Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Soms wonder ons of God nog ag sal slaan op die Afrikanervolk, of het Hy ons finaal verlaat? Weens die ontrou van die volk Israel het God (Ex 33) geweier om verder saam met sy volk te trek. Tog het Hy Hom weer oor hulle ontferm toe Moses in groot berou namens die volk voor God ingetree het en het God weer (Ex 34) sy verbond met hulle hernu. Daarna was sy Teenwoordigheid in die wolk en die vuur sigbaar waarmee Hy die volk gelei het tydens die hele trek. Natuurlik is daar hoop vir die Afrikanervolk vandag, God wag net vir ons om berou te toon oor ons dwalinge en na Hom terug te keer.
BROKKIES UIT DIE BOEK HELDELAND (10)
083 444 7672)
“Ja-nee. Ek het ook genoeg van die skip gehad. Dit lyk vir my dis net een moeilikheid op die ander. Op die land is daar ook probleme, maar daar weet ek darem wat om te doen.”
“Wat gaan met my en Bella gebeur as ons weer op land is, Oom?”
“Julle gaan saam met my. Ek weet nog nie waarheen nie, maar ons gaan vir eers die pad saam loop.”
“Oom weet my pa en ma is dood, nê?”
“Ja, seun. Ek het so gedink. Dit kan nie maklik vir julle wees nie. Hoe lank sorg jy nou alleen vir jou sussie?”
“Voor Oom kom help het? Ek weet nie, ‘n paar maande, miskien langer. My patrone vir my geweer was amper klaar.”
“Watse geweer was dit?”
“‘n Brno punt twee-twee, Oom. Ek het hom gebruik om mee te jag en om my sussie te beskerm. Oom weet, net-nou se man wat sy geskiet het was nie die eerste een nie?”
“Nie? Nou hoe so?”
“Toe ons gevang was, Oom. Toe het sy een van hulle gekwes. Ek weet nie of hy dood is nie. Sy het hom in die bors geskiet.”
Basjan kyk ‘n rukkie voor hom. Die see is baie blou en die windjie net fris genoeg om aangenaam te wees.
“Hy is dood, boetman. Glo my.”
“My hart is seer oor die paar wat ek geskiet het, Oom. Ek hoop nie ek hoef dit ooit weer te doen nie.”
“Ek hoop ook so. Maar partykeer gee mense jou nie ‘n ander uitweg nie.”
Jona verdiep hom in die kaart en die GPS, die meters en die see buitekant die vensters. Basjan sien uit die hoek van sy oog dat die kind ‘n traan afvee, maar wil nie hê Basjan moet dit sien nie.
“Hoe oud is jy nou, Jona?”
“Ek is seker al elf, Oom. En Bella is nou agt.”
Nog ‘n rukkie gaan in stilte verby.
“Watse werk doen Oom?”
Basjan se keel word skielik droog en dit voel of hy verstyf. Hy het nog nie homself voorberei vir hierdie vraag nie.
“Ek is soos Kersvader. Mense stuur vir my ‘n lysie van goedjies wat hulle soek en dan bring ek dit, sonder dat hulle invoerbelasting hoef te betaal.”
“Oom lyk nie soos Kersvader nie,” antwoord Bella.
Basjan kyk oor sy skouer na haar.
“Jy het nog net nie my slee gesien nie, juffrou.”
Die Jeep lyk nogal anders as die slee wat mens van Kersvader verwag.
“En wag tot ek my baard in Desember groei en my rooi pak aantrek.”
“Hoekom het Oom dan al die klomp gewere?”
“Om te keer dat die Grinch nie al die geskenkies steel nie.”
Jona kyk voor hom uit. Hy weet dat Basjan met rede ‘n grap van die vraag maak. Sy pa het ook produkte ingevoer en hy het gehoor dat sy pa van invoerbelasting praat. Hy weet nie presies wat dit is nie, maar weet dat dit iets is wat mens nie kan ontwyk as mens produkte invoer nie; sy pa het altyd gekla daaroor. Wie is hierdie oom regtig? Kan hulle hom vertrou? Kan hy sy sussie met die man vertrou?
Hy kyk na Basjan en vra sag, sodat Bella nie moet hoor nie:
“Is Oom ‘n skurk?”
Basjan kyk vir hom aan en glimlag. Hy krap die outjie se hare deurmekaar en dan antwoord hy ernstig.
“Ek was ‘n soldaat. Nou is ek ‘n smokkelaar.”
“Bella, wil jy nie gaan kyk wat hierdie rykmense in hulle kombuis het nie? Miskien het hulle iewers tjoklits weggesteek.”
Jona ken sy sussie. Hy is nie verbaas dat sy nie haarself teen sy opdrag verset nie. Hy wil nie hê dat sy moet hoor wie en wat hierdie man is nie. Hy maak homself reg daarvoor dat die uiteinde van hierdie gesprek dalk net daarop kan dui dat hy hierdie man moet skiet.
‘n Smokkelaar? Smokkelaars het hulle pas ontvoer. Hoekom het hierdie man hulle uit die bloute kom red? Miskien wil hy hulle eerder gaan verkoop. Sy pa het baie gepraat van smokkelaars, en nooit was dit goed nie. Smokkelaars bring dwelms en gewere die land in en help baie keer die klomp poachers.
“Wat beplan Oom om met ons te doen?”
“Ek wil julle net tot by veiligheid bring.”
“Nou lieg Oom. Oom het ons gered om ons aan iemand anders te verkoop. Ek weet wat ‘n smokkelaar is.”
“En wat is ‘n smokkelaar?”
“Dis soos die mense wat my en my sussie ontvoer het.”
Basjan is uit die veld geslaan. Hy het nie besef dat dit die duidelike en logiese gevolgtrekking is nie. Die seun is reg dat beide hy en die ander klomp tegnies as smokkelaars dien. Maar dit is nie dieselde nie. Daar is mos ‘n grys area. Die dinge waarmee hy smokkel maak niemand seer nie. Maar dit doen.
Hy dink aan die mense wat hy destyds by die grenspos doodgemaak het; die man wie se neusbeen hy kon voel breek tot in die sagtheid van sy brein, met die warm bloed wat van die gebroke sinusse oor sy gesig gespat het. ‘n Kind kan nie hierdie verstaan nie. ‘n Kind sien dinge in swart en wit.
“Ek is nie soos hulle nie. Ek smokkel nie met kinders nie. Ek het nie gekom om julle seer te maak nie.”
“Jy lieg!” Jona verander baie aspris die “oom” na “jy”.
“Jona, ek belowe ek is net hier om te help. Ek smokkel nie met mense nie, veral nie kinders nie. Ek smokkel ook nie met dwelms nie.”
“Waarmee dan?”
“Goed soos karre, ivoor en, so nou en dan, gewere.”
Jona se pa het altyd uitgevaar teen die klomp poachers. En gewere?
“So jy is ‘n poacher en ‘n skurk.”
Daar is ‘n ernstigheid in Jona se stem wat Basjan nie vantevore by hom gehoor het nie. Hy het dit wel vantevore in die weermag gehoor, van homself ook. Die situasie het nooit vir die ander persoon goed uitgedraai nie.
“Nou luister, mannetjie. Jy praat nou van dinge wat jy niks van weet nie.”
“Jy wil my en my sussie ontvoer en verkoop.”
Basjan vat aan Jona se skouer. “Glad nie. Ek…”
Jona slaan na Basjan, maar hy gryp die seun se vuis in sy eie hand vas en kyk hom diep in die oë.
“Jy kan my maar slaan, Ouboet, dit maak nie saak nie. Maar ek sal nooit aan ‘n kind of ‘n vrou leed aandoen nie. Dis teen my alles. En ek sweer, julle is veilig by my.”
Jona loop agteruit tot by die kapteinstoel op die brug. Hy gryp Basjan se MP5 masjiengeweer en rig dit op hom. Basjan staan vir ‘n oomblik stil en dan loop hy stadig vorentoe.
“Staan stil! Ek gaan jou vrekskiet!” gil die seun.
Basjan hou aan loop, nie vinnig nie, maar vasberade, terwyl hy vir Jona in die oë kyk. Jona trek die sneller, maar niks gebeur nie. Hy trek die sluitstuk agtertoe en dit tel ‘n rondte uit die magasyn op. Hy retireer twee treë, rig die wapen op Basjan se bors en trek weer die sneller. Weer niks. Basjan hou sy hand uit na die wapen en Jona oorhandig dit huiwerig aan hom. Dan haal Basjan die veiligheidsknip af en gee dit ding weer vir Jona.
“Daars hy nou. Onthou altyd om die safety af te haal. Jy het dan netnou net met die geweer geskiet.”
Jona vat die wapen, rig dit weer op Basjan en na ‘n bietjie huiwering wys hy die loop buitentoe, by die deur uit. Hy skiet ‘n vinnige sarsie by die deur uit. Dan druk hy die veiligheidsknip weer op en gee dit vir Basjan. Hy begin snik; deels uit vrees, deels uit skok omdat hy vir Basjan wou skiet.
Basjan huiwer ‘n paar oomblikke en loop vorentoe, sit sy arms om die seun en druk sy kop teen sy bors vas. Jona sit homself eers teë, maar dan laat hy gaan en snik teen Basjan se bors.
“Dis als reg, ou seun, als reg.”
Bella het doenig geraak in die gallei, of te wel die kombuis, soos sy dit ken. Sy het kom vra of iemand weet hoe die stoof werk en Basjan het haar gaan wys. Na ‘n ruk is daar die geur van kos en sy kom die brug binne met spek en eier toebroodjies. Die eier is halfgaar en die spek amper verbrand. Maar dis die lekkerste kos wat die drie in hulle lewens gehad het. Sy gaan weer af en kom na tien minute terug met drie bekers koffie.
“Ek hoop Oom hou van baie suiker.”
“Ek doen, Bella, ek doen.”
“Dink Oom die een wat ek geskiet het, gaan hemel toe?”
“Ek weet nie, Bella. Maak dit vir jou baie saak?”
“Ja, Oom. Ek hoop nie hy gaan hemel toe nie, want as ek eendag daar kom, sal hy vir my baie kwaad wees en ek wil nie vir altyd in die hemel wees met so iemand nie.”
“Dan dink ek hy gaan nie daarheen nie.”
“Dan gaan hy hel toe, Oom?”
Basjan is onseker wat hy moet antwoord. Hierdie soort vrae het nie by hom opgekom vandat hy ‘n volwassene is nie. Hy wens hy het meer aandag in die Sondagskool en die kerk gegee en selfs aan die kapelaan in die weermag. Hy was nog nooit self bang oor waar hy die ewigheid sou deurbring nie en die vrae laat hom ongemaklik.
“Wat dink jy, Bella?”
“Ek weet nie wat om te dink nie, maar ek hoop hy en die mense wat my pa en ma doodgemaak het, braai lekker!”
*
“Oom, ons is nie meer ver weg nie.”
Die vaart het na die gevaar van die orkaan en die aanval van die rowers rustig en vredevol verloop. Bella het weer begin lag. Sy en Oubaas is weer onafskeidbaar. Sy maak kos met al die kruideniersware wat te vinde is in die spens. Basjan wonder maar op sy eie oor die eienaar van die boot, ‘n uitgesproke en radikale Moslem, wat so baie ham en spek in die kombuis gelaat het.
Dit kom by hom en Jona op dat daar dalk net ‘n opsporingsmeginsime op die vaartuig moes wees. Iets soos ‘n kar ‘n tracker of iets dergliks sou hê. Uiteindelik aanvaar hulle dat mense wat geld maak uit slawerny nie regtig opspoorbaar sou wou wees nie. Hulle hoop immers so; hulle sou nie weet waar om te begin soek nie.
Die see is glad en kalm. Gaandeweg het die drie, of vier, as Oubaas saamgetel word, die vaart begin geniet. Jona en Basjan is nou ervare matrose. Of te wel, hulle voel so. Daar moet tog net nie weer ‘n storm opkom nie.
Alhoewel Jona al vir Basjan gevra het wat sy planne is as hulle aan wal kom, het hy nog nie geantwoord nie. Hy sit met ‘n innerlike stryd hieroor. As hy kans gesien het vir kindertjies sou hy getrou het en sy eie gehad het. Hy is ‘n alleenmens. Selfs in die weermag, met al die medesoldate rondom hom, die buddy-sisteem en alles, het hy nog altyd net op homself vertrou.
Mense maak seer, hulle gaan weg, is onbetroubaar en selfsugtig. Hy voel nog altyd dat as jy nie op iemand vertrou nie, sal jy nie teleurgestel word nie. Daarom is hy fiks en sterk en hy sorg dat hy gesond bly. En eendag, as hy sou oud word en nie meer vir homself kan sorg nie, is daar altyd die een uitweg… en tog.
Tog moet hy erken dat hy die jong seun se geselskap geniet; hy behandel hom as ‘n gelyke en Jona het hom nog nie teleurgestel nie. En ou Bellatjie! Sy tree op asof sy die vrou van die huis is. Sorg dat daar kos is, maak skoon en was die skottelgoed. Haar skouertjie was lank seer nadat sy die seerower geskiet het. Sy het nie eintlik gekla nie, maar hy kon sien hoe sy hom oppas. ‘n Groot blou kol het oor die skouerknop gesit vir dae, en tog kla sy nie.
Basjan kyk amper objektief en krities na sy eie gevoelens en besef dis nie so eenvoudig as ‘n maand gelede nie. Toe was hy ‘n smokkelaar en selfstandig, alleen en seker waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan. ‘n Man wat nie omgegee het nie. Iemand wie se gewete hier agter in sy menswees gebêre is, op ‘n plek waar hy nie gaan krap nie.
Onder die Jeep se vloer, in ‘n vals bodem is daar amper twee honderd duisend Amerikaanse Dollar. Dan is daar die diamante en die goud. Nou, hoekom gaan hy aan met die smokkel? Deels omdat hy kwaad is vir die ou bestel. Vir die Nasionale Party en die uitverkopery wat hulle gedoen het.
Waarom is daar 766 soldate dood in die Grensoorlog as gevolg van vyandelike optrede, en nog meer as twee duisend gedurende die tyd, al het die vyand hulle nie doodgemaak nie, maar die regering het gemaak asof dit maar niks is nie?
Die ander rede, en dit sal hy nie maklik erken nie, is dat dit vir hom lekker geword het. Hy hou van die gevaar, die risiko’s, die opwinding. Dis die naaste waaraan hy kan kom om met die operasies agter vyandelike magte te kan vergelyk. Nou waarom sal hy dit opgee en ‘n nege tot vyf joppie gaan soek?
Dan kyk hy weer hoe Bella se blonde krulle blink in die son terwyl sy met Oubaas in die beperkte spasie speel. Hy hoor haar klokhelder laggies tussen Oubaas se geblaf. Hy kyk na Jona se ernstige gesig, waar hy besig is om hulle posisie haarfyn uit te werk. Hy besluit om nie te besluit nie. Hy stel uit. Die blote feit dat hy nie die plan in detail uitgewerk het nie, is vir hom vreemd. Die naaste wat hy ooit daaraan gekom het, was die dag toe hy summier gaan bedank het. Maar nou? Hy sal wag tot almal veilig is en alles verby is. Alles wat verby is? Wanneer is dit? Hy weet nie, maar dis nog nie nou nie. Nou moet hulle al vier eers weer veilig terug wees in die goeie ou RSA.
“Oom Basjan, ek dink ons moet nou stadiger en na die strand toe beweeg. Ons is verby daar die stuk land wat uitsteek.”
Basjan trek die enjinkontroles agtertoe, net bokant waar die diesels luier, sodat hy genoeg spoed kan hê om te stuur. Hy hou die dieptemeter dop; die boot het seker nie meer as twee meter nodig nie en die see by die strand word stadig en geleidelik vlakker. Hy weet hy moet ook toegee vir die beweging van die gety en wanneer daar vier meter onder die boeg is, druk hy die kontoles op “stop”. Na ‘n paar sekondes druk hy dit in “reverse”, totdat die boot stilstaan, behalwe vir die effense op-en-af op die lae golwe.
Hy en Jona gooi die ankers uit en dan gaan maak hulle hulle nodigste besittings bymekaar. Daar is nie veel nie, en dit gaan gou.
Nou word hulle gekonfronteer met die te water laat van die klein motorbootjie. Dis moeiliker as wat hulle gedink het, maar uiteindelik is die ding langs die skip en hulle vier klim in. Die buiteboord enjin vat maklik en hulle stuur na ‘n stuk strand langs die rotse, maar ver genoeg weg dat dit nie ‘n gevaar inhou nie.
Uiteindelik is hy ten volle in beheer van die vaartuig: hy het darem daarmee kennis gemaak met sy duikkursus in die weermag. Die water is baie skoon en helder en hulle kan sien of daar rotse onder die oppervlak is. Na ‘n minuut loop die boot uit op die strand. Basjan lig die enjin vorentoe dat die skroef nie dalk op die sand seerkry nie.
‘n Paar manne kom nader gedraf en hulle help om die bootjie hoër op te sleep, bokant die hoogwatermerk. ‘n Ysterpaal, wat sekerlik vir dié doel ingeslaan is, steek ‘n halwe meter uit en hulle maak die boot daaraan vas. Vir ‘n paar sekondes staan die drie besluitloos. Dan kom daar tussen die bosse op die duine ‘n jongerige blonde man uitgestap.