BROKKIES UIT DIE BOEK: DARIUS PRINS – STAATSVYAND (5)

Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)

Steenkampskraal is so 70km vanaf Vanrhynsdorp. Daar was 'n storie van geoloë wat met 'n klein vliegtuig opnames langs die Weskus gedoen het glo vir water en olie/gas. Die toerusting aan boord kon glo radioaktiwiteit opspoor.

Toe hulle oor Vanrhynsdorp vlieg was die radioaktiwiteit glo hemelhoog. Hulle het geland en na Vanrhynsdorp gegaan en almal op hol gejaag. Hulle wou dadelik die dorp ontruim. Die inwoners het vir hulle gelag en gesê hulle weet daarvan. Dit is hoekom kanker gevalle so hoog was toe die mense nog boorgatwater gedrink het.

Hulle kry nou water uit die Laer Olifantsrivier besproeiingskema. Die water word vanaf Vredendal na Vanrhynsdorp gepomp.

Radioaktiwiteit kan glo in graniet ontstaan en Vanrhynsdorp het baie graniet en marmer.

*

“Gaan jy regtig weer met die Jeep ry?”

“Ja, ek hou van hom en ek vertrou hom, so waarom nie?”

“Want dit is baie honderde myle van hier af. Luister, ons het hier in een van ons agtergeblewe makkers se garage ‘n baie mooi ding gekry wat gemakliker gaan wees, hy het ‘n klankstelsel in, lugreëling, vensters wat kan toemaak, raas nie baie nie en ons het hom klaar vir ‘n toetsrit gevat. Baie indrukwekkend. Die sleutel het aan die garage se binnedeur gehang, asof iemand dit in ‘n groot haas wil gebruik.”

Koos loop na sy erf toe, maak die hek oop – nadat hy twee slotte ‘n ketting en ‘n hefboom oopgesluit het – en loop binne. ‘n Groen-grys Porsche Cayenne staan onder een van die afdakke. Die ding is nie gelig nie, maar die bande is vervang met nuwe Coopers Discoverer, effens groter as die oorspronklike pad-georiënteerde bande.

“Baie mooi!”

“Ons het hier ander kant by Saul se Gat gaan ry en jy sal nie glo waar die kar orals kan uitklim nie. Moeiteloos en met geringe wielspin.”

“Kan ek inklim?”

“Natuurlik. Gaan voel hom maar.”

Die voertuig vat met ‘n gedempte brul, soos net ‘n verfynde V8 uit Duitsland maar kan doen. Wanneer Darius by die hek uit is, ry hy vir ‘n ent stadig, net om die gevoel van die voertuig te kry en as hy by ‘n stuk gelyk pad kom, met minimum slaggate, gee hy hom bietjie vet. Dis asof die kar net moeiteloos voortsnel, asof daar nie ‘n einde aan die krag is nie.

Die spoedhobbels voel asof hulle gelykgemaak is. Hy ry ‘n ent teen die berg op, met ‘n swak onderhoude grondpad, waar die plasse water nog lê na die laaste storm. Die pad is nie net verwaarloos nie, maar ongelyk en ‘n skuins erosiesloot loop op ‘n plek oor die pad. Darius huiwer effens en ry dan stadig oor. Die elektroniese wielbeheerstelsel suig elke beweging van die onderstel op, en hy ry deur asof dit nie bestaan nie.

Half onwillig draai hy om, ry terug tot waar Koos en van die ander bure nou staan en wag op sy reaksie. Darius besef dat daar iets meer as net besonders aan die groep mense is. Hulle het die afgelope tyd nader aan mekaar gekom as wat die deursnit familie ervaar. Hy wens dit was nog altyd so. Waarom moet mense wag by begrafnisse, ernstige siekbeddens of ander trauma om mekaar te vind?

“So, wat dink jy van die kar?”

“Koos, dis seker die mees besondere voertuig waarmee ek ooit gery het. Gemaklik, bekwaam, in beheer en onstuitbaar, of so voel dit vir my.”

“En?”

“En ek gaan eerder met my Jeep ry.”

*

Terwyl die mense besig is om voertuie te pak vir lang pad, kom een van die tienerseuns aangeloop met ‘n A-raam trekstang, wat hy onder in die enkelkajuit Land Cruiser sit.

“En dit?”

“Oom Koos, as daardie Jeep breek of gaan staan, sal ons hom moet insleep. As die oom moeg word, gaan hy dalk op ‘n ander plek wil ry en ek gaan nie die een wees wat hom terug bestuur nie.”

“Nee, wat Alwyn. As die ding nie verder kan ry nie, los ons hom net daar.”

“Met daardie ou hardnekkige oom? Wie gaan hom dit vertel?”

Dis so 1650 kilometer na Steenkampkraal. Die gewone pad loop met die N1 tot in Pretoria, en daarvandaan Vryburg, Kuruman, Kathu, Olifantshoek, Upington, Kakamas, Pofadder, tot waar dit by die N7 aansluit. Daarna net ‘n kort entjie, tot naby Vredendal. Dit kan enigiets van twee na drie dae neem onder gewone omstandighede, maar nou kan dit ‘n week of meer duur net om daar te kom. Daarna weer terug.

Die omgewing word gefynkam vir petrol en diesel, wat hulle uit verlate of beskadigde voertuie tap, en uiteindelik kry hulle langs Peet Viviers se stoor, net ‘n entjie uit die dorp, ‘n hele 10 000 liter tenk diesel. Behalwe die Jeep, neem al die ander voertuie, die Land Cruiser, ‘n Toyota Fortuner en ‘n ouerige, maar goed-opgepaste 2002 model Nissan Patrol sportnuts almal diesel. Die Nissan het ‘n groot langafstand tenk in en hou altesame meer as 200 liter diesel. Jerriekanne en selfs plastiekhouers word volgemaak en versigtig verpak.

Die gevoel onder die mense is baie gemeng, met die jongeres wat uitsien na die avontuur, die grootmense wat die gevare voorsien en die ouer mense wat besef dis belangrik om te gaan, maar in wese baie opsien na die rit.

“Voor ons ry, moet ons besef dit gaan dalk net ‘n pad vol gevare en hindernisse wees. Ons gaan heel moontlik padblokkades kry, soos ek laasweek ervaar het, of informele, kwaai mense wat ons gaan probeer beroof. Ek dink ook die pad kan hier en daar onbegaanbaar wees en ons sal deur die veld moet ry. Dit bekommer my nie, maar die versperrings wel. Ons moet ‘n manier kry om daardeur te kom.”

“Wat stel jy voor?”

“Ons gaan moontlik goed moet wegstoot en hier en daar mag dit selfs gebeur dat ons ons pad moet oopskiet om deur te kom. Die Nissan is die swaarste van al ons karre. Ek dink ons moet die voorste buffer sterker maak, miskien bietjie skuins na die kante toe om goed te kan wegstoot. Aan die agterkant moet ons ‘n plat stuk staal vassweis, en een op dieselfde hoogte voor aan die Land Cruiser. As die goed in die pad te swaar is, kan die Cruiser die Nissan daardeur stoot.”

“Al die voorbereidings waarvan jy praat gaan ons ‘n dag of twee kos.”

“Skeermes, ek is seker hulle gaan nie die myn toemaak voor dan nie.”

“En wanneer ons die pad moet oop skiet?”

“Dan ry ek voor.”

“Jy moet onthou dat ons die gate in die Jeep gesien het – die een agter-in en die een deur die windskerm se raam.”

“En?”

“En nie jy of die Jeep is koeëlvas nie. Onthou dit tog.”

*

Een van die groot gevare waarmee ‘n mens mee te kampe het wanneer dinge abnormaal word, is die feit dat medisyne beperk is en dat ‘n wond of siekte wat normaalweg maklik gesond word, of onder beheer geplaas kan word, nie meer iets klein is nie. Veral water wat besoedel is, kan groot gevaar inhou en selfs in sekere gevalle tot die dood lei, soos die mense in Hammanskraal ‘n paar maande gelede agtergekom het.

Koos het gedurende die nag siek geword; aanvanklik was dit net ‘n seer maag, maar die diarree het erg geword en hy het ontwater. Later is die maagsap bloederig. Hoofpyn, lyfseer, koors.

*

“Hoe gaan dit met Koos?”

“Swak, maar Ockie glo hy sal dit maak. Hy kan egter definitief nie saamgaan nie en ons kan nie wag tot hy heeltemal gesond is nie.”

“Dis jammer. Hy het nogal opgewonde geklink.”

“Kom ons keer terug na ons gesprek. Arno, as ek jou mooi verstaan, was die ANC nooit bestem om te slaag nie en so ook nie die Nuwe Suid-Afrika nie. Die reënboognasie van Mandela was dus net ‘n interim stadium in die verloop van sake?”

“Dit is hoe ek dit het. Natuurlik kan ek ook verkeerd wees. Die probleem met die mensdom is dat dit selde eerlik is. Daar is soveel versteekte agendas, dat ‘n mens sukkel om die waarheid los te knoop van al die leuens wat daarom geweef is.”

“Intussen kan ons vir seker weet dat Kommunisme nog nooit voorspoed gebring het nie, ten minste nie vir die gewone jan rap en sy maat nie. Ons weet dat die vervangingspolitiek, waar een ras of stam nie deur integrasie vervang word, nie werk nie en dat gedwonge identiteitsopgawe nog minder werk. Maar in ons geval het dit ‘n baie slegte uitwerking gehad en ons sal die gevolge nie net moet aanspreek nie, maar mettertyd teenwerk.”

“Sielkundige oorlogvoering,” sê Darius. “Die Engelse praat van ‘psy-ops’. Dis ‘n wetenskap op sy eie. En dis nie heeltemal ‘n nuwe ding nie. Wanneer ons die geskiedenis gaan oplees, selfs in die tyd voor Christus, was daar soveel mense wat met ‘n gekonkel die konings en natuurlik die burgers mislei het. Dink maar aan die verhaal van Ester in die Bybel, as ‘n goeie voorbeeld. Die valse profete, die koningsraadgewers, selfs die houvroue en byvroue se aandeel. Waarom dink ons dit sal in ons tyd anders wees? En ja, ek dink ook die ANC was bloot ‘n stuk gereedskap in ‘n baie ingewikkelde proses. Ek dink ook nie ons sal die hele waarheid agterkom nie, maar as ons net ‘n stukkie daarvan weet, kan dit al help.”

“Soos die Bybel sê: ‘Die waarheid sal ons vrymaak’.”

“En soos Pontius Pilatus gesê het: ‘Wat is die waarheid?’”

“Miskien as ons weet wat by Steenkampskraal aangaan, kan ons ten minste een draadjie van die raaisel oplos. Dis soos Churchill oor Rusland gesê het: ‘I cannot forecast to you the action of Russia. It is a riddelwraped in a mystery inside an enigma; but perhaps there is a key.’”

“Hoe onthou jy al hierdie dinge, Arno?”

“Te veel Chappies geëet en die agterkant van die papiertjie gelees toe ek ‘n kind was.”

“Wat nou?”

“My kinders het altyd gepraat van nuttelose inligting. Ek dink nie daar is werklik so iets nie. Net nuttelose oningeligtheid.”