“Is julle nie lus om te gaan bene rek nie? Ons sit nou al ure lank en daar is sekerlik iets beter om te doen as om na ‘n ouer man se stories te luister?”
“Ja, kom ons gaan maak koffie en kry iets om te eet, loop ‘n draai en dan kom ons weer laatmiddag, so teen vyfuur terug. Ek wil nog baie dinge weet.”
Soms is die voorbereiding van ‘n ete byna belangriker as die kos self. Die kulinêre behendigheid van vroue sowel as mans, die keurigheid en geurigheid is belangrik en meer as net dikwels, die manier waarop dit voorgesit word. Vandag is dit nie belangrik nie en die kos is nie veel meer as geblikte worsies en boontjies in tamatiesous (cowboy-boontjies), gister se oorskiet brood en elkeen met ‘n beker soet tee. Die koffie begin nou skaarser word.
Die kos is skaars afgesluk, of Maya kom aan die woord.
“Arno en Skeermes, ek is dankbaar vir julle insig en die manier waarop julle die dinge met ons deel, maar dit antwoord nie heeltemal my vraag nie.”
“Wat is jou vraag?”
“Kyk, ek verstaan dat hierdie ANC-regering was van die begin af gedoem, of moet ek eerder sê bestem om te misluk, maar waarom? Kon die mense wat so ’n diep en ernstige drang het om ons grondstowwe, ligging, seeroete, wat ookal te hê dit nie maar eenvoudiger gedoen het nie? Waarom hierdie uitgebreide plan?”
“Ek het al baie daaroor gedink, Maya. Die antwoord is dalk eenvoudiger as wat ek en jy dink, maar ons moet onthou daar was ‘n tyd in die verre verlede toe een ryk of land bloot ‘n ander kon oorneem en dit verorber. Dis ook nie so lank gelede nie, toe die koloniale magte, veral Engeland, maar ook ander Europese magte, bloot ‘n plek binne geval en die mense met geweld aan hulle wil onderwerp het. Engeland het dit juis hier by ons gedoen en in ‘n mate Duitsland met die destydse Duitswes-Afrika, of soos ons dit nou ken, Namibië. Die wêreldmening het egter nou belangriker geword, veral met die opkoms van die eksistensialisme, waar daar ‘n baie groter klem op menseregte en menswaardigheid gelê word, ten regte of ten onregte. Daarmee bedoel ek dat dit moontlik die eerlike bedoeling is, maar daar kan net sowel ‘n onderliggende een wees, wat meer skelm en slu is. Ek begin al meer dink dat alle wêreld-politieke besluite bloot ‘n rookskerm is vir iets baie meer sinister.”
“So?”
“Met ander woorde niemand kan meer sommer net ‘n land inval en die hulpbronne met mag oorneem nie. Of jy nou dink dit was die waarheid of nie, maar dink aan die nege-elf aanvalle op die Wêreld-handelsentrum. Ek glo dit was ‘n intrige wat beplan is, bloot om ‘n verskoning te hê om die Irakse olievelde te gaan verower. Dit het met mooi woorde bekend gestaan as ‘Operasie Irak Vryheid’, maar was niks anders nie as ‘n nieu-koloniale inval nie. Ons kan ook Viëtnam, Kambodië, Sirië, en meer onlangs, Gaza, moontlik onder hierdie kam skeer.
“Suid-Afrika het na 1994 die wêreldsimbool van vrede, harmonie en die oorgang van ‘n onmenslike stelsel na ‘n homogene, samehorige samelewing geword. die reënboognasie van Nelson Mandela, die held van die struggle. Nou ja, ons weet dis in werklikheid glad nie die waarheid nie, maar voorkoms is belangriker as feite in ons moderne samelewing. Die uiteinde is dat die ANC-regering kroonwild geword het.
“Maar daar is steeds iets by ons wat belangrik is vir dié soorte van wêreldmagte.”
“Ja. So, ‘n ander benadering moet gevolg word. Iets meer as net onderduims, maar goed genoeg sodat niemand vinger kan wys nie en dat die werklike rede nog onder die kombers bly.”
“Het Trump, indien dit hy is wat daar agter sit, nie nou genoeg rede nie?”
“Ja, ek weet nie of dit hy is nie en of dit iemand is wat minder ooglopend werk nie, maar die uiteinde is dieselfde. Hoe maak jy om ‘n haas te vang?”
“Jy sit agter ‘n bos en maak ‘n geluid soos ‘n blaarslaai of koolkop?”
“Jy trek hom aan sy ore uit die hoed.”
*
Darius is skaars op die pad of ‘n erge donderstorm pak saam. Hy het net genoeg tyd om stil te hou en sy reënklere aan te trek of die weerlig speel fotograaf voor hom in die pad. Die windskermveërs, wat byna as ‘n soort nagedagtenis aangebring is, het nie heeltemal die gewenste uitwerking teen die reën nie. Die Bosveld kan baie maklik uitdroog, maar kan ook vinnig groot storms ervaar.
Die feit dat die Jeep nie ‘n dak het nie en dat Darius ‘n lang man is, maak dat hy laer moet afsak in die sitplek, maar steeds val die reën met vlae in sy gesig en hy moet kort-kort sy oë uitvee. Sig word beperk tot minder as sestig meter en hy ry heelwat stadiger. Miskien was al die faktore sy behoud, want naby Giyani ry hy in ‘n informele, maar baie sterk, mensgemaakte hindernis.
Met die swaar reën is sy sig beperk en hy is feitlik by die versperring voordat hy hulle sien. Die geluk by die ongeluk is dat die geraas van die vallende water ook die enjinklank van die Jeep gedemp het. Hoe ook al, hy is nie ver van hulle af nie as hy hulle kan gewaar. Daar is ‘n Mamba, wat hulle op die een of ander manne weer aan die gang gekry het. Weerskante daarvan staan twee nuwerige Land Cruiser bakkies dwars geparkeer. Daar is geen manier by dit verby nie.
Die eerste skote klap sodra hy binne sig kom. Niemand wat hom voorkeer, wys om af te trek nie, nie eens ‘n groet, “hoe gaan dit met jou ma”, of “hoeveel suiker vat jy in jou tee” nie. Nee, die eerste koeëlgat verskyn aan die bokant van die windskerm se raam sonder waarskuwing. Die koeël het effens afgeskram en pluk sy boshoed van sy kop af, soos so lank gelede in die lokasie.
Darius dink nie, maar draai instinktief van die teeroppervlak af. Hy kan nie sien wat aan die kante is nie en daar is nie eens kans om te hoop vir iets goed nie. Hy is oor ‘n lae wal langs die pad en direk daarna teen ‘n baie skuins helling, waar die pad opgevul is. Weer oor ‘n walletjie, hierdie keer effens hoër en hy hoop die onafhanklike Isuzu-suspensie voor en die kronkelvere aan die agterkant hou van die mishandeling wat hy onwillekeurig daarop uitdeel.
Die keerwal by die pad is deel van ‘n ou grond damwal en hy bevind hom in die dam, wat tot vanoggend nog droog was, maar nou, na die reën, ‘n pap, modderige oppervlak het. Uiteraard was die voertuig nog in tweewiel dryf en hy voel hoe die momentum verminder, maar die enjinrewolusies konstant hoog bly en, soos soveel maal vantevore, ervaar hy die sinkende gevoel van ‘n voertuig wat in modder vasval.
Hy het nou twee vrese waaraan hy aandag moet gee. Aan die een kant die gevaar om heeltemal die voertuig in die modder te verloor en aan die ander kant die gevaar om van agter af raakgeskiet te word. Hy moet vinnig ‘n besluit neem, spring uit die stilstaande Jeep en beweeg vorentoe om die vryloop nawe te sluit. Weer terug in die sitplek, skakel vierwieldryf deur die hefboom na links te beweeg en dan agtertoe vir laestrek.
Darius het nog nooit die sin daarin gesien om ‘n voertuig te hoog te lig nie, aangesien dit die swaartekrag-ekwilibrium beïnvloed, maar hy is dankbaar dat die groot, modderbande tog onder die bakwerk inpas. “Inpas” is ook nie heeltemal die regte woord nie, want die wiele hang ‘n paar sentimeter langs die kante uit. Dit veroorsaak dat die dele wat uithang hoë suile modder die lug inskiet, waarvan ‘n beduidende gedeelte in die kar val. Hy skakel die agterste ewenaargrendel in en voel hoe die voertuig vorentoe beur.
Skielik is dit asof dit uit die modder klim en soos ‘n waterspinnekop daaroor begin hardloop. Was dit nie vir die feit dat die koeëls nou rondom hom in die water en modder dans nie, sou die gevoel opwindend wees. Of miskien dra dit juis daartoe by, hy weet nie.
Die reën bedaar genoeg dat hy die grondwal, die anderkantse dam s’n, voor hom kan sien en daaroor ry. Met die wal hoog genoeg dat hy beskut is teen die aankomende geweervuur, gryp hy die R1 agter die sitplek, en terwyl hy opkruip na die bokant van die wal, span hy dit.
Ses of sewe van die manne is besig om deur die modderwater na hom toe te sloeg, gewere hoog gehou teen die bors en, al is hulle bewegings vinnig, hou die modder hulle terug.
Hy lig die beskermingsklappies van die teleskoop se lense af, soek teikens en as dit duidelik in die kruishare is, trek hy los.
Hy hoor ‘n bekende gefluit en besef ‘n 60mm mortier is in werking gestel, die bomme val ver en wyd, maar hy weet dis net ‘n kwessie van tyd, voordat een te naby kom vir gemak en veiligheid.
Darius seil agteruit by die wal af, klim in die Jeep en jaag verder, waar hy vyftig meter verder teen ‘n volgende skuins wal uitjaag, nie reguit soos hy gewoonlik sou doen nie, maar skuins met die helling saam. Onder normale omstandighede sou hy dit nie gewaag het nie en sonder die spoed en momentum van die fris enjin, sou die Jeep op sy sy geval het.
Op die teeroppervlak gekom, skakel hy uit vierwieldryf. Die twee Land Cruisers kom aangejaag, waar hulle net na die blokkade om die draai kon ry na sy kant toe. Die twee swaar bakkies kan egter nie byhou by die Jeep nie, wat nou met ‘n gemaal van wiele die laaste modder afskud en vinnig spoed opbou.
Voor is ‘n skerp draai na links en Darius ry daarom. Die twee Cruisers is nou buite sig en agtergelaat, maar hy hou stil, wag en as die voorste een net meer as twee honderd meter van hom is, skiet hy vinnige skote deur die verkoeler en windskerm. Die drywer slaan remme aan en die voertuig aan sy agterkant jaag in hom vas.
Darius skiet die magasyn leeg op die voertuie en manne, laai ‘n vars een en klim terug in die Jeep. Sy hande bewe nie eens nie.
Hy het homself nou as staatsvyand verklaar. Is daar nog ‘n staat?