LOFPRYSING AAN DR VERWOERD (2)

Ondersoeker

Ek wou hierdie artikel kort hou, maar daar is soveel oor die staatsman Verwoerd te skryf, dat ek amper 'n boekvol geskryf het, en het toe maar besluit om net 'n uittreksel te maak wat ek nogtans in twee moes deel.

Dit was nie nou die tyd om politieke argumente teen sy visie te opper nie. Tog, daar was ook geen dwingende rede vir 'n opposisiekoerant om hierdie visie aan te prys nie. Daarom val die Sunday Times se redaksionele kommentaar op 11 September 1966 op. Die blad het onder meer geskryf:

Die konsep van Bantoetuislande is een van die groot erflatings wat dr Verwoerd vir sy land nagelaat het; en die tragedie vir Suid-Afrika is dat hy nie gespaar is om sy taak te voltooi nie ... (Outeur se eie vertaling). Die blad verwys ook na sy verrassende vermoë tot minsaamheid.

Giliomee (2012a) noem in 'n koerantartikel dat Verwoerd deesdae (deur ander) as 'n 'bose genie' gebrandmerk word. Trouens, hy was 'n 'verskriklike mens', aldus Jonathan Jansen (2011), rektor van die Vrystaatse Universiteit.

Verwoerd word op die hoogste vlak aangehaal en oor hom berig. President Jacob Zuma se beskuldiging dat Verwoerd eintlik verantwoordelik is vir die handboekkrisis in 2012 in Limpopo [let wel, 46 jaar na sy dood – belaglik] , het uiteraard die nuus gehaal (Rademeyer 2012). Senzo Mchunu, Lid van Uitvoerende Raad vir Onderwys in KwaZulu-Natal, het vroeër dieselfde argument geopper deur Verwoerd die skuld te gee vir die lae slaagsyfer in wiskunde en wetenskap in die provinsie in 2010 (Suidwester 2011).

Wanneer iemand waag om iets oor Verwoerd te skryf wat nie suiwer negatief is nie, word sterk gereageer. Giliomee (2012a) skryf in Rapport dat indien ’n mens oor apartheid wil oordeel, jy inderdaad die ondenkbare moet oorweeg. Hy opper verskeie wedersyds-uitsluitende stellings wat impliseer dat Suid-Afrika dalk juis weens apartheid ekonomiese groei en stabiliteit beleef het.

Die pers se uitbeelding van Verwoerd was dus nooit 'n objektiewe of selfs gebalanseerde beeld nie; dit was altyd onderworpe aan die subjektiwiteit, vooroordele en lewens en wêreldbeskoulike veronderstellings van die redaksies, eienaars en lesers. Dit was maar altyd verflitsende beelde, impressionistiese soeke na die waarheid, meer dikwels in die misleidende styl van die realisme. Selfs die sogenaamde balans wat die lees van verskillende koerante oor die tyd heen sou meebring, kan egter misleidend wees en kan 'n optiese illusie veroorsaak. 'n Gebalanseerder persdekking van Verwoerd is moontlik in die sin dat 'n koerant standpunte van alle kante kan publiseer, of dat koerante individueel eensydig is, dog gesamentlik gebalanseerd is – maar dit bied dalk steeds nie genoeg diepte nie.

Grobbelaar se boek (uitgegee in Afrikaans en Engels) begin met ’n voorwoord deur dr. J.S. Gericke, ’n bekende kerkleier van destyds, waarin hy Verwoerd aanprys as leier wat die land agter hom verenig het. Hy sluit die voorwoord soos volg af:

'n Eeu van nou af sal daar seker steeds diegene wees wat nie sy standpunte aanvaar nie, maar die eenparige oordeel van die wêreld sal wees dat hy 'n groot man was. (Grobbelaar 1967:8), [outeur se eie vertaling]).

Ten slotte haal Grobbelaar 'n onbekende korrespondent van 'n Engelstalige koerant aan wat die volgende geskryf het:

Vir Hendrik Verwoerd kan daar nie maar 'n gewone bronsbeeld op 'n plein of in 'n park wees nie. Kap sy beeld groot en fors uit op ’n krans in die Drakensberg waar hy van ver af te sien sal wees. (Grobbelaar 1967:174), [outeur se eie vertaling].

EINDE