Gedagtes vir elke dag
GEDAGTES VIR ELKE DAG
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
GROOTSTE MISDAADORGANISASIE IN SA...
...DIE S.A. POLISIE
“Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte...” (Rom.13:3)
Omdat God reg en geregtigheid liefhet, het Hy wette gegee en regspraak ingestel:
“Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag, dat jy kan lewe en die land in besit kan neem wat die Here jou God jou sal gee” (Deutr.16:20).
“Die Rots — volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; 'n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy” (Deutr:32:4).
“Doen reg aan die swakke en die wees; gee aan die ellendige en die arme sy reg. Red die swakke en behoeftige, bevry hulle uit die hand van die goddelose mense” (Ps.82:3,4).
God het by geleentheid vir Moses Tien Gebooie vir ʼn ordelike saambestaan gegee. Hierdie gebooie het nie net sonde baie duidelik omskryf nie, maar ook die gepaste straf vir oortreders voorgeskryf.
In die Bybelse tyd was daar geen polisiediens soos wat ons dit vandag ken nie. Daar was wel wagte wat op die stadsmure diens gedoen het en alarm moes maak as die vyand gewaar is:
“As daarenteen die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie...” (Eseg.33:6). Hulle was ongewapen..
Dan was daar ook die gewapende wagte:
“Ek het ek op die laagste plekke agter die muur, op die kaal plekke, manskappe opgestel — ek het die volk opgestel volgens hulle geslagte met hul swaarde, hul spiese en hul boë” (Neh.4:13).
Die eertydse regters het ook ʼn belangrike taak gehad:
“En oor 'n regsaak moet hulle optree om reg te spreek, volgens my verordeninge moet hulle dit uitoefen; en hulle moet my wette en my insettinge hou ......” (Eseg.44:24).
God het wetstoepassing aan mense toevertrou ten einde ʼn ordelike bestaan in ʼn gemeenskap te verkry. Rom.13 handel grootliks oor die onderwerping aan regeringsgesag wat net so op die polisiediens van toepassing is:
“Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; want hy is 'n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is 'n dienaar van God, 'n wreker om die een wat kwaad doen, te straf” (:3,4).
Wetstoepassers verrig ʼn goddelike opdrag en is in hierdie opsig dienaars van God wat booshede moet bekamp en ordelike bestaan verseker:
“Vreugde is dit vir die regverdige om reg te doen, maar 'n verskrikking vir die werkers van ongeregtigheid.” (Spr.21:15).
Bogenoemde beklemtoon hoe ernstig wet, orde en geregtigheid vir God is. Ons kan maar net dink hoe erg die straf op die huidige wetteloses in hierdie land gaan wees wanneer God dit gaan vergeld!
Polisielede, magistrate, landdroste, staatsaanklaers en talle administrasiepersoneel in die howe en polisiekantore maak nou geld uit korrupsie soos omkopery en die verdwyning van misdaadlêers en elke verskuilde gaping wat 'n christenmens nie eers aan sal dink nie–almal verskuilde troebel areas wat stuk-stuk aan die lig kom. Van hulle word selfs deur dwelmbase betaal om ʼn blinde oog na misdaad te draai. Al kry hulle groot salarisse, bly hulle omkoopbaar. Die egste van alles is dat hulle mekaar beskerm en oor kollegas se misdrywe swyg. Niemand wil ʼn fluitjieblaser wees nie. Dit kan hom op die kantlyn laat beland of sy lewe of sy gesteelde winste kos.
Wetsgehoorsame burgers se geduld met korrupte polisielede raak op. Hierdie kookpot van onheil berokken die land oneindige skade. Helen Zille het tereg gesê dat as Suid-Afrika wil herstel, daar by die polisiediens begin moet word. Maar eers sal daar by God begin moet word: as hierdie land gered moet word, sal al hierdie korrupte elemente eers uit die weg geruim moet word. ALMAL!