Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moenie toelaat dat die handjie vol kosbare aardse ure wat God jou geleen het tussen jou vingers deurglip in 'n transaksie waar jy onsigbare dinge verruil vir sigbare dinge nie – die sigbare dinge is tydelik...
BROKKIES UIT DIE BOEK VRYBURGER (8)
VRYBURGER
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Die reën het die aarde nie net natgemaak nie, maar ook hier en daar sagte modder gelos, waardeur die swaargelaaide waens moeisaam beweeg as die dun wiele wegsak in die kleiagtige grond.
Jan kom agter dat Franci al meer saam met die wa loop en nie meer op die wakis saamry nie. Die afgelope tyd se sonlig, wind en skoon lug het ‘n gesonde blos op haar wange gebring. Sy het vir haar ‘n sonkappie geprakseer uit een van die rolle lapmateriaal wat Jan saamry, om uiteraard aan die boere se vroue te verkoop. Dis ook blou, soos haar rok, maar ‘n paar skakerings donkerder.
Met ietwat teësin het Jan haar toegelaat om Goliat te ry en sy geniet dit terdeë. Daar is min dinge so lekker as om op ‘n sterkgespierde, vinnige en kragtige perd te ry, om die magtige dier die rigting te laat inslaan waarheen jy wil hê dit moet gaan, bloot deur die teuels te genruik, of ‘n drukking van jou voet teen sy ribbes.
Franci vra nooit hoe ver dit nog is nie, of hoeveel dae dit gaan vat nie. Jan weet bitter min van haar verlede af, behalwe dat haar oupa by Bloedrivier geveg het, dat sy iewers langs die pad van haar familie weg is en dat sy in die geselskap van Hans Koster was. Hy vra haar nie uit daarna nie, maar dis asof dit ‘n donker kol op sy vriendskap met haar laat. Hans is immers sy swaer en is ‘n skarminkel van ‘n gemors.
Intuïtief, soos vroue maar te dikwels is, weet sy waarom Jan dikwels met haar nors is. Met ‘n handvol moed wat sy deur die dag bymekaar geskraap het, wag sy totdat hy ontspan aan die einde van een dag se harde trek, en as hy met ‘n koppie koffie in die een hand sit en sy pyp in die ander, praat sy uit die bloute.
“Ek weet nie wat jou verlede met Hans Koster is nie, maar ek en hy was nooit romanties betrokke nie. Hy het my bloot in Pretoria oor die straat gehelp. Ek het hom sjarmant en welsprekend ervaar. Daarna het hy vir my ‘n ete gekoop, maar hy het bedink ek is iets aan hom verskuldig en dat ek sommer sy houvrou sal wees. Ek weet hy was getroud, maar ek weet nie met wie nie…”
“Met my suster,” Sê Jan bot. “Wat Koster en jou betref, dit het niks met my te make nie.”
Hy staan op, klop sy pyp teen sy skoen se hakskeen uit, stap ewe ongeskik, sonder om nag te sê, terug wa toe waar sy seil onder die wa self lê, trek sy skoene uit en klim onder die komberse in. Na ‘n paar minute hoor hy hoe die wa bokant hom kraak, as sy inklim en bedmaak. Vir ‘n goeie tien minute lê hulle in stilte.
“Jan, ek weet jy kan my hoor. Jy slaap nog nie, want ek hoor jou nie snork nie. So, ek gaan jou vertel wat met my gebeur het, al maak jy of jy my nie hoor nie en of jy wil weet of nie.
“Na Bloedrivier se oorlog het my pa, Jean, saam met KleinCoen, sy pa getrek na ‘n plek met die naam van Buysdorp, daar aan die voet van die berg daar ver na bo. Sy neef, Coenraad se mense, die Buyse, woon al daar van twintig jaar voor Louis Trichardt daar aangekom het. Hy het egter nie lank daar gebly nie, want hy het nie tussen hulle tuis gevoel nie, al is hulle mos verlangs familie. KleinCoen, wat self ‘n massiewe groot man was, by die sewe voet lank, het uitgespan naby die Sandrivier. Hy, sy vrou en kinders, onder andere my eie pa, Jean. Die boerdery het goed gegaan, met die beeste wat vinnig vet geword het en hulle het dit maklik verkoop aan trekkers wat uiteindelik boontoe getrek het en geld was nie skaars nie.
“Oupa KleinCoen het rusteloos geword en hy en my pa het hulle perde en ‘n wa gevat om te gaan jag, anderkant die rivier, in South Zambezia. Hulle het nooit teruggekom nie. Niemand kon ooit sê wat van hulle geword het nie, dit kon leeus, olifante, buffels of so iets wees, ek sal nooit weet nie. Ma en my susters het maagkoors gekry en is dood. Ek en my kleinboetie, Pierre, het na drie maande die treppie en ‘n paar pond gevat en Pretoria toe gery. Anderkant Warmbad het ‘n bende Pedi’s ons aangeval en Pierre is daar dood. Ek kon wegjaag en het uiteindelik in Pretoria aangekom. Na ‘n tyd was my geld amper op, want ek moes in ‘n losieshuis bly.”
“Ek het vir my hierdie rok en nog ‘n paar goedjies moes koop, want ek wou nie soos ‘n armblanke meisie lyk nie, want dan vat die hele wêreld kanse met jou, veral die Ierse en Skotse immigrante. Nadat my geld op was, het die tante wat die eienares was, gesê ek kan maar vir eers daar bly, maar sy is ‘n maand of wat gelede dood.
“Ek het vir drie dae nie geëet nie, toe ek op pad was na ou Eph se winkel om te hoor of hy nie vir my werk het nie. Dis toe ek vir Hans Koster ontmoet het – op pad winkel toe.”
“En toe trek jy by hom in?”
“Sies vir jou! Ja, dis wat hy wou gehad het en toe ek weier, het hy my geslaan. Hy wou my ook soen, net soos jy, maar ek het sy wange gekrap, toe slaan hy my eers met die plathand, maar later met die vuis. Ek het gevlug, maar Basie, my perd, het anderkant Heidelberg gevrek. Seker perdesiekte of iets, ek weet nie. Ek het baie lank geloop, tot ek jou vuur gesien het. Ek onthou niks verder nie.”
Daar is vir ‘n hele paar minute stilte. Jan lê die meisie se storie en deurdink en soek gate daarin, maar uiteindelik klink dit vir hom asof dit waar kan wees. Hoe sal hy weet?
“Jou pa, KleinCoen, soos jy hom noem en jou broer – albei groot manne, met mooi gewere? Hulle het gaan ivoor jag in Rhodesië, saam met ‘n paar Engelsmanne en ‘n Duitser?”
“Ja, hoe weet jy?”
“Dis ‘n groot land hierdie, maar manne soos jou pa en broer se stories kan wyd loop.”
“So, weet jy wat van hulle geword het?”
Daar is ‘n lang stilte, waarin Jan lê en dink hoe hy uit hierdie dilemma gaan kom. Soms is dit beter om nie die waarheid te weet nie, maar ander kere is dit miskien beter.
“Hoor jy my, Jan?”
“Ja, ek hoor jou, Francesca. Dit wat ek gehoor het, is ook maar soos die storie loop, so ek mag verkeerd wees, maar ek dink nie so nie. Soos ek verstaan, het die jagekspedisie goed geloop en jou pa en broer het flink gejag. Die ander nie so goed nie en soos dit maar gaan, het die spul gedrink. Dis nou die ander, nie jou mense nie. Hulle was ver die binneland in, toe jou pa se waens vol gelaai was met ivoor en leeuvelle. Hulle het besluit om terug te kom, want wat sou die sin daarin wees om verder te jag?”
“En? Jy kan maar die storie klaar maak. Hoe ookal, ek weet wat die uiteinde sal wees.”
“Een van jou pa se agterryers, ‘n kleurling met die naam Oompie het die store vertel en ek het dit by Piet Renoster gehoor. Soos ek sê, stories loop en soos hulle aangaan, kom stertjies by.”
“Ek luister, Jan.”
“Daar was ‘n bakleiery toe KleinCoen vir die spul sê hy en Jean gaan terug Transvaal toe. Die ander het baie min gejag en hulle voorraad was feitlik klaar. Hulle wou toe ‘n deel van jou pa se velle en olifanttande hê. Jou pa het ‘n vier of vyf van hulle katswink geslaan, toe een Engelsman, Allan Mc Murtoch, ‘n geweer van agter teen jou pa se kop gedruk het en hom geskiet het. Jean het ‘n byl gevat en onder hulle ingeklim, maar onthou, al was hy groot, was daar net te veel van die ander. Hulle het hom op die grond vasgedruk, nadat hy in die been geskiet is en hulle het hom doodgekap met die einste byl.”
Daar is ‘n hele ruk stilte soos Francesca die tafereel voor haar geestesoog laat afspeel. Na ‘n paar minute hoor Jan haar huil. Hy kan homself skop dat hy die storie so in detail vir haar vertel het.
“Is dit al, Jan?” vra sy in ‘n nog halfgebroke stem.
“Nee, dis nie al nie. Piet Renoster het vir my vertel daar was ook ‘n Boer saam met die Engelsmanne. Ek het dit eers die aand nadat ek jou gesien het vir die eerste keer gehoor.”
“En?”
“Dit was Hans Koster. Hy het blykbaar saam met die Mc Murtoch in Pretoria aangekom met jou pa en boetie se waens.”
“Is jy seker?”
“Natuurlik nie, maar my binnegoed sê vir my dit kan wees.”
Weereens is daar ‘n lang stilte.
“Noumaar nag, Franceska.”
“Franci,” antwoord sy.
“Nag, Franci.”
“Nag, Jan.”