Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dis duidelik waarom daar deesdae so min wysheid rondom ons te bespeur is; wysheid kom net uit een bron: uit kennis van die HERE en sy opdragte aan ons. Daar is baie meer sotte as wyse mense vandag omdat hulle daardie kennis en tug verag en verwerp – Spreuke 1:7
BROKKIES UIT DIE BOEK HELDELAND (5)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Die bevelvoeder van die manne was ‘n sersant Maritz, ‘n aangename, innemende man. ‘n Goeie soldaat. ‘n Halfuur nadat die Buffel by hom weg is, is dit gebombardeer. ‘n MIG het die damwal en die Buffel getref. Hy het dikwels gewonder wat sou gebeur as hy hulle nie opgehou het nie.
Vandag was weer so ‘n toevalligheid. As hy nie vroegdag aangeval was nie; as hy nie in hierdie rigting gery het nie; as hy nie stilgehou het toe hy die hondjie in die man se hande gesien het nie… Die lewe is vol “sê-nou-maar-nets”. Hoekom sal hy hom ontferm oor hierdie twee kinders, wat hy van geen kant af ken nie? Hy skuld die samelewing niks nie. Hulle skuld hom, inteendeel! En tog is daar iets aan die gedagte van ‘n sewe-jarige blonde meisietjie in die kloue van ‘n pedofiel wat hom so teen die bors stuit. Dit veroorsaak ‘n dringendheid wat hy nie kan verklaar nie.
Die snelheidsmeter van die Jeep dui aan dat hy meer as honderd en dertig ry. Hy weet nie presies hoeveel nie, want die groter bande maak dit onakkuraat. Die wiele huil onverpoos op die teerpad.
Hy moet ‘n wye draai ry, Tshipise om en dan weer in ‘n suidelike rigting om Sibasa en Thohoyandou en die buite-liggende gebiede te vermy. Tussen Mabilique en Pafuri is die heining reeds gestroop vir skrootmetaal en hy gaan net onder die Limpoporivier die Nasionale Krugerwildtuin binne.
Die dissipline binne die park is reeds lankal verslap waar die wildbewaarders self somtyds van die wild ge-oes het. Nou is dit ‘n sogenaamde “free for all” en die reëls en regulasies geld glad nie meer nie. Besoekers is nie net onwelkom nie, maar eerder ‘n meer bedreigde spesie as die wild self.
Basjan ken teen hierdie tyd die kleiner paadjies. Net voor die Levubu-rivier se brug is daar ‘n boom oor die pad, maar dis nie swaar nie en hy sleep dit maklik weg. Nadat hy verby is, sit hy die stomp weer oor die paadjie. ‘n Klompie kilometers verder is daar ‘n koorsboomwoud waar geen besoekers ooit kom nie. Dis mooi en vreemd, met weelderige gras onder die bome, so al asof iemand dit aangeplant en natgespuit hou. Hy hou vir ‘n paar minute daar stil, net om die rustigheid daarvan te ervaar.
Dan is die angstigheid om die kinders in die hande te kry weer in hom en hy vertrek met die gedagte om eendag meer tyd daar te spandeer. Nog verder is die samevloei by Crooke’s Corner. Vyf kilometer daarvandaan, in ‘n Noordelike rigting was ‘n weermagkamp met die naam Gwalali. Dis nou reeds lankal verlate, maar hy onthou die plek goed.
Nog voor Crooke’s Corner is ‘n begaanbare drif en hy steek dit oor, al vloei die water op plekke amper so hoog soos sy groot bande. Teen skemer ry hy heelwat stadiger, om soveel moontlik tyd op te maak, sonder om sy ligte aan te skakel. Ongelukkig is dit donkermaan en hy moet noodgedwonge van die pad af trek en rus vir die nag. Tussen sy bagasie is ronde vuurmaakpille wat die weermag “esbits” genoem het. Dit maak net genoeg hitte om ‘n bietjie koffie te maak.
Hoekom doen hy dit? Hy skuld die kinders of hulle mense tog niks nie? Daar is ook nie enige finansiële voordeel in hierdie operasie nie. Maar hy weet wat die antwoord is, al wil hy dit nie erken nie. Hy het sy ouers vroeg verloor. Hy sou eerder universiteit toe wou gaan en ‘n onderwyser of dokter of advokaat wou word. Maar daar was nie iemand wat hom kon help nie.
Na skool is hy weermag toe, met die gedagte om dit net oor te kry. Maar hier het hy sy voete gevind. Hy het gou besef dat hy ‘n instintiewe aanvoeling vir dissipline, uitdagings, skiet, roetine en vasbyt het. Hy is gekeur vir opleiding by 1Valskerm Bataljon. Die kursus was taai, maar hy het met vasberadenheid daardeur gekom.
Daarna is hy aangesê om te volunteer – dit wil sê hy het nie ‘n keuse gehad nie – vir Spesiale magte. Nie net het hy die kursus voltooi nie, maar mettertyd offisiersopleiding gedoen en as Staandemaglid ‘n werklike familie ontdek. En werklike kameraadskap in plekke agter die skerms, maar diep in die operasionele sones.
Tot daardie dag by Madimbo. En van toe af is hy deur die Nuwe Suid Afrika stief behandel, asof hy ‘n massamoordenaar was. Hy besef smokkel as ‘n nering is nie baie edel nie. Dit het ook nie regtig as ‘n voldonge besluit gekom nie, maar was eers net ‘n ‘dare’, ‘n uitdaging toe hy agterkom hoe maklik dit eintlik is as hy sy vaardighede en sy verstand gebruik. En later die feit dat hy sy eertydse base kon terugkry vir hulle verraad. Hy het hom in die idee verlustig. Maar nou… nou gee hy weer prys. Hy gee ‘n lonende geleentheid prys ter wille van twee kinders wat hy nie een ken nie, wat hy nog nooit gesien het nie. Vir wie hy miskien te laat gaan wees. Hy weet nie. Maar hy moet probeer. Sy lewe het ‘n vol sirkel gedraai.
Hy eet vanaand weer van sy eie tuisgemaakte rantsoenpakke, rol sy slaapsak onder ‘n boom uit en slaap tot die rooidag.
*
Wanneer ‘n mens die regte kontakte het, is enigiets moontlik. Suleiman Rasool het genoeg daarvan. Daarom keer niemand die Volkswagen Bussie voor as hulle deur die grens by Komatipoort kom nie. Natuurlik wag hulle ook, besoek die doeane en grensbeheer, wat steeds funksioneer, al is dit onbeman aan die Suid-Afrkaanse kant.
Die kinders is vasgebind en kleefband oor die monde gepak, sodat hulle nie om hulp kan roep of enigsins aandag trek nie. Die manne maak beurte om te kyk dat die kinders nie agter die kleefband verstik of naar word nie.
Dit vat nie lank om deur die grenspos te gaan nie. Genoeg geld het op die regte plekke van hande verwissel. Na ‘n paar ure is hulle op die Chinees-geboude N1, wat dwarsdeur die lengte van Mosambiek strek. Hulle ry rustig; die skip vertrek eers oor twee dae, want daar is nog ‘n “vrag” wat van Kwa-Zulu Natal oppad is en hulle voertuig het gaan staan, êrens tussen Umhlanga en Kosi-baai.
*
Basjan besef hy kan nie Mosambiek ingaan met hierdie Jeep nie. Dis oud, te opsigtelik en maklik om te onthou, te militêr in voorkoms, en daar is niks wat die mense keer om sy goed te steel nie, behalwe die seil. Hy sal ‘n ander kar moet kry. Hierdie probleem knaag aan hom die afgelope uur. Na ‘n paar minute se besluit, mik hy na die plek waar hy die voertuie gewoonlik deursmokkel. Miskien net…
Dis net na agtuur toe hy die koppie in die verte sien en hy ry stadiger, om die stof te verminder en dan, ‘n paar honderd meter weg daarvaan, ry hy van die pad af en kronkel tussen die bome en struike deur.
Hy los die Jeep ver genoeg dat niemand dit kan hoor nie en loop dan versigtig tot waar hy laas die helikopter neergeskiet het. Hy sien etlike motorvoertuigspore wat redelik vars lyk en weet dat Joseph iemand nuut gekry het om die smokkelwerk by Basjan oor te neem. Hy ervaar ‘n bitter smaak in sy mond hieroor.
Drie ure later word sy geduld beloon. ‘n Nuwe Mercedes Gelandewagen AMG G63 ry versigtig die rivierbedding binne. Hulle benader die riviersand egter verkeerd en dis duidelik dat die manne nie weet hoe die vierwieltrek-stelsel werk nie. Alhoewel die voertuig permanente verwieldryf het, is daar goed soos ewenaarslotte en die regte aanwending van die krag. Dis nie iets wat jy uit die eienaarshandleiding kan aanleer nie.
Hierdie een is baie kragtig, met ‘n bi-turbo wat vier honderd en twintig kilowatt ontwikkel. Die drywer het miskien die krag te veel geniet of die skuinste van die wal onderskat, maar hy grawe die ding in. Die padbande help ook nie veel nie. Hy het uitgeklim en is besig om die sand voor die wiele uit te grawe. Hy het reeds takke voor die oopgegroude wiele gesit om beter vastrap te kan kry. Sy ander kollegas het reeds vertrek, nadat hulle die voertuig aan hom oorhandig het.
Basjan sluip nader en wanneer die verskrikte donker gesig na hom toe opkyk, tref ‘n rondte uit die CZ hom op die voorkop. Basjan voel nie iets nie. Hy sleep die liggaam weg, tussen die bome in en los hom daar. Hy gaan haal die Jeep waar hy hom gelos te, span dit voor die G-Wagen in, bo-op die wal van die rivier en haak die voertuig. Hy skakel die enjin aan, sit dit in neutraal en sleep met gemak die swaar stasiewa tot bo-op die wal.
Hy laai sy bagasie en die hondjie agter-in die Mercedes, steek die Jeep onder ‘n digte bos in en kamoefleer dit met die militêre net. Dis onsigbaar, behalwe van ‘n paar meter weg. Met die aanskakel van die Mercedes begroet ‘n onaardse lawaai hom. Vir ‘n verwarde oomblik weet hy nie wat aangaan nie, maar besef dan dis die klankstelsel. Hy soek vir die volume-knoppie en dan vir die eject. Hy is baie gesteld op die omgewing, maar laat sak die venster en slinger die House-CD soos ‘n frisbee sover hy kan, die bosse in.
Hy soek in die kar rond en kry ‘n Leonard Cohen CD, wat sekerlik aan die oorspronklike eienaar behoort het. Hy wonder of die kar gekaap of gesteel is? Hy luister na die stem van Cohen waar hy sing van ‘n vryheidsvegter en hy wonder of hy nou self een geword het. ‘n Soldaat of vryheidsvegter? Dit hang seker af van watter kant van die draad jy staan. Die een groep se vryheidsvegter is die ander se terroris en vice versa.
Die honderd en vyf kilometer Komatipoort toe is binne ‘n driekwart-uur afgetrap. Selfs Basjan is beïndruk met die voertuig. Nie net die bou-gehalte en luuksheid nie, maar ook die krag en die soepele gladheid. Vreemd genoeg is die grenspos-beamptes amper gretig om hom deur te laat.
Dit lyk vir hom asof die hele Mosambiek op reis is. Daar is letterlik duisende voertuie op die smal snelweg op pad Maputo toe. Van die voertuie het Suid-Afrikaanse registrasie-plate, maar daar is net soveel Mosambiekplate. Die taxis’s is nog meer oorlaai as hulle eweknieë in die Republiek. Mense hang by die oop sydeure uit: sommige staan agter op die buffel. Bo-op die dakke is stapels bagasie.
Net na eenuur ry hy die hoofstad binne. Dis totale chaos. Voertuie staan enige plek geparkeer, nie net op laaisones nie, maar letterlik verlate in die middel van die hoofstraat. Mense loop alleen, in groepe, met handelsware, kokosneute, kashews, enigiets wat enige waarde het. Hulle kom klop aan sy venster, wys vir hom eers hoe baie hulle van hom hou, en as hy nie die venster laat sal en koop nie, hoe min hulle van hom dink. So lyk dit by al die kruisings, so ver hy kan kyk.
Hy dwing homself om geduldig te wees. Hy kan geensins bekostig om afgetrek en deursoek te word nie. Hy het immers drie vuurwapens in die kar en baie ammunisie. Die enigste wese in die omtrek wat stil en rustig is, is Oubaas. Basjan kyk af na waar die brak langs hom op die passasiersitplek sit. Hy het reeds geheg geraak aan die dier.
Uiteindelik sien hy die padaanduiding na die hawe toe. Hy draai regs uit die hoofstraat uit en is gou by die ingang. Die hawe is anders as wat hy verwag het. Dis nie net baie kleiner as Durban of Kaapstad hawe nie, maar, behalwe vir die kantore, ‘n area waar daar bergingshouers gepak is, is dit amper verlate.
Vier skepe lê vasgemeer aan die dokke en twee voor anker ‘n ent weg. Hy kyk na die name op die vasgemeerde vaartuie, maar daar is niks wat vir hom bekend lyk nie. Daar is ‘n kleinerige vragskip van Maersk, ‘n Chinese vragskip met ‘n naam wat hy nie kan uitspreek nie, maar geen “Morvana” nie. Sy verkyker is sterk genoeg om die naam uit te maak op een van die skepe wat vasgemeer is net buite die hawe. Hy verstel die fokus fyner en dan lees hy “Nirvana”.
Dis nie werklik ‘n skip nie, maar ‘n luukse motorjag. Dis ver en hy kan nie regtig die lengte skat nie, maar hy is redelik seker die ding is nie meer as veertig meter lank nie. Dis op die oog af luuks en weelderig en moes miljoene Dollar gekos het. Dis laag en slank, met ‘n diep boeg, lang, vaartbelyne patryspoorte en dekke. Hy probeer die naam van die ander een lees, en alhoewel hy die letters min of meer kan sien, is dit duidelik nie die naam wat hy soek nie.
Dan swaai hy die verkyker terug na die nader vaartuig. Nirvana…asof ‘n liggie aangaan, besef hy dis wat die sterwende rampokker probeer sê het, en nie “Morvana” soos wat hy gehoor het nie. Maar wat dan nou gedoen? Daar is geen manier wat hy die kilometer of wat kan oorsteek na die skip toe nie. En as die kinders reeds daarin is, hoe maak hy dan?
‘n Onsekerheid trap in sy borskas vas. Gewoonlik het hy ‘n plan, of ‘n amperse plan, maar nou is hy uit sy diepte uit. Daar is niks in sy verwysingsraamwerk wat hom hiervoor kon voorberei nie. Hy klim in die Mercedes en ry so naby as wat hy kan aan die heining om rondom die hawe te kan kom.
Hier en daar sien hy ‘n swakheid in die veiligheidstelsel, maar al sou hy binne die terrein kan kom, wat dan? Hy ry verby die hawe en kyk uit vir vissersbote. Daar is niks wat hy kan gebruik nie en weereens, wat as hy sou kon? Hoe kan hy naby genoeg aan die skip kom sonder om opgemerk te word? Hy het wel ‘n kursus in skuba-duik geloop tydens sy weermagopleiding, maar waar kry hy op kort kennisgewing toerusting daarvoor?