilstaan presies waar die hondjie aandui; en oormôre die Bantoebediende se reistas op die stasieperron dra.
Die daaropvolgende week eet hy saam met die baas en sy wêreldbekende gaste in die Parlement se restaurant!
Inderdaad ‘n groot verskeidenheid van verpligtinge wat hierdie pos waarskynlik een van die interessantste in die staatsdiens maak! Jou taak word in ‘n ruim mate bepaal deur Sy Edele die Minister en sy gade. Behandel die Voorsienigheid jou goed (wat ietwat bo die gemiddelde behoort te wees, want daarom is jy privaatsekretaris) en jy word die privaatsekretaris van "A", dan is jou beker vol, jou toekoms rooskleurig. Word jy (wat dieselfde bogemiddelde aanslag het) die privaatsekretaris van ,"B", dan moes jy maar liewer gebly het waar jy gister was! Daar is die werk, die verantwoordelikheid en die kommer minder en die salaris dieselfde.
Dertien lang en gebeurtenisvollejare het ek aan die voete van ‘n groot man gesit. Daar het ek baie geleer, en hoeveel ek daar gewerk het, laat ek oor aan die vrugbare verbeelding van die lesers.
Geen goud sal daardie ervaring ooit kan koop nie en gelukkig sal niemand die kennis — veral mensekennis — wat ek daar opgedoen het, my kan ontneem nie. Miskien behoort dit voldoende beloning vir enige mens te wees!
Wanneer ‘n mens egter tot die naakte werklikheid terugkeer, dan kan jy nie help om te wonder of dit alles werklik die moeite werd is nie. Die beste is natuurlik om nooit tot die werklikheid terug te keer nie!
Geen goud sal daardie ervaring ooit kan koop nie en gelukkig sal niemand die kennis — veral mensekennis — wat ek daar opgedoen het, my kan ontneem nie. Miskien behoort dit voldoende beloning vir enige mens te wees!
Wanneer ‘n mens egter tot die naakte werklikheid terugkeer, dan kan jy nie help om te wonder of dit alles werklik die moeite werd is nie. Die beste is natuurlik om nooit tot die werklikheid terug te keer nie!
Dae en nagte van swoeg en van sweet. Wanneer jou vriende Woensdagmiddae by die negende putjie blad steek, sit jy tussen vier wit mure onder ‘n harde betonplafon! Wanneer jou buurman Saterdagmiddag sy perskeboom snoei, dan worstel jy met ‘n ongelowige kieser in die Minister se kiesafdeling en wanneer jou goeie ou vriend agtuur vanaand sy groot kaal voete hoog oor die leunstoel voor hom swaai om rustig agteroor die nuus van die dag te lees en donker rookdampe die lug instuur, dan sit jy in ‘n bedompige klein stadsaal daar op die grens van Verlatenheid en luister na die baas se toespraak waarna jy die afgelope sewe dae reeds ses keer moes luister.
Dan dink jy terug aan ouboet en sy ma, aan kleinsus en die hond wat daar ver in Pretoria op die blink blokkiesvloer in die studeerkamer voor die radio na "U eie keuse” lê en luister. Dan wonder jy in jou eensaamheid... daar tussen die mense! Dan stel jy vrae aan jouself! Dan wonder jy of daar vir jou ook miskien eendag — vir die opofferinge wat jou seun en sy ma moet bring — ‘n monument gebou sal word; of daar vir jou as amptenaar van die staat wat jy dien, darem ‘n toevallige klein bevordering sal wees; of daar darem eendag iemand sal wees wat dankie sal sê, dankie sal sê vir die opoffering wat ouboet en sy sus en hul ma en die bond vanaand daar in Pretoria bring terwyl hulle na "U eie keuse” lê en luister!
Terwyl jy al hierdie "wonders” bepeins, word jy skielik gewek en ontnugter deur die volksleier op die verhogie daar voor jou as hy op dramatiese wyse kom by daardie paragraaf in sy toespraak waar daar na die opofferings van ‘n volk verwys word. Dan besef jy dat jy met jou hunkering na vergoeding gulsig, ja totaal onredelik is, want hy wat vergoeding van sy land en sy volk verwag, is tog sekerlik nie met vaderlandsliefde besiel nie! Dan weet jy dat ouboet en sy sus en hul ma en die hond daar op die blink blokkiesvloer in jou huis in Pretoria maar net besig is om hul plig as burgers van hierdie land te doen. Dan besef jy dat jy as privaatsekretaris van ‘n minister van die Kabinet van hierdie mooi, ryk land baie meer ontvang as wat jy verdien. En dan sit jy regop en luister na Sy Edele die Minister wat besig is om aan die kiesers hier in die rokerige klein stadsaal op die grens van Verlatenheid te vertel hoe hierdie volk selfloos en belangeloos die offers moet bring soos ons vadere van ouds dit so gewilliglik gebring bet!
Teen hierdie tyd is jy reeds so bewus van jou inherente swakhede en tergende tekortkominge dat jy terstond besluit om enige bevordering wat jou hierna moontlik aangebied word, sonder meer van die hand sal wys.
Soveel verpligtinge as wat ‘n privaatsekretaris het, net soveel vriende het hy; trouens op die oppervlakte het hy normaalweg hoegenaamd geen vyande nie! Die beste van sy baie goeie vriende is gewoonlik die Volksraadslid, daardie welsprekende man wat daar ver in die toekoms (sommiges nie eens baie ver nie!) ‘n stoel onder die Kabinetstafel sien wat presies volgens sy maat vervaardig is. Die privaatsekretaris het geen beter vriend, geen trouer kameraad as juis hierdie volksleier-in-die kleine nie. Ongelukkig is die materiaal waarvan die meeste van hierdie vriendskapsbande gemaak is, sodanig saamgestel dat dit net hou tot op daardie dag en datum waarop die privaatsekretaris ophou om privaatsekretaris te wees.
Soos die lid van die Volksraad en soos alle ander normale mense het die privaatsekretaris natuurlik ook sy eie manier om homself te vermaak. Ek dink byvoorbeeld aan ‘n goeie ou kollega wat eendag van die Kaapstadse hawe saam met sy minister per boot na Durban afgereis het. Toe hy sy kantoor verlaat, merk hy dat daar ‘n bottel op sy lessenaar staan wat vermoedelik "reukwater” bevat. Dit was vir sy minister bedoel en van ‘n Volksraadslid afkomstig. Daar was nie tyd vir inpak nie, want die minister het reeds voor die deur in die ampsmotor sit en wag. Inderhaas is die bottel toe maar in 'n ou koerant toegedraai en onder die arm vasgeknyp.
Oomblikke later was hulle op die hawehoof by die boot se trappies. Soos dit gewoonlik maar gaan, was daar talle vriende en hoogwaardigheidsbekIeërs om tot siens te sê; nie vir die privaatsekretaris nie!
Stewig is die baas se bottel wat vermoedelik ,"reukwater” bevat, nog steeds onder my goeie kollega se regterarm vasgeknyp toe die burgemeester per abuis agteruit tree en skrams op my vriend se toon trap. Met dat hy agteruittree glip die bottel onder my vriend se arm uit en beland in stukkies op die harde beton. Terwyl hy besig is om pligsgetrou die stukkies met sy groot voet eenkant toe te skop, voel hy ‘n swaar hand op sy skouer en hoor by 'n nog swaarder stem ietwat bokant hom. Dis ‘n groot uitgegroeide dienaar van die gereg wat my kollega gelas om die stukke van daardie gebreekte bottel wat "reukwater” bevat het, op te tel en in die vuilgoedblik te werp. En dit alles ten aanskoue van Sy Edele die Minister, sy gade, Sy Edelagbare die Burgemeester en ander vooraanstaandes van die stad.
Die wrangheid van die gedagte was egter daarin geleë dat die bottel en die inhoud nie eens syne was nie!
Die tyd is nog nie ryp dat al die "publiseerbare” stelletjies wat ekself oor die jare afgetrap het, gepubliseer kan word nie. Ek dink byvoorbeeld maar aan daardie Iastige telefoon in die Minister van Bantoesake se Kaapstadse kantoor. Alewig het die telefoon gelui en alewig was dit ‘n persoon wat ‘n verkeerde nommer geskakel het. Die poskantoor kon blykbaar niks aan die saak doen nie. Wanneer daardie telefoon eers die oggend begin gesels, weet jy dat dit die hele dag gaan aanhou en dat dit heeldag persone gaan wees wat bedoel het om ‘n ander nommer te skakel.
Op ‘n dag gebeur dit toe! Die minister was nog nie op kantoor nie. Ek, wat gewoonlik ontsettend besig is, het half-gesteurd opgestaan, na dr. Verwoerd se kantoor gestap, die hoorstuk opgetel en met die gepaste stemhoogte geantwoord:
"Dit is Parfinkski se winkel; ons verkoop die vis en die ertappels. Hoeveel pakkies ?“
Wat was my skok groot toe ek mevrou Verwoerd se helder stem aan die ander kant hoor: ,,Jammer, dis die verkeerde nommer”. Sy het Engels gepraat. Ek ook!
Onmiddellik nadat ek die gehoorbuis teruggeplaas het, het die instrument weer gepraat . . . en dit was die stem van mevrou Verwoerd!
Dan onthou ek daardie keer, baie jare later, toe my goeie ou vriend, die Eerste Minister se veiligheidsbeampte, majoor Carel Richter, byna verraad gepleeg het.
Oom Callie was ‘n goeie mens, ‘n eerlike en getroue Christen in wie daar hoogswaarskynlik geen bedrog was nie. Ons moes uit die aard van ons werk noodwendig baie nou saamwerk met die gevolg dat die een hand maar altyd te gewillig was om die ander te was. Oor die jare heen het ons dan ook intieme vriende in die verdrukking geword!
Toe ons eendag by Groote Schuur aankom, beduie die personeel dat daar gedurende die voorafgaande uur ‘n dosyn oproepe van een lastige persoon ontvang is wat met niemand anders as met die Eerste Minister wil praat nie. Volgens die beskrywing het ons gedink ons weet presies wie hierdie Iaspos is! Ons het lankal op hom gewag!
Skaars was sy woorde koud, of daar lui die telefoon aI weer. Ons planne was oombliklik agtermekaar! Ek sou die telefoon beantwoord en die karnallie dan na die "Eerste Minister”, wat in hierdie geval maj. Carel Richter gaan wees, deurskakel. Op die wyse sal ons hom dan behoorlik die les leer, iets waarop ons reeds so lank wag.
So gesê, so gedaan.
Die "Eerste Minister” het hom aanvanklik heel goed van sy taak gekwyt, totdat by halfpad tot sy skok moes ontdek dat hy nie met daardie laspos agter wie se bloed ons was, besig is nie, maar wel met ‘n vooraanstaande en hoogaangeskrewe heer wat inderdaad met ‘n netelige probleem te kampe gehad het.
Ofskoon bleek en gespanne, het oom Carel end-uit met sy storie volgehou, maar dit het beteken dat ons onmiddellik na afloop van die telefoongesprek in die motor moes spring om teen ‘n asemrowende spoed na die man — wat gedink het hy praat met die Eerste Minister — te jaag. Gelukkig het ek hom geken en kon ons die saak daardie Saterdagnamiddag, terwyl ek graag op Nuweland se pawiljoen wou sit, oor ‘n koppie koffie weglag.
En dan onthou ek nog daardie aand (of was dit daardie nag of oggend?) toe ek sing-sing in dr. en mev. Verwoerd se slaapkamer in Windhoek ingestap het! Net die blote gedagte daaraan laat my vandag nog yskoud word. (Ek is seker mevrou Verwoerd weet vandag nog niks daarvan nie.)
Hoe dit ook al sy, dit was in die vroeë vyftiger jare. Dr. Verwoerd was Minister van Bantoesake en hy en sy geselskap het daardie dag in Windhoek aangekom op die eerste skof van hul reis deur die Bantoegebiede van Suidwes-Afrika. Ons was by die destydse administrateur, mnr. Daan Viljoen, in die ou administrateurswoning tuis.
Nou ja, diegene wat die Suidwesters ken, sal weet dat hulle vriendelike, gasvrye mense is. Beland jy eenmaal in hul sosiale kloue, dan moet jy goed wees om heelhuids anderkant uit te kom en dit is wat mm of meer daardie aand met my gebeur het!
Na afloop van die windmaker dinee wat oom Daan ons aangebied het, moes ons eers na ‘n groepie goeie vriende in Klein Windhoek. Na die koffiedrinkery daar ontdek iemand skielik dat dit sy verjaardag is. Met al hierdie feesvierery het die horlosie natuurlik pligsgetrou voortgestap met die gevolg dat dit eers so teen tweede hanekraai moes gewees het toe ek voor die ysterhekke van die ou administrateurswoning afgelaai is.
Selfs ‘n geheelonthouer — soos ek destyds was — is volgens my ervaring hier kort voor opstaantyd in die oggend ‘n heel gemoedelike persoonlikheid, en ek het myself nie kwalik geneem toe ek spontaan ‘n Duitse wiegeliedjie aanhef nie. En destyds kon ek nog sing!
Dit was ‘n warm nag en die mense van Windhoek het in daardie jare blykbaar nooit met toe deure geslaap nie.
Soos die noodlot dit wou hê was my kamer langs dié van Doktor en sy gade. Albei deure was wawyd oop. Met die intrek daardie namiddag het ek nie noukeurig opgelet watter kamer nou eintlik myne was nie, met die noodlottige gevolg dat ek toe maar aI singende "slaap my kindjie, slaap sag” by Doktor en Mevrou se kamer instap. Eers toe ek my op die dik tapyt tussen die twee bedjies bevind het ek tot die skokkende ontnugtering gekom dat dinge nie so pluis is as wat hulle behoort te wees nie. Gouer kon niemand retireer nie!
Ietwat later wou dr. Verwoerd aan die ontbyttafel by my weet of ek dan nie die vorige aand opdrag gegee het dat die bediende nie oggendkoffie hoef te bring nie. Sy vraag was vir my ‘n salige verligting.
Om die privaatsekretaris van ‘n minister te wees is inderdaad nie ‘n maklike werk nie. Jy moet presies weet wanneer om te praat en wanneer om te swyg. ‘n Minister is ‘n besige persoon wat nie heeldag tyd of lus het om eers te dink voordat hy praat nie. Wanneer hy dan in sy privaatsekretaris se teenwoordigheid dinge sê wat nie vir die pers of die publiek bedoel is nie, is dit die privaatsekretaris se taak om sy ore toe te hou.
Niemand is 'n groter vertroueling van die minister as sy privaatsekretaris nie en veral die privaatsekretaris van die Eerste Minister loop gewoonlik met baie Kabinetsgeheime in sy kop rond.
Vanselfsprekend plaas dit hom in ‘n besonder moeilike en dikwels in ‘n onbenydenswaardige posisie en laai dit soveel meer verantwoordelikhede op sy skouers, want die verantwoordelikheid om ‘n staatsgeheim te bewaar is in die moderne wêreld met sy fyngevoelige en goedgeorganiseerde pers en geslepe diplomate geen kinderspeletjies nie.
Hierdie dinge, en die feit dat die privaatsekretaris gewoonlik so "enorme vriendekring" het, oefen noodwendig invloed uit op sy persoonlikheid en bring mee dat hy wat sy taak ernstig opneem, hom nie op spontane en natuurlike wyse kan uitleef nie. Reeds vroeg in sy lewe leer hy dat ‘n groot aantal van sy vriende alleen "vriende” is omdat dit vir hulle gerieflik is om so ‘n handige skakel te hê en dit is juis hierdie mense teen wie die privaatsekretaris voortdurend op sy hoede moet wees.
Ek weet nie presies wat die eienskappe van ‘n suksesvolle diplomaat behoort te wees nie, maar kan aan geen beter opleiding vir ‘n diplomaat dink as dat die aspirant eers privaat-sekretaris van ‘n Suid-Afrikaanse minister moet wees nie. Hier word jy elke oomblik van die dag aan die strengste toets onderwerp; hier leer jy inderdaad — soos C. J. Langenhoven gesê het — om die vriende van jou minister se oë te verblind met leuens wat lyk of dit waar is.
'n Privaatsekretaris van ‘n minister moet bo alles ‘n mens wees wat geen foute mag maak nie. Sy antwoorde op briewe moet ten aIle tye waterdig wees, want hy praat uit die mond van die Minister.
Verder moet die privaatsekretaris van ‘n minister uit die aard van die saak ‘n wye belangstelling hê, en na verloop van tyd beskik hy gewoonlik oor heelwat algemene kennis, die meeste waarvan waarskynlik opgedoen word in sy ontmoeting met sy minister se kiesers. Dit is dan ook hier waar ‘n privaatsekretaris sy storie moet ken, veral wanneer verkiesingstye nader, want net soos die kruidenier se klant altyd reg is, so is die parlementêre verteenwoordiger se kieser nooit verkeerd nie! Hier het die privaatsekretaris dus ‘n belangrike taak, naamlik om sorg te dra dat die vrede ten alle tye en tot elke prys bewaar word.
Dit is ook gewoonlik hier in die kiesafdeling waar die privaatsekretaris sy beste en getrouste vriende ontmoet, veral wanneer sy minister ‘n plattelandse kiesafdeling verteenwoordig.
Kort nadat dr. Verwoerd in 1958 Volksraadslid geword het, is hy tot Eerste Minister verkies. Vanweë ‘n Eerste Minister se veelvuldige verpligtinge m.b.t. staatsake, kan hy nie soveel aandag aan sy kiesafdeling en aan sy kiesers gee as wat die geval met ‘n minister is nie, met die gevolg dat die meeste van die kiesafdeling se werk wat uit die aard van die saak geweldig van omvang is, aan die privaatsekretaris oorgelaat word.
Gedurende die sewe jaar wat dr. Verwoerd Heidelberg (TvI.) in die Volksraad verteenwoordig het, het ek die geleentheid gehad om feitlik elke kieser daar persoonlik te leer ken. Boere, kleinhoewebewoners, kerkleiers, leiers op onderwysgebied, werkers, gepensioeneerdes, besigheidsmense, oudstryders — almal liewe, goeie gasvrye mense met wie se probleme daar op een of ander tydstip kennis gemaak is. Sommige probleme word opgelos, ander ,"geniet die nodige aandag”.
Die pad van ‘n privaatsekretaris is nie ‘n pad wat oor rose gaan nie; sy verpligtinge is, soos ek gesê het, veelvuldig en uiteenlopend. Was ek ‘n skrywer, sou ek daaroor inderdaad boekdele kon vul. AlIeen het ek maar in hierdie kort hoofstuk gepoog om die sluier vir ‘n wyle oor die wel en die weë van hierdie amptenaar van die staat te lig.
Daar moet nie met hom simpatiseer word nie; hy verdien dit nie; hy word vergoed vir wat hy doen en vir wat hy nalaat om te doen.
In een van die baie duisende briewe wat ek in my loopbaan as privaatsekretaris ontvang het, is dit my verkwalik omdat ek nie aan die skrywer se versoek kon voldoen nie.
"Ek neem aan,” lees die brief, "dat u ‘n dame is en dus nie veel weet nie, want ek kan net nie glo dat in die tyd van mannetekort, ‘n man as privaatsekretaris kan optree nie. Want dames kan net so goed die pos as privaatsekretaris vul, en dan kan die man handewerk gaan doen. Ja, dame, ek dink toe u nog in doekies rondgekruip het en uit u bababottel gedrink het of aan u fopspeen gesuig het toe het ek al lankal gewerk om die regering aan bewind te help bring . . ."
Nou ja, moenie baie van ‘n privaatsekretaris verwag nie; hy hoef nie veel te weet nie en boonop is hy ‘n staatsamptenaar!
Afskeid... vervolg