Deur Fred Barnard
(Lees reeks by 13 Jaar in die skadu van dr HF Verwoerd)
ONS LAASTE TYDJIE IN LONDEN EN TERUGKEER NA SUID-AFRIKA
Voordat ons die aand van 15 Maart, nadat dr Verwoerd die konferensie verlaat het, behoorlik tot verhaal kon kom, besef ons dat ons om 6.00nm in Buckinghampaleis moes wees waar die koningin en prins Phillip 'n onthaal vir die amptenare van al die afvaardigings aangebied het. Toe ek egter die 'slegte' nuus aan my kollegas en maj Richter meedeel, het almal soos een man geweier om na die paleis te gaan. Eers nadat daar kajuitraad gehou is, het ons met 'n meerderheid van stemme besluit dat ons nog "hierdie een keer" aan die Britte se versoek sal voldoen.
Toe ons minute later voor die hotel in die swart motor met die Suid-Afrikaanse vlag klim, was ons, tot ons verbasing, onmiddellik gewild. Luid is ons deur 'n groot groep toegejuig.
In Buckingham met sy bonte mengelmoes, het dit baie jolig gegaan en etlike afgevaardigdes het ons klein groepie Suid-Afrikaners opgesoek. Selfs prins Phillip het lank oor die Suid-Afrikaanse sonskyn en sjerrie gesels, terwyl enige verwysing na die Statebond sorgvuldig vermy is.
By ons terugkeer in die hotel daardie aand, het dr Verwoerd my dadelik ontbied want hy het toe reeds 'n boodskap vir die waarnemende Eerste minister in Kaapstad, mnr Paul Sauer, opgestel en dit moes sonder verwyl versend word.
Hierdie boodskap het onder meer so gelui:
"By vanmiddag se vergadering het die bespreking wat tot dusver in betreklik kalm atmosfeer plaasgevind het, 'n heeltemal ander wending geneem. Hewige aanvalle in beledigende taal is op Suid-Afrika gemaak en onmoontlike eise is gestel. Die aanval is deur Ghana, Indië en Nigerië gelei, en in sterk en onvriendelike taal deur Diefenbaker gesteun. Die einde was dat Suid-Afrika sy lidmaatskap alleen sou kon behou onder die skadu dat hy nie voldoen aan die beginsels van die Statebond nie, en dat minstens drie state die reg voorbehou om enige tyd, selfs binne dae, mosies van uitsetting voor te stel, en ook om aanhoudend in sy rassebeleid in te meng wat hulle nie meer as huishoudelik aanvaar soos volgens verlede jaar se konferensiebesluit nie. Macmillan het verdaag om indiwidueel te probeer oorreed, maar daarna in ons samespreking erken dat dit tevergeefs was. Klaarblyklik het hy en sy kollegas met verligting en dankbaarheid hoewel bedroef van my verneem dat ons ons aansoek sal terugtrek om ook hulle uit verleentheid te red, veral weens gevaar van uittrede deur sekere Afro-Asiatiese state. Ons onderlinge gees was so goed dat toe ek sê dat ons nou sal moet saamwerk bilateraal soos met Eire, hulle dadelik ingestem het. Miskien is alles so nog die beste en minste skade. My aankondiging is in doodse stilte aangehoor met opponente ongemaklik en verleë en vriende bedroef maar sterker in hul vriendskap."
Ná die onverwagte gebeure van die voorafgaande dae is die afsprake met gen De Gaulle en dié in Bonn afgestel en het dr Verwoerd besluit om onverwyld na Suid-Afrika terug te keer.
Die tyd vir afskeid het aangebreek en dr en mev Verwoerd het aan elkeen van ons 'n klein geskenkie oorhandig.
Een van die dinge wat my die meeste getref het gedurende ons verblyf in Londen, was die wyse waarop Doktor en Mevrou byna aanbid is deur die hotelpersoneel, veiligheidsbeamptes, motorbestuurders en almal wat daagliks direk met hulle in verbinding was. Die anderskleurige ou deurwag het my spesiaal versoek om sy dank aan die Suid-Afrikaanse Eerste Minister oor te dra vir sy "aansteeklike hoflikheid".
Vir die veiligheidspersoneel en motorbestuurders is daar 'n spesiale afskeid in dr Verwoerd se suite gereël. Elkeen moes 'n persoonlike geskenkie en 'n warm handdruk ontvang. Toe die taai polisie-offisier die bedankingswoord moes spreek, het blink trane van aandoenng oor sy wange gerol want "ons het julle en die volk wat julle verteenwoordig, innig liefgekry" en "ons sal julle nooit, nooit vergeet nie..."
Op hierdie groepie Britte het dr en mev Verwoerd 'n onuitwisbare indruk gelaat wat lank na Woensdag, 15 Maart 1961, nog in persoonlike briewe en boodskappe weerklank gevind het.
Uiteindelik was die Statebondskonferensie van 1961 deel van die geskiedenis en was ons weer op reis na ons land en ons mense – Athene, Rome, Nairobi, Salisbury... Jan Smuts!
Pas nadat ons die lughawe van Salisbury verlaat het, het die loods my meegedeel dat daar 'n oproep van die Jan Smutslughawe vir my was. Dit was mnr Jack Steyl, hoofsekretaris van die Nasionale Party van Transvaal, wat wou weet of dr Verwoerd " 'n paar woorde" aan die mense wat hom op die lughawe kom welkom heet, sou rig.
Sonder om Dokter te raadpleeg het ek hom verseker dat dit in orde sou wees.
Twintig minute later was daar weer eens 'n oproep van mnr Steyl. Hierdie keer was hy opgewonde.
"Hier is seker alreeds 25 000 mense en hulle stroom nog steeds in van alle kante."
Toe ons by die grens deur vier straalvegters van die Suid-Afrikaanse lugmag ontmoet word, het die opwinding opnuut begin oplaai. Skaars was ek reg geskuif in my sitplek, of daar is mnr Steyl weer met die boodskap dat "hier nou nagenoeg 40 000 mense op Jan Smuts is."
Ons besluit toe onder ons om dr Verwoerd in die duister te hou sodat die uitermate groot skare vir hom 'n verrassing moes wees.
Namate ons Jan Smuts genader het, het ons opgewondenheid onbeperk geword. Eers ou Pretoria en toe... Jan Smuts!
Watter onbeskryflike gesig was daar nie benede ons nie! 'n Skare van tussen 50 000 en 60 000 mense wat gekom het om hul leier en Premier welkom te heet – 'n krioelende massa hier van vlak by die aanloopbaan tot daar ver by die draadheining, op die balkonne, die dakke, oral 'n malende miernes, met duisende wapperende vlae, baniere en biljette!
Toe die Boeing met die naam Durban presies om 2:19 nm op die laaiblad vlak voor die mensemassa tot stilstand kom het die oorverdowende juigkrete die helder hoëveldse lug deurklief. Van so iets kon ons daarbinne nie eens droom nie. Dr Verwoerd was klaarblyklik diep getref en het stip en ingedagte deur die klein venstertjie na die malende menigtes getuur asof hy sy eie oë nie kon glo nie.
Terwyl die res van die passasiers die vliegtuig verlaat, het ons bly sit. Die administrateur van Transvaal en mnr Jack Steyl het binnegekom, gegroet en vertel wat daar op die program is terwyl die ou Transvaalse Volkslied daar buite deur die geesdriftiges aangehef is.
Uiteindelik gaan die deur weer oop vir dr Verwoerd om die geselskap onder die sing van die Lied van Jong Suid-Afrika na buite te lei.
Die lughawe het letterlik gebewe toe die Eerste Minister in die oop deur verskyn. So iets het in Suid-Afrika nooit tevore gebeur nie en ook nooit daarna nie. Die ego's van die juigende, jubelende malende menigte het ver deur die klowe en rante weerklink.
Die erewag het op die geskreeude bevele op aandag gekom en geweer gepresenteer; die orkes het Die Stem aangehef en die eerste skote van 'n salvo van 21 van die nasionale saluut het oor die hele Transvaalse hoëveld weergalm.
Nadat dr Verwoerd 'n erewag geïnspekteer het, het die skare spontaan "Laat Heer u seën op hul daal" aangehef.
Die tonele wat mekaar spontaan en dramaties opgevolg het, het dr Verwoerd diep ontroer want so iets kon hy in sy wildste drome nie voorsien nie. Inderdaad 'n helde-ontvangs wat 'n mens selde belewe!
"Wat ons gedoen het, het ons vir Suid-Afrika gedoen en ons verdien daarvoor geen lof nie. Daar was geen ander keuse nie", was sy beskeie woorde toe hy die steeds juigende menigtes met hul tieduisende wapperende vlaggies bedank vir die besondere eer wat hom en sy afvaardiging te beurt geval het.
"Die krag van enige leier is die krag van die volk wat hy verteenwoordig. Ons het na Londen gegaan met die vaste hoop dat ons sal terugkeer met ons land nog lid van die Statebond. Dit het nie gebeur nie. Ons moet egter onthou: die mens wik maar God beskik".
Omdat die Parlement in Kaapstad in sitting was, moes ons dieselfde namiddag sommer direk van Jan Smuts daarheen vertrek waar die Eerste Minister en Minister Louw andermaal deur meer as 10 000 geesdriftiges 'n helde-ontvangs gegee is.
Ofskoon ons nou teruggekeer het van die 'slagveld' van Lancaster House, was dit lank nog nie die einde van 1961 se Statebondskonferenise nie want spoedig sou ons uitvind dat die stryd wat daar in Londen gevoer is, hier in ons eie Parlement met dieselfde felheid oorgeveg sou word. Die Opposisie wou naamlik onder geen omstandighede aanvaar dat die Suid-Afrikaanse afvaardiging onder leiding van dr HF Verwoerd geveg het met 'n wil om te wen nie.
Gewis bly daar nog veel oor wat verhaal kan word oor hierdie geskiedkundige konferensie maar ek sal met hierdie inligting uit my notas volstaan.
Republiekwording... vervolg