Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Langenhoven het 'n baie waar uitdrukking gehad dat 'n man van weining woorde se solder te klein is vir 'n klomp kaf. Daarby moet ons onthou dat iemand wat loop en skinder en laster, baie meer oor homself daarme sê as oor sy slagoffer...
DIE LEUEN VAN 'N "DEMOKRATIESE REGSTAAT" WORD ONTMASKER
(Bydrae gelewer deur die Afrikaner Nasionalistiese Beweging (ANB))
Ná byna tien jaar van die Zuma-regime waartydens die plundering van Suid-Afrika drasties versnel het, het ons land se politieke landskap teen die einde van 2017 wéér 'n wending beleef.
Sedertdien het Suid-Afrikaners 'n wipwa-rit beleef op die politieke front. Eers was Cyril Ramaphosa 'n soort Superman wat net betyds opgedaag het om die nuwe Suid-Afrika te red en weer terug te plaas op die "versoeningspad" van Nelson Mandela – aldus die histeriese hoofstroom media en duisende liberale Blanke politieke skape.
Ramaphosa se pryssangers het egter skaars kans gehad om asem te skep, toe hy al die liberale kwylbekke – en selfs die "konserwatiewe" Afrikaners wat so opgewonde was oor die nuwe era wat kwansuis aangebreek het – met 'n goedgemikte skop op die krop van die maag tref. Ja, die nuwe euforie se wiele het gou afgekom met net 'n paar sinne in 'n toespraak van Ramaphosa, want hy het trots en onomwonde in die openbaar bevestig dat die ANC-regime die grondwet wil verander om die beginsel van privaat eiendomsreg keelaf te sny.
Let wel, hoewel die openbare debat hoofsaaklik konsentreer op die feit dat die regime grond wil onteien sonder vergoeding, is die implikasie van Ramaphosa se aankondiging baie groter. Om die beginsel van privaat eiendomsreg uit die grondwet te verwyder beteken inderdaad dat die staat die reg sal hê om enige eiendom van privaat persone of instansies te onteien. Dit sluit in grond (plase), ander vaste eiendom soos huise en geboue in stedelike gebied en selfs besighede, pensioenfondse of enige ander privaat eiendom. Dit gaan oor eiendomsreg, nie net oor plaasgrond nie.
Met hierdie nuwe wending onder die leierskap van Ramaphosa, het die ANC onomwonde weer op koers gekom om die oorspronklike kommunistiese agenda van die Vryheidsmanifes deur te voer.
Goed, daar is diegene wat wéér wil paai met flou gerusstelings dat die hele ding eintlik maar net deel is van Ramaphosa se skaakspel om die EFF van Julius Malema daarmee wou troef op pad na 2019 se verkiesing. Daar word gesê dat Ramaphosa die vryemark ekonomie verstaan en nie sal toelaat dat die res van die wêreld hul rug op Suid-Afrika keer ten opsigte van beleggings en handelsbetrekkinge nie.
Vir diegene wat hierdie bog wil glo, kan 'n mens maar net weer aanbeveel om die onlangse geskiedenis van Zimbabwe te bestudeer. Die Zuma-era het ook bewys hoe magteloos die groter Blanke gemeenskap in Suid-Afrika geword het. Net die ANC was by magte om van Zuma ontslae te raak. Vir jare het die opposisie en selfs groot dele van die media blou moord geskree dat Zuma uit die kussings gelig moet word, omdat hy nie net skelm en korrup was nie, maar ook totaal onbevoeg om as president die land te lei. Die geskree het egter op dowe ore geval en Zuma is toegelaat om saam met sy bendes miljarde rand se skade aan te rig in hul strooptog.
Uit die Zuma-era het ons die les geleer dat die opposisie binne die amptelike Suid-Afrikaanse politieke stelsel inderdaad magteloos is. Hierdie era het weer bevestig dat in Afrika – en veral in 'n land soos Suid-Afrika waar verskeie volke- en rassegroepe onder een sambreel saamgegooi is – beteken "demokrasie" inderdaad dat die reëls van Afrika-kommunisme sal geld.
In 'n stelsel waar ongelykhede nie net rasseverskille weerspieël nie, maar ook radikale kultuurverskille en selfs beskawingsvlakke, is die sogenaamde "demokrasie" 'n klug. Die meerderheid se wil wat op almal afgedwing word gaan nie net oor brood- en botter kwessies nie, dit veroorsaak inderdaad diepgaande onreg, aangesien ander groepe magteloos as gyselaars vasgevang word in 'n samelewing waar hulle vreemd en onwelkom voel. Nou is Ramaphosa se tyd hier en ten spyte van al die lofsange en die positiewe gees wat posgevat het, wéét elke Suid-Afrikaner tog dat die stelsel steeds in sy kern verrot en gedoem is en dat Ramaphosa inderdaad net 'n nuwe gesig is wat nie werklik die agteruitgang kan stuit nie. Enersyds omdat die ANC-regime in wese korrup en onbevoeg bly en andersyds omdat Ramaphosa steeds 'n balanseertoertjie moet uitvoer om die EFF se groei te probeer stuit.
Opsommend van die huidige situasie kan gekonstateer word dat die Afrikaners wat deel geword het van die nuwe politieke bedeling sedert 1994 polities deesdae die mees gefrustreerde en ontnugterde groep in ons samelewing is.
Ramaphosa se boodskap dat die regime waarborge oor eiendomsreg gaan vernietig, het hierdie gefrustreerdes se naïewe wêreld tot in sy fondamente geskud. Skielik het hulle weer besef hoe magteloos hulle eintlik is en dat hul deelname aan hierdie rampspoedige Afrika-eksperiment in ons land eintlik van hulle gekke maak wat deelneem aan die proses om hul eie ondergang te bewerk. Die liberaliste en die profete van "nasiebou" het sedert 1994 aanhoudend aan Afrikaners die bogstorie probeer verkoop dat ons eksperiment anders gaan uitdraai as die mislukkings in die res van Afrika, want ons het dan so 'n wonderlike grondwet wat almal beskerm en die regime in toom hou.
Blankes is gepaai met die versekerings dat Suid-Afrika sedert 1994 'n "demokratiese regstaat" is en dat die grondwet almal beskerm. En nou? Ons deeglik herinner hoe vals hierdie versekerings was. Met 'n enkele mosie in die parlement het Julius Malema en sy politieke tsotsi's die appelkar omgekeer en met die hulp van die ANC gewys dat die mat in 'n oogwink onder die "regstaat" sopstorie uitgepluk kan word.
Net toe daar feesgevier word oor die val van die korrupte Zumabewind, kom die nuwe redder van die land, Ramaphosa, en hy ruk die masker van die Suid-Afrikaanse "demokrasie" af, om net nog 'n Afrika spektakel te ontbloot. Toe skop die realiteit in en daar word besef hoe diep die Witman van Suid-Afrika inderdaad in die moeilikheid is.
Die tyd het aangebreek vir die Witman in Suid-Afrika om vir eens en altyd die werklikheid in die gesig te staar. Daar was toe géén wigte en teenwigte in die sogenaamde onderhandelde skikking nie en die situasie in ons land sal onder die huidige bestel eenvoudig nooit "normaliseer" nie.
Jaap Marais het dit reeds in 1996 in 'n toespraak soos volg opgesom: "Demokrasie het veelal ontaard tot skuilplek vir politieke misdadigheid en roofmotiewe, soos die verarming van die land en sy produktiewe deel van die bevolking getuig teenoor die verryking van die soustreinryers en die klein groepie geldmagnate wat hulself as 'n herrenvolkie gedra teenoor die belange van Suid-Afrika en die Afrikanervolk. Demokrasie is deel van die sluipmoorduitrusting waarmee die kommuniste hulle vermom om hul teenstanders te ontwapen en in te sluip in magsposisies..."
Deelname aan die politieke stelsel in Suid-Afrika is 'n resep vir deelname aan jou eie ondergang, sonder 'n kans om die stryd te wen. Hierdie feit kan nie langer ontken word in die lig van die ooglopende getalle-oorwig van die anti-Blanke groeperinge in die stelsels nie. Hoe moet Afrikaners en Blankes die saak dan anders benader?
Dis natuurlik die logiese vraag onder die massas wat in benoudheid probeer om spartelend te oorleef in hierdie bedeling. As Afrikanernasionaliste kan ons op hierdie stadium – behalwe vir ons geloof en vertroue in die God van Bloedrivier – fokus op 'n eenvoudige strategie. Eerstens bly ons weg uit die stelsel en ons probeer so hard as moontlik om diegene wat uit innerlike oortuiging saam hoort te konsolideer. Dan is ons groot taak om in te lig en perspektief te verskaf.
Waarheid en werklikheid is ons sterkste wapen in hierdie fase van ons stryd. Slegs die waarheid sal ons uiteindelik vry maak.