Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dankbaarheid is die enigste volkome onselfsugtige daad waartoe die mens in staat is. Dit ontstaan deur insig in die wêreld, ander mense, in jouself, in verhoudings met ander mense – veral dié verhoudings wat skeef geloop het en weer herstel het. Dankbaarheid is min of meer 'n lewenshouding waar jou eie beplanning laat vaar word ter wille van God se plan met jou lewe.
BROKKIES UIT DIE BOEK VRYBURGER (5)
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Die waens is swaarder gelaai as wat Jan voor begroot het en die dun staalbande van die groot wiele maak diep spore in die grond. Dis so ‘n katspoegie onder drie honderd myl terug na Pretoria toe. Hy is nie heeltemal seker wat hy met die wapens en ammunisie gaan doen nie. Natuurlik het hy uit een van die kaste met nuwe gewere vir homself een geneem, en ‘n kas ammunisie daarby. Die meeste van die wapens is nog so te sê nuut en sommige van hulle het minder as ‘n honderd skote deur die loop.
Hy het geen idee wat die waarde daarvan sal wees nie – sekerlik meer as hy dit een vir een aan die burgers kan verkoop, wat meestal nog met Westley-Richards Monkey-tail agterlaaiers of self ou voorlaaiers bewapen is.
Hy is nie heeltemal seker wie tans die president van Transvaal is nie, miskien nog T.F. Burgers, en sy adjunk Paul Kruger? Of miskien is daar nou niemand nie, omdat Transvaal deur die Britte geannekseer is? So, wie gaan die magtiging hê om vir die wapens te teken as hy dit aan die Republiek wil verkoop? Bestaan die Republiek nog?
Hy wil dit nie aan ou Epstein verkoop nie, want die ou skelm sal sekerlik vir hom ‘n paar pennies uit die pond daarvoor betaal. Skielik besef Jan dat hy nou eintlik met ‘n tamelêtjie sit. Hy het ‘n groot vrag baie waardevolle wapens en niemand om dit aan te verkoop nie.
Terwyl hy langs die vooros loop en dink, skeur ‘n lang weerligstraal die hemel voor hom op en terselfdertyd steek ‘n windjie op. Die watente begin wapper en die luggie word vinnig koeler. Hierdie Hoëveldse storms kan vinnig opsteek, wild tekere gaan en net so vinnig wegtrek.
“Komaan Sie en Sa, trek die waens daar op die bultjie! Moenie dat die osse skrik nie, maak vas, ouboetas, skiet die toue so ‘n bietjie dat hulle gaan lê maar moenie uitspan nie. As hulle nou begin hardloop vang ons hulle nie voor oor ‘n week nie!”
Die storm het hulle onverwags oorval en hulle werk half freneties om alles gedoen te kry. Die eerste swaar druppels begin val as die osse uiteindelik gaan lê, maar hulle staar grootoog as die weerlig naby slaan, met die hot agteros wat wil begin opstaan.
“Kom nou, Kleinseun, gaan lê!”
Sie en Sa het vir hulle ‘n seil gespan langs die wa, maar Jan het, aangesien hy die baas is, op die voorste wa vir hom lêplek gemaak op die kratte ammunisie. Die agterste wa is so vol gepak van die gewere, dat daar nie plek is vir die twee touleiers nie.
Jan hou van die weer – die geraas, die blitse, die opwinding van die wind en natuurlik die reën. Daar sal uiteraard geen koffie of warm kos wees nie, maar hy eet ‘n stuk brood uit die Engelse rantsoene, met kaas en vleis wat hy uit ‘n blik gekry het. Dit smaak vreemd aan die begin, maar dan, as hy dit gewoond raak, gaan dit beter af. In sy koffiebeker het hy van die kolonel se brandewyn gegooi. Dis sterk en hy hou nie juis van die harde smaak nie, maar vang dan ‘n bietjie reënwater op as hy die beker agter by die seil uithou, waarmee hy die spul ‘n bietjie afwater.
Laataand gaan staan Oubaas se ore so regop as wat die slap flappe dit toelaat en hy knor, terwyl hy na die regterkant van die watent kyk. Hy grom diep uit sy keel, gee ‘n paar gedemte blaffies en krap met sy linkerpoot teen die kant van die seil.
“Wat is dit, my honne?”
Asof Oubaas hom verstaan, knor hy harder en die blaffies word knaend. Jan trek sy velskoene aan, sit sy hoed op sy kop en met die een dubbelloop pistool in sy regterhand, die hane oorgetrek en ‘n lantern in sy linkerhand, klim hy by die wa uit. Hy kan nie dink dat roofdiere in hierdie weer moeilikheid by die osse sal kom maak nie, maar hulle, dis nou hy en die twee touleiers, is nie buite gevaar van die enkele of meer Zulu’s of van rooineksoldate wat dalk gevlug of gedros het nie.
Hy probeer nog vir Oubaas keer, maar die brak draf aI voor hom by die wa uit en hy val die ent van die agtertrap af op die nat grond, met sy ken wat eerste tref. Sodra hy opstaan, skud hy sy kop en sy ore flap heen en weer, soos hy die koue druppels probeer afskud.
Dit reën nou hard, met swaar, deurdringende druppels wat al klaar stoompies begin vorm. Hier en daar het dit klaar begin plasse maak en Jan swets half onder sy baard deur as hy in een trap. Hy is bly vir die pistool wat patrone gebruik wat ‘n eenheid vorm, anders as die ou voorlaaiers met kruit wat nat kan word, of selfs nog erger, die bietjie kruit in die pan van die snaphane, soos sy pa nog gebruik het by Bloedrivier.
Oubaas se ore gaan staan weer halfpad orent, as hy die geluid weer hoor. Jan hoor niks met die reën en die gedonder van die weer nie.
Dan gaan staan Oubaas stil, knor en blaf in ‘n rigting, skuins van hulle af, in die koers van die Engelse laer, nou reeds baie myle van hulle af. Jan hou die lantern hoër, maar kan niks sien in die siedende reën nie, wat nou lyk asof dit in emmers afkom. Vies vee hy water uit sy oë en op daardie oomblik gaan die lantern dood, as daar reën bo inloop. Jan ervaar skielik dat meer as net koue water by sy rug afloop, soos net iemand wat weet daar is gevaar wat dreig, maar dit nie kan eien nie.
“Wie is daar? Meneer, ek weet jy is daar en ek het ‘n pistool by my. Kom uit met jou hande in die lug!”
Hy herhaal die opdrag in Engels en die bietjie Zulu wat hy ken, maar daar is geen antwoord nie.
Niks. Net reën en donder. Tog staan Oubaas steeds stil en knor, al kan Jan hom teen die geraas in nie meer hoor nie. Jan hou die pistool nou met ‘n reguit regterarm en half bewende hand voor hom uit. Sê nou net daar is meer as een en hulle storm uit die donker op hom af? Wat nou as sy eerste skoot mis is? Hy wens hy het sy baadjie aangetrek, wat nog van die patrone in die sak het, of dat hy die Webley rewolwer gevat het, wat ses koeëls vat.
Die weerlig blits weer en in die lig daarvan sien hy iets voor hom, minder as vyf tree van hom af. Onwillekeurig rig hy die wapen op die voorwerp, wat dit ookal mag wees, mens of dier. Die weerlig verlig weer die omgewing en hy kan tot sy skok sien dat die iets op die grond lê en daar is duidelik iets blou in die bondel. Hy huiwer vir ‘n oomblik langer en lig dan die pistool se lope op.
“Wie’s daar!?”
‘n Bleek, amper wit arm lig op uit die blou. Daar is baie kleure in die natuur, verskillende skakerings van groen, bruin en selfs veldblomme hier en daar, maar hierdie is anders. Hy gooi alle versigtigheid oorboord en loop vinnig nader.
Wanneer hy by die vrou kom, steek hy die pistool in sy gordel, vat haar hand en wil haar ophelp, maar sy is te swak. Hy buk vooroor, tel haar op uit die modder, en as die weerlig weer die omgewing verlig, sien hy dis die vrou waarvan hy die gesig net vlugtig gesien het buite ou Ephraim Epstein se winkel. Haar oë is toe en vir ‘n oomblik dink hy sy is dood, maar as hy sy gesig naby hare bring, flikker haar oë vir ‘n oomblik oop, voordat sy dit weer toemaak.
Selfs in die donker kan hy sien dis helderblou, amper die kleur van haar rok.
Die vrou is skraal en sy is baie lig om te dra. Jan, ten spyte daarvan dat hy kleinerig gebou is, is besonder sterk, soos menige mens al uitgevind het, ook ou Epstein. Hy dra haar gemaklik die veertig of so tree terug na die wa toe. Sonder veel moeite lig hy haar oor die agterklap van die wa en sit haar versigtig op die klapperhaar matras neer wat op die ammunisiekiste lê. Hy trek sy deurweekte skoene uit en sit dit saam met sy hoed voor op die wakis, waarvandaan hy ook in die wa klim. Skielik besef hy sy penarie: wat maak hy nou? Daar is niks in sy verlede wat hom hiervoor voorberei het nie. Ja, wat nou?
Hy besef ook dat hy die lantern neergesit het toe hy die meisie opgetel het en die ander een is in die ander wa. Hy soek by die blaker langs die wakis vir die kerse, sit een in die blaker en steek dit aan. Hy dra sorg dat dit veilig op die kis staan sodat dit nie dalk die tent aan die brand steek nie, en draai dan na waar die vrou aan die vérkant van die wa lê.
Die skielike onweer het ‘n koue wind aangebring, wat die temperatuur erg laat daal het. Jan skuifel na waar die vrou lê, vat aan haar gesig en is geskok oor hoe koud dit is. In die liggie van die kers is dit wit, soos ‘n laken. Hy weet nie wat om te doen nie. Dis onmoontlik om vuur te maak, selfs al sou hy dit veilig kon doen, die hout is uiteraard deurweek. Hy kan nie vir Sie en Sa roep om te kom help nie, sy is immers ‘n wit vrou. Hy trek sy nat hemp uit en gooi dit sommer vorentoe, tel haar op en druk haar teen sy lyf vas, sodat sy ‘n bietjie van sy ligaamshitte kan kry.
“Ag Here, wat moet ek doen?!” roep hy desperaat uit.
Hy vat die brandewynbottel en wil eers ‘n doppievol in haar mond gooi, maar hy is bang sy verstik. Hy steek sy voorvinger in die beker en vee die bietjie oor haar lippe. Niks. Hy hou sy oor by haar mond en is verlig dat sy nog asemhaal, al is dit vlak en effentjies.
Jan kom skielik tot ‘n besluit. Hy trek haar nat klere uit, terwyl hy probeer om weg te kyk. Dis nie maklik nie. Die nat rok kleef aan haar soos ‘n tweede vel, maar uiteindelik as hy die knope los het, kan hy dit uittrek, wat hy dan ook na die voorkant van die wa gooi. Hy raak nie aan haar onderrok nie, dis darem te verkeerd.
Met ‘n handoek vryf hy haar lang, donkerbruin hare so droog as moontlik. Hy trek die sagte velkaros en sy twee donskomberse oor haar, maar sy word nie warm nie. Dan skuif hy saam met haar af en gaan lê styf teen haar onder die komberse.
“Ag my Here Jesus, moenie dat sy sterf nie en vergeef my dat ek so langs haar lê!”
Hy blaas die kers uit en hou haar vas, sodat sy liggaamshitte hare kan word. Die weerlig slaan aanmekaar, die dreunings volg vinnig op mekaar en die reën druis teen die tentseil.
Wanneer die blitse deur die seil haar gesig vir ’n oomblik verlig, is sy wasbleek, maar haar rooi mond, fyn neusie, wenkbroue en wimpers aksentueer die hartvormige gesiggie. Haar hare golf van die klamheid en as ’n haarlok oor haar gesig val, vat hy dit met sy voorwinger weg. Sy is absoluut beeldskoon.