Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
'n Mens moet nie jou kruis as 'n las beskou nie – dit is 'n skat wat jou hele lewe beïnvloed: dra dit, moenie dit sleep nie!
GESLAGS- VERANDERING
Homoseksuele persone is biologies normaal, maar nie sielkundig nie. Hulle glo dat hulle lede van die teenoorgestelde geslag is en per ongeluk in ’n verkeerde liggaam gebore is. Die meeste van hulle bly hul lewe lank so. Enkeles ondergaan ’n geslagsverandering-operasie. Is dit sonde? Wat sê die Bybel?
Die Bybel spreek dit nie direk aan nie omdat geslagsverandering destyds ondenkbaar was. Dit beteken egter nie dat mense vandag self daaroor kan besluit nie. Die gebruik van hormone en kosmetiese snykunde om geslagtelike eienskappe te verander, is ’n gruwelike sonde wat deesdae oorhand toeneem.
’n Mens word of manlik of vroulik gebore. Die chromosoom-patroon word reeds met bevrugting vasgelê. Niemand kan daaraan verander nie. Daarom kan ’n man nooit kinders baar of ’n vrou aan prostaatkanker sterf nie.
Die heersende seksuele opstand is ’n simptoom van die herlewing van die ou dwaling van Gnostisisme. Gnostici het die liggaam as onbelangrik beskou. Slegs die rede was belangrik. Hulle het geglo dat die rede die geslag bepaal het en nie die liggaam nie. Daarom het homoseksualisme hoogty onder hulle gevier.
Die Bybel praat anders oor die liggaam en sê dat dit goed is. Daarom het Jesus ook ʼn liggaam gehad: “Want in Hom woon al die volmaaktheid van die Godheid liggaamlik” (Kol.2:9). Die Bybel sê egter dat die liggaam ná die sondeval onder die vloek van God verkeer. Luister wat sê God aan Adam en Eva: “Aan die vrou het Hy gesê: Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar… En aan die mens het Hy gesê: ….vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet….” (Gen.3:17,18). Daarbenewens word die mens ook oud en gaan hy dood. Die loon van die sonde is die dood!
God het in sy algemene genade die mens egter tegemoetgekom en deur die eeue medisyne beskik om hulle te help om verligting van die straf te bring. Hierdie straf word egter met die wederkoms van Jesus Christus in sy geheel opgehef: “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie” (Rom.8:18). Die feit dat Jesus uit die dood opgestaan het, dui ook daarop dat die liggaam eendag van die vloek van sonde verlos sal word.
God het die mens man en vrou geskape om sy beelddraers te wees. Dit maak die mens enig van sy soort - hy is die enigste in die hele skepping wat God se beeld dra. God skep die mens spesifiek manlik en vroulik. God se beeld is in hul gehele samestelling sigbaar. Nie eens ʼn liggaamsgebrek verander daaraan nie. Selfs die ontmande het nie vroulik geword nie, maar steeds manlik gebly.
Die Ewolusioniste glo nie aan God nie en sien die mens bloot as ’n hoër vorm van dierelewe. Nee, die mens is nie ’n skepping wat geleidelik tot die beeld van God ontwikkel het nie. Hy is van die begin af anders geskape. Alhoewel daar baie ooreenstemming met die diereryk is, dra slegs die mens die beeld van God. “...en het ons konings en priesters vir onse God gemaak” (Openb.5:10).
Ongelukkig het die sondeval hierdie verhouding aangetas en verwar Satan mense al eeue lank oor die rol van die man en die vrou in die samelewing. Dit gee aanleiding tot gruwels. “’n Vrou mag geen mansklere dra nie en ’n man mag geen vroueklere aantrek nie; want almal wat dit doen, is vir die Here jou God ’n gruwel” (Deut.22:5).
Satan probeer dit wat God op natuurlike skei, saamvoeg. God maak van meet af aan ’n duidelike onderskeid tussen man en vrou: “En God het die mens geskape na sy beeld; …. man en vrou het Hy hulle geskape” (Gen.1:27). Satan laat dit ontaard deur die mens sy ware aard te laat verloor.
Die eerste aangetekende ontaarding het onder die Amoriete voorgekom. Hulle was heidene en vir vergrype soos homoseksualiteit, omgang met diere en vir kinderoffers berug. Dit het die beeld van God gruwelik aangerand en is swaar gestraf: “En as ’n man met ’n manspersoon gemeenskap het soos ’n mens met ’n vrou het, het hulle al twee iets gruwelik gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word…” (Lev.20:13).
Die geloof in Christus hef nie natuurlike onderskeidings op nie. Die man bly man en vrou bly vrou; duidelik onderskeie dog onderling afhanklik van mekaar. Dis die natuurlike gang van sake. Waar kom die geslagsverwarring dan vandaan? Paulus antwoord in Rom.1 hierop - wanneer die natuurlike gang van sake met onnatuurlike verkeer vervang word (homoseksualiteit). In 2 Kor.6 sê hy dat onnatuurlike verkeer vir God ’n gruwel is. Alles wat onnatuurlik is, word aangeleer. Ook afwykende geslagspatrone - sondige begeertes wat in bewustelike besluite en optredes uiting verkry.
Weens die sonde is daar nie aansporing nodig nie. Alles staan in die teken van opstand teen God. En dis wat sonde is; opstand teen God. Dis die begeerte om van God los te kom en die eie lewe te beheer in plaas van dienskneg vir God te wees: “Die konings van die aarde staan gereed en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp” (Ps.2:2.3).
Die sondaar wil seggenskap oor sy eie liggaam hê. Hy wil nie God se Woord en leiding aanvaar nie. In plaas van baas oor sy eie lewe te word, word hy ’n slaaf van die Satan en verwar slawerny met vryheid. “Want julle het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders….” (Rom.8:15).
Let op die verskil tussen wat God in sy Woord sê en dit wat homoseksuele sê : Die Bybel sê: “En God het die mens geskape na sy beeld; …. man en vrou het Hy hulle geskape” (Gen.1:27). Homoseksuele sê die mens kan self daaroor besluit! Paulus spreek hul dwaling aan: “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word…. omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie,; maar hulle het dwaas geword…. en hulle onverstandige hart is verduister” . Terwyl hulle voorgee dat hulle wys het, het hulle dwaas geword” (Rom.1:20-22).
Dawid sê in Ps.139:13-16 dat ons bestaan deur God beskik is. Hy het lank voor ons geboorte besluit of ons manlik of vroulik sal wees. En so moet ons tot die dood bly ongeag hoe ons daaroor voel. ʼn Seun wat soos ʼn meisie grootgemaak word, het al haar swakhede maar nie haar innerlike skoonheid nie. ʼn Meisie wat ʼn vrou word, is een van God se mooiste kunswerke. Maar as sy ʼn man probeer wees, is sy een van die Satan se lelikste skilderye! En om te beweer dat jy in ’n verkeerde liggaam gebore is, is om vir God te sê dat Hy ’n fout gemaak het. Nee, God maak nie foute nie!
Mense aanbid vandag die liggaam meer as ooit tevore. Baie geld word aan kosmetiese snykunde spandeer net om anders te lyk as wat God hulle gemaak het. En nie net vrouens nie. Wat van mans wat anaboliese steroïede gebruik? As mense op die eenvoudige, heilige lewe van ons Here Jesus wil let en sy voorbeeld volg, sal hulle lewe baie meer sin maak!
Die vrugte van geslagtelike opstandigheid is bitter en ontketen baie gruwels. Uit Deut.22:5 is dit duidelik dat hierdie onnatuurlike gedrag meer as 3500 jaar oud is en toe al ʼn gruwel was. Paulus sê dat die liggaam die tempel van die Heilige Gees is. Hormoonbehandeling en snykundige verminking probeer God se skepping ongedaan maak. Dit maak God kwaad!
Daar is geen Bybelse regverdiging vir homoseksuele mense se aanspraak dat hulle in ’n verkeerde liggaam vasgevang is nie. Mense word nie so gebore nie, maar so gemaak. Dis ’n opvoedingsfout. Sulke mense se gedagtes, begeertes en gevoelens is niks anders as sedelose waansinnigheid nie. Dis ’n leuen waaraan duisende mense verslaaf is en miljoene siele al in die hel laat beland het.
Satan vang mense in die web van selfmisleiding. Ongelukkig dra die mediese wetenskap daartoe by dat hierdie waan versterk. Snykunde kan sondaars ’n liggaam besorg in lyn met hul waansinnigheid. As ’n homoseksuele mens alreeds vir God ’n gruwel is, hoeveel te meer ’n geslagsverandering-operasie! Dis ’n super gruwel!
Met ons geslagsverskille eer ons God wat ons spesifiek so gemaak het. “So sê die Here, jou Verlosser en Hy wat jou geformeer het van die moederskoot af…” (Jes.44:24). Vir homoseksuele gaan dit nie oor God se eer nie, maar oor hul eie eer. Daarbenewens onteer homoseksualisme die heilige instelling van die huwelik.
Mense wat geslagsverandering-operasies ondergaan, weet in hul binneste dat hulle met ’n leuen saamleef. Innerlik is en bly hulle wat God hul geskape het. Die man weet hy is ’n man al maak hy ook wat. So ook die vrou. Satan verblind hul oë.
Hoe raak ’n mens van die sonde van homoseksualisme ontslae? 1 Kor.6:9-11 sê dat die bloed van Jesus en krag van die Heilige Gees genoegsame reiniging bied. Hierdie bonatuurlike reiniging is genoegsaam om alle sondige leefwyses van die verlede skoon te was. Net die bekering kan homoseksuele verander!
As ons daarna streef om God se wil te doen, moet ons die godgegewe geslag en rol wat God vir ons bestem het, aanvaar. Geslagsverandering-operasie is ’n ontheiliging van ’n liggaam wat deur God gemaak is. Geen Christenregering durf dit wat in God se oë verkeerd is, wettig nie. Sonde hou sy eie straf in. God straf nie net homoseksuele enkelinge nie, maar ook gemeenskappe wat hul laat begaan. “...mense wat – al ken hulle die verordeninge van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien – die dinge nie alleen self doen nie, maar ook hul goedkeuring skenk aan die wat dit doen” (Rom.1:32). Dink maar net wat met Sodom en Gomorra gebeur het!
Mense wat geslagsverandering-operasies ondergaan het, het gewoonlik met groot sielkundige probleme te kampe. Die sonde verskaf hul hoogstens tydelike genot, maar geen ware vreugde nie. Geslagsverandering-operasies los nie die geestes ontwrigting op nie. Baie mense het al spyt gekry dat hulle dit ondergaan het. Hulle sit met ’n geskende liggaam en ’n innerlike konflik wat nie saam met die uiterlike skending verdwyn het nie. Sulke operasies verander slegs die opvallende uiterlike en nie die innerlike nie. Dis streng gesproke onmoontlik om geslag te verander.
As sondaars in die verkeerde rigting beweeg, laat God U-draaie toe. ʼn Doodloopstraat is die beste plek vir omdraai. ’n Paar jaar gelede het ’n Amerikaanse vrou die volgende verhaal aan ’n predikant vertel. Sy het na matriek verskeie operasies ondergaan om ’n man te word. Sy is later selfs getroud. ’n Paar jaar het sy na ʼn egskeiding tot bekering gekom waarna God haar deur sy Woord en Gees oortuig het om haar geskape identiteit terug te neem. Sy het ’n operasie ondergaan, weer ’n vrou geword en sielevrede gevind. Een enkele besluit het vir haar die verskil tussen hemel en hel gemaak.
Sondaars word deur die wedergeboorte in Jesus nuut: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17). Net die bekering kan ’n homoseksuele mens omkeer om die wil van God te doen: “...om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mens te lewe nie, maar volgens die wil van God” (1 Pet.4:2). Ware bekering is nooit te laat nie. Dis al wat ʼn siel genees. Niemand kan die lewe van vooraf begin nie. Mense kan deur die bekering wel ʼn ander eindbestemming bereik!