BROKKIES UIT DIE BOEK BELLA VOS (16)

Geskryf deur Philip Venter  (u kan die boek bekom deur hom te skakel by  083 444 7672)

Die grens na die Ivoorkus, in Frans die Côte d’Ivoire, was aanvanklik ‘n Franse protektoraat, later ‘n Franse kolonie en uiteindelik het hulle onafhanklikheid verkry in 1958.

Alhoewel dit deur twee intense burgeroorloë gegaan het, tot so onlangs as 2011, het dit uiteindelik gestabiliseer en is tans die land in Afrika met die hoogste groeisyfer van 7,4%. Die grootste uitvoerprodukte is koffie en kakao.

Wanneer die konvooi deur die grenspos is, wag daar ‘n klein dorpie, Dabélé, minder as twee kilometer vanaf die grens, op hulle. Dis op die oog af ‘n netjies-uitgelegde plekkie, met presies-getrekte kruis en dwarsstrate.

Tot hulle vreugde is daar ‘n restourant wat nog deur ‘n Fransman besit word en die kos is ‘n heerlike verandering van blikkieskos, rantsoene en gedroogde eiers. Hulle kan ook brandstofaanvulling doen – bàie liters – en alhoewel daar nog hier en daar tekens is van die verwoestende oorloë, is dit ‘n mooi dorpie.

“Kom julle van baie ver af?” vra die Franse resouranteur in gebroke Engels.

“Ja, Europa, oor die Middellandse See, Algerië en Mali.”

“Hoe het julle Mali ervaar?”

“Nee, rustig, waarom?”

“Dis deurtrek met geweld, krygshere en onrus!”

“Dis miskien so, maar ons het dit seker net goed getref – parlez vous Francais?”

“Dieu est peut-étre de ton côte?”

“Ce sera une nouvelle surprise”

“Monsieur, vousparlezFrancais?”

“Oui Monsieur!”

“Alors, que Dieu soit avec toi”.

Nadat hulle vertrek het, vra Bill vir Kris wat die Fransman alles gesê het.

“Hy sê ons is gelukkig om ongeskonde deur Mali te kom, met al die moeilikheid daar. Daar is blykbaar Suid-Afrikaners wat al vir bykans vyf jaar daar toegesluit is – hy sê dit nie, maar ek weet daarvan. Hy sê God moet aan ons kant wees en hy hoop dit hou so aan.”

“Ja, ek hoop ook so.”

Die hele natuur het vanaf Mali tot hier heeltemal verander. Daar is ‘n geleidelike, maar definitiewe oorgang vanaf sandwoestyn na savannaveld. Steeds is daar die pokmerke van swaarkaliber masjiengeweervuur teen die huise en geboue se mure. Plek-plek is uitgebrande murasies wat nog nie herbou is nie. Ten spyte daarvan, is die heropbou van die land duidelik sigbaar.

“As die hele Ivoorkus so is, moet ek hier kom aftree.”

“As jy hierdie rit oorleef en jou eie land se burgeroorlog?”

“Dis soos jy daar sê.”

Anders as Algerië en Mali se grootste deel, is die Ivoorkus se klimaat heeltemal verskillend en daar is selfs tropiese reënwoude na die Westekant. Hulle ry ook heelwat stadiger, om die rustigheid, natuurskoon en vriendeliker mense te waardeer. Niemand weet wat volgende op hulle wag nie.

*

“Dis hoogs ironies,” dink Bella. “Eers het Max na my kom soek, en nou soek ek hom!”

Natuurlik is daar geweldige groot verskille. Max is ‘n man, en is daarom nie so ‘n groot versoeking vir seksuele skoorsoekers nie, aangesien die meeste mense dink vroue is weerloos; hy het min of meer geweet waar om vir Bella te kry, die geweld in die land was nog nie so intens nie, en behalwe dat Bella beseer was, was sy nie in lewensgevaar nie.

Nou wonder sy of sy die regte besluit geneem het. Sy erken teenoor haarself dat dit baie impulsief was, dat sy nie die moontlike gevolge in ag geneem het nie, dat haar hart grootliks die deurslaggewende besluit geneem het en nie haar verstand nie. Sy kan nog omdraai en haal haar voet effens van die versneller af met die gedagte, maar skud haar kop teen die impuls en ry aan.

Hoe kon sy hierdie hele affêre gekeer het? Ja, sy weet nou – sy moes bloot vir hom laat blyk het dat hy die man in haar lewe is. Mans is so eenvoudig, maar terselfdertyd erg kompleks. Hulle dink hulle is sterk, maar is emosioneel baie meer kwesbaar. Miskien die manlike ego…ja dit moet iets daarmee te doene hê.

Dit het haar ‘n wyle geneem om die groot, Amerikaanse bakkie gewoond te raak. Die ding is breed en swaar, met die lang bank groot genoeg om al haar bagasie te vat en die kos op die vloer aan die passasierskant.

Sy kom vroeg agter dat die ou groot vierspoed New Process 465 ratkas se eerste rat eintlik onnodig is vir normaalweg ry en sal sekerlik handig inkom teen steil opdraandes en as sy iets moet druk of sleep, maar nie nodig is vir alledaagse gebruik nie. Die lang rathefboom vat ook om aan gewoond te raak, net soos die agtsilinder diesel. Dit het baie wringkrag, maar relatief min kilowatt vir die grootte van die enjinverplasing.

Sy kyk na die lang rathefboom langs die gewone een en aanvaar dis die oordrakas. Sy kyk vir ‘n paar sekondes weg van die pad af en sien die ding is sò gemerk dat die plek waar hy nou staan tweewieldryf hoogstrek is, reg agtertoe vierwieldryf en as sy reg verstaan, terug vorentoe, verby twee-hoog is neutraal en dan vierwiel laag heel voor.

Die vering is heel goed en die stuur is kragondersteun. Die ou Chevrolet is swaar en voel onstuitbaar. Skielik wens sy sy het eerder so ‘n ding gekoop as haar Toyota.

Bella maak op die ingewing van die oomblik die paneelkissie oop en tot haar verbasing lê daar ‘n semi-outomatiese pistool en twee pakkies nege millimeter rondtes in. Het oom Hartmann dit daar vergeet, of het hy dit bewustelik daar vir haar gesit?

*

Indien Max alleen was, sou hy sekerlik omgedraai en teruggegaan het. Hy sou sy trots gesluk het, vir Werner om verskoning gevra het, net om naby Bella te wees.

Hy onthou sy oupa het eenmaal sy knipmes laat wegraak en was erg hartseer daaroor. Die kinders het vir hom ‘n ander een, baie beter en van goeie gehalte, gekoop. Tog het hy aangehou soek na die ou een – in die banke, onder kaste, in die kar se binneruim, orals. Max was nog klein, maar hy onthou dit. Hy het sy oupa gevra waarom doen hy dit; is die nuwe mes nie beter nie? Oupa het ‘n rukkie oor die antwoord getob, voordat hy geantwoord het:

“Seun, ek het daardie ou mes vir baie jare gedra. Ek het dit soggens in my sak gesit, deur die dag gebruik, lemoene geskil, biltong gesny, tou afgesny, selfs my naels daarmee skoongemaak, gereeld skerp geslyp. Hy het reg in my hand gepas en ek was goed gewoond aan hom. Ek het nooit veel aan die ding gedink nie, totdat hy weg was. Toe besef ek eers hoe geheg ek aan hom geraak het. Ja, hierdie nuwe een is beter, bly langer skerp, alles, maar dis nie my ou mes nie. Jy sal nog sien, dis dieselfde met ‘n mens waarvoor jy lief is, of dit nou ‘n familielid, ‘n vriend of jou vrou of meisie is. Eers as daardie een weg is, sal jy weet hoe belangrik hy of sy vir jou is.”

Hy is nog diep in gedagte toe hy die kar langs die pad raaksien. Dit staan langs die pad, baie skuins, asof dit enige oomblik kan omrol op die sy. Versigtig vir ‘n lokval, hou hy sowat ‘n honderd meter duskant stil, klim uit en roep:

“Hallo! Is daar enigiemand?”

Vir ‘n lang minuut is daar geen beweging nie en hy hy wil terug in die Isuzu klim, maar dan is daar iemand wat sy arms bokant sy kop swaai. Max is steeds skrikkerig.

“Kan ek help, is daar iets fout?”

“Ja, man, asseblief!”

Die man kom nader en hou sy hande wyd van sy lyf af, dat hulle kan sien hy het nie ‘n wapen nie. Tien meter van Max af gaan staan hy.

“My naam is Natie Peens. Ek het in die nattigheid gegely en die kar het van die pad afgery. Ons kan nie uit kom nie.”

“Wie is ‘ons’?”

“Ek. my vrou en ons drie kinders. Ons is ongewapen en is baie bang dat iemand wat ons wil seermaak, hier sal aankom. Ek bid dat ons julle kan vertrou.”

“Julle kan. As ons julle uitkry, wat gaan julle doen?”

“Ons gaan aanhou ry tot ons petrol op is, of tot ons iewers kom waar ons veilig is.”

“Waar vanaf kom julle?”

“Perdekop. Dis ‘n klein dorpie naby…”

“Dis okay. Ek weet waar dit is.”

Max ry nader, met die ander twee voertuie op sy hakke. Die man loop voor hulle uit na sy kar toe. Dis ‘n ouerige Volkswagen Polo en die linkerwiele het in ‘n skerp, maar vlak sloot beland. Die voertuig is belaai met bagasie, kos, beddegoed en water.

Sodra Max stilhou roep die man na sy familie, wat uit die lang grasse, sowat dertig meter van die pad af, gehurk sit en skuil. Die kindertjies is nog klein, met groot, skrikkerige oë. Die vrou is kort, bietjie oorgewig, maar met vriendelike, groot bruin oë. Dis duidelik waar die kinders hulle gene vandaan kry.

“My vrou, Bettie en hierdie drietjies is Basie, Mieta en Ria.”

Na ‘n kwartier se gesukkel is die kar weer veilig op die pad en die gesin ewe veilig agter die deure.

“Julle kan saamkom as julle wil.”

“Waar gaan julle heen?”

“Orals. Nêrens. Ons kom van Eendragvallei af. Wanneer ons genoeg mense het wat saam wil gaan, sal ons teruggaan.”