13 JAAR MET DR HF VERWOERD (10)

Deur Fred Barnard

(Lees reeks by 13 Jaar in die skadu van dr HF Verwoerd)

DIE STATEBONDSKONFERENSIE VAN 1961 (DEELII)

Terwyl Doktor rustig en ongestoord in die vliegtuig bly slaap het, is mev Verwoerd, minister Louw en die res van die geselskap na die stad waar daar vir ons slaapplek by die Excelsior Hotel gereël is.

Bossie, minister Louw se privaatsekretaris wat toe reeds 'n ervare wêreldreisiger was, en ek, het egter van die geleentheid gebruik gemaak om soveel as wat in die omstandighede prakties moontlik was, van hierdie geskiedkundige ou wêreldstad te sien.  Net toe ons op die punt staan om weer na die lughawe te vertrek, is nuus ontvang dat die Londense lughawe onder 'n misbank bedek is, en dat ons daarom genoodsaak is om langer in Rome te vertoef – iets wat net mooi in ons kraam gepas het want dit het ons in staat gestel om heelwat meer van die besienswaardighede te besoek, hier waar talle ou bouvalle die romantiese verhaal van 'n verbygegane eeu vertel.

Uiteindelik was ons weer in die buik van die lugreus en hoog in die ruimtes oppad na ons eindbestemming op die oewers van die Teems.

Die baas wat toe heerlik uitgeslaap en in 'n besonder luimige stemming was, het hiervandaan as ons 'gids' opgetree want jare gelede toe hy nog student in Duitsland was, het hy en mevrou kort na hul huwelik hierdie wêreld goed geken.

Die gesig uit die lug was verruklik. In helder Europese sonskyn het die sneeubedekte kruine van die Alpe een vir een onder ons heen gegly totdat ons Parys met sy Eiffeltoring, links van ons kon sien en daarna Duinkerke aan ons regterkant.

Toe die Boeing se deure op die Londense lughawe oopswaai, is ons deur helder, soos Suid-Afrikaanse sonskyn, verwelkom.

Sommer met die eerste oogopslag was dit duidelik dat die hele Londen met al sy voorstede op dr Verwoerd, daardie 'monster' van Afrika, gewag het.  Persmanne, fotograwe, televisiemense en slordige langhariges was daar by die dosyne. Jy kon jou eenvoudig nie draai nie of daar was een van hulle: grotes, kleintjies, swartes, geles, gladgeskeerdes en bebaardes; die hele boel was daar om iets te probeer aas vir die meer as 'n dosyn dagblaaie wat hierdie wêreldstad bedien en vir die baie honderde koerante oor die hele aardbol.

Niks op aarde kon die Suid-Afrikaanse Eerste Minister beter pas as juis hierdie atmosfeer nie, want wie is daar wat 'n persman beter kan hanteer as wat dr Verwoerd dit kon doen! 'n Koerantman was as't ware sy kos en hoe "moeiliker" die klant hoe meer het dr Verwoerd dit geniet.

Boonop gebeur dit toe dat hy juis daardie sonnige oggend so reg op sy stukke is. Die atmosfeer was so reg in sy kraal – dit kon jy wat hom geken het, sommer van ver waarneem. Daardie ondeunde glinstering in sy oë, daardie halfsarkastiese, halfgeniepsige antwoorde en opmerkings tussenin!

Dr Verwoerd is deur mnr Duncan Sandys, Sekretaris van Statebondsbetrekkinge namens die Brits Eerste Minister, mnr Harold Macmillan, welkom geheet.

Terwyl ons gewag het dat doeaneformaliteite afgehandel word is dr Verwoerd na 'n perskonferensie wat daar vooraf deur oom Piet Meiring op die lughawe vir hom gereël is. Oppad daarheen het hy sommer met almal opgewek geskerts en gesels. Hierdie spontaan vriendelike houding van dié "monster" het die klomp nuusmanne ongetwyfeld totaal op die verkeerde voet betrap; dit kon sommer op hul gesigte gelees word. Wat hulle vóór hulle gesien het, het nie mooi ingepas by die stories wat hulle van plan was om te skryf nie. Hierdie Verwoerd is nie daardie Verwoerd wat hulle "geken" het nie! Hy kon dan lag!

Voor die televisie en ander kameras wat in tientalle om hom opgestel is, was hy so tuis soos op die rotse by Rooikrans.

Nadat die perskonferensie afgehandel is, het ons in die pad geval na die Dorchester Hotel in Park Lane. Eers toe ons die lughawe verlaat kon ons eintlik sien hoe "welkom" hierdie mense van die land van apartheid werklik is.

Reusagtige baniere soos "Gaan huistoe Verwoerd", "Moordenaar", "Sharpville", "Lees jou Bybel", en nog baie meer kon weerskante van die straat gesien word – alles getuienis van die leuens wat hulle deur die Afrikaner se volksvyande gevoer is. Die meeste van die baniere is gedra deur daardie soort wesens wat ons hier "eienaardig" sou noem, deur Wes-Indiërs, en deur snaakse jong Britse dametjies. Die dinge het 'n mens so oë en jou hart seergemaak en 'n mens het gewoonlik na hulle gekyk met 'n gevoel van "vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie".

By die Dorchester Hotel is ons ewe-eens deur 'n sterk kontingent van hierdie demokrate verwelkom. Dr Verwoerd het hulle natuurlik streng volgens tradisie glad nie raakgesien nie.

Die Eerste minister en mev Verwoerd is na kamers 707/8 terwyl ek my intrek regoor hulle in kamer 710 geneem het. Reeds by ons aankoms het daar 'n tamaai vrag pos op ons gewag: meesal briewe van Britte wat dr Verwoerd 'versoek' om terug te gaan na Suid-Afrika! Dit was duidelik dat die anti-Suid-Afrika-organisasies wat hoofsaaklik onder leiding van uitgewekenes uit Suid-Afrika (soos Peter Hain) gestaan het, goed georganiseer was.

Die volgende oggend het dr en mev Verwoerd die oggenddiens in die Afrikaanse Kerk, Austin Friars, bygewoon.

Danksy minister Louw wat sy motor tot ons beskikking gestel het kon die jong klomp die res van daardie dag besienswaardighede en geskiedkundige plekke in die Britse hoofstad besoek. Ons is vandag nog dankbaar teenoor dr Louw want dit was die enigste dag waarop ons nie 24 uur per beset was nie, behalwe vir die geleentheid wat ons later een aand geskep het om "My Fair Lady" te gaan sien. Selfs die toegangskaartjie wat ek na Covent Garden ontvang het, was baie jare later steeds in my besit – ongebruik.

Ons het geweet dat daar vir ons 'n strawwe tyd in Londen voorlê, maar ons kon nooit droom dat dinge so totaal handuit sou ruk nie. Dit was eenvoudig onbeskryflik! Met dr Verwoerd altyd aan die voorpunt was ons dag en nag op en wakker. Dikwels het dit gebeur dat Doktor om 03:00 vir my goeienag sê en om 06:00 alweer die klokkie lui om my te ontbied. Ons werkdag het inderdaad om 07:00 op die oggend van 6 Maart begin en nie geëindig voor daardie aand van 17 Maart toe dr Verwoerd sy onvergeetlike toespraak in die Savoy Hotel voor die Suid-Afrika-klub gelewer het nie.

Eerste Minister Macmillan se privaatsekretaris het byvoorbeeld een nag om 00:45 'n brief aan my in my hotelkamer vir dr Verwoerd oorhandig. By 'n ander geleentheid is ek om 02:00 gewek deur 'n opgewonde inligtingsbeampte wat iets wou weet in verband met 'n onderhoud wat dr Verwoerd die vorige namiddag gevoer het. Dan praat ek nie eens van die telefone wat voortdurend en onophoudelik gelui het nie en van die besoekers wat in 'n nimmereindigende stroom by ons kantoor kom inloer het nie. Duisende briewe en telegramme moes later vir beantwoording na Suid-afrika geneem word.

Terwyl ons dag en nag letterlik soos masjiene gewerk het, was dr Verwoerd se kalmte en vasberadenheid deurgaans vir ons so 'n inspirasie dat ons nie besef het teen watter spoed ons beweeg nie. Die feit dat hy altyd aan die spits was het dit egter vir ons moontlik gemaak om die pas vol te hou.