13 JAAR MET DR HF VERWOERD (15)

Deur Fred Barnard

(Lees reeks by 13 Jaar in die skadu van dr HF Verwoerd)

REPUBLIEKWORDING (2)

Toe ek om 2 uur daardie namiddag saam met dr. Verwoerd van sy kantoor in Marksgebou na die Parlementsgebou stap en hom alle voorspoed met sy antwoord op die leier van die opposisie se mosie van wantroue toewens, het hy skertsend opgemerk dat dit moontlik  "die begin van my pad na die wildernis" kan wees.

"Want", het hy gesê, "sekerlik sal ek gekruisig word as ons die stemming verloor".

"Maar, Doktor, ons sal mos nie verloor nie", het ek manhaftig en vol vertroue tussenbeide gekom, asof ek sodanig seker van my saak was.

"Ons sal moet werk dat dit bars," en daarmee het hy die handsakkie waarin Suid-Afrika se grootste geheim van bewaar is, aan my oorhandig.

Met 'n "moenie dat Graaff dit in hande kry nie", het hy in die wandelgang tussen Volksraadslede verdwyn.

(Dr. Verwoerd het 'n gewoonte gehad om nie dokumente of stukke na sy bank in die volksraad te dra nie, en het gereeld sy tassie voor die deur aan my oorhandig met die versoek dat op 'n bepaalde stadium uit my bank per bode na hom geroep moes word.)

Dit het waarskynlik selde in ons parlemente geskied en gebeur dat die Opposisie so totaal op die verkeerde voet besig is as wat op hierdie gedenkwaardige dag gebeur het.

Die openbare galerye, ja selfs die trappe, die persgalery, en die raadsaal was tot oorlopens toe volgepak, asof die wêreld 'n  voorgevoel gehad het dat daar iets gaan gebeur. En tog was alleen die lede van die Volksraad bewus van die groot geheim wat hier geopenbaar sou word.

So dig is dr. Verwoerd se geheim inderdaad bewaar etlike Volksraadslede se eggenotes nie eens bewus was van die aankondiging wat sou volg nie, laat staan nog die oppossiepartye.

Op sy kenmerkende omslagtige maar deeglike wyse het vriendelike en hoflike leiers van die Opposisie sy saak gestel en andere beskuldigings gemaak en hul houe geslaan, salig onbewus die onheilspellende skok wat daar op hul wag en sy ...  party verwag het."

Nadat hy aan die einde van sy storie gekom het, het dr Verwoerd, onder luide applous van regeringslede, op die been gekom. Die atmosfeer in die raadsaal was swaar en gespanne want lede aan regeringskant het nie alleen gebrand om te hoor hoe hy die saak sou stel nie, maar veral om die Opposisie se reaksie gade te slaan, want baie jare lank al word die Nasionale Party daarvan beskuldig dat hy bang is om die republikeinse kwessie aan die kiesers voor te Iê. Telkens is die Eerste Minister inderdaad uitgedaag om die volk te toets!

Koel en bedaard het dr. Verwoerd egter eers breedvoerig op al die punte wat deur Sir de Villiers Graaff geopper is, geantwoord, totdat die dramatiese oomblik van die dag, en van hierdie parlementsitting, tot die vreugde van regeringsondersteuners en tot die verbystering van die Opposisie aanbreek.

"Die volgende probleem, wat nou binne die terrein van die praktiese politiek kom, is die verkryging van die republiek in Suid Afrika. Dus is dit my bedoeling orn die volk van Suid-Afrika se vertroue by hierdie geleentheid te vra, sowel as die vertroue van hierdie Raad, vir die voortsetting van die toepassing van daardie beleid. Met die oog daarop is daar sekere beskouings ten opsigte van ons republikeinse strewe in die onmiddellike toekoms wat ek nou wil lug. Daaroor hoop ek om 'n baie duidelike klank te laat hoor.

"Na my mening is dit baie noodsaaklik, o.m. omdat in die Engelse pers in Suid Afrika, sowel as in ander kringe in ons land, daar allerlei gerugte rondgaan oor wat ons voornemens sou wees. Daar is byvoorbeeld  -  ek het dit glo gelees in die 'Cape Times' van eergister  -  die bewering gemaak dat ons in die tweede helfte van hierdie jaar 'n onverwagte verkiesing oor die republick gaan uitroep. Met ander woorde dit is bewerings omtrent die vorm waarin die volk gevra sal word om te besluit, sowel as oor die tyd. Ook is met groot selfbehae deur die Opposisie, selfs vanaf hul platforms, vertel van die groot verdeeldheid en onsekerheid wat daar in die midde van die Nasionale Party, in sy koukus en in die Kabinet, sou wees oor hierdie saak. Die Verenigde Party het sy hoop daarop gebou. Die V.P. het sy hoop op sand gebou.

"Ek wil vandag net vooraf sê dat alles wat ek hier gaan meedeel, die eenparige steun van my Kabinet en die eenparige steun van my koukus het, en (ek het geen twyfel daaroor nie) ook die volste steun van die Nasionale Party in die land sal geniet. Ek wil daarby voeg dat ek glo dat dit ook die volste steun van ons ander republikeine in die land sal ontvang.

"Onder die probleme waaroor 'n mens verantwoording moet doen wanneer jy voel dat die tyd van verwesenliking van die ideaal naby kom, soos ek oortuig is die geval is, is eerstens die vraag: Wat is die manier waarop die volk van Suid-Afrika gevra moet word om sy standpunt hieroor in te neem? Ek wil onomwonde sê dat ek nie glo dat die beslissing langs die weg van 'n verkiesing verkry moet word nie.

"Ek kondig dus aan dat die vraag aan die volk gestel sal word by wyse van 'n volkstemming, 'n referendum."

Die vraag van vertroue of nie vertroue in die regering sou nie in die spel kom nie, en daar sal alleen van die kiesers ver wag word om vir of teen republiekwording te stem.

"Die strewe wat ons het, is besiel alleen deur die hoop dat uiteindelik hier ten minste 'n einde aan die stryd en twis oor ons konstitusionele toekoms en tussen die taalgroepe sal kom, sodat ons as een volk kan saamgroei; en dat op ekonomiese gebied daar nie altyd die gevaar van die invIoed van hierdie knaende faktore en die agterdogsaaiery sal wees wat ons so dikwels ervaar tot skade van Suid-Afrika nie. Ons strewe sal wees met hierdie vraag aan die volk orn hulle vertroue te wen vir alles wat ons doen om vir hulle 'n republiek te verwerf waarin die eenheid en die vreedsame bestaan van ons blanke bevolking die botoon sal voer".

So het hy vir meer as 'n uur voortgegaan om die regering se voornemens in verband met die referendum in die fynste besonderhede stap vir stap uiteen te sit, terwyl 'n verwarde en verslae Opposisie roerloos en stil na elke sinsnede van een van die grootste toesprake , een van die magtigste redes van ons tyd , sit en luister het.

Verwysende na hierdie opsienbarende aankondiging het Die Transvaler die volgende oggend geskryf:

,,Dr. Verwoerd het klare wyn geskink. Diegene wat dit aangehoor het, kan wel om hul voorreg beny word".

Die Burger van dieselfde datum se kornmentaar was:

"Ons raai alle lesers aan om die deurtastende en afdoende staatmansverklaring van die Eerste Minister te lees, te bestuder en te bewaar."

Vir baie dae ná Woensdag, 20 Januarie 1960, is daar oor niks anders gepraat nie as oor hierdie kragtige toespraak en oor hierdie geskiedkundige aankondiging wat die voorspel was tot 'n nuwe era in die geskiedenis van ons vaderland.

Dr Verwoerd se aankondiging was vir die anti-republikeine en monargiste soos olie op vuur en het oornag 'n politieke stryd, ongekend in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, ontketen.

Omdat die Opposisie in die verlede geglo het dat die meerderheid van die kiesers  teen die daarstelling van 'n republiek sou stem, het hy die regering tydig en ontydig uitgedaag om die volk om 'n beslissing te vra. Na dr Verwoerd se aankondiging het die prentjie egter aansienlik verander en het hy nie meer so baie nadruk op sy uitdaging gelê nie.

Nou is daar met 'n organisasieveldtog begin soos Suid-Afrika nooit voorheen of daarna geken het nie!

Terwyl republikeine met ongekende geesdrif aan die werk gespring het, het die anti-republikeine, feitlik paniekbevange, met 'n fanatieke stryd teen 'n republiek begin en is niemand en niks gespaar nie.

Met die aankondiging van die datum waarop die referendum sou plaasvind, naamlik 5 Oktober 1960, het hierdie 'stryd' tussen republikeine en monargiste 'n ware 'oorlog' geword, veral toe een van die Natalse leiers, mnr Douglas Mitchell, van die anti-republikeine, verklaar dat 'n republiek "alleen oor my dooie liggaam" tot stand sou kom.

"Ons sal ons aan geen republiek onderwerp nie," het hy gesê. "Ons sal marsjeer..."

In hierdie provinsie wat destyds die sterktepunt van die monargiste gewor d het, was daar spoedig sprake van afskeiding van die res van die Unie.

Gemoedere het hoog geloop want die koms van 'n republiek sou die einde vanvriedskap met moeder Brittanje beteken en sonder daardie vriendskap sou Suid Afrika geen toekoms hê nie, sou ons geïssoleerd, 'n eiland in die wêreld en sonder vriende wees.

Hoër en hoër het die spanning gelaai totdat daar van tweedrag, van haat en selfs van bloed gepraat is. Baie het gedreig dat indien Suid Afrika 'n republiek word, hulle 'n heenkome elders sou gaan soek.

Terwyl hierdie heerlike stryd soos 'n windaangedrewe veldbrand oor die lengte en breedte van sy vaderland gerol het, het dr. Verwoerd, kalm en beheers, lustig daaraan meegedoen, terwyl die organisasiemasjiene van die verskillende partye onverpoos en teen 'n ongekende tempo gewerk het.

Namate 5 Oktober onverbiddellik en beslis nadergekom het, het die opgewondenheid by die kiesers dermate toegeneern dat daar oor niks anders gepraat of gedink kon word nie. Wat gaan die antwoord wees?

En toe kom die organiseerders van die republikeine met 'n splinternuwe 'gedagte'. Dr. Verwoerd sal naamlik gevra word om 'n persoonlike brief aan alle kiesers in geheel Suid-Afrika te rig. Eers was hy huiwerig en halfonwillig, maar tog het hy later ingewillig orn in sy eie handskrif, in Afrikaans,Engels en Duits, 'n brief aan elkeen wie se naam op die kieserslys verskyn, te stuur.

Tienduiseride van hierdie briefies, waarin steun vir die republiek gevra word, is na tienduisende adresse gepos. Die reaksie hierop was eenvoudig ongelooflik. Terwyl baie duisende antwoorde van steun en bemoediging ontvang is, is duisende sonder meer teruggestuur. Ander het weer afskuwelike antwoorde uitgelok.

So oorweldigend was die reaksie op hierdie briewe dat daarin die kantoor van die Eerste Minister noodgedwonge besluit moes word om geen aandag aan die tienduisende antwoorde  goed of sleg   te gee nie. Die aanbreek van Woensdag, 5 Oktober 1960, was vir almal 'n verligting, want teen hierdie tyd was die kiesers van Suid-Afrika reeds so deeglik bearbei en was almal so gretig om die

maandelange spanning beëindig te kry, dat verdere propaganda oorbodig sou wees.

In geen vorige stadium was dr. Verwoerd sekerder van sy saak as daardie sonnige lentemôre toe hy om 8.00 uur in Libertas se deur verskyn om sy stem te gaan uitbring nie. Hy en mev. Verwoerd het letterlik van geesdrif oorgeborrel asof die oorwinning vir hulle toe reeds 'n voldonge feit was.

Nadat hulle, saam met ander kiesers, hul kruisies in die kiesafdeling Pretoria Rissik uitgebring het, het ons per motor na sy kiesafdeling, Heidelberg, vertrek, waar hy die res van die dag tussen sy eie kiesers sou deurbring.

Dwarsdeur die lang moeisame dag het ons deur sy kiesafdeling gery om elke stembus te besoek en om met soveel kiesers as moontlik te gesels.

Toe ons teen sononder daardie aand, moeg en swaar belaai met skaapvleis, hoenderpastei en koeksisters, op pad na Heidelberg die radio aanskakel om na die nuusflitse te luister, het my hart hoorbaar teen my ribbes geklop, want van oral was daar nuus van ongekende, opbruisende geesdrif.

Daardie nag is daar, soos met alle verkiesings, nooit geslaap nie, en tog was die Eerste Minister vroeg die volgende oggend reeds weer op kantoor waar daar 'n magdom van verpligtinge oor die afgelope weke opgehoop het.

Soos die flitse een vir een deur die radio uitgesend is, is dit aan dr. Verwoerd oorgedra, maar toe het hy lank reeds geweet dat die oorwinning daar was.

En toe kom die finale uitslag wat aantoon dat 90.73 % van die kiesers hulle stem uitgebring het, dat 850,458 of 52.05 % van die kiesers ten gunste van 'n republiek en 775,878 of 47.49 % daarteen gestem het.

Nooit kon 'n Eerste Minister 'n groter geskenk ontvang het as daardie republikeinse meerderheid van 74,580 nie en nooit kon daar 'n gelukkiger persoon gewees het as dr. H. F. Verwoerd by die aanhoor van hierdie skouspelagtige uitslag nie.

Vir die republikeine was dit 'n oorwinning, maar vir hom 'n persoonlike triomf!

"Die kieserspubliek", het hy gesê, "het ondubbelsinnig geantwoord ..."

"Ek doen by voorbaat 'n beroep op die wenners om nie die oorwinning van hul saak op so 'n wyse te vier dat Suid-Afrika as geheel nie daarby sal baat vind nie".

"Mag bekwaamheid en 'n nuwe dryfkrag, standvastigheid, moed, deursettingsvermoë, eensgesindheid en geloof altyd in diens staan van ons Republiek van Suid Afrika".

AI wat nou oorgebly het, nadat die volk besluit het om 'n republikeinse regeringsvorm te aanvaar, was wetgewing om die Republiek van Suid Afrika tot stand te bring, want die regering het reeds besluit dat die Unie van Suid Afrika op 31 Mei 1961 plek sal moet maak vir die Republiek van Suid-Afrika.

Die koms van die Republiek was 'n gedenkwaardige geleentheid, want na meer as sestig jaar sou daar weer vir die eerste keer 'n President ingesweer word.

Dae lank voor die tyd het duisende mense uit die vier windstreke na Pretoria opgeruk waar daar vir hierdie geskiedkundige geleentheid 'n magtige fees gereël is. Die aand van 30 Mei was daar reeds tienduisende mense langs die strate in die hoofstad wat in aanhoudende reën op die koms van die groot dag gewag het.

Toe die Uniegebou se horlosie daardie nag om 12.00 uur slaan en daarmee die geboorte van die twee en twintigste onafhanklike republiek van Donker Afrika aankondig, het daar 'n magtige dreuning oor die ou hoofstad opgegaan, want almal het geweet dat met die koms van hierdie republiek 'n ideaal van geslagte in vervulling gaan.

Die hoogtepunt van hierdie onvergeetlike dag het eindelik aangebreek toe Staatspresident C. R. Swart sy woning om presies 9.27 vm. verlaat het om na die Grootkerk te gaan waar die plegtige beëdiging deur hoofregter L. C. Steyn waargeneem is, voordat die plegtigheid na Kerkplein verskuif het waar die Staatspresident sy rede kort na 1 1.00 uur vm. gelewer het.

Toe ek dr. Verwoerd na afloop van die verrigtinge in Libertas gelukwens, was hy tam, en van volkome genoegdoening, merkbaar aangedaan.

"Die slag is gelewer," het hy gesê, terwyl hy die suiker op die skinkbord vir my aangee.

"Nou sal ons werk begin!"

Onbaatsugtig en met algehele oorgawe het hy al daardie kragte en talente waarmee God hom so ryklik geseën het, gewy aan die verwesenliking van hierdie lankgekoesterde ideaal. Geen opoffering was vir horn ooit te groot nie.

Te midde van hewige aanvalle van buite en in die aangesig van snydende kritiek van binne, het hy koersvas en doelbewus op sy doelwit afgestuur. Wyl storms om hom heen gewoed het, het hy kalm en bedaard voortbeweeg op die weg wat hy lank gelede reeds vir Suid-Afrika uitgestippel het, want, so het hy gesê,  " 'n mens het gelukkig nie die kwelling van twyfel of jy dalk op die verkeerde pad is nie".

Toe aan hom gevra is waarom hy soveel tyd en energie aan die verkryging van 'n Republiek bestee, was sy antwoord:

"... 0mdat die beveiliging van 'n aparte toekoms vir die Witman, sowel as van die ander rasgroepe, dit vereis.

"Oral in Afrika voel die blankes dat hulle op hulle self en mekaar aangewese is, omdat die westerse nasies in die internasionale politiek elkeen eie oogmerke nastrewe. Net soos die blankes van Afrika mekaar se hande gryp, so moet die blankes van Suid-Afrika dit doen.

"Enigiets uit die verlede wat so iets teenwerk, moet verdwyn.

"Die republiek is 'n eie skepping van almal saam, ons almal se staat. Daarin kan ons saamstaan. Dis nuut en dis ons eie".

Onwrikbaar het hy geglo dat Suid-Afrika alleen groot kan word indien die blankes wat daarin woon, tot een verenigde volk saamgesnoer word en so 'n eenwording sou alleen in 'n vrye republiek moontlik wees.

In moeilike tye en onder tergende omstandighede was hy altyd gewillig om ter wille van 'n republiek die offer van homself te bring  sonder eise en sonder verwagtings.

Dr. H. F. Verwoerd kan met reg die argitek en bouheer van die republiek van Suid-Afrika genoem word.