SCOTT NA DIE SUIDPOOL (19)

Scott se Ekspedisie na  die  Suidpool 1910 – 1913

Lees reeks by Scott na die Suidpool

Gedurende Februarie het die geselskap feitlik net teëspoed en teëslae ondervind. Wilson het ’n beensening verrek. As gevolg van bevriesing het Evans se vingers daar sleg uitgesien en op die eerste van die maand het Scott geval en lelike kneusplekke opgedoen. Die temperatuur was laag, en dit het die oppervlakte bederf. Op 4 Februarie was hulle tussen ysskeure. Sowel Scott as Evans het in die skeure geval. Maar ten spyte van al hul moeilikhede het hulle redelik vinnig oor die ysbedekte plato en teen die Beardmore af gevorder. Die val op 4 Februarie het Evans taamlik kreupel gelaat en hy het aan bevriesings in sy gesig gely. Sy toestand het sy maats deurentyd baie bekommernis veroorsaak.

Die reis oor die kruin het op 7 Februarie ten einde geloop. Op die 8ste is waardevolle geografiese monsters versamel en saamgebring, en toe het die daling teen die groot gletser af begin. Aanvanklik was die temperatuur op die Beardmore betreklik hoog, en dit lyk asof Scott gedink het dat dit nadelig is, want hy sê dit het die geselskap tam laat voel. Halfpad teen die Beardmore af is Evans ’n geleentheid gegee om te rus. Oates het hom versorg, terwyl die ander stilgehou het om ’n geologiese opname by die Wolkemaker-opslagplek te doen.

Maar as gevolg van ’n val op die 4de waartydens hy sy kop gestamp het, het die arme Evans ernstige harsingskudding opgedoen, en terwille van hom is die geselskap sodanig vertraag dat die surplus voedselvoorrade vinnig verminder het en die toekoms het daar duister begin uitsien. Hulle het weer met ongunstige weer te kampe gehad en op 12 Februarie naby die voet van die gletser, is seeman Evans oorlede. Wilson was van mening dat Evans sy brein tydens die val moes beseer het. Omdat hy vanweë sy enorme krag en slee-ervaring bekend was, was ons almal grootliks verras om te verneem dat Evans so vroeg ingegee het. Hy was ook ’n bedrewe poolreisiger, aangesien hy ’n paar wonderlike reise onder Scott tydens die Discovery-ekspedisie afgelê het.

Nadat hulle die opslagplek by die laer gletser op die 17de bereik het, het die bedroefde groepie moedig noordwaarts aangedruk, selfs al moes hulle toe al uit hul steeds korter dagskofte afgelei het dat hulle kanse om hul winterkwartier te bereik, maar skraal was. Die langste skof wat hulle op die Ysbank afgelê het, was maar 12 myl, en later kan hulle slegs 4 myl per dag aflê. Soos reeds vermeld, was die opslagplekke sowat 65 myl van mekaar verwyder, maar namate hulle verder gevorder het, het die temperatuur gedaal, en nie gestyg soos hulle verwag het nie. Een nag het hulle bv. ’n temperatuur van —46.2 aangeteken. Die oppervlakte het daar vreeslik uitgesien — "dit was asof ’n mens deur woestynsand trek; geen gly hoegenaamd nie.”

Die arme Oates se hande en voete was erg bevrore. Hy het gedurig by Wilson om raad aangeklop. Wat moet hy doen? Wat kan hy doen? Arme, dapper soldaat. Ons het so ’n hoe dunk van hom gehad. Wilson kon maar net vir hom sê: "Druk maar aan, druk maar aan.” Op 17 Maart — dit was Oates se verjaardag — het hy die kamp verlaat, sy dood tegemoet. So wou hy sy drie maats probeer red. Hieroor skrywe Scott: "Dit was die daad van ’n dapper man, ’n held. Ons hoop dat ook ons die einde so moedig tegemoet sal kan gaan, en vir ons is die einde bepaald nie meer ver nie.”

Scott, Wilson en Bowers het tot 21 Maart aangesukkel. Hulle het slegs 20 myl in omtrent vier dae afgelê en toe was hulle verplig om 11 myl suid van Een-ton-opslagplek te kampeer. As gevolg van ’n sneeustorm wat so erg was dat hulle nie kon reis nie, moes hulle in die kamp bly. Op 25 Maart het kaptein Scott sy grootse boodskap aan die publiek neergeskrywe:

Boodskap aan die Publiek

Die ramp is nie aan foutiewe organisasie te wyte nie, maar aan die teëspoed wat ons tydens al die risiko’s wat ons moes onderneem, getref het.

1.         — Die verlies van die ponie-vervoer in Maart 1911 het my verplig om vroeër te vertrek as wat ek oorspronklik van plan was, en het ook as gevolg gehad dat minder goed kon saamgeneem word.

2.         — Die weer wat dwarsdeur die reis geheers het, en veral die langdurige storm op 83° S., het ons tot stilstand gebring.

3.         — Die sagte sneeu in die laer dele van die gletser het die snelheid weer laat afneem.

Ons het hierdie teëspoed met die wil wat oorwin, bekamp maar dit het ons kosvoorraad laat krimp.

Elke besonderheid van ons kosvoorraad, ons klere en die opslagplekke wat op die ysplaat op die binneland en oor die lang strook van 700 myl na die Pool aangelê is, het volmaak gewerk. Die voorste geselskap sou in uitmuntende toestand en met surplus voedsel na die gletser teruggekeer het, was dit nie vir die verbasende instorting van die man van wie ons dit die minste verwag het nie. Ons het gedink dat seeman Evans die sterkste man in ons geselskap was.

In mooiweer is die Beardmore-gletser nie moeilik nie, maar op ons terugreis het ons geen enkele ware mooi weersdag belewe nie. Tesame met ’n siek kameraad het dit ons bekommernisse geweldig laat toeneem.

Soos ek elders reeds gemeld het, het ons in vreeslike rowwe ys beland, en Evans het toe harsingskudding opgedoen. Hy het ’n natuurlike dood gesterf, maar sy dood het ons vreeslik ontstel en die seisoen het toe reeds ver gevorder.

Maar al die bogenoemde feite weeg nog nie op teen die verrassing wat ons op die Ysbank ingewag het nie. Ek hou vol dat ons reëlings vir die terugreis heeltemal doeltreffend was, en dat niemand op die temperature en oppervlaktes wat ons hierdie tyd van die jaar teëgekom het, bedag sou gewees het nie. Op die kruin op breedte-graad 85, 86 het ons —20° —30° ervaar. Op die Ysbank op breedtegraad 82, 10,000 voet laer, het ons —30° in die dag gehad, en snags taamlik gereeld —470, met die wind tydens ons reisskofte gedurig van voor. Dit moet duidelik wees dat hierdie toestande baie vinnig ingetree het en ons mislukking is bepaald te wyte aan die skielike koms van die slegte weer, iets waarvoor ons geen bevredigende verklaring kan vind nie. Ek glo nie mense het al ooit so ’n maand belewe soos die wat ons so pas agter die rug het nie, en, ten spyte van die weer sou ons tog deurgedruk het, was dit nie dat ’n tweede kameraad, kaptein Oates, siek geword het nie, en was dit verder nie vir ’n gebrek aan brandstof in ons opslagplekke, iets wat ek nie kan verklaar nie, en was dit verder nie vir die storm wat ons 11 myl van die opslagplek waar ons gemeen het dat ons ons laaste voorrade sou kry, oorval het nie. Met brandstof vir een laaste maaltyd en kos vir twee dae het ons tot 11 myl van Een-ton-opslagplek gevorder. Terwyl die storm om ons tier, kon ons die tent vier dae lank nie verlaat nie. Ons is swak. Dit is moeilik om te skrywe, maar om my eie onthalwe voel ek nie spyt oor hierdie reis nie, ’n reis wat getoon het dat ons moeilikhede kan uitstaan, mekaar kan help, en die dood met dieselfde moed as die waartoe ons voorvaders in staat was, tegemoet kan gaan. Ons het gevare geloop. Ons wis daarvan. Dinge het teen ons gedraai, en ons het gevolglik geen rede om te kla nie. Ons moet in die wil van God berus, terwyl ons vasberade is om ons bes tot die einde te doen. Maar, daar ons bereid was om ons lewens vir hierdie onderneming op te offer, ’n onderneming wat ons land tot eer strek, doen ek nou ’n beroep op ons landgenote om toe te sien dat ons afhanklikes goed versorg word.

Indien ons die lewe behou het, sou ek ’n verhaal van die mannemoed, die uithouvermoe en volharding van my kamerade kon vertel het, ’n verhaal wat almal met trots sou vervul het. Nou moet hierdie ruwe aantekeninge, en ons dooie liggame, die verhaal vertel, maar voorwaar, voorwaar, ’n groot, ryk land soos die van ons sal tog sekerlik toesien dat diegene wat van ons afhanklik is, goed versorg word.

(Geteken) R. SCOTT.

Hierdie hoofstuk sou nie volledig wees sonder Wilson se mooi gedig wat in die South Polar Times verskyn het nie:

THE BARRIER SILENCE

The silence was deep with a breath like sleep
As our sledge runner slid on the snow,
And the fateful fall of our fur-clad feet
Struck mute like a silent blow.

On a questioning ‘hush’, as the settling crust
Shrank shivering over the floe;
And the sledge in its track sent a whisper back
Which was lost in a white-fog bow.

And this was the thought that the Silence wrought
As it scorched and froze us through,
Though secrets hidden are all forbidden
Till God means man to know.

We might be the men God meant should know
The heart of the Barrier snow,
In the heat of the sun, and the glow
And the glare from the glistening floe,
As it scorched and froze us through and through
With the bite of the drifting snow.

Vervolg... Die Tweede Winter — Die Poolgeselskap word gevind