SEPTEMBERMAAND – VERWOERDMAAND (1)

Dit is weer Septembermaand, tradisioneel Verwoerdmaand, en is dit ons hier voorreg hier by Gelofteland om weer hulde te bring aan hierdie groot staatsman.

Daar is so baie oor dr HF Verwoerd te sê dat mens maar net uittreksels uit sy lewe kan plaas. Een van die mense wat dr Verwoerd baie goed geken en verstaan het, is sy sekretaris, Fred Barnard. U kan die volledige boek van Barnard op Gelofteland vind by die skakel 13 Jaar in die skadu van dr HF Verwoerd)

Fred Barnard skryf oor dr Verwoerd:

(1961 se statebondkonferensie)  ''Sommer met die eerste oogopslag was dit duidelik dat die hele Londen met al sy voorstede op dr Verwoerd, daardie 'monster' van Afrika, gewag het. Persmanne, fotograwe, televisiemense en slordige langhariges was daar by die dosyne. Jy kon jou eenvoudig nie draai nie of daar was een van hulle; grotes, kleintjies, swartes, geles, gladgeskeerders en bebaardes; die hele boel was daar om iets te probeer aas vir die meer as 'n dosyn dagblaaie wat hierdie wêreldstad bedien en vir die baie honderde koerante oor die hele aardbol.

. . . dr Verwoerd (is) na 'n perskonferensie wat daar vooraf deur oom Piet Meiring op die lughawe vir hom gereël is. . .  Hierdie spontaan vriendelike houding van dié ''monster'' het die klomp nuusmanne ongetwyfeld totaal op die verkeerde voet betrap; dit kon sommer op hulle gesigte gelees word. Wat hulle vóór hulle gesien het, het nie mooi ingepas by die stories wat hulle van plan was om te skryf nie. Hierdie Verwoerd is nie daardie Verwoerd wat hulle ''geken'' het nie! Hy kon dan lag!''

Hierdie vriendelike geaardheid van dr Verwoerd en sy briljantheid is deurgaans tot groot hoogte gevoer. Maar wat van sy teenstanders?  Op soek na 'n gebalanseerde beeld van H F Verwoerd is deur J D Froneman geskryf en in 2013 in Koers gepubliseer. Ek haal gedeeltes aan, veral van mense wat hom eers nie goedgesind was nie.

''Hierdie artikel handel oor Verwoerd as voorbeeld daarvan hoedat soms onkritiese verering, skewe uitbeeldings en ongebalanseerde aannames (positief en negatief) deur navorsers (insluitende filosowe) tot orde geroep moet word.

Berigte soos die volgende kan ook beskou word as die betoning van respekvolle simpatie by die dood van Hendrik Frensch Verwoerd, Fotobiografie 1901–1966 bevat hoofsaaklik foto's met byskrifte. Die boek word egter ingelui met twee tekste, naamlik 'n huldeblyk wat deur Verwoerd se ou koerant, Die Transvaler, gepubliseer is, asook een deur die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK). Albei beskryf Verwoerd as 'n man van enorme intellek en moed. Die SAUK-huldiging eindig deur te stel dat by sy heengaan rou Suid-Afrika oor 'n leier van groot formaat wat die volk soos 'n Profeet en Rigter gedien het (Hefer & Basson s.a.:14).

  • 'Bantoeblad salueer 'n staatsman' (Die Transvaler 07 September 1966): Hierdie berig verwys na die koerant World wat geskryf het hulle 'bloed is geroer' deur Verwoerd en hoofman Leabua Jonathan van Lesotho se onlangse ontmoeting. Daardie hoop sal nie deur Verwoerd se dood uitgewis word nie.
  • 'Duisende Bantoes het ook hulde gebring' (Dagbreek en Sondagnuus 11 September) : 'Duisende stedelike Bantoes, asook Bantoes wat spesiaal vir die geleentheid na die stad gekom het, het gister die Staatsbegrafnis van die Eerste Minister in Pretoria bygewoon.'
  • 'Natalse Kleurlinge se telegramme' (Dagbreek en Sondagnuus 11 September 1966): 'Ons dank God vir hom. Die fenomenale groei en bloei van ons volk is aan hom deur genade te danke.'
  • 'Non-White VIPs were there' [Nie-wit BBP’s was daar] (Sunday Times 11 September 1966): Die berig noem dat 'n hele aantal swart-, bruin- en indiërhooggeplaasdes by die begrafnis was, waar hulle in 'n aparte blok gesit het.

Die Rand Daily Mail (07 September 1966) wat hoogs krities oor Verwoerd se beleidrigtings was, skryf 'n dag na sy dood in 'n prominente voorbladkommentaarartikel: Vriend en vyand het sy buitengewone leierskapskrag erken, sy uitsonderlike intellek, sy ontsaglike energie, sy doelgerigtheid, sy politieke skerpsinnigheid en sy volkome toewyding aan die visie van Suid-Afrika wat hy gestel het. (Outeur se eie vertaling).

Dit was nie nou die tyd om politieke argumente teen sy visie te opper nie. Tog, daar was ook geen dwingende rede vir 'n opposisiekoerant om hierdie visie aan te prys nie. Daarom val die Sunday Times se redaksionele kommentaar op 11 September 1966 op. Die blad het onder meer geskryf:

Die konsep van Bantoetuislande is een van die groot erflatings wat dr Verwoerd vir sy land nagelaat het; en die tragedie vir Suid-Afrika is dat hy nie gespaar is om sy taak te voltooi nie ... (Outeur se eie vertaling). Die blad verwys ook na sy verrassende vermoë tot minsaamheid.

Giliomee (2012a) noem in 'n koerantartikel dat Verwoerd deesdae (deur ander) as 'n 'bose genie' gebrandmerk word. Trouens, hy was 'n 'verskriklike mens', aldus Jonathan Jansen (2011), rektor van die Vrystaatse Universiteit.

Verwoerd word op die hoogste vlak aangehaal en oor hom berig. President Jacob Zuma se beskuldiging dat Verwoerd eintlik verantwoordelik is vir die handboekkrisis in 2012 in Limpopo [let wel, 46 jaar na sy dood – belaglik] , het uiteraard die nuus gehaal (Rademeyer 2012). Senzo Mchunu, Lid van Uitvoerende Raad vir Onderwys in KwaZulu-Natal, het vroeër dieselfde argument geopper deur Verwoerd die skuld te gee vir die lae slaagsyfer in wiskunde en wetenskap in die provinsie in 2010 (Suidwester 2011).

Wanneer iemand waag om iets oor Verwoerd te skryf wat nie suiwer negatief is nie, word sterk gereageer. Giliomee (2012a) skryf in Rapport dat indien ’n mens oor apartheid wil oordeel, jy inderdaad die ondenkbare moet oorweeg. Hy opper verskeie wedersyds-uitsluitende stellings wat impliseer dat Suid-Afrika dalk juis weens apartheid ekonomiese groei en stabiliteit beleef het.

Die pers se uitbeelding van Verwoerd was dus nooit 'n objektiewe of selfs gebalanseerde beeld nie; dit was altyd onderworpe aan die subjektiwiteit, vooroordele en lewens en wêreldbeskoulike veronderstellings van die redaksies, eienaars en lesers. Dit was maar altyd verflitsende beelde, impressionistiese soeke na die waarheid, meer dikwels in die misleidende styl van die realisme. Selfs die sogenaamde balans wat die lees van verskillende koerante oor die tyd heen sou meebring, kan egter misleidend wees en kan 'n optiese illusie veroorsaak. 'n Gebalanseerder persdekking van Verwoerd is moontlik in die sin dat 'n koerant standpunte van alle kante kan publiseer, of dat koerante individueel eensydig is, dog gesamentlik gebalanseerd is – maar dit bied dalk steeds nie genoeg diepte nie.

Grobbelaar se boek (uitgegee in Afrikaans en Engels) begin met ’n voorwoord deur dr. J.S. Gericke, ’n bekende kerkleier van destyds, waarin hy Verwoerd aanprys as leier wat die land agter hom verenig het. Hy sluit die voorwoord soos volg af:

'n Eeu van nou af sal daar seker steeds diegene wees wat nie sy standpunte aanvaar nie, maar die eenparige oordeel van die wêreld sal wees dat hy 'n groot man was. (Grobbelaar 1967:8), [outeur se eie vertaling]).

Ten slotte haal Grobbelaar 'n onbekende korrespondent van 'n Engelstalige koerant aan wat die volgende geskryf het:

Vir Hendrik Verwoerd kan daar nie maar 'n gewone bronsbeeld op 'n plein of in 'n park wees nie. Kap sy beeld groot en fors uit op ’n krans in die Drakensberg waar hy van ver af te sien sal wees. (Grobbelaar 1967:174), [outeur se eie vertaling].

EINDE