ONS GESKIEDENIS IN ROLPRENT

Ons sal net weet waarheen ons oppad is indien ons weet waar ons vandaan kom

“Geskiedenis wat andersins deur jongmense as vervelig beskou word, word nou op ‘n aanskoulike en interessante wyse vir hulle aangebied. Dit kan hulle op ‘n ontdekkingstog na hulle identiteit neem.”

Alles hieroor by Dvd's

Die vaslegging van geskiedkundige feite kry eers werklik waarde wanneer dit voortleef in die geheue van mense wat dit verstaan en waardeer. Hierdie gedagte het Frikkie Strauss van Piketberg aangespoor om die moderne tegnologie aan te wend om sy breë versameling geskiedkundige en dokumentêre Afrikaanse video-opnames op DVD vas te lê en te aan die publiek beskikbaar te stel.

Talle titels is reeds op DVD beskikbaar oor onderwerpe uit die historiese Afrikaner-erfenis, wat voorheen op film vasgelê was, en moontlik heeltemal verlore sou gaan as dit bloot in videoformaat behou is.

Volgens Strauss, wat ‘n besondere belangstelling in die geskiedenis het, dek die DVD’s ‘n wye spektrum van onderwerpe, soos dokumentêre rolprente oor ons algemene geskiedenis vanaf volksplanting, die Slag van Bloedrivier, die lewe van genl. Christiaan de Wet en die sluipmoord op dr. H.F. Verwoerd.  Daar is goeie rolprente oor die Voortrekkers, die Slag van Majuba asook volkshelde soos Danie Theron, Gideon Scheepers, Emily Hobhouse en Jopie Fourie.  Historiese romans soos Geknelde Land, Ruiter in die Nag en Sarie Marais is ook nou op DVD beskikbaar.

Van die prente is deur bekende rolprentregisseurs gemaak en van die beste Afrikaanse akteurs tree daarin op.  Die vertolking is, volgens Strauss, van hoogstaande gehalte. Daar word beoog om voortdurend verdere titels beskikbaar te stel.

“Gedurende die laaste helfte van die vorige eeu, met die ontwikkeling van die rolprentbedryf in Suid-Afrika, is uitstekende rolprente en dokumentêre films oor die geskiedenis van ons volk gemaak”, het Strauss verduidelik.  “Die koms van televisie in Suid-Afrika in die middel sewentigs het egter, soos in ander lande, die rolprentbedryf negatief beïnvloed en die meeste rolprente het spoedig in argiewe beland.  Videotegnologie het dit later moontlik gemaak om baie van hierdie materiaal op videoband oor te dra, maar die verspreiding was egter so beperk dat die bestaan van hierdie spesifieke materiaal vir alle praktiese doeleindes uit die volksgeheue verdwyn het.”

Strauss verduidelik dat met die toetrede van DVD-tegnologie, die behoud van geskiedkundige materiaal ‘n verdere knou toegedien is, omdat mense nie meer oor videomasjiene beskik het nie en baie video’s eenvoudig weggegooi het.  “Op ‘n dag toe ek deur my videoversameling kyk, het ek meteens besef dat hierdie kosbare historiese erfenis die gevaar loop om in geheel vir die nageslag verlore te gaan as iets nie daaraan gedoen word nie.  Ek en ‘n paar ander het besluit om hierdie rolprente en films op DVD te laat oorsit”, sê hy.

Benewens die bewaringsvoordele van die DVD-projek, hou dit volgens Strauss ook besondere potensiaal in om die jeug in ons volk se kleurryke geskiedenis geïnteresseerd te kry.  “Geskiedenis wat andersins deur jongmense as vervelig beskou word, word nou op ‘n aanskoulike en interessante wyse vir hulle aangebied. Dit kan hulle op ‘n ontdekkingstog na hulle identiteit neem.”

DVD-tegnologie is baie koste-effektief, en omdat die hele projek bewaringsgerig is, en nie winsgerig nie, is dit moontlik om die DVD’s besonder billik te verkoop. Die prys vir groter hoeveelhede kan selfs verder verlaag word, omdat versendingskoste dan bespaar word.

Met die oog op die naderende skoolvakansie wil Strauss graag ouers aanspoor om van hierdie DVD’s vir hulle kinders te koop.  Op dié wyse kan hulle ure lank op ‘n skeppende, inspirerende en positiewe wyse besig gehou word.

Hierdie projek is ‘n baie besondere bewaringsprojek.  “Die oordra van die historiese inligting op DVD is egter maar slegs die begin van die bewaringsproses.  Werklike en blywende bewaring daarvan vir die nageslag sal eers geskied wanneer die groot dade van die voortreflike manne en vroue wat ons geskiedenis gevorm het, in ons kinders se harte vasgelê word”, sê hy.

Titels uit die reeks kan by Suidland Media bestel word. Volledige inligting hieroor is beskikbaar by www.suidland.net Vir nadere besonderhede, stuur e-pos na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of ‘n faks na 022 913 1482, of bel 022 913 2391.