Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
HERE, ek bid nie vir totale kalmte van gees of selfs dat al my swaarkry moet ophou nie want ek weet dat daar in hierdie wêreld altyd pyn en probleme sal wees. Maar ek bid dat u Gees, u liefde en genade my sal vul met soveel krag dat ek enigiets wat oor my pad kom sal kan geniet óf verdra.
DIE AARDE HET GEBEWE! (2)
THELMA CILLIE
Die verhaal van Suid-Afrika se grootste aardbewing ooit in 1969 in die Ceresgebied.
Lees reeks by Die aarde het gebewe!
Ons huise wat deur ons lewe heen ons vesting en skuiling was, het meteens 'n bedreiging geword. Ons wou dit in 'n doodse vrees nie na binne waag nie want hoe sou dit daar lyk? Die mure kon dalk omval – alles was miskien gebreek. Ons het veiliger hier buite gevoel maar ons kon nog nie dink nie. Ons was verslae en ons denke vertraag of heeltemal verstomp.
Die kinders wou weet wat aangaan, en hoe sou ons weet wat om te antwoord?
Andrew, 11 jaar oud, het aanhoudend gevra: "Waarom kom die grootmense nie bymekaar en bid om leiding nie?" en in hierdie woorde het hy ons almal se behoefte uitgespreek. Hy het hierdie nag in sy kinderlike onskuld en geloof twee keer na my toe gekom en hardop gebid vir genade en leiding.
Terwyl ons nog vreesbevange beraadslaag wat ons te doen staan, en wat ons getref het, kom 'n motor teen 'n hoë spoed die werf ingejaag. Dit was ons buurman, Basie. "Net twee koppies petrol ou Malan jong. Ek wil wegkom en my motor is leeg!" stamel hy, verskriklik bang en net so onseker soos ons self. "Ons kan nie hier bly nie," sê hy, "dit is lawa wat daar van die berge afkom."
"Kyk, Basie," antwoord ek, en ek probeer gerusstellend praat, "ons kan vir jou petrol gee maar hier kan ons darem sien dat ons redelik veilig is... gestel jy ry nou blindlings 'n rigting in met nog groter gevare na vore? Wat dan? Kom ons bly hier bymekaar jong, en ons drink elkeen 'n bietjie brandewynwater."
Malan slaag daarin om hulle te oortuig dat dit geen lawa is wat van die berge kom nie maar vure is wat so brand. Basie se vrou Soekie, en die kinders klim toe uit en Malan waag dit vir die soveelste keer na binne om vir ons elkeen 'n bekertjie en 'n versterking te gaan haal.
Na die drankie het ons ergste hartkloppings bedaar maar die vrees het soos 'n monster voor ons gestaan en ons mageloos gelaat.
Meteens dink ons aan Soekie se mammie by die Ouetehuis, aan my skoonsuster Lila, Oom Pierre, Tant Bes..., nou begin ons verstande eindelik rigting kry en ons weet iemand moet dadelik dorp toe gaan – onsself woon sowat 'n myl uit die dorp – om te kyk wat ons kan doen vir die hulpeloses en die mense sonder enige vervoer. Ons het nou ook daaraan gedink dat albei ons predikante nie tuis was om leiding te neem nie – hulle was albei in Pretoria vir 'n kongres.
Malan en Basie is na die Ouetehuis om Soekie se mammie asook vir tannie Nettie Conradie te gaan haal en hulle plaastoe te bring. Foeitog! Hoe vreeslik bang, verslae en hartseer was hulle. Gou het die mans beddens en stoele uit die huis gesleep en ons het die tannies daarop versorg.
Johan, ons oudste seun, en André, Basie se seun, het hout bymekaar gemaak en 'n groot vuur in 'n drom gemaak, want skielik het ons besef dat dit bitter koud is...
Malan het gesê ons moet koffie en tee maak en vir die oues van dae by Tehuis Maudie Kriel ook neem. Gou is potte water op die dromme gekook want die krag was onderbreek en alles stikdonker. Intussen het die aarde nog aanhoudend en onheilspellend gedreun, en ons het angstig en bevrees gewonder wanneer dit tog sal einde kry.
Ons het 'n emmer tee en 'n emmer koffie na die tehuis geneem – wat 'n droewige, hartroerende toneeltjie! Die ou mense het verwese in groepies op die gras rondgesit; matrasse is uitgesleep sodat diegene wat moeilik beweeg daarop gehelp kon word. Eenkant het die skoolbus gestaan wat die vriendelike eienaar daar getrek het sodat sommige bejaardes daarin kon sit om die ergste koue af te weer.
Mej Bettie van der Merwe, die een matrone, en ek het dit na die kombuis gewaag om nog koppieste te gaan haal om die drinkgoed te bedien. Die kombuis was in 'n verskriklike toestand. Breekgoed het gesaai oor die vloer gelê en in die lig van 'n flou flitsie het alles nog meer droewig gelyk. Solank ons besig was om die tee te bedien het Malan vir Lila en haar dogter Lizette gaan haal en plaastoe geneem.
Die tee kon ons nie vinnig genoeg bedien kry nie want al die ou mense het 'n ontsettende behoefte aan 'n soetigheidjie gehad na die angsvolle oomblikke van die aardbewing. Mnr Japie van Eeden het 'n bottel brandewyn wat hy by Faan Conradie gekry het, gebring en selfs die grootste afskaffer het nou 'n behoefte aan 'n snapsie gehad. Ek onthou dat een van ons bekende sakemanne wat ook daar by Tehuis Maudie Kriel opgedaag het, met sy oë op die berge uitgeroep het: "Hoe nietig is die mens, kyk, aanskou die handewerk van God!"
Nie lank nie of die benoudheid slaan op menige ou tannie se maag. Hoe tog nou gemaak? Die privaat is darem nou te ver en wie sê dit bewe nie weer erger as 'n mens dit binnetoe waag nie? Suster du Toit het egter gou 'n plan – ons sit die stelletjie sommer buite op die gras – dit is mos stikdonker! En ons help toe sommer almal so entjie weg.
Terwyl elkeen sy beurt neem staan 'n paar van ons met komberse om as skerm te dien – in sommige gevalle wou-wou die maan vol en helder op die sittendes se agterkwarte skyn en 'n glimlaggie kon nouliks bedwing word... Miskien moet ek darem noem dat net diegene wat teen daardie tyd nog nie 'n 'ongelukkie' oorgekom het nie, van die opelug-geriefie gebruik gemaak het!
Ek nader later twee dierbare ou tannies –twee susters. Ek probeer hulle ompraat om saam met my plaas toe te kom, maar nee, hulle wil nie. Ek soebat en praat mooi en verduidelik dat dit baie beter sal wees as hulle saam met my kom, want dan het die matrone ook nie so baie om die nag na om te sien nie – tot die hoogste woord uitkom: "Sien jong, ons het nou ook 'n ongelukkie oorgekom en nou wil ons eers maar wag tot dit ophou rittel sodat ons darem eers by die badkamer 'n draai kan gaan maak!"
Nou weer terug plaastoe. Oppad daarheen gaan Malan eers by Kleintjie aan; dieselfde skoonsus wat vroeër die aand die ruiker blomme gebring het. Ons vind haar in net so 'n verslae toestand as wat onsself was, en sy en haar seun Gielie kom saam met ons huistoe.
So sit ons hele klomp die nag om die vuur en wonder wanneer dit gaan lig word en wanneer die aarde gaan ophou dreun en bewe. Dit het gevoel of die aarde reg onder ons hol is, en of honderde reuse klippe besig is om daarin rond te rol. Hierdie gewaarwording het almal deur die ganse rampgebied ondervind.
Terwyl ons nog so dit kom Apie en sy gesin by ons aan. Hulle woon by ons op die plaas. Sy huis is geweldig beskadig en ook hulle bring die res van die nag by ons deur – nadat hulle gaan seker maak het dat hulle bekendes veilig is.
Ons maak aanmekaar koffie en drink dit net so swart met 'n bietjie brandewyn daarin. Ons bly mekaar moed inpraat en ons bly angstig aan die wonder.
Die brande in die berg is werklik 'n ontsettende gesig, en by die aanskouing van so 'n vreemde verskynsel is ons geloof maar klein en wankelrig. Selfs die kleinste kindertjies kan ons nie aan die slaap kry nie. Dit word verskriklik koud en ons draai maar nog komberse om ons. Intussen hoor ons aanmekaar hoe die motors die dorp uitjaag...
Teen twee-uur kom Hofmeyer en Bennie, twee van my broers uit Johannesburg, vir die begrafnis van ons moeder, by ons aan. Hulle het die dorp van Touwsrivier se kant binnegekom en is totaal verslae oor die gesig wat hulle begroet.
Vanaf Theronsberg-pas het hulle rye motors langs die pad gevind en mense wat in groepies staan en gesels; sommige met komberse om hulle, en sommige wat vure maak om die koue af te weer. Totaal verbysterd het hulle eers dorptoe gery om te gaan uitvind wat aangaan en daar van die aardbewing verneem.
Die hoofstraat het vol ruite gelê soos die besighede se winkelvensters tydens die ontsettende geweld net eenvoudig uitmekaar gespat het, Diegene wat daardie tyd op straat was, is teen die grond geslinger en hulle moes kruip-loop om hulle weg verder te vind.
Ons groepie het in die nag aangegroei en almal het bevrees gewonder wat die nuwe dag sal bring. Ek het later gehoor hoe Basie teenoor Soekie opmerk: "Jy weet ek het Thelma nog nooit sien brandewyn drink nie, maar vannag het ek haar al drie keer met 'n glas gesien!" Min het hy geweet dat ek elke keer net 'n slukkie geneem het om dit maar weer vir iemand anders aan te gee wat meer bewerig en bleek as ekself was! Ons was moeg en baie gedaan, maar niemand het dit reggekry om in die ongemaklike, sittende posisie in te sluimer nie – ons het ook nie durf slaap nie want ons vrees was veel groter as ons vaak!
Teen dagbreek het Alphonzo, my ander broer en sy familie, uit Johannesburg opgedaag. Hulle was verbaas om ons almal buite op 'n hopie te vind en kon glad nie verstaan waarom die hele werf vol motors staan nie! Die gebeure het hulle ook diep geskok.
Teen agtuur die oggend het die mans na die dorp gegaan om te kyk hoe dit daar lyk, en of daar enige moontlikheid is om brood in die hande te kry. By die enigste oop kafee het hulle sommer twaalf brode gekoop want hulle het besef dat, aangesien die dorp sonder krag en water was, ons dalk nie gou weer brood sou kry nie; en ons het 'n huis vol mense gehad.
Alle besighede was gesluit hierdie dag, en die polisie het al van die vorige aand af gehelp om al die stukkende geboue en winkelvensters te bewaak.
Vervolg...