13 JAAR MET DR HF VERWOERD (11)

Deur Fred Barnard

(Lees reeks by 13 Jaar in die skadu van dr HF Verwoerd)

DIE STATEBONDSKONFERENSIE VAN 1961 (DEELIII)

Ons was almal moeg gewerk, tog het mev Verwoerd haar spesifiek oor my bekommer totdat dr Verwoerd vir haar gesê het: "Bets, los jy vir Barnard, hy's 'n fatalis soos ek".

Suid-Afrika se vyande van wie daar baie in Londen is, het alles in hul vermoë gedoen om gemoedere teen dr Verwoerd en sy afvaardiging op te sweep. 'n Haatveldtog waaraan Britse geestelikes lustig deelgeneem het is ontketen. Terwyl mev Barbara Casle protsesoptogte gereël het, het die biskop van Southwark, dr Mervyn Stockwood, die Suid-Afrikaanse Eerste Minister van die kansel toegesnou: "In die naam van God, gaan; gee pad uit die Britse Gemenebes!"

Die konferensie het om 11-uur op Woensdag, 8 Maart, in Lancaster House, nie ver van Buckinghampaleis nie, 'n aanvang geneem.

Lancaster House wat eers York House en daarna Stafford House geheet het, is 'n indrukwekkende paleis in eie reg. Hierdie massiewe bouwerk is 'n argitektoniese meesterstuk van 'n eeu wat verby is, verruklik versier en 'n monument onder die baie monumente in Londen.

Wanneer die massiewe swaaideure oopswaai wat toegang tot hierdie statige ou gebou verleen, bevind die besoeker hom in 'n ruim vertrek wat met sy ryk versierde Oosterse tapyte, vleklose ou meubelstukke uit jare wat reeds lank verby is, hoë swaar, goue kandelare die verhaal vertel van 'n glorieryke tydperk van weleer.

Hoe dit ookal sy, die 1961-konferensie het op die eerste verdieping in die State Drawing Room van hierdie manjifieke ou gebou plaasgevind. Regoor die groot ingang van hierdie vergadersaal is daar 'n kleiner vertrek wat die "West Ant-Room" genoem word. Dit is in hierdie vertrek waar ek bedags gesit het terwyl die konferensie aan die gang was. Die twee deure was regoor mekaar met die gevolg dat ek presies geweet het wanneer iemand die vergadering verlaat het.

By twee geleenthede het ek die voorreg gehad om die vergaderings by te woon.

Die allerstrengste veiligheidsmaatreëls is toegepas en alleen lede van afvaardigings kon die gebou na die vertoon van amptelike passe binnegaan. Selfs ministers moes altyd hul passe byderhand hê.

Die feit dat dr Verwoerd altyd vroeg by die vergaderings gearrivieer het, het my in staat gestel om die verskillende Statebondsleiers van naderby dop te hou soos hulle een vir een onder by die swaaideur en met die wye trap inkom na die vergadersaal. Later het ek hulle nogal goed geken.

Veral was dit prettig om dr Nkrumah van Ghana dop te hou. Waar ander leiers gewoonlik deur een of twee veiligheidsbeamptes gevolg is, was daar gereeld vier goed-gewapende offisiere om hom. Hy het nooit links of regs gekyk nie en nooit enigiemand gegroet nie.

Hierdie messias van Ghana was nie sommer 'n gewone kêrel nie! Die motorkar waarin hy gery het – en slegs hy en sy bestuurder mag daarin ry – was nie alleen die grootste en duurste bekombaar nie maar moes ook binnekant spesiaal met fluweel oorgetrek wees.

Nadat mnr Macmillan die Statebondsleiers welkom geheet het, is daar met die bespreking van die lywige agenda begin. Die eerste punt op die agenda: 'Algemene oorsig van die Wêreldsituasie', is deur mnr Nehru van Indië ingelui.

Ofskoon dit waarskynlik die gebruik by vorige konferensies was om nie die huishoudelike sake van 'n lidstaat te bespreek sonder die toestemming van die betrokke staat nie, is Suid-Afrika se beleid tydens hierdie konferensie volledig bespreek. Dit het dan ook, volgens mnr Harold Macmillan, met dr Verwoerd se volle toestemming vooraf gebeur.

Wat my veral opgeval het by daardie byeenkomste wat ek bygewoon het, was dat al die sprekers hulle toesprake voorgelees het terwyl dr Verwoerd, soos sy gebruik was, sonder teks of notas gepraat het. Dit het hom natuurlik in staat gestel om te reageer op wat ander voor hom gesê het, terwyl diegene wat van hul notas gelees het, net die storie voorgedra het wat op die dokument getik is.

Dit was 'n heerlike ervaring om na hierdie wêreldleiers te luister daar waar hulle almal om een tafel geskaar is: mnr Diefenbaker, Nehru, Auyb Khan, dr Nkrumah, Sir Abubakar, Abdul Rahman, en dr Verwoerd. Trots was ek inderdaad daardie dag om privaatsekretaris te kon wees van so 'n man, so 'n leier, so 'n wêreldfiguur, want dit was heerlik om aan daardie tafel vergelykings te tref. Logies, duidelik, vollledig is sy saak gestel. Geen slimpraatjies, geen onnodige omhaal van woorde nie, geen bluf!

In Londen was dr Verwoerd sommer uit die staanspoor gewild en in Fleetstraat was hy gou bekend as "dr V." Ofskoon dit nie uit die dagblaaie geblyk het nie, het die Suid-Afrikaanse Eerste Minister talle vriende onder die Britse persmanne in Londen gehad want oral waar hy met hulle te doen gekry het was hy spontaan, vriendelik en openhartig; iets wat van geeneen van die ander leiers gesê kon word nie. Verskeie ervare koerantmanne het dan ook prontuit teenoor my erken dat dr Verwoerd se gelyke nie in die geledere van daardie Statebondsleiers gevind kon word nie. Veral by perskonferensies en op die televisie was dr Verwoerd 'n meester sonder weerga.

Ofskoon die Suid-Afrikaanse afvaardiging uit die staanspoor oortuig was daarvan dat die Unie nie veel moeilikheid sou ervaar om lid van die Statebond te bly nie, het dit heel spoedig duidelik geword dat mense soos mnr Diefenbaker van Kanada en dr Nkrumah van Ghana geen steen onaangeroerd sou laat om sake vir Suid-Afrika moeilik te maak nie. By perskonferensies en in onderhoude met die televisie het hulle dit duidelik gestel dat Suid-Afrika vanweë sy binnelandse beleid nie vir hulle as lid van hierdie liggaam aanvaarbaar sou wees nie. Terwyl die optrede van die meeste Statebondsleiers, met die uitsondering van mnr Menzies van Australië, uiters onvriendelik was, was hierdie twee here opelik vyandiggesind.

Nietemin was dr Verwoerd so oortuig dat hy suksesvol gaan wees dat hy die toespraak wat hy die aand na afloop van die konferensie voor die Suid-Afrika-klub sou lewer, geheel en al voorberei het op die basis dat Suid-Afrika nog lid sou wees.

Op Donderdag 9 Maart het dr en mev Verwoerd saam met die Britse Eerste Minister in Admiralty House geëet. Na afloop van die ete het die koningin vir die eerste keer oudiënsie aan dr Verwoerd verleen.

Besoekers aan die koningin moes ongeveer vyf minute voor die afgespreekte tyd hul opwagting by die paleis maak.

By die paleisdeur is dr Verwoerd deur 'n koningsruiter ontvang wat hom na 'n vertrek geneem het waar die koningin se privaatsekretaris, die 'Master of the Household', gewag het. Hiervandaan is die twee na die koningin waar laasgenoemde en dr Verwoerd vir nagenoeg twintig minute informeel gesels het.

Dr en mev Verwoerd het saam met hul ou vriende, mnr Menzies en sy gade, die naweek van 11 Maart by Chequers, die Britse Eerste Minister se buiteverblyf, deurgebring. Met hul terugkeer na die Dorchester daardie Sondagaand was dr Verwoerd klaarblyklik nie meer so optimisties in verband met die Suid-Afrikaanse aansoek nie want vroeg die volgende oggend het hy en min Louw 'n lang en ernstige samespreking in die hotel gevoer.

Daardie Maandag het ons verneem dat Suid-Afrika se saak finaal op Woensdag 15 Maart beslis sou word. Die spanning in die Dorchester Hotel in Lancaster House en in Suid-Afrikahuis het gaandeweg opgelaai, maar by almal – selfs by die Eerste Minister en Minister Louw – was daar geen teken van wanhoop nie. Inteendeel, dr Verwoerd het saans nog aan sy toespraak gewerk en volgens die notas sou Suid-Afrika nog lid van die Statebond wees!

Namate Woensdag langsaam nader gekom het, het die spanning steeds hoër en hoër gelaai terwyl ons dag en nag teen 'n verbysterende tempo gewerk het. Elke aand was daar 'n amptelike verpligting wat ons feitlik sonder uitsondering eers in die vroeë oggendure tuis gebring het. Daarna voorbereiding vir die konferensie... dan aan die konferensietafel! Daar was inderdaad geen oomblik blaaskans nie.

Minute het soos ure geword en ure soos dae.

Terwyl ons almal vas geglo het dat alles in orde sou wees, het die Britse koerante en beeldradio opnuut soos besetenes teen Suid-Afrika te velde getrek. Sharpeville het op televisie herlewe; die BBC het moord en verdrukking in Suid-Afrika gesien; vir Diefenbaker, Nkrumah en Nehru het apartheid weer eens die sinnebeeld van afgryse geword – iets wat die moord en doodslag deur Yomo Kenyatta se Mau-Mau na kinderspeletjies laat lyk het!.

En toe Woensdag, 15 Maart 1961!

STATEBONDSKONFERENSIE VAN 1961 Deel IV vervolg...