Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Besef jy dat jy elke oomblik van elke dag van jou lewe voor die Heilige, Drie-enige God, Beskikker van volke en nasies aan Wie alle mag in die hemel en op die aarde behoort, staan? Of dink jy dalk dit is net in die kerk of dergelike plekke waar jy in sy heilige Teenwoordigheid is?
HOMO- SEKSUALISME
In Lev.18:22 en 20:13 verbied God homoseksuele dade en skryf selfs die gepaste straf vir oortreders voor – die doodstraf! “En as ʼn man met ʼn manspersoon gemeenskap het, soos ʼn mens met ʼn vrou het, het hulle al twee iets gruwelik gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word”. Die woord 'sekerlik' beteken sonder enige uitsondering.
Die ontsondiging van homoseksualisme is ʼn skandvlek op ʼn volk. "Geregtigheid verhoog ʼn volk, maar die sonde is ʼn skandvlek vir die nasies” (Spr.14:34). Waar dit in die verlede uit die openbare oog gehou is, word dit vandag skaamteloos op die voorgrond gedryf. Homoseksuele saamtrekke en -huwelike het alledaags geword.
Die eeu-oue Bybelse maatstaf word vandag met ʼn eietydse kultuurmaatstaf vervang en homoseksualisme as ʼn wisselvorm van seksualiteit goedgepraat. Van die kerk tot by die openbare media en van die onderwys tot by die regbank duur die stryd om hierdie bose alternatief algemeen aanvaar te kry.
Homoseksualisme is en sal altyd sonde bly ongeag wat mense sê of doen. Al die Afrikaanse kerke het dit tot so ’n paar jaar gelede as ʼn gruwel in God se oë beskou en verwerp. In 1986 spel die NG Kerk haar amptelike beleid daaroor as volg uit: “Homoseksuele praktyke en ʼn homoseksuele verhouding moet afgewys word as in stryd met die wil van God, soos deur die Heilige Skrif geopenbaar”. Agtien jaar later sing die selfde kerk in haar kruipende onderdanigheid aan ’n heiden-regering ʼn geheel ander deuntjie!
In 1973 pleit die tydskrif The Gay Christian vir versoening tussen homoseksuele en heteroseksuele “gelowiges”. Mense moet glo homoseksualiteit as ʼn Godgegewe wisselvorm van die huwelik aanvaar. Hierdie versoek het nie op dowe ore geval nie. Talle kerke het met verloop van tyd in die maalstroom van teologiese afvalligheid beland en is deur dwaalgeeste aangespoor om homoseksualisme te ontsondig.
Homoseksualisme is volslae opstand teen God. Dit hou ʼn ander Evangelie as die een van die Bybel voor. Dit huldig ʼn geheel ander skeppingsleer, hou ʼn vreemde huwelik voor en hang ʼn fatale sonde-leer aan.
Homoseksualisme kan nimmer as te nooit uit die Bybel geregverdig word nie. Die apostels, kerkvaders en Hervormers wat baie ernstig met die Bybel omgegaan het, het homoseksualisme as ʼn gruwel veroordeel en verag. So ook meer as 300 jaar se Gereformeerde teologie.
Die ontsondiging van homoseksualisme het in verloopte kerke die gesag van die Skrif in gedrang gebring. “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan...” (1 Joh.4:1). Wie die Bybel opsy skuif, is ’n ergernis. “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie” (2 Joh. vers 10).
Die Skrif sê baie duidelik dat God die mens manlik of vroulik geskep het (Gen.1-2). Daarom is homoseksualisme opstand teen God se skeppingsorde. Hy sê vir die eerste mensepaar om voort te plant: “En God het die mens geskape na sy beeld… man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder…” (Gen.1:27-28). Eenderse geslagte kan nie!
Jesus verwys in Mark.10:7 ,8 na Gen.1:27 en 2:24: "Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees”. Die huwelik word as ʼn hersamestelling in een vlees gesien. God het Eva uit Adam geskape. In die huwelik word hulle weer een vlees. Gen.1:27-28 en 2:18-25 is die kern van die Bybel se standpunt oor die huwelik. Homoseksualisme is Satan se nabootsing daarvan!
Homoseksualisme is ʼn bewustelike verwerping van God se wil. Dit ontken die geslagtelike onderskeid wat Hy gemaak het en verwerp dus sy huweliksontwerp vir die mens. Dis waarom homoseksualisme onder heidene floreer en God selfs stede soos Sodom en Gomorra verwoes het.
In die OT word homoseksualisme met die Hebreeuse woord toeva (gruwel) verbind. Die Bybelskrywers het hierdie woord gebruik om na verfoeilike afgodspraktyke te verwys. Vir ʼn man om met ʼn man omgang te hê, was toeva.
Let vervolgens op die vervloeking van Gam se nageslag. Wat was sy sonde dat sy nageslag veroordeel is? Hy het nie maar net vir Noag in sy dronkenskap gelag nie, maar ’n homoseksuele daad met hom gepleeg. Gen.9 sê dat Gam sy vader se naaktheid aanskou het, ʼn woordgebruik waarmee die skrywers van ouds iets wat hulle nie reguit wou sê nie, verbloem het.
Moses skryf dat toe Noag uit sy roesemoes wakker word, hy onmiddellik bemerk het dat Gam hom iets aangedoen het. Die woordgebruik dui baie duidelik op seksuele aanranding. Dis vir ʼn man uiters vernederend om verkrag te word. Daarom stem Gam se straf met sy oortreding ooreen.
Die verhaal van Sodom en Gomorra (Gen.19:4-11) is die bekendste verhaal van God se toorn oor homoseksualisme. Dit het God so kwaad gemaak, dat Hy hierdie twee stede met inwoners en al met swael en vuur verwoes het. Hoe durf gelowiges ’n sagte woord vir homoseksualisme hê?!
Vir die gelowiges van die NT was daar geen onduidelikheid oor homoseksualisme nie. Dit wat die NT daaroor sê, was al in die OT gesê. Gelowiges het baie goed geweet dat dit ’n gruwel in God se oë was en wie hom daaraan skuldig gemaak het, van die koninkryk van God afgesny is.
Selfs heidene soos Plato, Aristoteles, Seneca en talle ander vooraanstaande geleerdes het homoseksualisme verag. Teen hierdie agtergrond skryf Paulus: “Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ʼn wet….. omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan….” (Rom.2:14, 15).
In Rom.1:24-27, 1 Kor.6:9,10 en 1 Tim.1:9,10 skryf Paulus sonder ʼn omhaal van woorde dat wie hom aan homoseksualisme skuldig maak, uit die koninkryk van God geban word. Daarom het die eerste Christene ʼn baie duidelik standpunt daaroor gehad. Dit was taboe! Heidene daarenteen het dikwels dierlik opgetree en mense misbruik.
Hulle skandelike hartstogte was simptomaties van hul God-verlatenheid.
In die NT is Rom.1:18-32 duidelik die sentrale Skrifgedeelte oor homoseksualisme. Paulus sien dit as ʼn stuk ongebreidelde wellus wat God se natuurlike orde probeer omkeer en sy straf ontvang. Dwaalgeeste probeer ʼn verskil tussen heidense en Christen-homoseksualisme maak. Hulle voer aan dat Paulus niks van homoseksuele oriëntasie en duursame homoseksuele verbintenisse geweet het nie. Hy het hom glo net teen heidense homoseksuele praktyke uitgespreek. Daarom is sy standpunte nie op moderne mense van toepassing nie. Dis ʼn dwaalleer wat die begeestering van die Skrif uiteraard in die gedrang bring!
Dwaalgeeste gebruik ook Hand.15 waar God vir Petrus gesê het dat geen mens as ʼn onheilige beskou mag word nie. Dus moet die kerk homoseksueles aanvaar. Nee, dis nie die bedoeling van Hand.15 nie. Dit gaan hier oor die aanvaarding van alle mense in die geloofsgemeenskap en beslis nie oor verdraagsaamheid jeens gruwels nie!
Dwaalgeeste beweer ook dat Jesus, omdat Hy niks oor homoseksualisme gesê het nie, in werklikheid positief daaroor was. Nee, Hy het allermins oor seksuele sondes geswyg! Hy was dikwels in gesprek met losbandige vroue en nooit simpatiek teenoor hulle sonde gestaan nie, maar hulle telkens aangesê om daarvan af te sien. Let op sy gesprek met die owerspelige vrou (Joh.4). Jesus gun haar die nodige ruimte by Hom, maar nie haar sonde nie.
Nog ʼn argument is dat Jesus mense wat as seremonieel onrein beskou was soos byvoorbeeld die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, asook melaatses en blindes nie afgestoot het nie, maar eerder nader getrek het. So moet homoseksueles glo ook aanvaar en in die gemeenskap van die gelowiges opgeneem word. Nee, homoseksualisme is nie ʼn oortreding van die seremoniële wet nie, maar ʼn bewustelike oortreding van God se morele wet. Dis ʼn gruwel!
Daarom het die Christelike kerk dit van meet af veroordeel. Sy moes haar dikwels openlik teen die heidendom verset. (Dit word vertel dat keiser Nero ʼn man as huweliksmaat gehad het). Die Christendom ag sedelike reinheid baie hoog. Die verwerping van seksuele losbandigheid was vir die vroeë kerk ’n vereiste vir toelating tot die kerk. Heidene is slegs toegelaat indien hulle hul tot Christus bekeer en sondige gebruike afgesweer het.
Dwaalleraars se ontsondiging van homoseksualisme is nie op Skrifbeginsels gegrond nie, maar op homoseksuele mense se belewenisse. Die NG Kerk het ʼn fout gemaak toe sy homoseksuele mense genooi het om hulle belewenis met die Algemene Sinode van 2004 te deel. Dit het die debat sy objektiwiteit laat verloor!
Al die wetenskaplike ondersoeke wat gedoen is om vas te stel of homoseksuele gedrag dalk aan een of ander neurologiese, biochemiese of chromosoom-verskil te wyte is, was nie geslaag nie. Diegene wat daarop aanspraak gemaak het dat sekere gene of chromosoom-areas gedragspatrone beïnvloed, het hul aansprake teruggetrek. Dit kon nie wetenskaplik bewys word nie omdat homoseksualisme ʼn opvoedingsdefek is en gevolglik aangeleer word. By mans is dit te sterk moederbindinge en by vrouens te sterk vaderbindinge.
Voorstanders vir homoseksualisme glo dat die geslote karakter van die tradisionele huwelik te negatief is. Dit moet vir oop verbintenisse soos homoseksualisme ruimte maak. Dit skep ’n supermark-atmosfeer waar elkeen kan vat wat hy wil hê en so veel as wat hy kan. So ʼn siening rym uiteraard geensins met die Christelike lewenstyl nie!
Statistiek toon aan dat homoseksuele verhoudings selde die toets van die tyd deurstaan. Die innerlike stryd wat hierdie mense ervaar, laat hulle van die een verhouding na ’n ander een swerf. Onder homoseksueles is die selfmoordsyfer ook baie hoër as by natuurlike verhoudings. Hulle begrip van die huwelik verskil van die Bybelse opdrag. ʼn Huwelik is altyd tussen een man en een vrou. Daar is geen alternatief daarvoor nie. Gevolglik durf ʼn kerk nie daarvan afsien nie.
Gesinne kan slegs uit ʼn verbintenis tussen een man en een vrou spruit. Die Bybel het een norm vir die huwelik en gesin – heteroseksualiteit. Homoseksualisme is walglike seksuele gedrag. Al ontstaan dit in ʼn atmosfeer van sogenaamde liefde en vertroue, hef dit nie God se oordeel daaroor op nie. Hy verwerp dit ondubbelsinnig as sonde.
Dis gruwelike ongehoorsaamheid aan Hom! Dit laat twee koninkryke met mekaar bots; dié van God en dié van Satan. Satan se nie-komplimentêre eendersheid bots met God se komplimentêre andersheid!
ʼn Homoseksuele persoon wat tot bekering kom, weet dat homoseksualisme opstand teen God is en staak die beoefening daarvan. Op die vraag of ’n homoseksuele persoon die ewige lewe kan beërwe, is die antwoord ja, mits so ʼn persoon selibaat leef. Dis onmoontlik om ʼn wedergeborene te wees, die gesag van die Skrif te aanvaar, maar ʼn homoseksuele verhouding te hê. Want watter gemeenskap het die lig met die duisternis (2 Kor.6)?
ʼn Kerk wat God eer, durf geen homoseksueel bedrywige persoon as lidmaat toe te laat alvorens hy nie van sy gruweldade afsien nie. Rom.1:32 waarsku dat indien Christene homoseksualisme toelaat, hulle die gruwel nie net goedkeur nie, maar ook dieselfde straf as die oortreders sal ontvang!
Ongelowiges sien nie seksualiteit soos wat God dit sien nie. Gelowiges leef nie soos hulle wil nie. Die Heidelbergse Kategismus sê dat die wete dat ons na liggaam en siel nie aan onsself nie, maar aan God behoort, ons enigste troos in lewe en in sterwe is. Daarom moet ons sonde sien soos wat Hy dit sien.
Christus sê in Matt.22 dat liefde tot God ook ʼn opregte liefde tot ons naaste insluit. Hierdie liefde durf egter nie so omskryf word dat dit alle soorte seksuele gedrag insluit nie. ʼn Liefde wat sonde bedek, is geen liefde nie!
Daar klink al hoe meer stemme vir die aanvaarding van homoseksualisme vir so ver dit betaamlik is op. Daar word geredeneer dat heteroseksuele optredes ook onbetaamlik kan wees. Dis ʼn dwase argument. Die klem kan nooit op onbetaamlikheid val as homoseksualisme wesenlik onbetaamlik is nie. Net so min as wat ʼn kliënt in ʼn bordeel kuis kan wees, kan daar in ʼn homoseksuele verhouding betaamlik opgetree word!
Volksgenote word onder ʼn gees van valse verdraagsaamheid toegeploeg. Die heersende waardesisteem binne ons ontwrigte samelewing draai sedert April 1994 nie meer om die as van die waarheid nie, maar om dié van die leuen. Die homoseksuele agenda binne die NG Kerk is skynbaar nog nie afgehandel nie. Dis werklik tragies dat hierdie kerk die eerste Afrikaanse kerk was wat verskoning vir haar eertydse standpunt oor homoseksualisme gevra het. Die blindelingse vertroue in haar maak van haar ʼn kerklike meningsvormer wat die saak van Christus groot skade berokken.
Nadat sy ʼn paar jaar gelede homoseksueles vir haar jarelange (Bybelse) standpunt om verskoning gevra het, het eerw. Kenneth Meshoe, eertydse leier van die ACDP, die NG Kerk ernstig oor die vingers geraps. Hy het haar vermaan om eerder die waarheid te verkondig sodat homoseksueles hulle berouvol tot God kon keer. Hoe tragies dat ʼn hoofsaaklik swart politieke party ʼn hoofsaaklik blanke kerk moes aanspreek!
Die ontsondiging van homoseksualisme noop die NG Kerk om haar deure vir pedofiele, homoseksuele huwelike, homoseksuele doopouers asook die ordening van homoseksuele leraars oop te maak.
Het die NG Kerk al aan VIGS gedink wat miljoene lewens wêreldwyd eis? Dis ʼn homoseksuele siekte van oorsprong en God se straf op homoseksualisme en seksuele losbandigheid. Behoort kerke dit nie eerder teen te staan in plaas van ontsondig nie?
Die NG Kerk betaal ʼn bitter duur prys vir haar geheul met die vrysinnige teologiese wêreldgemeenskap. Die tydsgees wat hierdie gemeenskap adem, sleur haar soos ʼn seestroom mee en beroof haar van die krag om vir sonde nee te sê.
Hoe kan die NG Kerk met haar teoloë, navorsers en teologiese skole enige onsekerheid oor homoseksualisme hê? Is sy blatant oneerlik? Sy is besig om haarself in ʼn hoek vas te verf, sy wat vir soveel jare die draer van die volle Godswaarheid was. Hoe het dit gebeur dat sy deur ʼn volksvyandige vernietigingsplan gekelder is? Haar gedienstigheid aan die heidenregeerders het gemaak dat eerbare volksgenote haar nie verder vertrou. En daarvoor is net sy te blameer!