ONGEREGTIGHEDE VAN DIE VERLEDE?

HOE VOEL JÝ OOR DIE “ONGEREGTIGHEDE” VAN DIE VERLEDE?

Dr Danie Theron

As jy ‘n trotse volk verkneg
word opstand teen die reg s
ý reg

(NP van Wyk Louw)

 

Ek het al dikwels verwys na die aanhef van die Grondwet wat die volgende stel:

                We, the people of South Africa, recognise the injustices of our past:

                Honour those who suffered for justice and freedom in our land….

 

Die betekenis daarvan is duidelik. Die sogenaamde apartheidsverlede is ‘ongeregtig’ en boos. Dit moet deur almal (‘we’) erken word. Dié wat daarteen geveg het (‘suffered’) moet (deur almal) geëer word.

Van hierdie Grondwet sê Nelson Mandela in 2001:

“… it is a solemn pact … we shall never permit a repetition of our racial, brutal and repressive   past …. “

In gewone Afrikaans:

  • die apartheidverlede is sleg, dis brutaal en onderdrukkend;
  • dit mag nooit weer gebeur nie;
  • dit staan vas – dit is verander in die grondwet
  • die ‘vryheidsvegters’ teen daardie bose bedeling is vandag se helde.

So is ‘n terroristestryd in die gelyk gestel. Elke onreg wat vandag gepleeg word, elke misdaad, onteiening of wat ookal wat na die Blanke se kant kom, kan nie opweeg teen daardie ‘brutale, rassistiese en onderdrukkende’ verlede waaroor ons almal eens moet wees nie.

So gesien is die Swarte op die morele hoë grond geplaas, terwyl die Blanke (en by name die Afrikaner) , se verlede as boos uitgebeeld word. Deur hierdie gewraakte stelling word die ‘donker verlede’ van die Afrikaner geëksploiteer om alles wat sedert 1994 gebeur, en wat vir enige objektiewe buitestaander onregverdig lyk, te regverdig.

Die ‘skuldbelydenis’ in die Grondwet kom nie van ‘n nasie as geheel nie, maar een deel (groep) bely alleen en staan op sy knieë voor die ander groep.” Ons is skuldig” (moa culpa!) – is die pleit.

Maar hoeveel waarheid is in hierdie stelling van die Grondwet?

Nie ‘n greintjie nie. Apartheid het aparte vryhede vir elke volk ten doel gestel op grond van die beginsel: leef en láát leef. Soos daar ‘n land vir Swazi’s aangedui is, is ‘n land vir al die ander volke aangewys wat nog nie ‘n land gehad het nie. Apartheid was maar net die logiese voortsetting van ‘n beleid wat deur ander uitgevoer is lánk voor die Afrikaner daarmee begin het.

So nou moet die Afrikaner iets bely wat hy nie gedoen het nie. Dit is hom van buite opgelê – hy het self nie daartoe toegestem nie. Die Afrikaner het nooit in ‘n referendum erken dat hy skuldig is aan ‘n ongeregtigheid nie. En hy sou ook nie.

Die implikasie van ‘n volksvyandige misplaaste skuldbelydenis is dat ‘n deel van die nasie ‘opgehef’ en in die reine gestel word en dade van terreur as geregverdig beskou word. En dit vir iets wat nie aan daardie deel gedoen is nie.

Op hierdie ‘skuldbelydenis’ is ‘n hele ‘entitlement’-kultuur gebou. “julle was verkeerd” en “ons was reg”, daarom “skuld julle ons”. Dat hierdie “we demand”-kultuur boonop in die gene van hierdie groep is, vereger sake verder. Agter hierdie ‘eis’ sit ‘n buitelandse mag wat reeds meer as 100 jaar gelede verklaar het dat met die Afrikaner nog nie finaal afgereken was nie. Nou is die basis waarop hierdie afrekening afgehandel kan word word, veranker (‘entrenched’) in ‘n Grondwet. En daardie wet is ‘n ‘plegtige pakt’ – dit kan nie verander word nie.

Dit is die implikasie van die skuldbelydenis van die Grondwet. Het Afrikaners wat die lof van die Grondwet besing, hierdie saak behoorlik verreken?

‘n Skuldbelydenis is ‘n godsdienstige , ‘n geloofsaak tussen ‘n individu en God. Dit het geen plek in die politiek nie. Niemand kan namens my bely nie en niemand kan my ‘n aandeel aan iets gee wat ek nie gedoen het nie en ook nie erken nie. Dit is dus wat die individuele gewete betref, ‘n futiele oefening.

Dat dit wel polities die nodige uitwerking het wat beoog is, is baie duidelik so.

Wat het dan met ‘n groot deel van die Afrikanerdom gebeur sedert die Grondwet en die nuwe bestel op hom afgedwing is? Wel, sedert 1994 is sy jeug geleer dat die Afrikaner nie ‘n heldedom het nie en dat sy geskiedenis boos is. Dit het ‘n verwydering van die jeug van sy verlede meegebring. Die fondament van die verlede waarop ‘n toekoms gebou moes word, is weggeneem. Losgeskeur van sy verlede en 'gekul uit sy toekoms’ soos dit al opgemerk was.

Nou weet ons dat ‘n individu se karakter deur talle faktore gevorm word – faktore wat aaneenskakel en van mekaar afhanklik is. Dit is naamlik sy geloof, sy gesin, sy geskiedenis. Daarby sy selfrespek, selfbetuiging, kreatiwiteit, voorkeur en selfhandhawing.

As jou verlede boos is, het jy geen respek vir jou voorvaders, ja, jou eie voorgeslag nie en geen basis waarop selfrespek gebou kan word nie. Sonder selfrespek kan jy jou nie betuig en handhaaf nie en is daar geen trots nie. Die skakel – die kontinuïteit is verlore – dit is gebreek.

Daar ontstaan dus ‘n vakuum wat met nuwe inhoud gevul moet word. Die jeug moes dus na ‘n nuwe identiteit soek want hy is geleer dat dit nie te vinde is by sy ouers se verlede nie. Dit is van buite vir hom gegee. Dit is kosmopolitaans , ‘n internasionale leë materialistiese kultuur wat die ‘eie ek’, onmiddellike selfbevrediging en individualisme ten doel het. Dit word gevul met Facebook, Instagram, Whats App, Google en die nuutste ‘coffee shop’ in die nuwe ‘mall’. En net om seker te maak daar kan ongestoord op die I-pad na die nuutste giere van ‘idols’ gesoek word, word die Ipod in die ore gedruk.

‘n Growwe veralgemening? Wel, wat anders vul daardie vakuum wat nou ontstaan het? En waarom dan die haas en ywer om nie met die ‘verkeerde’ groep geassosieër te word en van die ‘regte’ groep uitgesluit te word nie?

Punt is, ons geskiedenis is ‘n dolksteek toegedien. Dit is besig om vermoor te word en die moord sal voltrek word as die ouers en die voorouers wat daar was in 1994, nie meer daar is nie.

Ons volk se geestelike ruimte het leeg geword. Dit is op pad na ‘n staat van humanisme. In so ‘n staat sien jy geen bedreiging meer nie, want daar is niks wat bedreig kan word nie. ‘Almal is tog op Facebook’. Die identiteit wat bedreig kan word, gevul deur die geskiedenis van jou volk, is daar nie meer nie.

Die gemene deler van die Afrikanervolk wat hom verhef het om vêr vooruit te kyk; sy heroïese geskiedenis, is uit sy geheue gehaal. Hy kan en wil nie vêr vooruit kyk nieen hy kan en wil nie vêr terugkyk nie. Die bande wat hom gebind het, is losgebreek. Die sosiale kontrak is nietig verklaar.

Die helde van ons verlede is vervang met die ‘idols’ van vandag. Die ‘rolmodelle’. Sportsterre is nou ‘legends’, baie waarvan opgeprop met opkikkers en ander verbode middels. Rondom ‘n braai word die land se toekoms gou opgelos. So en so is ‘n ‘nice’ou, hy sal die nasie weer op koers plaas. Kom ons drink daarop!

Dat ons taal in die proses onmeetlik verarm is, het by ieder en elk verbygegaan. En durf die *** strydros waarsku teen die gang van sake, word die ‘meerderheid’ verseker dat hy ‘n skroef los het, dat hy glo in ‘conspiracies’ en nadat hy behoorlik belaster en belaglik gemaak is, voel almal weer goed oor hulleself. Die reënboognasie is darem maar ‘great’.

Ons mag nie meer diskrimineer nie want ons wil nie meer onderskei nie. Elkeen is gelyk. Of jou IK 70 of 120 is, julle is gelyk. Of jou bydrae ‘n ronde nul is, maak nie saak nie – die grondwet sê jy is ook gelyk. En as jou velkleur reg is, is jy méér gelyk …. .

Klink ek te swartgallig? Wel, oortuig my dan van die teendeel! Kom ons wees eerlik: Waarna streef hierdie volk vandag? Vryheid in sy eie vaderland? Of dalk net dat hy maar ook billik behandel sal word in ‘n bestel wat vanuit die staanspoor téén hom opgestel is? Ja, daar is nog Afrikaners wat in eersgenoemde glo. Die vraag is hoeveel van die ná -1994 Afrikaners glo nog daarin? Dit is immers hulle wat eersdaags die leisels moet oorneem.

Terug dan by die aanvanklike vraag: Hoe voel jý oor die ongeregtighede van die verlede’? Jou antwoord hierop is lotsbepalend vir jou volk.

Miskien het dit tyd geword dat eendersdenkendes ‘n téén-belydenis teen hierdie skuldbelydenis opstel. Ons kan dit dalk die geloofsbelydenis van die vegtende Afrikanerdom noem.

Hier is my voorstel:

  1. Ons, die vegtende Afrikanerdom, verwerp enige aanklag dat ons geskiedenis boos of ongeregtig was.
  2. Daarom verwerp ons ook die land se Grondwet wat hierdie leuen op ons wil afdwing; ‘n grondwet wat ons misken en verketter.
  1. Ons glo dat God ons voorvaders gelei het deur ons ganse geskiedenis, dat ons volksleiers Godvresend en heroïes was en altyd die wil van God afgevra het in hulle doen en late; veral wat betref verhoudinge met ander volke.
  2. Ons is dit roerend eens met ons voorouers se strewe van leef en láát leef – ja vandag nog.
  3. Ons glo dat afsonderlike ontwikkeling, aparte vryhede, ja ook genoem apartheid, waar elke volk homself regeer, Bybels gefundeerd is waar dit die Godgegewe identiteite van elke volk wil beskerm en bevorder – ook teen uitwissing.
  4. Ons sal nie buig of buk voor die internasionaal-gedrewe en -gevormde standpunt wat ons wil verplig om anders te dink daaroor nie.
  5. Ons sal ons Afrikanerskap bewaar as ‘n pand wat aan ons toevertrou is en dit in hoë aansien hou.
  6. Ons glo dat die Drie-enige God op sy bestemde tyd aan ons volk uitkoms sal gee.
  7. Ons sal dit aan ons kinders vertel.
  8. Dit is ons plig. Dit is ons eer!

Soli Deo Gloria