MEDIAVRYSTELLING
Die legendariese Boereheld Gideon Scheepers is op 4 April 1878 naby Middelburg in Transvaal gebore. Hy het as Transvaalse burger deelgeneem aan die Boere-inval in Kaapland gedurende 1901 en is op 18 Januarie 1902 op Graaff-Reinet deur die Britte tereggestel, in wat allerweë beskou word as een van die ergste skendings van die reëls van beskaafde oorlogvoering . 'n Herdenking van die gebeure 110 jaar gelede is vanjaar op Saterdag 21 Januarie op Graaff-Reinet gehou en 'n video-opname van die geleentheid is deur Suidland Media gedoen. Die video is beskikbaar in DVD-formaat en word nou, ter viering van Scheepers se geboortedag 134 jaar gelede, aan die publiek bekendgestel. Dit bestaan uit twee DVD’s en verskyn onder die titel 'Bewaar 'n Erfenis en Bou 'n Toekoms'.
Die video-opname beslaan ongeveer 5 ure se interessante en insiggewende kyktyd. Dit fokus op die gebeure rondom die teregstelling van Gideon Scheepers en ook op persone en gebeure in en om Graaff-Reinet wat 'n rol in die vorming van die geskiedenis van die Afrikanervolk gespeel het. Benewens voordragte deur persone wat kenners van hierdie onderwerpe is, bevat dit baie beeldmateriaal van geboue en gedenktekens wat dien as getuienis van die geskiedkundige gebeure wat daar afgespeel het.Die opname bevat ook 'n aantal uittreksels uit historiese films wat Suidland Media as deel van sy erfenisbewaringsprojek oorgesit het op DVD, ten einde die materiaal vir hedendaagse Afrikaners toeganklik te maak. Dit bevat onder andere uittreksels van films oor die koms van Van Riebeeck, die Groot Trek, die moord op die Retief-geselskap, die slag van Bloedrivier, die slag van Majuba, die lewe van President Kruger, Genl De Wet, Danie Theron en Gideon Scheepers en die sluipmoord op Dr H F Verwoerd. Dit bied 'n baie treffende oorsig oor die sleutelmomente in ons geskiedenis.
Tydens die herdenkingsgeleentheid op Graaff-Reinet is daar egter verder gegaan as net die vertoning van historiese beeldmateriaal en die oordrag van historiese kennis. Die aktualiteitswaarde van die geskiedenis is ook uitgelig. “Ons geskiedenis het nie net interessantheidswaarde nie. Dit het ook praktiese betekenis en waarde vir 21ste eeuse Afrikaners. Dit is 'n bron van geloofsversterking in die God wat ons voorouers wonderbaarlik beskerm het en aan hulle groot oorwinnings gegee het. Dit inspireer tot groot dade en lei tot die ontdekking van ons wortels en ons ware identiteit as volk. Dit kweek selfrespek, volkstrots, liefde vir die eie en volkseenheid. Uit die wyse waarop ons voorouers hulle voortbestaansuitdagings hanteer het, kan ons ook leer hoe om ons huidige voortbestaansuitdaging die hoof te bied. In kort, ons geskiedenis is die basis waarop ons 'n toekoms vir ons nageslag moet bou. Vandaar die titel Bewaar 'n Erfenis en Bou 'n Toekoms vir hierdie produksie,” sê Frikkie Strauss van Suidland Media. Hy sê hierdie titel is 'n baie goeie samevatting van die doel met die erfenisbewaringsprojek. “Oor verskeie dekades is daar voortreflike films en video’s oor ons volk se geskiedenis gemaak en die meeste daarvan word nou in DVD-formaat aan die publiek beskikbaar gestel. Die materiaal is uiters geskik om ons geskiedenis aanskoulik en interessant te maak, veral vir jong kinders,” het hy bygevoeg.
Die totale getal DVD-titels beloop tans 53. Suidland Media beplan om binne afsienbare tyd nog 'n hele aantal nuwe titels bekend te stel. Suidland Media het intussen ook begin om klankbande oor te sit op CD’s en 7 CD-titels is al beskikbaar. Die totale aanbieding dek die hele spektrum van ons geskiedenis, van die koms van Van Riebeeck tot en met die grensoorlog. Al die DVD’s en CD’s kan van Suidland Media teen baie billike pryse bestel word. Die titel Bewaar 'n Erfenis en Bou 'n Toekoms word teen 'n baie spesiale prys van R50 aangebied. Dit kan ook gratis van Suidland Media se webtuiste afgelaai word. Volledige besonderhede kan verkry word deur Suidland Media se webtuiste by www.suidland.com te besoek, te bel na 082 – 493 3785 / 022 – 913 2391 of te e-pos na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..
Uitgereik deur: Mediaskakel
Piketberg