Leopold Scholtz
KRYGSMANNE VAN FAAM
Lees reeks by Krygsmanne van faam
By Colesberg het die Britte in 'n halfsirkel gelê met hul geskut op Coleskop, wat vanuit die weste die ander koppies in die omtrek beheer. Dit was French se oogmerk om sy flanke uit te sprei ten einde die Boere te omvleuel en hul verbindingslinies af te sny. Met dieselfde bewegings het De la Rey nou sy burgers uitgesprei om die omvleueling te verhoed.
Tot einde Februarie 1900 het De la Rey aan die hoof van die Boeremagte rondom Colesberg gestaan. Tot French se vertrek einde Januarie en gedurende die operasies van sy opvolger, genl.-maj. R. A. P. Clements, het De la Rey verskeie suksesvolle gevegte gehad. Die Boere het die Britse troepemag uiteindelik van Colesberg na Arundel teruggedryf. Dit was egter 'n holle oorwinning want French en Clements het met hul voortdurende aanvalle daarin geslaag om nie alleen die moreel van die burgers af te kraak nie, maar ook om die Boereregerings onder die waan te bring dat die gevegslinie by Colesberg naas die Tugelalinie die belangrikste aan die hele oorlogsfront was. Die gevolg was enersyds dat De la Rey en die ander aanvoerders die Boere se moreel wou herstel deur die Britte terug te dryf en andersyds dat die Boereleërleiding kommando's van ander belangriker fronte onttrek en onnodig na Colesberg gestuur het. De la Rey het wel kort na sy aankoms op Colesberg ingesien dat hierdie linie vir die Boere nutteloos was en dat dit strydkragte vaspen wat elders nuttiger aangewend kon word. Van sy voorstel op 21 Januarie 1900 aan pres. Kruger dat Colesberg prysgegee word, het egter niks gekom nie.
Aan Britse kant is allerweë verwag dat die oorlog oor was. Nadat die Transvaalse hoofmag onder Louis Botha ooswaarts langs die Delagoabaaispoorlyn teruggeval het, het die Boereleiers egter besluit om die stryd voort te sit. De la Rey was woedend vir die Regering wat met wavragte vol goud na Machadodorp teruggeval het terwyl die kommando's gebrek ly. Indien hulle nou die stryd wou staak, het hy verklaar, sou hy met die getroue burgers van Lichtenburg, Rustenburg en Marico 'n Republiek van Wes-Transvaal uitroep en dan tot die laaste man teen Brittanje veg.
Hierdie soort taal van De la Rey en andere het die krygsraad laat besluit om 'n 40 km lange verdedigingslinie oos van Pretoria dwarsoor die Delagoabaaispoorlyn te beset. Op 11 en 12 Junie 1900 het die slag van Donkerhoek hier plaasgevind. De la Rey was op die regterflank, in die noorde, in bevel van sowat 1 800 man. Teenoor hom het French met byna dieselfde getal ruiters sy kragte gemonster.
Van 'n Britse getalle-oorwig was daar op die noordelike flank hierdie keer nie sprake nie, en French het dit deeglik ontgeld. Hy wou De la Rey omvleuel en die spoorlyn in die Boere se rug afsny, dog die Boeregeneraal het hom die oggend van 11 Junie klaarblyklik opsetlik in die bek van die vallei teenoor sy mag laat inbeweeg, en hom doeltreffend vasgepen. Die hele dag is daar hard geveg. Teen die aand was dit French wat met omsingeling bedreig is. Vir die eerste keer sedert Roberts Bloemfontein verlaat het, het die Boere oor die hele front daarin geslaag om sy aanvalle af te slaan en hul eie stellings te behou.
Die volgende dag het De la Rey sy goeie werk voortgesit. Hy het French van drie kante omsingel gehad en was net op die punt om hom met die 1 200 man waaruit sy mag nou bestaan het, in die pan te hak, toe 'n boodskap van Louis Botha hom bereik dat die Britte suid van Donkerhoek deurgebreek het en hom nou in die rug kon toetas. De la Rey was hierop genoodsaak om sy mag terug te trek. 'n Wonderlike geleentheid was verlore. French was een van die weinige Britse generaals wie se reputasie nie deur die Anglo-Boereoorlog geskaad is nie, maar met die slag van Donkerhoek het hy te staan gekom teen 'n Boeregeneraal wat sy meerdere was.
By Balmoral neem De la Rey deel aan die beplanning van die voortsetting van die stryd. Die oorlog het nou duidelik 'n bewegings- of guerrillafase binnegegaan. Aan De la Rey word opgedra om Wes-Transvaal van die Britte te herwin.
Skaars 30 km wes van die besette Pretoria begin De la Rey met die herlewing in Wes-Transvaal toe hy op 11 Julie 1900 met 300 man 'n skitterende oorwinning oor kol. H. R. Roberts met 240 van sy Lincolnshire Regiment en Scots Greys by Silkaatsnek behaal. De la Rey vertel self in 'n brief die volgende dag aan Kruger en Botha: "Ek was die aanvallende party. Gisteroggend met dagbreek was ek gereed met my kommando wat vanuit die noorde gedurende die nag die berg aan weerskante van Silkaatsnek beklim het. Pas voor sonop het die geveg begin ..."
Vanweëdie moeilike terrein kon kol. Roberts nie sy kanonne met sukses rig op die oostelike hang van die nek vanwaar die hoofaanval gekom het nie. Die hewige Mauservuur het hom ook verhoed om voor 09h00 uur vir kol. Alexander by Rietfontein, 6 km verder suid, om hulp te kan vra. Alexander het twee kanonne op die Boere gerig, maar om een of ander rede ná minder as 'n uur sy geskut onttrek.
Ondersteun deur hul eie kanonne van die noordekant, het die Boere van die hange of al nader aan die Britse posisies in die middel van die nek gekruip. Op sommige plekke was hulle skaars 40 meter van mekaar, toe Roberts, wat self gewond was, om 20h00 uur die aand oorgee. Die Britse verliese was 17 dood, 55 gewond en 189 (insluitende die gewondes) krygsgevangene. Die Boere het twee kanonne gebuit. Hulle verliese was 6 dood en 8 gewond.
As deel van sy poging om Wes-Transvaal van die vyand te herwin, was dit De la Rey se oogmerk om die burgers wat ná die val van Pretoria die wapen neergelê of sonder moed huis toe gegaan het, weer tot die stryd op te roep. Die sukses van Silkaatsnek het waarskynlik veel daartoe bygedra dat hy op 21 Julie aan Kruger kon berig dat hy reeds 1 200 Rustenburgers in sy laer het. Aangesien meeste ongewapen was, het hy die Regering om wapens en ammunisie genader. Oral het groepies wapenneerlêers op sy koms gewag.
Staatsprokureur Jan Smuts, wat intussen by De la Rey aangesluit het, teken in sy herinneringe op: "The weak knees and weak hearts received a new access of strength and ardour and were flocking to the commandos without any efforts on the part of the officers."
Van nou af sou De la Rey hom op geïsoleerde Britse eenhede toespits. Op 4 Augustus 1900 val hy met genls. H. R. Lemmer en P. S. Steenekamp en 900 burgers, twee kanonne, twee pom-poms en twee maxims uit drie verskillende rigtings ‘n vyandelike kamp aan wat onder bevel van kol. C.O. Hore te Brakfontein aan die Elandsrivier staan. Hore het hier waar die dorp Swartruggens later ontstaan het, die verbinding tussen Mafeking en Zeerust probeer oophou met ‘n mag van 500 Australiërs en Rhodesiërs en een kanon en twee maxims.
Die Britse kolonel het in afwagting op die aanval sy kamp verskans sodat De La Rey se eerste aanslag nie die gewenste uitwerking gehad het nie. Hy het wel daarin geslaag om alle posisies rondom die kamp behalwe een in besit te kry waardeur hy in staat gestel is om met kleingewere op ‘n afstand van minder as 1 000 meter in die kamp te skiet. Die een posisie wat nog nie in sy besit was nie, was ‘n sterk verskanste fort. Dit was die sleutel tot die hele posisie en sou eers geneem moes word alvorens hy die kamp kon bestorm.
Intussen het lord Robers besluit om sy geïsoleerde poste in Wes-Transvaal te ontruim en reeds op 1 Augustus vir genl Carrington te Mafeking gelas om Hore se terugval te dek. Toe Carrington met sy mag van 1 000 man en ‘n tien stuks kanonne op 5 Augustus die Brits kamp vanuit die noordweste nader, loop hy hom vas in dertig snelvurende burgers onder De la Rey self. Die beskeie Boeregeneraal vertel: “Wat sou ek sien? Daar gaan genl Carrington op loop! Geagte lesers, ek moet u sê dat die Marico- en Rustenburgdistrikte baie bergagtig is, en aangesien ek nooit my groter of kleiner mag aan die vyand vertoon het nie, wis genl Carrington natuurlik nie dat hy voor net dertig man op die vlug slaan nie!” Eers op Zeerust het Carrington tot stilstand gekom.
De la Rey het vervolgens begin met ‘n beleëring van die Britse kamp by Brakfontein, ‘n optrede waarvan hy niks gehou het nie omdat, soos hy dit self gestel het, sy “hele voorraad ammunisie daarmee heen gegaan het”. Uitstekende administrateur wat hy was, was dit vir hom belangriker om die Boeregesag in die hele Wes-Transvaal weer te laat geld, op siviele sowel as militêre gebied. Hy laat gevolglik die Rustenburg- en Wakkerstroomkommando’s in beheer van die beleg van die kamp, en gelas die kommando’s van Lichtenburg, Bloemhof en Marico en die Griekwalanders om verder weswaarts op te ruk. Vergesel van staatsprokureur Smuts vertrek De la Rey self na Zeerust en Lichtenburg waar hy belangrike siviele reëlings tref en onder meer landdroste vir die gebiede aanstel.
Vervolg...