Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kundigheid vloei soos ‘n sterk stroom deur ‘n eerbare volksleier se lewe sonder dat hy daarmee te koop loop. Hy dra dit soos ‘n sakhorlosie uit die oog en haal dit net uit as iemand daarna vra.
BROKKIES UIT DIE BOEK KLEINSKEER (35)
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
The gap between rich black South Africans and poor black South Africans is the largest inequality gap in the world. After 20 years of spending huge amounts of taxpayers’ money on failures like BEE implementation, inequality in SA today is worse than it was in 2000.
*
Majoor Gert Jordaan het gedoen wat hy kon. Nie net het hy sy loopbaan vaarwel toegeroep gedurende die afgelope uur nie, maar ook sy lewe in gevaar gestel. Niemand kan meer as dit van hom verwag nie, ook nie die mense wat hy inderwaarheid nie van Adam se kant af ken nie. Met die spesmagte wat nou vinnig nader beweeg, het hy geen ander keuse nie as om te vertrek. Ten spyte van Kleinskeer se paniekerige uitroepe dat hy vir Arno en Maya moet wag, kan hy nie anders nie.
Maya ervaar ‘n vlugvoetigheid wat sy nog nooit geken het nie. Sy vlieg amper letterlik van die een skuiling en skans na die volgende, skiet, herlaai, beweeg. Beweeg, beweeg en nogmaals beweeg. Alles rondom haar is duideliker en sy ervaar elke sintuig in oortreffende trap. Sy raak intens bewus van die geur van die laventelbosse, die sekelbos, die jakkalsmis. Elke detail en kenmerk van die omgewing brand in haar bewuste en onbewuste in. Elke geluid, die veraf klap-klap van die helikopter se rotorlemme, knalle van die manne se gewere, wat nou so duidelik is, dis amper oorverdowend, die absolute afwesigheid van voëlsang en ander natuurgeluide met die inmeng van die mense. Sy ervaar amper instinktief wanneer sy een van die vyand in haar omgewing het, en skiet sodra sy ‘n effense teiken het.
Sy besef instinktief dat die helikopter nie onbepaald kan wag nie en sien ook hoe die oorgrote deel van die oorblywende regeringsmagte al nader daaraan beweeg. Indien sy vir Arno daar laat, sal sy betyds wees. Binne ‘n vlietende oomblik besluit sy om hom te gaan help. Dis inderdaad nie baie ver vanwaar die tuig nou staan nie, met lemme van die rotors wat vinniger en vinniger draai. Die skuinste van die rots se kant is byna niks vir haar nie, en sy is by Arno baie vinniger as wat sy gedink het.
“Los die geweer. Ons kan hom later kom haal.”
Met Arno se arm oor haar skouer, klim sy, nog steeds op die adrenalien-hoog wat nog nie gewyk het nie. Sodra dit afneem, sal sy baie moeg en lyfseer wees, dit weet sy uit ondervinding, maar nou put sy krag en stamina uit ‘n bron wat half ongekend is. Binne ‘n minuut en ‘n half het sy die seer en half-kruppel Arno bo-op die rots. Daar is egter nie ‘n manier waarop die helikopter hier kan land nie, daarvoor is die plek te klein. En as sy oorweeg om na die plek te hardloop waar die tuig nou staan, met vinnig-bewegende rotors, besef sy dat dit nie moontlik is nie. Nie net tydsgewys nie, maar ook is die kloof te diep en regaf en die oppervlak te los.
*
“Oom, daar is tannie Maya en oom Arno!”
“Majoor, asseblief, gaan haal hulle!”
“Ek kan nie. Daar is nie plek om te land nie en ek kan nie eens naby genoeg aan hulle kom om net laag genoeg te kan hang vir hulle om te kan inklim nie.”
“Wat van hoër op in die berg, of daar onder, langs die houthuis?”
Die vlieënier se geduld is op.
“Dis sonder hulle, of dood. Verstaan jy? Kyk daar!”
Hy wys na die regeringsoldate wat besig is om met rasse skrede nader te kom. Binne minute sal hulle die helikopter kan oorompel.
Maya staan regop en wys vir hulle sy kan opkom indien hulle ‘n tou na haar toe laat sak.
“Kan ons dit doen?”
Gert Jordaan sug. “Ja, ons kan probeer. Maar net een maal – dan vlieg ek aan, verstaan jy?”
Die Oryx se rotor maal, stof en blare, fyn takkies en dennenaalde warrel saam met die wind wat dit veroorsaak op, die tuig lig op, die neus sak effens as dit hoogte kry en dan vlieg hulle die paar honderd meter na waar Maya en Arno is.
Sodra die tou sak, laat Maya vir Arno daaraan vashou en sy draai die onderkant daarvan om sy bene. Daar is nie werklik tyd vir opklim nie, of selfs om hom op te hys nie, maar Gert lig die hele tuig ‘n paar meter en vlieg so vinnig hy kan na die suide toe, weg van die gevaar.
Maya staan ‘n oomblik regop, wys met ‘n duim dat alles reg en volgens plan is, en dan gryp sy die .338, die ammunisie en spring van die rots af.
Haar werk is nog nie klaar nie.