'N EEU VAN ONREG (SLOT)

Lees reeks by 'n Eeu van Onreg

Een Eeuw van OnrechtA Century of Wrong, deur F. W. REITZ bied 'n helder beeld van Engeland se politiek van reeds voor die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika waar hulle die Boer se lewe hel gemaak het. Tans word ons volk weer net so verdruk, vermoor en ondergrawe en is hierdie geskrif weer baie aktueel.  Dié weergawe is deur J.J. Blom in 1939 uit Nederlands in Afrikaans vertaal.

"Afrika vir die Afrikaner!”

Ek het die feite nagegaan van ons honderdjarige verdrukking en vervolging. Die bewerings deur my gemaak, is nie uit die lug gegryp nie, maar is geneem uit die mond van die geloofwaardigste geskiedkundige getuies, byna almal van Britse nasionaliteit; dit is feite wat deur die regbank van die geskiedenis onuitwisbaar verklaar is. Wat betref die latere gebeurtenisse, sedert 1898, besit ek persoonlike kennis van al die onderhandelings en geskille wat hierin uiteengesit is, en ek kan alleen verklaar dat ek my by die feite bepaal het, wat later nog helderder in die lig gestel sal word wanneer die gordyn opsy geskuif en die voorvalle van die laaste twee jaar in hierdie diepbewoë wêrelddeel geopenbaar sal word.

Op hierdie vreeslike keerpunt in die geskiedenis van Suid- Afrika, aan die vooraand van ’n stryd waarin ons volk met algehele uitdelging bedreig word (1899), pas dit ons, met wat miskien ons laaste woord tot die wêreld sal wees, die waarheid te praat, sodat selfs as ons uitgedelg word, die waarheid deur ons sal seëvier oor ons oorwinnaars en as ’n kanker aan sy publieke lewe sal voortvreet totdat ook hy in die mag van die verganklikheid sal wegsink.

Tot hiertoe het ons volk geswyg; die vyand het ons volk bespoeg, beklad, geslaan, en met alle moontlike minagting en haatlikheid bejeën. Maar ons volk het met ’n waardigheid wat die wêreld herinner aan ’n nog smartvoller en grootser lydensgeskiedenis, in stilswye die hoon en die veragting van die teenparty verdra, en het onder die pligsbesef wat hom besiel, dit beter geag om die foute en misbruike uit die weg te ruim wat in oomblikke van mindere waaksaamheid in sy staatsbestuur ingesluip het. Selfs dit is hom as swakheid en bangheid toegereken. Op honderde platforms van Groot-Brittanje en van die mees gesaghebbende staatsliede is ons volk in die laaste tyd uitgemaak as onbevoeg, onbeskaaf, eerloos, troueloos, korrup, bloeddorstig, verraderlik, ens. ens., totdat nie alleen die Britse publiek nie, maar ook die hele wêreld begin glo het dat ons byna met wilde diere gelyk staan. Op hierdie hoon en uittarting het ons geswyg. Uit formele blouboeke van Haar Majesteit se Regering, uit depechès van Haar Majesteit se Hoë Kommissaris in Suid-Afrika het ons moet verneem dat ons karakterlose staatsbestuur en ons onregverdige, gewetenlose en wanordelike administrasie ’n steeds swerende buil is, waardeur as deur ’n peswalm die sedelike en politieke atmosfeer van Suid-Afrika vervuil word. En ons het daarop geswyg. In tallose nuusblaaie is ons beskuldig van alle misdade teen die beskawing en die mensheid, is ons misdade ten laste gelê wat die hare te berge laat rys wanneer dit verhaal word. Indien die lesende publiek slegs die honderdste deel van die enormiteite waarmee ons volk en sy Regering belas word, sou glo, dan moet hulle noodwendig tot die gevolgtrekking kom dat hierdie Republiek ’n rowersnes en moordenaarskuil is, ’n volk waarvan die eenvoudige bestaan ’n smet op die menslikheid en ’n oorlas op die mensdom is. Van die enorme somme wat na bewering deur ons uitgegee word uit die geheime fondse om ons die ondersteuning van die openbare mening van die wêreld te koop, is daar byna geen praktiese uitwerking of bewys gesien nie; maar die laster het tog as ’n oorweldigende orkaan voortgewoed. Maar ons volk het geswyg, deels uit domheid, deels uit ’n gevoel van hopelose hulpeloosheid, deels omdat hy as ’n eenvoudige landbouvolk geen nuusblaaie lees nie en dus nie bekend was met die wyse waarop die gevoel van die hele wêreld met boosaardige woede teen ons opgesweep is nie. Die praktiese uitwerking was dat ons saak by verstek voor die regbank van die openbare mening verlore gegaan het. Daarom is dit dat ek my tans gedwonge gevoel het om die feite wat die Britse verhouding teenoor ons volk gedurende die negentiende eeu gekenmerk het, uiteen te sit. Nabot se reg op sy wingerd moes vernietig word, en volgens die huigelagtige Britse diplomasie was die kortste weg tot daardie einddoel om te bewys dat hy ’n skurk is en Agab ’n engel. Ek het die feite van Agab se loopbaan nagegaan, en gaan nou voort met die gevolgtrekkings waartoe ek geraak het — gevolgtrekkings wat hulle onweerstaanbaar aan elke onpartydige en regverdige gemoed moet opdring.

In die loop van hierdie eeu is daar drie tydperke wat die verhouding van die Britse Regering teenoor ons volk kenmerk. Die eerste tydperk het in 1808 begin en voortgeduur tot in die tweede helfte van hierdie eeu. Gedurende hierdie tydperk is die Britse politiek teenoor ons volk gekenmerk deur ’n eenvoudige veragting. "The stupid and dirty Dutch” was die eenvoudige gedagte wat toe in die Britse gemoed teenoor ons volk geheers het. Maar die huigelagtige aard van die Britse politiek het geweet om die minagting uit te druk in ooreenstemming met die verhewendste idees wat toe in die beskaafde wêreld geheers het. ’n Sentimentele filantropie het toe oor die beskaafde wêreld geheers en is deur die Britse Regering diensbaar gemaak deur die Boere aan die wêreld voor te stel as die onderdrukkers van die arme vredeliewende, godsdiens- en beskawingsvatbare naturelle, wat tog ook "manne en broers" was. As dit onverklaarbaar mag voorkom waarom die moondheid wat onder die Traktaat van Utrecht as die onbeskaamde kampvegter van die negerslawerny opgetree het, hom in Suid-Afrika gekenskets het deur ’n mislike liefde vir die naturel, dan is die uitleg dat dit in die laaste geval nie soseer liefde vir die naturel as wel haat en minagting vir die Boer was wat sy politiek onderskei het nie. As gevolg van hierdie haat teenoor die Boer, versteek onder die dekmantel van liefde vir die naturel, is die naturelle as polisie teen ons gebruik, is hulle van vuurwapens en ammunisie teen ons voorsien; aangehits om ons te beveg en ons, waar moontlik, uit te moor of te beroof. As gevolg van daardie haat was ons volk verplig om die Kaapkolonie met al wat hom lief en dierbaar was, vaarwel te sê en ’n skuilplek in die onbekende woestyne van die noorde te gaan soek; en as gevolg van die haat moes ons volk sy martelaarskruistog oor Suid-Afrika voortsit, totdat elke deel van Suid-Afrika rooi geverf sou wees met die bloed, nie soseer van weerbare manne nie, maar van vermoorde vroue en kinders.

Die tweede tydperk het voortgeduur tot 1881. Gedurende hierdie tydperk was die grondslag van die Britse politiek teenoor ons nie soseer blote haat teenoor die Afrikaner nie; die uitkoms het reeds bewys dat die haat magteloos was om die Afrikaner onder die knie te hou; inteendeel het dit daar oneindig veel toe bygedra dat die Afrikaner hom as die heersende volk oor die hele Suid-Afrika versprei het. In ’n oomblik van moedeloosheid en onnadenkende belangeloosheid het Engeland met die Boere traktate (1852, 1854) gesluit waaronder hulle in ongestoorde besit van sekere woeste en skynbaar nuttelose dele van die land gestel was. Die grondslag van die politiek van die tweede tydperk was ’n gevoel van berou oor hierdie misstap en ’n vasberade besluit om die gevolge daarvan uit die weg te ruim. Die woeste en nuttelose dele wat aan die Boere toegeken was, het uiters kosbaar geblyk nadat die Boere dit vir die beskawing gered en oopgestel het; hierdie dele moes toe weer as pêrels in Haar Majesteit se kroon pryk, nieteenstaande die traktate wat met die Boere aangegaan was nie. Dit was die bedekte doel; wat die middele betref, het die ingebore huigelary meegebring dat dit gedeeltelik bedek en gedeeltelik openlik was en dat die een soort middele hemelsbreed van die ander verskil het. Die bedekte middel was om, in stryd met die plegtige traktate en beloftes, die Swartstamme op ongehoorde wyse teen ons te bewapen en hulle aan te hits om ons aan te val. As dit sou slaag, dan kon Engeland tog sy ware doel en middele verberg en openlik voor die dag kom ter bewaring van vrede en orde, en ter handhawing van die beskawing in hierdie wêrelddeel, en dan kon onder die aanvoering van sodanige drogredes die Republieke geannekseer word. Wat die Oranje-Vrystaat betref, het hierdie politiek misluk, daar, in weerwil van die wederregtelike stopsetting van hul vuurwapens en ammunisie deur die Britse Regering, die dapper burgers van die aangrensende Republiek na veel moeite daaringeslaag het om Moshes te verslaan. Engeland was verplig om horn in hierdie geval te beperk tot die beskerming van sy Basoeto-handlangers en die voorkoming van alle voordele wat die burgers uit hul oorwinning sou kon getrek het, en tot die openlik wederregtelike anneksasie van die diamantvelde.

Wat die Suid-Afrikaanse Republiek betref, was die burgers hiervan ongelukkig nie versigtig genoeg om teen die nuwe politiek van die vyand te waak nie. Die Transvaalse burgers het die magtigste Swartstamme verslaan en het dus nie daarvan gedroom dat die klein Swartoorloggies waarin hulle deur Engelse  aanhitsing van die Swartes gewikkel was, as dit nie dadelik met, alle kragsinspanning beëindig was nie, as voorwendsel sou gebruik word om hul land vir die Britse Ryk te annekseer nie. So het die Magato-oorlog en die Sekoekoeni-oorlog voortgesleep tot eindelose bevrediging van sir Theo Shepstone en sy lasgewers. En so het die anneksasie gekom met "die uitbreiding oor die Suid-Afrikaanse Republiek van Haar Majesteit se gesag on beskerming, deur watter middel alleen eenheid van doel en handelwyse verseker kon word en ’n skoon vooruitslg van vrede en voorspoed vir die toekoms kon bewerkstellig word.” In hierdie  woorde van Shepstone se anneksasie-proklamasie sien ons in al sy afskuwelike naaktheid die huigelary, wat in die geheim die Boere-Republiek ’n dodelike dolksteek toebring en hom dan In die openbaar voordoen as die belangelose en barmhartige Samaritaan!

Die derde tydperk van ons geskiedenis word gekenmerk deur die samesmelting van die ou en welbekende politiek van bedrog met die nuwe kragte van die kapitalisme wat deur die minerale  rykdomme van die Suid-Afrikaanse Republiek in die lewe geroep is. Sowel ons volks- as ons staatsbestaan word bedreig deur ’n ongeëwenaarde komplikasie van magte en kragte. Teen ons is geskaar die getalsterkte, die openbare na bloed- en wraakdorstende mening van die Britse Ryk, die kapitaal van die wêreld en al die kragte wat alleen die roofsug en plundergees byeen kan versamel. Gedurende die laaste jare het ons lot steeds hagliker geword. Die kordon van roofdiere en roofvoëls is in die afgelope tien jaar steeds nouer en nouer om ons arme gedoemde volkie getrek. Soos die gewonde bok die nadering van die leeu, die jakkals en die aasvoël ontwaar, so sien ons volk hom oor die hele Suid-Afrika omsingel deur die lis, die wraaksug, die haat en die begeerlikheid van sy vyande. Elke see van die wêreld geklief deur die skepe wat uit alle hoeke van die aardbodem Britse troepe aanbring om hierdie volkie wat maar ’n handjievol tel, te verpletter. Selfs Xerxes wat met sy miljoene teen die klein Griekeland opgetrek het, lewer vir die verwonderde mensheid geen vreemder toneel nie as hierdie sagsinnige moeder van die volke wanneer sy in al haar krag, al haar rykdom en al haar verhewe tradisies met geslypte mes toeloop op hierdie kindjie wat in die stof kruip. Dit is geen oorlog nie maar ’n poging tot kindermoord.

En wanneer die gedagte van die toeskouer in verbystering wegsink, en sy brein weier om verder te dink, dan rys voor hom as in ’n droom in die verskiet die toneel van Bantoe-kinders wat speel in die tuine en op die bouvalle van die sonnige suide rondom duisende grafte waarin die kinders van die geloofs- en die vryheidshelde van die ou Europa slaap. En die roof- en moordbendes van die Bantoe swerf weer rond waar vroeër die woning van die blanke Europeaan gestaan het. En wanneer hy vra waarom dit alles geskied het; waarom die heldekinders van ’n helde-ras waaraan die beskawing sy onwaardeerbaarste skatte te danke het, in hierdie verre wêrelddeel vermoor is, dan antwoord ’n onsigbare spotgees: "Die beskawing is ’n mislukking, die Kaukasier is uitgespeel.” En dan ontwaak hy met die getuit van die woord: Goud! Goud! Goud! in sy ore.

Die orgideë van Birmingham is geel.

Die tradisies van die grootste ryk in die wereld het verwelk en geel geword.

Die louere wat Brittanje se legioene in Suid-Afrika soek, is geel.

Maar die hemel wat sy banier oor Suid-Afrika span, bly steeds blou.

Die Geregtigheid waarop Piet Retief hom beroep het toe ons vaders die Kaapkolonie vaarwel gese het, en waarop Joachim Prinsloo hom in die Volksraad van Natal beroep het toe Natal deur Engeland geannekseer is, die Geregtigheid waaraan die burgers van Transvaal hul saak op Paardekraal in 1880 toevertrou het, bly onveranderlik en soos ’n rots waarteen die golwe van die Britse diplomasie uiteenspat.

Volgens die ewige wette werk hy voort, onaangeroerd deur menslike hoogmoed en wispelturigheid. Soos die ou Griekse digter reeds gesê het, laat hy die tiran in sy aanmatigende verwaandheid steeds hoër en hoër klim en steeds groter eer en mag behaal, totdat hy die hom toegemete toppunt bereik en dan in die onpeilbare afgrond neerstort.

Afrikaners, ek vra u: Maak soos Leonidas en sy 300 man wat Xerxes en sy trawante op Thermopylae onversaagd tegemoet getree het, en steur u nie aan manne soos Milner, Rhodes, Chamberlain en selfs nie aan die Britse Ryk nie, maar klem u vas aan die God van ons vadere en aan die Geregtigheid wat soms langsaam handel maar nooit sluimer of vergeet nie. Ons vadere het nie verbleek vir die Spaanse inkwisisie nie maar die groot stryd vir Vryheid en Reg selfs met die magtige Filips aanvaar, onverskillig vir alle gevolge. Selfs die pynbank en die moordbendes van Lodewyk XIV was nie by magte om die gees van ons vadere te tem of te breek nie; Alva nog Richelieu het daarin geslaag om die tirannie oor die gevoel van vryheid en onafhanklikheid van ons vadere te laat seëvier nie, en net so min sal dit ’n Chamberlain geluk om die heerssug van die kapitalisme oor ons te laat triomfeer.

As dit beskik is dat ons, hoe nietig ook, die eerste van alle volke moet wees wat die stryd met die nuwe wêreldtiran van die kapitalisme moet begin, dan is ons daartoe bereid, al word die tiran ook deur al die mag van die Jingoïsme gesteun.

Mag die hoop wat in 1880 in ons gebrand en waarmee ons onsself toe tot die stryd aangegord het, ook tans onuitblusbaar in ons harte wees en ons ’n baken van lig wees op die pad wat gaan deur bloed en trane en wat na ’n waarlik Verenigde Suid- Afrika lei, en net soos in 1880 lê ons ook tans met vertroue ons saak oop voor die hele wêreld. Of ons oorwin en of ons sterf: die Vryheid sal in Suid-Afrika rys soos die son uit die môrewolke, soos die Vryheid gerys het in die Verenigde State van Noord- Amerika. Dan sal dit wees van Sambesie tot aan Simonsbaai:

"Afrika vir die Afrikaner!”