Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Alle mense moet sterf. Maar natuurlike oorsake klink meer aanvaarbaar as onnatuurlike oorsake. Die Afrikanervolk kan net so onnatuurlik uitsterf as waarvan Jesus in Luk 13 waarsku dat die res van die volk net so sal sterf soos dié wat reeds vermoor is as die volk hulle nie wil bekeer nie – dit is die voorwaarde. Die oproep tot bekering wat op dowe ore val maak 'n mens bang. Bid dat ons volk vandag sal terugkeer na ons God sodat ons nie almal onnatuurlik hoef te sterf nie!
DIE DOODSTRAF
Die mens is na die beeld van God geskape. Gevolglik is moord ’n vergryp teen God. Gen.9:6 gee die mees basiese uitspraak oor moord: “Hy wat die bloed van ’n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak”. Wie daarmee verskil, kritiseer uiteraard die Skrif. God motiveer self die doodstraf; iets wat geen ander godsdiens doen nie.
Om die beeld van God te vertoon, het God aan die mens lewe gegee. Net Hy het die reg om dit te neem. Job sê: “… Die Here het gegee en die Here het geneem; die Naam van die Here sy geloof!” (Job.1:21). Geen mens durf dit wegneem nie.
Die bepaling van Gen.9:6 is lank voor die ontstaan van Israel gegee wat sê dat God die doodstraf vir alle mense van alle tye gebied het. Toe Israel dit later as wetstoepassing aanvaar het, is dit slegs uitgebrei. Daar was 21 oortredings waarvoor die doodstraf opgelê kon word en in vier basiese groepe verdeel:
(i) misdade waar mense gesterf het
(ii) godsdienstige misdade
(iii) etiese misdade en
(iv) vormlike (seremoniële) misdade.
By misdade waar mense dood is, het die vergeldingsreg gegeld – soos wat jy aan ’n ander een doen, moet aan jou gedoen word; ’n oog vir ’n oog, ’n tand vir ’n tand en ’n lewe vir ’n lewe. Die Bybel eis dat moord vergeld moet word. Dis egter ’n taak wat God uitsluitlik aan die staat oplê. Dis nie vir enkelinge bedoel nie. Daar was destyds in Israel sekere plekke waar vermeende oortreders ’n regverdige verhoor kon verkry. Dis vrystede genoem. Indien die persoon wel aan moord skuldig was, is hy daarna tereggestel.
Mense wat destyds aan godsdienstige misdade soos Sataniese rituele skuldig was of selfs God gevloek het, is ook tereggestel. Israel moes weet dat God ’n heilige God was. Sy heiligheid moes nie bespot, geminag of belaster word nie.
Onder etiese misdade word die slaan of vloek van ouers aangeteken (Ex.21:15,17). So ook ʼn koppige seun wat aan drank verslaaf was en met wie geen huis te hou was nie (Deut.21:18-21). Hierdie misdade het ook verskeie vorms van verbode geslagsomgang ingesluit (Deut.22:13-30). God het aan Israel sekere heiligheidswette gegee om van die heidene te verskil. “En julle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees” (Ex.19:6).
Om heiden-elemente met die ware godsdiens te vermeng, het ook die doodstraf verdien. Lev.10:1,2 vertel van Nadab en Abihu, die seuns van Aaron, wat vreemde vuur (heidense reukwerk) geoffer het waarna God hulle met vuur uit die hemel verteer het. Sekere gevalle van die skending van die Sabbat kon met steniging gestraf word (Num.15:32-36). Alles was nodig om die heiligheid van God by Israel in te skerp.
Nêrens in die NT word die doodstraf ooit opgehef nie. Dit wat vir die OT gegeld het, het ook vir die NT gegeld. Die NT maak dit egter wel duidelik dat slegs die staat die doodstraf mag oplê en voltrek. Dis nie vir enkelinge beskore nie: Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte…. want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede, maar as jy kwaad dien, vrees dan, want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf” (Rom.13:3,4).
ʼn Eerbare regering skuld sy burgers ʼn goeie bestaan. Daarvoor moet dit wette instel en toepas. Ook die doodstraf. Dis nie liefdeloos en onmenslik soos wat onkundiges dit maak nie. Dis in lyn met die Skrif! En omdat God die staat opdrag gee om wet en orde te handhaaf, kan burgers van die staat eis/verwag om in hul basiese veiligheidsbehoeftes te voorsien. Sonder die doodstraf kan wet en orde nie gehandhaaf word nie. Oral waar dit in die wêreld afgeskaf is, het wetteloosheid oorhand toegeneem.
Paulus stel dit duidelik dat die staat sy regeermag van God ontvang en derhalwe ’n dienaar van Hom is. Wie dit nie gebruik nie, is ’n dienaar van Satan. Daar staan in Rom.13 geskryf dat die owerheid die swaard nie verniet dra nie. Dis die staat se goddelike plig om diegene wat die doodstraf verdien, toepaslik te straf. Wie dit nie doen nie, dien God nie.
’n Owerheid wat booswigte doeltreffend straf, is ’n instrument in God se hand deur namens Hom boosheid te bekamp. Niemand durf egter in persoonlike hoedanigheid wraak neem nie. Mense moet kan vergewe soos wat in die Onse Vader verwoord word. God het die alleenreg om te vergeld: “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here” (Rom.12:19). Dis egter elke mens se reg om hom teen aanvallers te verdedig. Hy het die lewe as gawe van God ontvang en dis gevolglik sy plig om dit op te pas. Indien hy in selfverdediging ’n aanvaller doodmaak, is hy nie aan moord skuldig nie. (Ex.21,22). “Indien ’n dief betrap word terwyl hy inbreek en hy word geslaan, sodat hy sterwe, sal daardeur geen bloedskuld ontstaan nie” (Ex.22:2).
God oefen sy wraak en vergelding deur gehoorsame owerhede uit. Daarom word die owerheid in Rom.13 ’n wreker genoem. Die doodstraf moet booswigte afskrik. Daarom is die doodstraf ’n beskermingsmaatreël wat die samelewing ten goede is. Owerhede moet mense rustig laat leef.
’n Eerbare owerheid sal sy burgers teen booswigte beskerm, die doodstraf oplê en vinnig voltrek. “Omdat die oordeel oor ’n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen” (Pred.8:11). Om moordenaars lang gevangenisstraf op te lê, is ʼn onreg. Hulle kan na vrylating weer moor, soos al dikwels gebeur het. Om vir baie lank deur die staat versorg te word is ook baie onbillik teenoor wetsgehoorsame belastingbetalers!
Baie mense sê dat die doodstraf nie ʼn afskrikmiddel vir misdaad is nie. Die Bybel sê wel so. Die doodstraf is glo barbaars en hoort nie in ’n beskawing tuis nie. Nee, as God self opdrag tot die doodstraf gee, hoe durf mense sê dat dit barbaars is?!
Dis ook onsinnig om moorde aan die invloed van bose samelewings toe te skryf. Dit is regerings wat hul goddelike plig versaak. ’n Regering wat God se Woord gehoorsaam en die doodstraf oplê, maak dit vir wetsgehoorsames veilig om in so ’n land te bly. Daardie regering is nie skuldig aan die bloed van onskuldiges wat daarna nog vloei nie. As ’n regering egter nie doelgerig teen misdadigers optree nie, is hulle aan die selfde misdaad aandadig (Deut.21:1-9).