WAAGHALSIGE AVONTURE (3)

Lees reeks by Kordaatstukke uit die 2eVryheidsoorlog

PIET POTLOOD EN GENERAAL DE WET

Hierdie pragtige verhaal kom uit die boek Piet Potlood, deur Oswald Pirow

Oswald Pirow, die skrywer van die boek “Piet Potlood", het voor die tweede Vryheidsoorlog as tiener op Potchefstroom gewoon, so ook Piet Potlood wie se regte naam Piet Beukes was.

Oswald Pirow skryf: "Ek onthou hom van voor die Engelse Oorlog: 'n Jammerlike voelverskrikker van 'n kêreltjie, so krom en maer soos 'n windhond op 'n koue wintersdag. Hy was vyf of ses jaar ouer as ek. Met die uitbreek van die oorlog in Oktober 1899 was hy omtrent 15 jaar, maar sy armpies en bene was nie dikker as myne nie. Al die kinders het met hom die spot gedryf, want as jy hom vra of hy wil baklei, hardloop hy altyd weg. Selfs seuntjies van sewe en agt jaar oud het hom met die verbygaan ongestraf 'n skop gegee. Sy vernaamste kenmerke van daardie tyd was 'n ferweelbroek wat met bokvel gelap was, oë wat altyd rooi was en 'n neus wat altyd gedrup het. Trouens, ons het geglo dat hy aan permanente verkoue gely het. Later het dit geblyk dat sy gesnuif maar net 'n aanwendsel weens senuweeagtigheid was. Skoene of hoed het hy nooit gehad nie, en 'n stukkende voetbaltrui het tegelyk as hemp en baadjie gedien. Niemand van ons het geweet wie sy ouers was, en selfs nie of Piet Beukes sy werklike naam was nie.”

Maar Piet Potlood was nie 'n man wat op sy baadjie getakseer moes word nie.

Toe die Engelse Potchefstroom inneem, het hulle al die Boere se gewere waarop hulle hul hande kon lê, voor die landdroskantoor verbrand. Piet Potlood het na die verbrande gewere, waarvan net die slot en die lope oor was, gesluip en dit stuk-stuk weggedra.

Toe die Boere Potchefstroom weer inneem, toe ontstaan die vraag, waar is die verbrande gewere want dit moet herstel word. Terwyl die gesprek aan die gang was, sê ene Lubbe skielik: "Piet Potlood moet weet. Hy het dag na dag by daardie geweerlope rondgestaan." Piet word gehaal en daarvan beskuldig dat hy die geweerlope gesteel het. Hy gee sy lyf so 'n ruk en sê: "Ja, ek het hulle vir die Boere gebere." Almal lag. Die gedagte aan Piet Potlood as volksheld was vir ons te komieklik.

Die gewere is toe herstel deur 'n sekere Labuschagne, wat ook 'n wamaker was. Toe genl. De Wet kort daarna besoek op Potchefstroom aflê, is die herstelde gewere aan hom en sy kommando oorhandig. Genl. De Wet het 'n kort maar kragtige toesprakie tot die mense gerig en toe uitgeroep: "Piet Beukes."

Pirow skryf: "Van agter af het hulle Piet Potlood deurgedruk tot voor die generaal. "Piet, ek hoor dis jy wat vir ons die gewere gebêre het. Dit was 'n knap ding om te doen. Potchefstroom behoort trots te wees op sy seun!"

Vir genl. De Wet was hierdie paar woorde 'n klein gebaar wat hy die volgende dag vergeet het. Vir Piet was dit die begin van 'n nuwe lewe. Vir hom het die woorde van die generaal 'n venster oopgeruk wat vars lug en sonskyn tot diep in 'n verskrompelde gemoed laat stroom het. So het nog niemand met hom gepraat nie, nie eens 'father' MacCarthy nie. Hy was nie meer 'n verstoteling nie; hy was 'n seun van Potchefstroom, 'n seun op wie die dorp trots behoort te wees.

Met hierdie paar woorde het genl. De Wet sy afgod geword. Piet het vir die toekoms nog net een begeerte gehad, en dit was om iets te doen wat genl. De Wet weer so met hom sou laat praat. Ten besluite van die geweerseremonie is die generaal met een van die nuwe gewere deur ons fotograaf Max Fleischack afgeneem.

In die eerste hoofstuk van die boek "Piet Potlood" kom 'n otternes ter sprake, wat verskeie kere in die oorlogsverhaal 'n belangrike rol speel. Piet Potlood se onderwyser het hom dikwels uit die klas gejaag omdat hy geslaap het. Oswald Pirow skryf die slapery van Piet Potlood toe aan 'n simptoom van ondervoeding. As Piet dan die klas verlaat, het hy dikwels in die dorp se maalgat gaan swem.

By een van hierdie geleenthede het hy gesien hoe 'n otter net onderkant die maalgat onder die wal verdwyn. Hy sit hom agterna en ontdek dat daar onder die water in die wal 'n groot gat is wat na bo gaan, en wat naderhand bo die wateroppervlakte in 'n ruimte uitloop, waar 'n mens kan lê en asemhaal. Hierdie ruimte, wat hy baie vergroot het met 'n ou troffel, het met 'n dun tuit in die populierbos van Elandsheuwel uitgeloop. Vandaar tot by die pampoenlande was dit maar honderd tree. Piet het hierdie uitloopmonding in die populierbos 'n bietjie wyer gemaak en toe met opdrifsels van die rivier so vermom dat selfs 'n noukeurige ondersoek niemand sou laat vermoed dat 'n seun dit kon gebruik nie. Buitendien het hy gesorg dat daar nooit spore van hom agterbly nie. Hy het die gat altyd agteruitlopend genader, en sy spore met 'n tak doodgevee wat hy naderhand in die rivier gegooi het. Mettertyd het hy met "gebuite" kakiekomberse en koringstrooi sy otternes heeltemal bewoonbaar gemaak. Hy kon dus selfs met sy klere aan in die rivier spring, net bokant die maalgat, en hom deur die stroom onder die water tot by die ingang van sy otternes laat dryf. Daar kon hy hom uittrek en in die komberse droog word. Na die maalgat is ook soms verwys as die duiwelsgat.

Maar ons kom terug na hierdie gebeure as verwysing van wat nou volg:

Die grootste kordaatstuk

In Maart 1902, het die Engelse sewe burgers gevang wat amper twee jaar vantevore wapen onder eed neergele het. Hulle het of gedwonge, of vrywillig weer by die Boere aangesluit. Twee is op Elandsheuwel gevang toe hulle vir hulle familie kom kuier het. Drie het oorgegee naby Skandina- wadrif aan die Vaalrivier, en twee is anderkant Klerksdorp met 'n skermutseling teen 'n blokhuis vasgedruk en het onder die Engelse beland. Een van hierdie laaste twee was Jan Pieterse, Ben se broer.

Kitchener het besluit om van hierdie sewe 'n voorbeeld te maak. Daar was reeds deur lord Roberts herhaaldelik gedreig dat hy mense wat hulle eed op hierdie manier verbreek het, sou laat doodskiet en sy opvolger het besluit om by die eerste geleentheid die daad by die woord te voeg. Hierdie sewe was die eerste kans om die krygswet so toe te pas dat mense wat wapen neergelê het, met die nader van 'n Boerekommando liewer na die Engelse sou vlug as om gevaar te loop om opgekommandeer te word en om daardeur hulle eed te breek.

Die sewe is voor 'n krygsraad gebring en summier tot die dood veroordeel. Die militêre vervolger het geëis dat die doodstraf deur publieke ophang voltrek sou word, maar die voorsitter het aanbeveel dat hulle op die kerkplein teen die klipmuur van die poskantoor gefusilleer word. In hierdie vorm is die vonnis aan Kitchener voorgelê.

Angsvallig is deur familielede by die militêre owerhede om genade gesoebat, maar die opperbevelhebber het die vonnis bekragtig en alle petisies sonder meer van die hand gewys.

Die Boere was woedend. Genl. De la Rey het gedreig om die eerste veertien Engelse offisiere wat hy sou vang, as weerwraak te laat doodskiet, maar die Engelse het geweet hy durf so iets nie doen nie, omdat dit teen die Volkereg sou wees en omdat die Boere hulle altyd noukeurig aan die internasionale wet gehou het. Aan die ander kant kon dit ook nie betwis word dat Kitchener juridies heeltemal korrek was met sy opvatting dat 'n man wat wapens neerlê onder eed om nie weer te veg nie en daardie eed breek, al was dit onder dwang, kragtens die internasionale gebruik tereggestel kon word.

Die Britse opperbevel het besluit om met die teregstelling van die sewe te wag totdat die hele Suid-Afrika daarvan gehoor het, ook die Boere in die veld, want hy wou dat die verskrikkende uitwerking van sy besluit aan elke familie wat 'n man of seun of broer op kommando gehad het, bekend sou wees. Dit was deel van die Britse senuwee-oorlog teen die Republieke.

Toe genl. De la Rey se Wes-Transvalers die nuus kry, het hulle bloed gekook. By dosyne is hulle na oom Koos se tent om te smeek dat hy teen Potchefstroom moes optrek en die dorp bestorm. Genl. De la Rey het toe anderkant Klerksdorp tussen Leeudoornsstad en Maquassi gelê met slegs 'n bietjie meer as sewehonderd man. Op Klerksdorp was daar drieduisend Engelse en in Potchefstroom presies tweemaal soveel. Geen generaal met enige gevoel van verantwoordelikheid kon ter wille van sewe man so 'n hopelose aanval waag nie. Met 'n swaar hart het hy dit vir die burgers beduie. Die marine het sy rede verstaan maar baie het trane in hulle oë gehad en sommige het hardop gesnik. Dit het op Sondag gebeur.

Daardie aand na die diens meld Ben Pieterse hom by die generaal aan.

“Oom Koos, my broer is een van die sewe. Kan ek en 'n paar maats verlof kry om te kyk wat gedoen kan word? Die dag van ... nou, die dag is eers oor drie weke." “Hoeveel van jou maats?"

“Ons is altesame tien, Generaal."

Oom Koos kyk hom strak in die oë.

“Julie kan gaan en - kom veilig terug. Die Republiek het julle nodig."

Ná Ben se gesprek met genl. De la Rey wou sy maats opsaal en as dit na Ben se eie gevoel gegaan het, sou hy sommer dieselfde nag gery het. Maar 'n man van sy ondervinding het besef dat deur oorhaastigheid 'n amper onmoontlike onderneming sommer met die wegspring 'n heeltemal onmoontlike taak kon word. Hulle het dus die hele volgende dag deurgebring met die uitsoek van blikkieskos - waarvan daar uit die voorrade van Methuen nog baie was - die keur van perde, die bymekaarmaak van patrone en dies meer. Die blikkieskos was nodig omdat hulle vir dae, miskien vir weke nie vuur sou kon maak nie. Dit was perdesiektetyd, dus kon hulle net gesoute diere neem. Patrone moes daar baie wees want vyf man sou miskien 'n hele regiment moes ophou totdat die ander sekere dinge uitgevoer het.

Die bymekaarmaak van al hierdie en ander dinge het min tyd in beslag geneem toe die laer eers gehoor het wat aan die gang was. Alles wat iedereen van die hele kommando besit het, was onmiddellik en sonder voorbehoud vir die tien beskikbaar. Trouens, die burgers was so entoesiasties dat Ben gevrees het die naturelle-agterryers sou uitvind wat gaande was en dan was hy nooit seker of die nuus nie in die lokasie op Klerksdorp sou uitslaan nie, waar dit van Engelse spioene gekrioel het.

Hierdie vrees was ongegrond, want alhoewel die onderneming van die tien die volgende nag amper tot 'n skielike einde gekom het, was dit nie as gevolg van wat die laer geweet het nie. Baie moeiliker as die bymekaarmaak van voorrade was die beslissing langs watter weg hulle Potchefstroom sou bereik. Op daardie tydstip het die blokhuisstelsel sy hoogtepunt bereik. Die laer van genl. De la Rey by Leeudoornsstad was inderdaad deur blokhuislyne omsingel. Daarom het die burgers snags nie juis minder rustig geslaap nie.

Een lyn blokhuise het van Veertienstrome langs die Rhodesiese spoorlyn op tot by Mafeking geloop. Vandaar het 'n tweede reeks oor Lichtenburg na Klerksdorp gestrek. Ventersdorp en Klerksdorp was deur 'n derde lyn verbind en dieselfde was die geval met Ventersdorp en Potchefstroom. Van ons ou dorp het die blokhuislyn al aan die Mooirivier af tot aan die Vaalrivier gestrek om uiteindelik by Veertienstrome die eerste reeks vestings te vang. Hierdie Vaalrivier-lyn was ook met Klerksdorp verbind deur die verlenging van die stelsel Ventersdorp-Klerksdorp.

Die maklikste weg na Potchefstroom, maar ook die langste, was deur die blokhuislyn en oor die Vaalrivier tussen Bloemhof en Christiana, en vandaar aan die Vrystaatste kant langs die rivier op tot by Skandinawië-  of 'n ander swakbesette drif. Daarna moes mens die dorp van Frederikstad se kant, dit wou sê van die noordooste nader, want daar was die Engelse patrollies die minste. Die hele ding was 'n ompad wat omtrent twee maal so ver was as die afstand volgens luglyn.

Ben se maats het geen geduld gehad vir so 'n ompad nie.

“Ek stel voor", sê die jongste en waaghalsigste van die tien, 'n rooihaar-seun met die naam Ferreira wat later prokureur in Pretoria geword het, “ons breek deur die Ventersdorp-lyn, blaas 'n spoorwegblokhuis op en trek deur tot by die Potchefstroomse lokasie. Daar maak ons verdere planne."

Ben wou nog argumenteer, maar die ander agt stem dadelik saam met die penkop. Ben sê toe:

“Ek wil eers met Johnie Alberts gaan praat. Hy ken die wêreld beter as ons."

Johnie, wat nieteenstaande sy jeug 'n baie lang kop gehad het, het lank gesit en dink.

“Ben," sê hy uiteindelik, “die voorstel is nie so mal as wat dit klink nie. Die Engelse sal die een of ander reddingspoging verwag en aanneem dat dit langs die veiligste weg sal geskied. Hulle sal dus waarskynlik die Vaalrivierdriwwe besonder goed oppas. Ek dink julle moet maar die Rooikop se voorstel uitvoer."

“Goed," was Ben se antwoord, "en sal jy ons van die nodige dinamiet voorsien vir die spoorweg-blokhuis?"

Johnie beduie dat hy nog net een kis oor het van die wat hulle van Methuen geneem het, maar dat dit beskikbaar is.

In dier voege is dus besluit, en dieselfde agtermiddag sit die tien met Johnie en twee helpers en die ou dinamiet-muil af in die rigting van die blokhuislyn Ventersdorp-Klerksdorp. Hierdie lyn was nog nie heeltemal voltooi nie en hulle het dus nie veel moeilikheid verwag om op 'n punt wat Johnie haarfyn geken het, deur te glip nie.

Ongelukkig het die Engelse in die veertien dae wat Johnie die plek nie besoek het nie, juis hier 'n verdere blokhuis opgesit en toe die dertien die draad nader, kry hulle 'n hewige vuur uit 'n soetdoringbos 'n paar honderd tree verder aan die Klerksdorp-kant. Hulle vermoed dis 'n Engelse patrollie, storm die bos te perd en ry vas teen 'n nuwe blokhuis aan.

Dit was te laat om om te draai. Die Boere spring van die perde af en storm die blokhuis van drie kante te voet. Gelukkig dat die Engelse verbouereerd geraak het, anders was die aanvallers almal dood. So kom hulle egter ongedeerd tot vas teen die blokhuis en Ben skiet 'n soldaat deur sy eie skietgat. Die ander gee oor en hierdie onverwagte gevaar is verby, of ten minste, so glo hulle.

Die skietery was egter deur 'n werklike patrollie 'n myl of so verder gehoor. Hulle lê die rieme neer en haal Klerksdorp nog voor donker. Die bevelvoerder in die dorp kom dadelik tot die gevolgtrekking dat 'n aanslag teen die spoor bedoel word. Gelukkig vir hom - en ongelukkig vir die Boere - staan daar net 'n gepantserde trein gereed om na Potchefstroom te vertrek. Die masjinis kry bevel om te wag tot na donker en dan sonder ligte en met die minste geluid tot vyf myl duskant Koekemoer-stasie te stoom en daar te wag.

Intussen het Johnie besluit om die groot blokhuis, drie myl aan die Klerksdorpkant van Koekemoer op te blaas, gelyktydig die drade te laat knip en sodoende die tien kans gee om deur te jaag.

Sommer uit die staanspoor loop dinge skeef. Die bemanning van die blokhuis gewaar een van Johnie se burgers wat die draad wil knip, en begin skiet. Die waaghals was verplig om onverrigtersake na dekking terug te kruip. Die tweede kêrel word deur die doellose kruisvuur toevallig in die arm gewond en moet ook padgee. Johnie bekruip toe alleen die blokhuis met die dinamiet in sy arms, steek die lont aan die brand en slaag daarin om ongedeerd na die ander terug te kom.

Maar intussen is die drade nie geknip nie. Ben was een keer by toe 'n vlugtende Engelse offisier vas teen 'n plaasdraad aangery het en wel reg van van voor. Die draad het gebreek en die perd het amper nie 'n skrapie getoon nie, soos later geblyk het nadat hulle die vlugtelinge ingejaag het. Hulle besluit toe sonder meer dat Ben die draad reghoekig sal storm ry en die ander op sy hakke op 'n bondel sal volg. Met dié gaan die dinamiet af, die blokhuis vlieg in die lug en hulle storm die draad. Ongelukkig was dit nie ligte plaasdraad nie maar die swaar blou soort, en Ben en sy perd slaan met draad en al neer. Die perd is nie in staat om op te staan nie en Ben steier soos hy oor die spoor sukkel. Gelukkig was die slag so geweldig dat die draad plat lê, al is dit nie af nie, en die ander nege druk deur. Aan die ander kant van die spoor is hulle juis besig om die tweede stel drade af te knip toe dit voel asof daar 'n aardbewing aankom. Die gepantserde trein is by hulle! Die drade is reeds deurgesny maar die soekligte flits en die meksims kraak. Die burgers vlug vir hulle lewe. Voordat hulle egter buite skoot is, bly nog vier perde in die slag en Ferreira het 'n koeël deur die skouer. Hy het ook sommer agtergebly en 'n paar uur later is hy - kreunend van pyn - dieselfde pad terug tot oor die blokhuislyn. Daar het Johnie, wat die hele skietery uit die gepantserde trein vanaf 'n veilige afstand aanskou het, hom opgetel en met die “dinamiet-muil” terug by die laer besorg.

So het Ben se waaghalsige onderneming sonder sy skuld en bloot as gevolg van die sameloop van omstandighede amper tot 'n skielike einde gekom. Die posisie van die nege aan die ander kant van die spoor was nie benydenswaardig nie. Hulle moet met vyf perde voor dagbreek in veilige skuiling wees op Potchefstroom, of anders was die draad geknip. Gelukkig het die Engelse gedink hulle het maar met 'n gewone aanslag op die spoor te doen. As hulle die nagtelike avontuur met 'n reddingspoging van die sewe in die Potchefstroom se tronk in verband gebring het, was ons vriende seker in die vyand se hande. Dit sou geen moeite gekos het om die hele wêreld tussen Potchefstroom en Klerksdorp te fynkam nie.

Dit het ná die oorlog uitgekom dat die Engelse so 'n reddingspoging verwag het, maar dat hulle gedink het dit sou of deur 'n paar mense in Potchefstroom self gedoen word of 'n paar generaals sou die dorp met 'n vyfduisend man bestorm. Vir laasgenoemde geval was reeds besluit dat by die nader van die Boere die tronkwag die veroordeeldes dadelik sou doodskiet.

Die nege het Potchefstroom daardie nag nie gehaal nie. Vroeg die volgende more was hulle eers by Haaskraal, tien myl onder aan die Moorrivier waar hulle in 'n rietbos skuiling gesoek het. Gelukkig het dit 'n paar dae vantevore hard gereën sodat die rivier vol was en die Engelse kamp aan die ander kant van die stroom nie sy gebruiklike patrollies kon uitstuur nie. Die nege het 'n baie ongemaklike dag deurgebring. Hulle was tot by hulle knieë in die water en het enige oomblik verwag dat hulle deur rondswerwende swartes, wat almal potensiële Engelse spioene was, gesien sou word.

Hulle het daardie dag baie planne bespreek, almal ewe onmoontlik. Nou het Ben egter beslis opgetree. Voortaan sou hulle elke keer die veiligste weg kies al was dit verreweg die langste. Onder geen omstandighede sou hulle deur waaghalsige ongeduld die onderneming verder in gevaar bring nie. Ben was 'n bietjie hard op sy mense deur hierdie houding, want soos later ook geblyk het, was die kortste pad in die eerste geval wel die veiligste. Die ontmoeting met die gepantserde trein was 'n blote ongelukkige toeval.

Maar niemand het Ben se gesag uitgedaag nie. Hulle was gereed om van hom alles te verdra want hulle het geweet hoe die gedagte aan sy broer sy hele gestel aangetas het. Ewe wel, hulle besluit toe om die nag deur die vol rivier te swem, regs by die Engelse kamp verby te swaai en met 'n groot boog Potchefstroom van Frederikstad se kant af te nader. Teen middernag is hulle by Pochefstroom verby en voor ou "Gegund" se strooise. Hulle het die hele tyd op 'n draf beweeg. Elke halfuur het 'n ruiter afgeklim en sy beurt geneem om aan die stiebeuel langs die perd te hardloop.

Hulle maak "Gegund” wakker. Hy was deur en deur betroubaar. "Een van Oom Paul se skepsels...," soos hy homself trots genoem het. Hulle wou terugswaai by die Oosbrug verby na Elandsheuwel se populierbos. "As die Basies daar kan kom," sê die ou swarte, "sal dit goed wees. Die soldate kom nie meer daar nie. Maar daar is 'n groot wag by die brug."

Ben besluit hulle moet die wag se aandag aftrek, anders sal hy nooit met die perde verbykom nie. Hy sit seker 'n halfuur en peins. Toe vra hy aan "Gegund".

"Loop oubaas Yule se meulstroom nog?"

"Ja, my Basie."

"Kom ons gaan kyk."

Hy vra of die ou jong enige lampolie of teer of iets het wat goed sal brand. Ja, hy het nog 'n halfblik teer wat hy voordat die Engelse sy beeste gekommandeer het, gebruik het om sy wa te smeer.

"Goed, bring die blik en laat ons loop."

Hulle sluip die rivier op tot waar die meulstroom uit die Mooirivier kom. Ben gee vir "Gegund" 'n goue pond en 'n rolletjie draad. "Gaan oor die rivier en maak 'n klomp droë wilgerhout bymekaar." Die walle was vol daarvan. "Bind dit aanmekaar met die draad en smeer dit bo met die teer. As die maan" - daar was so 'n dowwe maan - "daar is, sit jy die bondel in die meulstroom en steek dit aan die brand."

"Ja, my Basie, dankie my Basie."

Vir amper twee uur staan die nege en hou die brugwag dop. Toe sien hulle 'n helder lig anderkant ou Yule se meule wat skynbaar oorland na die brug se kant beweeg. Dadelik kom daar lewe in die klein kamp. Bevele word gegee, lampe vlam op en 'n sterk patrollie sit af aan die ander kant van die rivier in die rigting van Yule se meule. Soos skaduwees sluip die nege met hulle vyf perde aan die oostekant van die brug verby tot in die betreklike veiligheid van Elandsheuwel se populierbos.

Dit was 'n eienaardige ding met hierdie bos. Hy het omtrent vyf morg grond beslaan en het in die reëntyd in die stygende Mooirivier 'n eiland geword. Aan die een kant was sy grens die rivier en aan die ander kant het 'n stuk turfland in 'n halfmaan om hom gelê wat seker tien voet laer was as die middelpunt van die bos. Behalwe in droogtejare, het die water hierdie lande elke jaar vanaf Januarie begin inneem om weer teen Mei-maand te verdwyn. Oubaas Edzard, stamvader van die Grimbeeks, wou eers 'n dam opgooi om hierdie jaarlikse oorstroming te belet toe hy agterkom hoe goed dit vir die lande was. Die gesaaides daar het nooit mis of water nodig gehad nie, en dit was die beste land op die hele plaas. In die reëntyd kon niemand die bos bereik behalwe langs 'n nou paadjie wat slegs aan die plaasmense bekend was nie. Origens moes jy deur 'n diep gemors van modder en water, waarin jy nog kon swem nog kon stap. Op hierdie betreklik veilige plek was die nege dus redelik op hulle gemak. In die middel van die bos was daar 'n ou gruisgat waar jy selfs 'n vuurtjie sonder gevaar aan die gang kon sit.

Die eerste nag het Ben maar min geslaap. Nou eers het hy begin besef wat hulle aangedurf het. Die volgende dag het hulle gerus en Ben het gesit en peins. Die ander sou hom in enige ding volg, maar dit was hy wat die planne moes maak en al sy dink het maar weer geëindig met die een gedagte: Piet Potlood moet die oplossing vind.

Hierdie gevolgtrekking van Ben is kensketsend van die wyse waarop die verhouding tussen hom en Piet verander het. Eers was Ben die leermeester, toe die bevelvoerende offisier en nou slegs 'n man in nood wat hulp moes kom vra. Die ander het Ben die hele dag met rus gelaat, maar laat die agtermiddag kom hulle een vir een na die stomp waar hy amper heeldag gesit het.

“En toe Ben, wat gaan ons doen?"

“Ek kan nie sê voordat ek met Piet Potlood gepraat het nie."

Piet Potlood? Hulle het almal van hom gehoor en het hom daar in die laer gesien, maar niemand het eintlik 'n baie hoë dunk van hom gehad nie, altans nie in verband met iets wat “storm" sou vereis nie. Hy het dan nie eens aan die slag van Tweebosch deelgeneem nie maar gelê en slaap. Dit is hoe hulle gedagtes loop, maar niemand stel dit in woorde nie.

Ben voel wat hulle dink: “Ek weet", sê hy, “hy is 'n eienaardige kêreltjie, maar hy is al man wat ons kan help. Ek sal vannag met hom gaan praat."

Net na middernag trek Ben 'n hol wilgerstam so groot soos 'n kruiwa uit 'n bos en stoot hom in die water. Hy het hierdie halwe bootjie 'n jaar gelede uit 'n ou stam gekap sodat jy jou klere droog oor die rivier kon kry. Vyf minute later swem hy deur die vloedwaters terwyl hy die bootjie met die klere voor hom uit stoot. Aan die ander kant droog hy hom met 'n ou kakiekombers af, trek aan en soek sy pad versigtig deur die vlei. Teen twee-uur die more word Piet wakker deur gruis wat teen die deur gegooi word. Hy gaan na buite, groet vir Ben en beduie dat die plek van spioene wemel en dat hy hom die nag in die populierbos sou kry.

Weer gaan 'n dag van wag verby vir die nege. Hulle is oor al hulle vermoeienis en brand om iets te doen. So teen twaalf-uur is Piet meteens tussen hulle. Die twee brandwagte het hom nie eens gesien nie. Die otternes was natuurlik die rede. Hulle roep die twee wat nog op wag is en die tien mense sit nader om die klein vuurtjie in die gruisgat.

Ben val sommer met die deur by die huis in: “Ons wil die sewe kerels uit die tronk uithaal. Wat dink jy daar van?"

Sonder aarseling en doodbedaard kom die antwoord: “Dis onmoontlik." Al die kêrels vlieg op, net Ben en Piet bly op hulle hurke sit.

"Piet, jy is bang!"

"Waarom het ons met die lafaard kom praat?"

Ben sê niks. Piet sê niks. Die agt praat, smeek, dreig en argumenteer. Geen antwoord van Piet. Ben is totaal verslae. As Piet sê dis onmoontlik, en wat nie kan nie, eenvoudig onbetwisbaar is.  Sal hulle die plan maar laat vaar, laat vaar en sy broer aan die vuurpeleton oorlaat? En nie net sy broer nie, maar ses andere daarby? Nooit as te nimmer nie, dan liewer ook maar onder die Engelse koeëls bly lê!

Piet staan op. Dis 'n gebaar wat sê: "Hier is niks verder te doen nie."

Toe speel Ben sy troefkaart. Hy het geweet wat genl. De Wet vir Piet beteken.

"Ek moes jou eintlik uit die staanspoor vertel het dat genl. De Wet ons gestuur het. Moet ek hom vertel dat jy weier om te help?"

Genl. De Wet! Piet sak weer terug op sy hurke. Hy sit met sy kop op sy bors. Die ander begin weer praat. Na vyf minute staan hy skielik op: "Ek sal julle Sondag oor 'n week weer hier kry."

"Maar dis te laat!"

"Wat moet ons intussen doen? Ons -"

Piet verdwyn soos 'n spook uit hulle midde.

'n Uur later was Piet weer op sy strooisak in die houtskuur, maar hy het daardie nag nie 'n oog toegemaak nie. Dis onmoontlik om die sewe man uit die tronk te kry. Maar as genl. De Wet sê dit moet, dan moet dit. Hy spits sy hele verstand, sy hele gevoel, sy hele wese toe op die vraag "hoe"?

Hoe sal hy hulle uit die selle kry? Hoe hulle uit die tronk kry? Hoe hulle uit die dorp kry. Die vernaamste vraag is die tweede: Hoe hulle uit die tronk kry? Die tronkingang storm en die deur opblaas? Met tien man? Dis net selfmoord. Maar opblaas? Waarom nie die tronk opblaas nie? Dan blaas jy die sewe man saam op. Nee, net 'n gedeelte van die tronk, daardie gedeelte waar die wagte is. Kan 'n mens dit doen? Waar is die wagte?

Die volgende more is Piet met sy miskarretjie vol groente na tant Betta. Hulle gesels lank.

Sy stap saam na die tronk. Die wagte ken haar. Hulle roep die sipier. Die sipier is 'n ou sersant- majoor, hy weet dat sy die suster van lady Williams is. Wat kan hy vir haar doen? Nie veel nie, maar kan die arme veroordeeldes nie 'n bietjie groente kry nie? Sy sal self vir die kook daarvan ekstra betaal.

Die sipier weet hoe om mense te behandel wat vir hom miskien van nut kan wees. Dis nie nodig om te betaal nie. Hy sal self toesien dat dit behoorlik gekook word. Piet moet maar sy karretjie inbring. Tant Betta bedank hom vriendelik. Sy sal sorg dra sy menslike handelswyse aan die Britse hoofkwartier bekend gemaak word. Die sipier glimlag, 'n paar goeie woorde van sir Edgar Williams kan sy posisie aansienlik verbeter.

Piet bring sy karretjie deur die tronkportaal en kyk rond sonder dat dit opvallend is. Aan die suidekant is die wagkamer. Voor die wagkamer sit die vyftien soldate wat die veroordeeldes oppas. Die selle is langs die wagkamer, maar heeltemal na die noordekant is daar 'n lang gang waar die veroordeeldes bymekaar kon kom vir - nou sê maar vir 'n diens.

"Haai, miskruier, hiernatoe," roep een van die bewaarders, 'n gewese National Scout.

Piet draai weg en laai sy groente af.

Die aand vlieg 'n handvol gruis teen ds. Albertyn se studeerkamervenster.

Hy gaan uit: "O, dis jy Piet, kom binne."

"Nee, Dominee, wie gaan my vir die groente betaal wat ek by die tronk afgelaai het. Tant Betta stuur my na Dominee," en uit die hoek van sy mond: "Ek moet om twaalf-uur met Dominee in die koeistal praat."

"Nou ja, Piet, die gemeente sal daarvoor betaal, maar kan jy aan jou medemens wat voor die dood staan, nie eens 'n bietjie groente afstaan nie?" Piet verdwyn.

Dis middernag. Piet en die dominee sit op 'n baal voer in die koeistal.

"Sien Dominee die mense in die tronk?"

"Ek besoek elkeen iedere dag in sy sel."

"Dominee moet hulle almal elke aand van tien- tot twaalfuur in die groot gang vir 'n diens bymekaar kry."

"Die Engelse sal dit nooit toelaat nie."

"Dan moet tant Betta help.”

"Waarom? Wat is die plan?"

"Dominee, ons moet die mense red."

"Seker, maar hoe?”

"Dominee, ek weet self nog nie."

Ds. Albertyn onderdruk sy nuuskierigheid en belowe om te doen wat hy kan in verband met die diens. Die vertroue in Piet wat hy na die Joop Grimbeek-geval opgedoen het, was amper onbeperk. Tien dae het verby gegaan voordat verlof verkry kon word om daardie diens te hou, en tant Betta moes al die invloed bybring wat sy per telegram by haar Britsgesinde familie kon laat geld.

Intussen was Piet besig om uit te vind waar 'n mens kruit of dinamiet in die hande kon kry. Die kruit-idee het hy gou laat vaar omdat die uitwerking daarvan nie voldoende sou wees nie. Want daar moes nie net 'n gat deur die tronkmuur geblaas word nie, maar die ganse wag moes buite aksie gestel word. Dus dinamiet. Waar kon hulle dinamiet kry. 'n Halwe kissie sou voldoende wees, alhoewel 'n vol kissie nog beter sou wees.

Hy en tant Betta sit en beraadslaag.

"Kan 'n mens dit nie by die Machavie-myn kry nie?" vra sy meteens.

"Maar dit is deur die Engelse beset en hulle sal my nooit daar toelaat nie."

"My oorlede man se boedel besit heelwat aandele in die myn. Ek sal 'n permit vra om die myn te gaan besoek."

Die permit word geweier, maar die bevelvoerende offisier bied aan om die luitenant in bevel van die mynwag na Potdiefstroom te ontbied en dan kon tant Betta hom ondervra oor die myn.

Dit blyk dat tant Betta vreeslik bang is daar mog 'n brand in die myn uitbreek, en al die opgegaarde dinamiet die skag opblaas, en dan is haar aandele niks werd nie.

"Nee mevrou Zinn," lag die jong offisier, "daaroor kan u gerus wees. Daar is nog maar twee, of liewer een-en-'n-half kiste dinamiet op die myn en hulle is albei in die kruithuise ver anderkant die skag."

Tant Betta is vreeslik dankbaar en die luitenant neem afskeid van hierdie hoflike, maar ietwat kinderagtige ou dame.

By die volgende gesprek met Piet gee tant Betta die bevele: "Piet, jy moet dadelik uitvind hoe vêr die naaste Boere van die Machavie-myn is."

"Wat sê tant Betta se plaaswerkers?"

"Hulle het iets gehoor omtrent 'n klomp van Kemp se mense tussen Ventersdorp en Klerksdorp, anderkant die blokhuislyn.

Twee nagte daarna bekruip Piet 'n vuurtjie duskant die genoemde blokhuislyn in 'n bylopie van Schoonspruit. Hy fluit soos 'n bokmelker - die spioen se nagsinjaal. Die vuur verdwyn onder 'n kombers en 'n stem roep saggies:

"Wie is dit?"

"Een van Ben Pieterse se mense," is die antwoord.

"Kom nader, ons is van genl. Kemp se kommando."

Dit was veldkornet Van Vuuren met drie man uit op spioenasiediens. Hy het van Piet geweet, maar was nie geneë om enigiets teen die Machavie-myn te onderneem nie. Uiteindelik het hy belowe om op sy ou kampplek, anderkant die blokhuis, vir 'n week te wag totdat Ben persoonlik met hom sou kom praat.

Piet was veels te koelbloedig om hom te vererg, maar hy het gevoel dat hierdie uitstellery totdat Ben Pieterse met die veldkornet kon kom praat, die skraal kans wat hulle nog met die onderneming gehad het, heeltemal tot niet kon maak. Want hoe nader die dag van teregstelling, hoe groter sou die voorsorgmaatreëls wees wat die Engelse sou tref.

Maar hy sê niks, eet 'n stukkie saam met die burgers en verdwyn daarna weer in die donker.

Die volgende Sondagnag sit die tien weer in die populierbos. Ben en sy mense was ten einde raad. Gedurende die tien dae sedert hulle eerste ontmoeting met Piet het die Boere baie krygsraad gehou. Hulle het beraadslaag en geargumenteer, selfs gestry. Tussendeur het hulle verken soos nog nooit vantevore nie. Alles tevergeefs. 'n Enkele spioen kon vanuit die populierbos die dorp inkom, maar dit was ook al. Die gedagte om nege man in te kry, sewe ander uit die tronk te haal en daarna met sestien man uit die dorp te vlug, was eenvoudig kranksinnig. Hulle het 'n stadium van wanhoop bereik waarin hulle die Engelse kamp met nege man sou bestorm het om ten minste 'n einde aan die ondraaglike spanning te bring.

Piet het daardie spanning dadelik gebreek: "Ek dink ons het 'n kans." lets wat half sug, half snik is, kom van Ben, maar niemand sê iets nie.

Piet gaan voort: "Ons moet die agterste gedeelte van die tronk opblaas saam met die wagkamer en die mense so uitkry."

"Opblaas, waarmee?"

Piet verduidelik omtrent die dinamiet by die Machavie-myn. Ben wil amper beroerte kry toe hy hoor hoe veldkornet Van Vuuren tyd gemors het. Piet beduie verder dat die wag by die myn intussen verdubbel is deurdat die grootste gedeelte van die soldate van die stasie Machavie daarheen verskuiwe is. Dit het, so berig tant Betta se werkers, gebeur omdat Van Vuuren se burgers gesien was, en die Engelse daardie kommando uit die dwarste wou verras ingeval hy die spoor sou nader. Dit sou derhalwe, so beduie Piet, nodig wees om die wag van die myn weg te trek deur 'n aanval op 'n ander plek langs die spoor en wel nader aan Klerksdorp. Hy, Piet, doen aan die hand dat dit Koekemoerstasie moet wees, nieteenstaande sy stewige vestingwerke. Al slaag die aanval op Koekemoer nie, sou die skietery waarvan die nuus dadelik na Machavie-stasie met die spoorwegtelegraaf aangegee sou word, die mynwag na die spoor terugtrek.

Ben aanvaar die voorstel sonder meer en binne twee uur is hy met vier van sy mense op pad na Van Vuuren se kommando. Dit het die vyftal vier dae gekos om by genl. Kemp se voorhoede uit te kom omdat die veldkornet, ondanks sy belofte aan Piet, tog sy kamp versit het, en wel 'n hele ent nader aan Klerksdorp.

Van Vuuren het van Piet nie te veel notisie geneem nie, maar toe Ben nou by hom opdaag en hy besef hoe noodlottig sy talmende houding die hele onderneming kon beïnvloed, het hy baie sleg gevoel oor wat gebeur het. Hy bied daarop ook sommer aan om self die stormloop op Koekemoerstasie te lei. Hierdie groothartige aanbod het Ben laat afsien van sy plan om Van Vuuren 'n eersteklas skrobbering te gee, iets waartoe hy meer as lus gehad het, en as waarnemende kommandant en as die veldkornet se meerdere geregtig sou gewees het.

Ewewel, hulle kom toe ooreen dat Van Vuuren teen sononder die volgende dag, met veertig man deur die blokhuislyn sal bars en onmiddellik tot die aanval op Koekemoerstasie sal oorgaan. Slaag dit, sal dit vir die Engelse 'n gevoelige klap wees. Slaag dit nie, sal dit in ieder geval die mynwag na Machavie-stasie aftrek sodat Ben en sy kêrels die dinamiet in die hande kan kry.

So gesê, so gedaan. Laat die agtermiddag storm Van Vuuren en sy waaghalsige Boertjies Koekemoer se verskansings sommer te perd. Hulle is tussen en oor die sandsakke en loopgrawe nog voordat die Engelse besef wat gaande is, en hendsop oor die honderd Tommies.

Nou moes hulle gou maak, want hulle kon aanneem dat die spoorwegtelegrafis sy noodkrete onmiddellik sowel na Potchefstroom as na Klerksdorp gestuur het. Van eersgenoemde plek kon hulle binne twee uur 'n gepantserde trein en van laasgenoemde binne 'n uur 'n berede regiment verwag.

Hulle laai dus op aan voorrade wat op die perde kon kom, en verbrand wat hulle nie kon oplaai nie.

Die gepantserde trein het gouer gekom as verwag. Na 'n uur was hy daar. Maar op Klerksdorp was daar een of ander verwarring en die versterkings het eers die volgende more daarvandaan vertrek. As die Engelse bevelvoerder op Klerksdorp dadelik gehandel het, kon hy die wêreld vir Van Vuuren se kloekmoedige kommando baie bemoeilik het. Deur die versuim egter het Van Vuuren en sy mense weer deur die blokhuislyn geglip en so na Yzerspruit en Tweebosch, genl. De la Rey se twee groot oorwinnings, aan die Engelse 'n verdere bewys besorg dat die Boere die oorlog nog nie as verlore beskou het nie.

Intussen het dinge met Ben en sy mense volgens plan afgeloop. Die mynwag is met die eerste nuus van die aanval op Koekemoer terug na Machaviestasie en die Boere het die dinamiet uit die kruithuisie uitgehaal asof dit al die tyd vir hulle daar gewag het. Die Koekemoer-skietery het die hele wêreld in rep en roer gebring, maar die Engelse aksie het meer na Ventersdorp se kant uitgeslaan waarheen Van Vuuren en sy mense beweeg het.

Ben se groepie het hulle maar so dig as moontlik aan die riete en vleigrond van ou Mooirivier gehou en die tweede aand sit hulle reeds weer om 'n vuurtjie in die populierbos. Hulle het hulle skuilplek hierdie keer van die lokasie se kant genader, langs 'n weg wat Piet haarfyn aan hulle beduie het. Naby die lokasie het hulle die dinamiet oorhandig aan Boesmantjie en een van tant Betta se kleinseuns.

Piet het in die dae wat hulle weg was, nie stil gesit nie. Vir die vernaamste moeilikheid, naamlik die uithaal van die mense uit die tronk sonder dat hulle saam met die waghuisie opgeblaas word, was daar nou 'n moontlike oplossing. Maar die laaste stap, die uitkry uit Potchefstroom, het hom hoofbrekens besorg. Die afspraak met Van Vuuren was dat sy mense 'n bietjie anderkant Ventersdorp sou demonstreer, om egter twaalf-uur die nag voor die teregstelling, tussen Machavie-stasie en Potchefstroom in dekking te lê met sestien handperde vir Ben, sy mense en die sewe veroordeeldes.

Na 'n bietjie rondspioen in alle rigtings het dit vir Piet duidelik geword dat hy die sestien alleen per spoor uit die dorp sou kry, en slegs dan, as die groot wag wat op Kerkplein lê, of teruggeskiet of weggelei kon word. Sy eerste probleem was die vervoer op die spoor. Sou hulle 'n trein of selfs net 'n lokomotief kon neem? Hy en tant Betta het lank gesels. Sy laat 'n betroubare Z.A.S.M.-man kom, 'n lokowerktuigkundige met die naam Oudegeest. Hierdie Hollander was 'n tingerige, teruggetrokke mannetjie met die kop van 'n Shakespeare en die moed van 'n Geus. Hy luister aandagtig na tant Betta, en antwoord dat die vat van 'n loko buite die kwessie was. Die goed was nag en dag bewaak. Maar miskien kon hy 'n pomptrollie wat ternouernood die sestien sou kon bevat, in die hande kry. Daar was juis een in die lokoloods wat die volgende week terug sou gaan na Bankstasie met 'n ploegbaas en sy span. Maar hy, Oudegeest, sou wel sorg dat die voertuig teen daardie tyd iets sou makeer.

By hierdie nuus het tant Betta amper "Prys den Heer" aangehef. Vir haar was die redding toe al 'n voldonge feit. Piet het niks gesê nie, slegs met sy een vinger so heen en weer oor sy lang neus gekrap.  Hy had nog geen oplossing vir die groot wag op Kerkplein en die kleiner wag by die stasie nie. Laasgenoemde was maar vyf-en-twintig man. As hulle na die tronk sou opruk moes hulle by die kerkhof verby en daar sou vyf van Ben se kêrels voldoende wees om hulle onder die lood te steek en terug te hou, te meer omdat die maan reeds groot was, en die Boere behoorlik sou kon korrel.

Maar die tweehonderd op die Kerkplein, wat seker die nag voor die teregstelling in alarmtoestand, miskien selfs geweer by voet sou wees? Hulle moes weggelei word. Sê nou maar hy jaag selfs by hulle verby. Sê nou maar op 'n wit perd wat in die maanlig goed sou wys. Se nou maar drie van Ben se kêrels in Kakie-uniform jaag agter hom aan en skiet op hom. 'n Kakiejas en helmet sou voldoende vermomming wees. En die wit perd? Daar was daardie mooi hings van oubaas Yule, en hy was hondmak. Jammer van die mooi dier, want hy sou waarskynlik in die slag bly. Nouja, as genl. De Wet maar tevrede was, dan kon daar nog meer in die slag bly as die wit perd. Hy sit nog en dink. Hy sit nog 'n lang tyd, maar toe is sy planne ook agtermekaar.

Toe Piet om middernag ses uur voor die vasgestelde tyd van die teregstelling tussen Ben en sv mense in die populierbos verskyn, het hy nie eens gaan sit nie, maar sommer in die staan beduie. Toe hy klaar was, sê hy hulle moet hulle goed bymekaarmaak en drie perde opsaal. Die twee bestes sou hulle in die populierbos laat bly. Miskien sou daar kans wees om hulle later te haal. Die ander drie sou met sekerheid, lewendig of dood in Engelse hande val.

Terwyl die ander opsaal, stap Ben na Piet en sit sy twee hande op sy krom skouers.

"Piet, ek is jammer dat ek jou in die ding ingesleep het en - en daardie ding van die wit perd pla my baie."

Piet antwoord ewe bedaard: "Dis al plan wat ons het. Sê maar vir genl. De Wet ek het my bes gedoen."

Ben sluk 'n paar keer en stap na sy bondeltjie goed en sy geweer. Piet beduie hulle moet nou wag totdat hulle vuur sien naby Elandsheuwelbrug. Die maanlig is te helder om sonder dat die wagte se aandag by die brug afgetrek word, die rivier te kan oorsteek. Dit was kenmerkend van die vertroue van die nege in Piet dat niemand eens gevra het wat sal brand of wie dit sal aansteek nie.

Daar vlam dit op! Dis ou Doppies Bezuidenhout se voerskuur wat Boesmantjie aan die brand gesteek het. Die ou hendsopper was nie net Britsgesind nie, hy het ook die mooiste dogters en die beste perskebrandewyn in die omtrek besit. Iedere Engelsman was sy vriend en amper die hele wag gaan help om die vuur te blus. Terwyl hulle met hierdie ridderlike taak besig is, glip die Boere met klere en al in die water. Een perd raak in die moeilikheid, maar Ben, wat nog beter kon swem as Piet, help hom deur.

Aan die ander kant stap hulle agter Piet deur die riete en palmiet. Hulle pad gaan by die Duiwelsgat verby en Ben voel so 'n ligte rilling toe hy na die slymerige water kyk en dink wat daar in die gat alles begrawe is. Toe hulle in die Rivierstraat kom, verdwyn Piet na sy houtskuur en kom met drie kakie helmets terug wat hy vir die drie ruiters gee. Hy en die ander ses sal hulle op die leë erf agter die pastorie in Bergstraat 'n ent duskant die Grootvoor ontmoet. Hulle moet maar oop en bloot ry asof hulle 'n Engelse patrollie is.

Piet en die vyf burgers sluip van erf tot erf totdat hulle by die Kerkplein verby is en neem dan koers na die pastorie in Bergstraat. Vandaar verdwyn die vyf om posisie in te neem in die kerkhof. Ben koes van skaduwee tot skaduwee tot hy by Lurie se varkhokke die spoor haal. Daar kry hy vir Oudegeest met die pomptrollie. Hy oortuig homself dat alles in die haak is, en bekruip toe die suidelike muur van die tronk.

Piet se wit perd staan in die dominee se koeistal. Die ontvoering van hierdie dier uit oubaas Yule se stalle was al gedeelte van die hele onderneming wat sonder enige moeilikheid gebeur het. Piet haal die perd, wat klaar staan met saal en toom uit, klim op en druk uit die dominee se tuin onder die skaduwee van 'n groot sipresboom langs die sypaadjie. Piet sit sonder 'n trilling van spier of senuwee, maar die perd voel die spanning en wil nie stilstaan nie, totdat die seun afklim.

Op die leë erf, vyftig tree na regs sit die drie burgers soos wasfigure op hulle perde. Piet weet nie wat gaan gebeur met die Engelse op Kerkplein nie. Hulle mag met een of twee kolomme tronk toe jaag as die ontploffing plaasvind. Wat ookal gebeur, hy moet hulle agter hom aan kry en die drie Boere te perd moet skiet en skree dat die wag van die plein nie kan hoor wat by die kerkhof aangaan nie.

Wat het intussen in die tronk gebeur?

Stiptelik om tien-uur het ds. Albertyn soos gewoonlik die diens begin, maar hy het nie om twaalf-uur opgehou nie.

Toe dit naderhand half-een is en hy net weer nog 'n gesang wil opgee, sê die oudste van die sewe - een van die twee Elandsheuwel-manne: "Dominee, ek is soos jy weet, 'n goeie kerkman en dankbaar vir die troos van hierdie diens, maar sal ons nie ook moet probeer om 'n bietjie rus te kry nie, al is dit dan nie slaap nie, sodat ons more vroeg ons soos Transvalers kan gedra?"

Die Predikant kyk hom skerp aan en sê: "Die rus van die siel is oneindig belangriker as die rus van die liggaam. Daar is baie goeie rede vir die voortsetting van hierdie diens.”

Sy rug was na die wagte toe en met dié woorde doen hy iets wat seker nog nooit voorheen deur 'n dominee wat 'n gesang opgee, gedoen is nie. Hy knik met sy regteroog.

Al sewe sien dit en 'n vloedgolf van hoop oorweldig hulle. Die jongste, hy was kwalik sewentien toe hy agttien maande gelede onder eed wapen afgelê het, sak op sy knieë en begin hardop snik. Die ander val in met die gesang en dit kan met sekerheid gesê word dat daar nog nooit in ons ou dorp, of daarvoor, of daarna, met soveel gloed gesing is nie.

Dis een-uur, dis half-twee. Buitekant bekruip 'n gedaante die suidelike tronkmuur waar Piet se miskarretjie, met 'n afwiel, soos 'n dronk ding teen die hoeksteen leun. Die karretjie is belaai met mis, maar onder die mis steek 'n lont uit wat na een-en-'n-half kiste dinamiet lei. Die persoon kruip van skaduwee tot skaduwee. Nou is hy by sy doelwit. 'n Vuurhoutjie vlam op, en die lont sis.

Dertig sekondes later is daar 'n geweldige ontploffing. Die muur word uitmekaar geskeur en die wagkamer stort in duie. Wat van die wagte nie dood of swaar beseer is nie, is so verbouereerd dat hulle nie 'n geweer kan oplig nie.

Die dominee maak asof hy geraak is en sê net een woord: "Hardloop!"

"Maar," sê een van hulle en wil die predikant help.

"Hardloop of daar het tevergeefs 'n wonder gebeur."

Die sewe is almal ongedeerd - net soos die dominee - en laat vat soos hase. Net toe hulle deur die gaping in die muur is, roep iemand van die spoorweg se kant:

"Hiernatoe!"

In 'n kits is hulle by Ben en peil na die varkhokke waar die pomptrollie staan.

Die trilling van die ontploffing wat tot by die Kerkplein gevoel is, is nog nie verby nie of Piet is bo-op die wit perd. Met dié hoor hy skote van die stasie se kant. Die wag daar het onmiddellik in die tronk se rigting gestorm, en is voor die kerkhof deur die snelvuur van die vyf burgers ontvang.

Die Engelse deins terug, gaan lê en neem posisie in. Die Boere lê die rieme neer en hardloop soos naellopers langs die spoor af na Lurie se varkhokke.

Nou roer dit op die Plein. Bevele word geskree en perde kom in beweging. Hier kom die soldate! Die offisier in bevel het met buitengewone koelbloedigheid dadelik die helfte van sy mense laat opklim en in twee kolomme links met die straat en regs met die straat van die Plein in die rigting van die tronk laat koers vat. Piet en sy drie maats, twee strate hoër op, sou net mooi tussen die twee kolomme te lande kom. Dit het hy geweet en ook begeer. Maar watter afdeling sou voor wees? Hy, Piet, wou die rivier naby die Maalgat probeer haal met die Engelse agter hom, terwyl die drie burgers met 'n swaai na regs ter geleenertyd, kans sou kry om by Lurie se varkhokke uit te kom. Dit kon gebeur dat die regterkolom eerste die dwarsstraat sou bereik. Dan was daar 'n kans om hierdie beweging uit te voer. Maar sou die linkerkolom voor wees dan was dit die einde van die vier Boere. Dan was hulle in die slagyster tussen die stasie, die "Cantonements" en die wagte aan die Noordbrug en by Elandsheuwel.

Hulle sou die Engelse lank genoeg kon teenhou vir die pomptrollie om weg te kom, maar daarna was dit klaarpraat met hulle. Hulle sou slegs die keuse hê van vegtend te val of na oorgawe gefusilleer te word.

Dit dreun soos die soldate jaag.

Waar is hulle voor?

Links?

Regs?

Daar kom die regterkolom om die hoek en swaai reghoekig Bergstraat in. Piet laat die wit perd los: Hy spring weg soos 'n pyl uit 'n boog. Dertig tree agter hom skree, skiet en jaag die drie burgers terwyl hulle op Engels roep dat jy dit amper op Elandsheuwel kon hoor:

"Dis hy, daar gaan hy, keer voor, keer voor!"

Die Engelse aarsel geen sekonde nie.

Almal steek die spore in die perde en los hulle.

Toe Piet by die volgende dwarsstraat verbyskiet, is die tweede Engelse kolom tot op dertig tree van die hoek.

Hulle stuit 'n tiental sekonde, maar met dié flits die drie skreeuende skietende burgers verby en ook hierdie Engelse lê die rieme neer en volg die wit perd.

Op die hoek het die twee kolomme amper gebots, maar dit was ou soldate. Die voorstes het harder gejaag, die ander het 'n bietjie teruggehou en sonder aanmerklike spoedvermindering jaag die twee kolomme saam Bergstraat af.

Drie dwarsstrate verder swaai die wit perd links en die drie burgers volg. By die volgende hoek skiet hulle egter weer regs-om en die wit perd jaag alleen rivier toe.

Die voorste paar Engelse stuit so ewe toe die drie regs swaai, maar die wit perd was hulle prooi en hulle jaag hom agterna.

Daardie wit perd kon hardloop maar - was dit die noodlot, of wat - die voorste Engelse perde was ook uithaler-diere. Toe Piet die vlei haal, is die Engelse amper op hom.

Hulle sprei uit.

Hy hou half-links, Maalgat-toe.

Op die wal van die rivier druk hy die spore in die wit perd se lyf. Die dier spring asof hy die oorkantste wal wil haal, en beland met 'n slag wat jy tot by die Elandsheuwelbrug kon hoor, in die middel van die Maalgat.

Piet verdwyn onder die water.

Die Engelse skiet sarsies op die ongelukkige wit perd.

Intussen het die ander drie die varkhokke gehaal. Hulle los die perde en spring op die pomptrollie wat onmiddellik beweeg.

Oudegeest, die onverskrokke Hollander, verdwyn in die skaduwee van die naaste bome.

Dis afdraande en die Boere druk die trollie.

Tien myl per uur! Twintig, dertig, veertig!

Die wiele lig amper van die spoor af.

Gelukkig was die draaie nie skerp nie. Nogtans voel dit asof die trollie slegs op een agterste wiel loop.

Daar kom die eerste blokhuis.

Die wag skree iets. Hy los 'n skoot.

Dis mis!

Nog 'n paar skote, dis ook mis.

Die manne klou aan die trollie, twee diep op mekaar.

Die tweede blokhuis.

Weer skote. Weer mis.

Daar voor lê Machavie-stasie en net duskant die derde blokhuis. Die briek skree en die trollie kom ruk-ruk tot stilstand.

In 'n kits is hulle op die grond. Ben se mense los 'n sarsie op die blokhuis en dan nael hulle na die soetdoringbos anderkant die pad wat langs die rivier loop, die bos waarin Van Vuuren volgens opdrag op hulle moes wag.

Intussen was Potchefstroom soos 'n rooimiernes waarin 'n mens met 'n stok gevroetel het, net so deurmekaar en net so venynig. Kitchener is dieselfde nag telegrafies in kennis gestel. Om agtuur die volgende oggend was sy antwoord daar: “Ek verwag dat die skuldiges gestraf word." Die eersugtige sipier van die tronk is dadelik geskors en moes homself gelukkig ag dat hy later weer in die leër as sersant aangeneem is.

Toe die pomptrollie duskant Machavie ontdek is, het hulle die laaste Hollander, insluitende twee privaat timmerlui in die dorp, onder arres geplaas, en binne agt-en-veertig uur oor die grens by Komatipoort gesit. Oudegeest wou hom siek lag, omdat die enigste twee werklik Engelsgesinde Z.A.S.M.-mense twee broers, wat toevallig op Potchefstroom met besoek was, ook in die deportasie ingesluit was.

Die volgende aan die beurt was ds. Albertyn. Hy is die volgende nag gevang en in boeie na die Fort in Johannesburg gebring. Die moderator van die Kaapse Kerk het egter onmiddellik ingegryp en drie weke later was hy weer by die huis, alhoewel onder ope arres.

Tant Betta is twee dae later konsentrasiekamp toe. Hulle kon niks bewys nie, maar hulle agterdog was baie sterk. Sy het egter al lank so iets verwag, en haar planne was agtermekaar. Twee-, drie maal in die week het Boesmantjie deur die drade van die kamp gekruip en waardevolle inligting aan tussenpersone besorg, wat dit dan verder vir die Boere aangegee het. Dit was merkwaardig hoeveel van dié soort gegewens die susters van lady Williams selfs in 'n konsentrasiekamp kon bymekaarmaak.

Een nag egter het 'n toevallige skoot van 'n wag haar getroue Boesmantjie in die maag getref, en hy is swaar gewond gevang. Toe merk die Engelse hoe hulle geflous was, en nieteenstaande die histeriese proteste van haar familie in die Kaap, is besluit om tant Betta na Mauritius te deporteer, en haar daar gevange te hou. Sy is op die trein gesit na Durban, waar sy aangekom het op die dag toe die vrede onderteken is. Na vier weke is sy losgelaat. Vandag rus sy na 'n veelbewoë, maar geseënde lewe in die skaduwee van ons ou kerkhofbome.

Boesmantjie leef nog. Die familie het goed vir hom gesorg volgens wens en opdrag van tant Betta.

Piet se aandeel in die groot avontuur het aan die lig gekom toe 'n swart speurder gedeeltes van sy miskarretjie wat deur die ontploffing oorgelaat is, geëien het. Die huis in die Rivierstraat en die houtskuur is gevisenteer, en ou Carel is Cantonements toe geneem. Hier was hy lank onder arres. Sy verblyf daar het hy gebruik om met die offisiere se naturelle-bediendes op goeie voet te raak, en hy het hulle menige bottel gesteelde drank help uitdrink totdat hy uiteindelik die sjampanje- dood gesterf het.

Die Engelse kon nie uitmaak wie op die wit perd was nie, en by hulle soektogte te water en op die rivierwalle na die lyk van die persoon, het hulle die geheim van die populierbos ontdek, en daar ook die twee ander perde gevind. Dit het hulle totale buit op een dooie perd - die stomme dier van oubaas Yule - en vyf lewendige perde gebring.

Deur die besetting van die populierbos, wat op die derde dag ná die opblaas van die tronk gebeur het, het Piet in 'n baie benoude posisie gekom, te meer omdat hy ernstig beseer was. Toe die wit perd die water vat, het hy half op sy sy te lande gekom en toe Piet van hom afgly, is hy deur een van die malende voorpote van die perd aan die heup beseer. Op daardie oomblik het hy omtrent niks gevoel nie en hy het sonder moeite die Otternes bereik waar hy sy klere uitgetrek en homself in 'n kakiekombers toegedraai het.

Die volgende more egter, toe hy probeer regop sit, was die lid so styf dat hy sy been nie kon buig nie. Hy was so uitgeput dat hy toe maar weer agteroor gesak het en nog baie ure half bewusteloos bly lê het. Teen die aand se kant eers het die honger hom gedryf om blikkieskos wat Ben-hulle laat agterbly het, en wat hy in die ingang van die Otternes weggesteek het, oop te maak.

Toe ontdek hy dat hy vir dae, miskien vir weke nie behoorlik sou kon stap nie. Aanvanklik het dit hom nie baie gehinder nie. Sy enigste gevoel was een van innige dankbaarheid dat hy genl. De Wet se bevel kon uitgevoer het, want hy het min twyfel gehad dat die sestien man weggekom het.

Ná 'n week het die Engelse die ongemaklike en nuttelose besetting van die populierbos laat vaar, en toe begin Piet plan maak om by die Boere te kom. Hy het geweet dat sy dae as spioen verby was, want in hierdie, sy grootste, avontuur het hy sy identiteit nie weggesteek soos gewoonlik nie, maar feitlik van die dakke verkondig. Aan die karretjie wat hom in werklikheid verraai het, het hy nie gedink nie.

Ja, hoe sou hy wegkom met 'n stywe been en sonder 'n ryding? Piet het so gesit en kyk na Mooirivier se waters, toe weet hy meteens: Met die rivier natuurlik. Daarmee het een van die avontuurlikste reise begin wat hy in sy lewe sou onderneem. Hy het sy blikkieskos, sy klere en 'n paar komberse op die wilgerstompbootjie - dieselfde as wat Ben gebruik het - gelaai en begin om Vaalrivier toe te swem: Drie dae lank het hy dit volgehou. Snags geswem en gedurende die dag êrens aan die wal weggekruip en geslaap en geëet. Na die derde dag was dit asof die water die beseerde heup goed gedoen het en hy kon die been effens buig en daarop staan.

Vyftien dae later, waarvan hy amper tien in en by die water van Mooi- en Vaalrivier deurgebring het, loop hy teen sonop onderkant Klerksdorp die eerste Boerebrandwag raak. Na 'n paar uur staan hy voor genl. De la Rey, wat hom met 'n knop in sy keel die dank van die hele Wes-Transvaal oordra.

Maar Piet het amper daar en dan weer laat vat, toe hy verneem dat dit nie sy geliefde genl. De Wet was wat vir Ben Pieterse na hom gestuur het nie. Hy het eers weer bedaar toe oom Koos belowe het om 'n volledige rapport van alles wat gebeur het, onmiddellik aan genl. De Wet te laat toekom. Maar hy was klaarblyklik nog nie heeltemal tevrede nie, en toe kry genl. De la Rey 'n ingewing. Hy laat Piet weer kom en sê:

“Seun, ek wil hê jy moet self die rapport na genl. De Wet deurneem, en Ben Pieterse kan met jou saamgaan."

Oor Piet se gesig het daar iets gekom wat jy amper met 'n glimlag kon verwar, dit was so vreugdevol.

Die twee is dieselfde aand weg, maar dit het amper drie weke geduur voordat hulle by genl. De Wet naby Wepener uitgekom het. Intussen was die waaghalsige reddingsdaad oor die hele Suid-Afrika bekend. Net waar Afrikaners mekaar ontmoet het, was dit die onderwerp van gesprek. Vir die burgers in die veld was dit 'n buitengewone aanmoediging: “As minder as 'n dosyn kerels sesduisend Engelse so kan koud lei, is die oorlog nog nie verby nie.“ Dit is wat almal gevoel het.

Oor die gevoelens van die manne wat gered is, en dié van hulle families sal ons niks sê nie behalwe om een voorbeeld te noem: Toe die sestien veilig by Kemp se mense was en Ben op sy perd moes klim, gee sy knieë in. Hy het in die staan sy gesig op die saal neergelê en gehuil soos 'n kind, hy, die man met die staal senuwees, wat geen mens of duiwel gevrees het nie.

Nadat genl. De Wet die rapport gelees het, vat hy Piet se hand in albei syne.

“Piet, my seun,“ se hy bewoë, “ek het vir jou een keer gesê Potchefstroom kan trots wees op jou. Vandag sê ek ons is almal trots op jou!"