Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waarom gedenk ons vandag nog steeds die hemelvaart van Jesus Christus? Omdat God se liefde vir ons ewig is, en ons ewig dankbaar kan wees dat Hy sy Seun uit liefde na die aarde gestuur het om in ons plek aan 'n kruis te kom sterf sodat ons siele nie verlore gaan nie maar vir ewig by Hom kan wees wanneer ons aardse reis verby is. Daarom bring ons hierdie dag soos 'n Sondag deur en daarom word vanaand talle dienste deur die land gehou om ons dankbaarheid en eer aan Hom te betuig. Kom ons doen doen dit dan en daag in groot getalle daar op.
BROKKIES UIT DIE BOEK: POENA (22)
083 444 7672)
“Jy het my nog nie vertel waar jy die land Rover gekry het nie.”
“Ons het mos met Jan se Mercedes gery, toe ons gaan soek het.“
“Ja, en?”
“Ons het die Mercedes geruil vir die Land Rover.”
“Weet Jan dit al?”
“Nee, maar dis nie ‘n slegte ruil nie. Kyk, dis op ‘n Nissan Safari se onderstel gebou, het ‘n 250 Mercedes dieselenjin en ratkas in, en net die Land Rover se bakwerk op.”
“Okay, maar jy vertel vir Jan.”
Die Land Rover is dan ook uiteindelik die stadigste van al die voertuie in die konvooi. Hulle ry op die verlate ompad Bapsfontein toe en daarna, net voor Delmas op die N12, daarvandaan Bethal, Ermelo, Hendrina, Piet Retief Pongola, tot in Jozini.
Met Piet wat aan die voorkant ry met die Land Rover, langs hom Dries en Rika, en Martie en Jan agter-op, diep onder komberse toegemaak wat af en toe loskom in die wind, waarna Jan weer naarstiglik moet gryp om dit onder hulle in te wikkel. Die kinders ry saam met die ander mense in die twee Jeeps en Fords.
Pongola, wat onder erge onluste deurgeloop het, is verlate, swart gebrand en net hier en daar staan die geraamte van huise en besighede nog astrant tussen die ander murasies uit. Die handjievol mense wat rondom konkas sit en probeer warm word, kyk met met leë oë na die witmense wat verbykom. Niemand probeer eens opstaan nie. Daar is nie aggressie oor nie, maar ook nie enige vorm van verwelkoming nie. Dis asof die harde werklikheid ingetree het met die besef dat as jy afbrand en vernietig, jou toekoms daarmee saam as word.
Die lang opdraende na Jozini toe is hier en daar versper met klippe en dromme, stompe en klaargebrande buitebande, maar hulle kan oral deurkom, al moet hulle soms stilhou om iets weg te sleep. Dries en die ander is beïndruk deur die paraatheid van Diek en sy makkers wat rondom-verdediging doen wanneer dit gebeur.
Die lang, reguit stuk teerpad wat van Jozini af Kwanganaze toe loop is vervelig, maar hulle verwonder terselfdertyd aan die vreemde plantegroei met die lalapalms en hier en daar ‘n eensame boom wat die landskap versier. Die vlakte is plat en groot, met net af en toe ‘n verlate statjie wat dapper probeer om die omstandighede te trotseer.
Net verby Kwanganaze, of Maputa, soos dit ook bekend is, draai hulle suid-oos op ‘n sandpad. Tot Diek se verbasing is daar duidelike spore van ander voertuie wat nie lank vantevore daar gery het nie. Hy laat die konvooi stilhou.
“Julle moet oop-oë wees. Hier is ‘n ander groep voor ons hier verby en ons kan geen idee hê wat hulle is, of wat hulle bedoelings is nie. Ons gaan nou stadig moet ry en ek dink ons moet van nou af met my Jeep voor-aan ry. Piet, julle agter ons en die siwwies in die middel.”
Hy sê dit met ‘n glimlag, om die byterigheid uit te haal, maar dit laat almal weer besef dat manne wat van die grens af kom, nooit werklik weer siviele burgers was of kon wees nie.
Net na drie-uur die middag sien hulle die groep voertuie wat in en rondom die riviermond by Kosibaai is.
*
“Pasop, ons het geselskap!” roep Paul uit, spring agter-op die beweginglose Land Cruiser, kniel en haal die Poena oor. Hy volg die voorste voertuig, ‘n stokou Series 2 Land Rover bakkie, deur die visiere. Langs hom is Hannie, met die Ruger karabyn.
Die voertuie hou stil, die deure gaan oop en ‘n man kom aangeloop, met sy hande skouerhoogte in ‘n gebaar van vrede en versigtigheid. Die wapens oor sy skouer en aan sy sy is sigbaar, maar hy hou sy hande ver daarvandaan weg.
“Kan ek naderkom? Ek sweer ek kom in vrede!”
‘”Jy kan, maar net jy! Die ander bly waar hulle is.”
Aan die manier waarop Diek loop, deur die dik sand, vlak water en poele, kan Paul sien hy is fiks en sterk en as hy nader kom, glad nie meer jonk nie, al loop hy soos ‘n jongman. As hy naby is, steek hy sy regterhand uit. Hy bly bewus van die vrou met die geweer waarvan die loop hom die hele tyd volg.
“Goeie middag. My naam is Diek Marx. Ek en my groep mense, wat bestaan uit my ou makkers en ‘n aantal siwwies, wil net verbykom, as julle nie omgee nie. Ons is skadeloos, behalwe wat die moeilikheidmakers en roofbendes betref.”
“Paul Roux. Ons groep bestaan net uit siwwies, alhoewel ek oortuig is ons het meer aksie en geweld die afgelope tyd beleef as meeste soldate.”
Diek kyk na die Land Cruiser, wat lyk asof dit by die minuut wegsink.
“En hierdie?”
“Ons het ‘n bietjie vasgeval.”
“Meer as net ‘n bietjie. Waarom los julle hom nie maar hier nie? Dis oud en…”
“Nie ‘n kans nie, meneer! Hierdie voertuig gaan saam!” sê Hannie.
Diek is vir ‘n oomblik stomgeslaan deur die finaliteit in haar houding en stem.
“Kan my mense maar naderkom?”
Hy draai om en wys vir sy groep om nader te ry. Die hele klomp kom redelik gemaklik deur die water, sonder om vir een oomblik vas te val. Diek kyk na die groot bande van die Land Cruiser en iets maak nie vir hom sin nie.
“Hoe het julle so maklik gaan staan in die water? Het julle ‘n sagte plek gekry, of wat?”
“Gaan julle ons help om hom uit te kry, of gaan jy net staan en vrae vra, meneer Diek?”
Diek kyk haar ‘n oomblik opsommend aan en roep dan vir Jack.
“Jack, bring die ander manne en kom hier!”
“Jack was ‘n tiffie – onder andere – in die ou SAW. As iemand ‘n plan kan maak, is dit hy. Jack, hoe gaan ons die ding hier uit kry?”
“Hel, Diek, ek het al ‘n twintig ton Ratel uit shonas – dis ‘n soort vlei - getrek en ek dink ‘n bakkietjie sal nie te moeilik wees nie”.
Oral waar vatplek kan wees rondom die Cruiser word gelig en gestoot, maar hy roer nie.
“Mevroutjie, wat het jy in die kar? Hy weeg ‘n paar ton!”
“Kom nou. Dis nie so erg nie. ek dog julle is soldate!”
“Ouman-soldate, dame, oumanne!”
“Piet, bring my Jeep en die Land Rover. Daardie groot wiele sal seker kan help.
Uiteindelik is die Mercedes, die Wrangler, en die Land Rover voor die Land Cruiser ingespan en met elkeen, man, vrou en kind wat wieg en lig, stoot en kreun, maak hulle duim vir duim vordering, wat uiteindelik ‘n halfmeter word en skielik lig die voertuig uit die sand en water op sy eie stoom.
Piet, wat die Land Rover bestuur, wys vir Diek en Joe om vet te gee en uiteindelik is al drie die voertuie uit die riviermonding, teen die lae walle op en op droë grond. Hannie is skoon aangedaan.
“Dankie, julle. Julle weet nie wat dit beteken nie.”
“Waarheen gaan julle, Paul?”
“Ons is oppad na die Noorde van Suid-Afrika. Daar is mense wat vir ons wag.”
“Wie?”
“Hannie, na wie toe gaan ons?”
Wanneer Hannie die man se naam noem, gaan ‘n liggie vir Diek aan.
“Rika, is dit nie jou pa se naam ook nie?”
Rika kom staan by Hannie.
“Hannie? Is dit jou naam? Wat weet jy van my pa en ma? Leef hulle nog, is hulle okay?”
“Ek hoop van harte so. Ons het maande laas van hom gehoor, maar sover ek weet, staan hulle plek en kamp nog. Verskoon my, maar ek ken jou pa en hy is te knorrig en hardkoppig om oor te gee.”
“Ja, dit klink soos hy.”
“As julle dames nou familiebande uitgesorteer het, kan ons dan maar ry? Dankie Diek, dat julle gehelp het. Sonder julle sou ons hier moes bly, want dit lyk my nie asof ek Hannie van die ou wrak kan wegskeur nie.”
“Paul, julle ken ons nie, maar ek dink julle besef al teen hiedie tyd dat ons vriend en nie vyand is nie. Gee julle om as ons sommer saamry? Ons is ook op pad na daardie ou man en sy vrou.”
Sodra die konvooi, wat nou baie langer is, uiteindelik op pad is, nou in werklikheid in Mosambiek, vra Paul bo die enjingedreun:
“Hannie, waarom is hierdie kar so swaar? Wat steek jy iewers weg?”
“Jy weet dat van nuuskierigheid die tronk vol is?”
En daarmee bly sy stil en Paul kry nie ‘n woord daaroor weer uit haar uit nie.
Vanaf Ponto do Ouro ry hulle teen ‘n bestendige spoed noord-noord-wes, verby Gimo, Bela Vista en dan meer noord-wes, verby Muguene, die binnelandse meer van Pequenos Libombos, tot by Bongolo, waar hulle brandstof te koop kry, al betaal hulle in rand-terme byna dertig rand per liter.
“Wat van Mosambiekse soldate, of die Islamitiese rebelle? Gaan ons nie te naby hulle verby nie?”
“Ons maak maar wat ons altyd maak as daar moeilikheid is, Hannie. Hou jy maar net daardie ou Ruger byderhand en ek sal vir Poena reghou.”
Daar is net twee insidente op die pad. Die eerste is waar hulle verby ‘n lang konvooi Mosambiekse soldate ry, wat langs die pad geparkeer staan. Ten spyte van die paar minute se angstigheid tot hulle verby is, kyk die soldate skaars op vanwaar hulle langs die voertuie sit en eet.
Die tweede is nie ver van Mapai af nie, waar hulle oor ‘n bult kom en amper tromp-op in ‘n skare van meer as vier honderd mense vasry. In Suid-Afrika sou die klomp op die voertuie afgestorm het en probeer om te plunder, roof en dood te maak, maar in hierdie geval het die mense die enjins en die geraas van die groot bande van ver af gehoor en hulle vlug ylings na die veiligheid van die bosse langs die pad. In Mosambiek is die aanvallers agter-op bakkies, soos in groot dele van Afrika, nadat die krygshere oorgeneem het. Mettertyd sal dit ook in die buurland Suid-Afrika , begin gebeur.
Net voor drie-uur is hulle by Pafuri, waar die grens verlate en eensaam wag, met die hek en slagboom afgebreek. Daar is niemand in sig nie. Hulle ry verby die klein plattelandse plekkies van Vendaland, waar die mense verslae en beangs buite die klei-baksteen huisies sit en wag dat iemand kos sal bring. Uiteindelik ry hulle aan die noordekant van Tohoyandou en Sibasa verby en alhoewel daar oral langs die pad klompies mense staan, is die pad oop en kan hulle deurry. Net na donker kom hulle aan die voet van die Soutpansberg by Kamp Vasstaan aan.
‘n Onbekende, ouerige man kom hulle tegemoet.
“Hallo, Hannie. Dis baie goed om jou te sien.”
“Ja, maar belangriker as dit – kyk wie is hier.”
“Rika en Dries! En ons kleintjie. Ai, meisiekind, ek is sò bly om julle te sien!”
“Ons ook Pa.”
“Hoe het julle hier gekom? Wat het met julle gebeur?”
“Later, Pa. Kan ons iewers slaapplek kry?”
“Natuurlik. Die spaarkamer is steeds oop en vir julle gehou. Kom ek kry iemand om julle te help afpak. Nadat julle natuurlik geëet het.”
“En gebad?”
“Ek is jammer. Ja, natuurlik kan julle bad.”