Dr JP Botha
Lees reeks by Derdepoort
Die Engelse en die Swartes
Die plasing van burgermagte op strategiese plekke langs die wes- en noordwesgrens van die Republiek, was nie net soos reeds aangetoon is, om enige oprukkende vyandelike leër die hoof te bied nie, maar ook om ‘n oog te hou oor die swart stamme wat daartoe kon oorgaan om aanvalle op die burgers of op hul agtergeblewe gesinne te waag, omdat hulle deur die Engelse daartoe opgestook was. Van hierdie geleentheid het die Engelse lank voor die Oorlog reeds gebruik gemaak om die Swartes van die Betsjoeanalandse Protektoraat teen die Boere op te rui, sodat hulle in die Oorlog teen die Republieke op die aktiewe steun van hierdie groot nie-blanke bevolking van die Protektoraat kon reken.
Die Engelse werf swart bondgenote
Die Britse bemoeiinge en invloed het veroorsaak dat Khama se Bamangwato’s by Palapye, Bathoen se Bangwaketses by Kanya, Sebele se stam by Gaberones en Linchwe se Bagatlas by Mochudi vroeg in die oorlog ‘n vyandelike houding teenoor die Boere ingeneem het.
Tot hierdie toedrag van sake het Baden-Powell en sy agente vanuitPlumer steek die Betsjoeanalandse stamme teen die Boere op
Nadat die twee noordelike kommando’s van Soutpansberg en Waterberg gekommandeer is om na die suidfront gestuur te word, het ‘n afdeling van Plumer se troepemag onder kolonel Nicholson vrye spel geniet om langs die Transvaalse wesgrens met gepantserde treine te patrolleer en is hulle die geleentheid gegun om die spoor van Magalipsi suidwaarts ongestoord te herstel in die rigting van Mochudi. Hulle het ook van hierdie geleentheid dankbaar gebruik gemaak om die swart stamme in Betsjoeanaland, aan wie se trou en onderdanigheid aanvanklik getwyfel is, finaal na Britse kant oor te haal.
Oor die bondgenootskap van drie van hierdie stamme in die noorde van Betsjoeanaland het die Engelse nie rede tot groot bekommernis gehad nie. Khama, die hoof van die Bamangwatostam, was sedert sy besoek aan Engeland waar hy aan die Koningin voorgestel is, ‘n bewonderaar van die Engelse en het verklaar dat hy die Boere sou beveg indien hulle sy gebied sou binnedring. Die feit dat Khama die Boere vyandig gesind was, het eers op 8 November tot laasgenoemde deurgedring na ‘n onverwagte aanval van die Bamangwato’s op ‘n afdeling Republikeinse polisie wat by Kruispad, naby die samevloeiing van die Matlabas- en Limpopo-riviere, gestasioneer was. Die Regering kon nie hierdie vyandigheid verklaar nie en het polisiekommandant Riekert vanaf Derdepoort noordwaarts gestuur om by Khama self te gaan hoor watter faktore tot die aanval aanleiding gegee het.
Die Times History vertel dat die vyandskap ontstaan het nadat die Waterbergers ‘n stat by Selikakop onder die bomme sou gesteek het. Die Britse offisiële geskiedenis van die Oorlog weer, voer aan dat die Boere hulle die gramskap van die Swartes op die hals gehaal het deur herhaaldelik op groepies inboorlinge te vuur en hul statte te beroof. Bewysgronde vir hierdie bewerings sal na alle waarskynlikheid nooit gevind word nie, want die Waterbergkommando het dan nooit die Limpopogrens oorgesteek nie!
Hoe dit ook al sy, die Britse troepe in Betsjoeanaland het die vyandige gesindheid van Khama met ‘n goedkeurende stilswye bejeën en Plumer het hom versekerd geag van die steun en bystand van Khama se Bamangwato’s by Palapye en omstreke en ook van dié van Bathoen, hoof van die Bangwaketsistam by Kanya en van Sebele, wat gesag gevoer het oor een van die stamme by Gaberones.
Die Bagatlas van Mochudi
Die enigste opperhoof oor wie se trou aan Groot-Brittanje getwyfel is, was Linchwe, wat met sy volk (die Bagatlastam) tussen die Limpopo- en Notwaniriviere gewoon het en wie se hoofstat, Mochudi, naby die treinspoor geleë was.
Die Bagatla van Mochudi het in die vroeë sewentigerjare vanaf Saulspoort in Transvaalse gebied onder hul opperhoof, Kgamanyane – seun van Pilane, na wie Pilandsberg vernoem is – na Betsjoeanaland verhuis. Hier het Linchwe na die dood van sy pa, Kgamanyane, in 1874 die stryd om die opperhoofskap van die stam teen sy ouer halfbroer, die buite-egtelike Segale, gewen en kaptein van die Betsjoeanalandse Bagatlas geword.
Linchwe was die Boere eers goedgesind
Voor die uitbreek van die Oorlog en ook daarna, tot en met 25 November 1899, was die Boere doodseker dat Linchwe hulle goedgesind was en het daar ook geen enkele voorval plaasgevind wat aanleiding tot wrywing kon gee of wat hoegenaamd op enige openbaring van vyandigheid van hierdie inboorlingstam teenoor die Republiek kon dui nie. Op 7 November het polisiekommandant Riekert gerapporteer dat hy met ‘n patrollie van 17 man op 31 Oktober Mochudi besoek het, alwaar hulle die nag geslaap het en gasvry en vriendelik deur Linchwe onthaal is. Hy het weer eens sy vriendskap met die Boere beklemtoon. Riekert het tydens hierdie tog persoonlik met verskeie ander onder-kapteins van die Bagatlas gepraat en die indruk gekry dat die Boere van die groot Bagatlastam langs die Transvaalse wesgrens niks te vrese het nie en dat hulle in elk geval neutraal sou bly in die Boere se stryd teen Plumer se troepe. Linchwe is allerweë beskou as ‘n vriend van die Boere en daarom het president Kruger na die aanval van Khama se krygers op die polisie te Kruispad aan generaal Cronjé voorgestel dat oud-kommandant Malan en kommandant Du Plessis van Derdepoort na Mochudi gestuur moes word, aangesien albei van hulle met Linchwe goed bevriend was, om met laasgenoemde te reël dat sy volk teen Khama moes optrek indien die Bamangwato’s verder moeilikheid sou maak.
Hoe Linchwe vir die Engelse gewerf is
Gevolglik kon die Regering en al die krygsoffisiere eenvoudig nie glo dat die Bagatlas deur die bemoeienis van die Engelse beïnvloed sou word nie, toe daar op 22 Oktober berig ontvang is dat ‘n voorraad ammunisie aan Linchwe opgedring is om sy volk mee te bewapen. Hulle was egter nie bewus van die feit dat majoor H Goold Adams, Resident-Kommissaris van die Protektoraat, jare lank voor die Oorlog die Bagatlas sistematies teen die Boere opgerui het nie. Nadat die Oorlog begin het en Goold Adams saam met Baden-Powell in Mafeking vasgekeer is, het assistent-Kommissaris WH Surmon en kaptein Llewellyn, bevelvoerder van kolonel Plumer se pantsertreine, hierdie opruiingswerk in Mochudi en omstreke voortgesit. Hulle het in hierdie poging die heelhartige steun van Segale geniet, wat daardeur die guns van die Engelse wou verwerf ten opsigte van sy stryd teen sy halfbroer, Linchwe, om die opperhoofskap van die Bagatlastam.
Linchwe, wat die Boere werklik goedgesind was, was aanvanklik vasberade om hom nie in die stryd tussen Boer en Brit in te meng nie. Surmon het egter volhard in sy pogings om die Bagatlakaptein na Engelse kant oor te haal. Na 21 Oktober het hy onder andere ‘n sekere kaptein Griffiths na Linchwe gestuur en hom en sy hoofmanne op die noodsaaklikheid gewys om hul grense en statte te beskerm en om alle Boere uit hul gebied uit te dryf, omdat die lojaliteit van die kapteins gemeet sou word aan die ywer wat hulle aan die dag sou lê om Haar Majesteit die Koningin se gebied te beskerm. Die opperhoofde se handelwyse sou noukeurig waargeneem en aan die Hoë Kommissaris gerapporteer word, met die dreigement daarby dat na afloop van die Oorlog daar drastiese strafmaatreëls op die dislojale kapteins toegepas sou word.
Linchwe is dus geen ander keuse gelaat nie. Hy het die Engelse as die magtigste van die twee strydende partye beskou. Hy het besluit om hulle te steun en die Boere aan te val.