Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
“Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige vader, Vredevors" - Jes.9:5
BROKKIES UIT DIE BOEK HELDELAND (3)
083 444 7672)
“Nou kom.”
Uiteindelik is die luukse kar in die middel van die rivier. Gasket, wat self bestuur, het die lugreëling aan en, alhoewel die verkoelingsisteem baie goed ontwerp en gebou is, selfs vir Suid-Afrikaanse hitte, loop die kar nou gevaar om te oorverhit. Die Jeep sou dit vir ‘n entjie trek, en dan grawe sy eie groot bande diep in die sand in. Onder die harde sandkors is daar nou nattigheid en die kar sak tot op sy onderstel. Daar word gestoot, die sand voor die wiele weggegrou en hy vorder ‘n paar meter. Die sweet tap in die hitte en die humiditeit. Humeure word korter.
“Basjan, reverse tot by die Benz en dan pluk jy hom. Dan hardloop jy tot anderkant.”
“Gasket, dit gaan nie werk nie. Iets gaan breek.”
“Kom, comrade. Ons sal moet try.”
“Ons kan, maar as iets breek is dit nie op my rekening nie.”
Die sleeptou, of soos die Engelse dit noem, die snatch-rope, is ‘n baie sterk, platgeweefde band. Dit kan ver rek en is gemaak om soos ‘n rubber-rekkie te werk. Dis stewig onderaan die kar se suspensie vasgemaak en agteraan ‘n haak op die Jeep se onderstel. Basjan trek die Jeep tot teenaan die Mercedes en, met bande wat eers grawe en dan vorentoe beur, met hoë suile sand wat agter elkeen van die vier wiele opskiet, kom die Jeep op spoed en die band trek styf, rek uit en dan breek dit!
Die lus wat aan die Jeep vas kom, se stiksels breek los en die band suis deur die lug, tref die windskerm met ‘n slag en ‘n kraak wat vanaf die een hoek tot die volgende strek. Dit lyk soos ‘n spinnerak wat oor die glas gespan is.
“Uuu jo-jo-jo!”
“Kom ons los die kar nou hier.”
“Basjan jy verstaan nie. Daardie poeliesman gaan ons vang as ons nie die kar bring nie.”
“Ons kan nie die kar so stukkend gee nie, Man!”
“Kom, bring, ek sal explain.”
Basjan voel ‘n effense drukking van ‘n ligte, maar duidelike, vogdraende wind teen sy wang. Hy het dit al vroeër ervaar, tydens sy opleiding by Scorpion-basis naby Madimbo, nie ver van waar hulle nou is nie.
Die twee sytakke van die Shasherivier, die Tumi en Tate, het die vorige nag meer as tagtig millimeter reën gekry. Die gewoonlik kalm riviertjies het oornag in groot strome bruisende water verander. Op hulle beurt stort hulle hierdie massas in die Shashe, wat self ook meer as sestig millimeter gehad het. Tesame maak hulle ‘n siedende vloed wat die Limpopo baie kilometers Wes van Madimbo af binnevloei.
Waar Basjan, Gasket en die drywers staan, is dit nog kurkdroog. Die oppervlak van die Limpopo is sagte sand, nie veel anders as die sand by die see se strand nie –behalwe vir die nat kol waar die Mercedes in staan. Ongeveer agt honderd meter van hulle af, aan die Weste, is daar ‘n draai in die rivier, en hulle kan nie verder in die rivierloop opsien as net tot hier nie.
Geleidelik begin daar baie klein, amper mikrogrootte fonteintjies water spuit hier en daar uit die rivierbedding. ‘n Geluid soos ‘n groot trein begin sag in die verte, en word dan al harder. Basjan skreeu op Gasket en die ander:
“Maak dat julle op die walle kom! Hier kom water!”
Hy self hardloop vir die Jeep, maak ‘n wilde es-draai in die sand en jaag vir die Suid-Afrikaanse wal van die Limpopo. Die Jeep se diesel skreeu, maar hy sal dit maak. Hy tref die wal teen ‘n effens te hoë spoed en die Jeep bokspring tussen stof en sand, maar die volgende oomblik is hy bo-op en Basjan parkeer die voertuig ‘n goeie dertig meter weg van die wal af.
Hy hardloop terug rivier toe om te kyk waar hy kan help. ‘n Gesig wat nie vreeslik baie mense al gesien het nie, begroet hom. Eers is daar net die effense vloei van water en dan is daar ‘n wal malende, kokende, bruin, bruisende water wat uit die draai in die rivier afkom.
Dit het takke, neste, stukke boom, en ja, selfs ‘n hele mopanieboom in die golf. Dit lyk amper soos ‘n kar wat te vinnig om ‘n draai kom en die pad byster raak, soos die voortsnellende water eers die draai mis, en dan weer terugvloei die Limpopo in. Daarna tel dit spoed op en kom die laaste paar honderd meter na hulle afgestorm. Dit tel die pikswart Mercedes op en rol dit oor en oor in die rivier af. Uiteindelik verdwyn die kar onder die bruin water. Basjan staan versteen na die skade en kyk en dan hoor hy bo die dreuning van die water ‘n stem roep. Hy loop nader, maar nie van die wal af nie, want die water styg steeds.
“Help, Basjan, ag help tog, my baas!”
Gasket het ook probeer terugkom van die ander oewer af, maar die sand het nou klam geword voordat die water hulle getref het en hy was al verder weg in die bedding van die rivier. Sy treë raak stadiger en hy verloor spoed. Net voor die water tref, is hy by die oewer, maar die watermassa vang sy bene en slaan dit onder hom uit. Hy gryp ‘n stuk wortel vas wat by die wal uitsteek en klou letterlik om lewe en dood. Hy kyk op, sien hy vir Basjan ‘n paar meter weg en roep na hom vir hulp.
Basjan hou met sy linkerhand aan die ontblote wortelstelsel van die boom vas en reik sy regterhand uit na Gasket. Net voor dit lyk asof hulle te ver van mekaar is, hyg Gasket vorentoe en sy hand vat om die gewrig van Basjan se regterarm vas. Basjan gryp vir Gasket ook aan die gewrig en hy begin trek.
Waar Gasket se oë oomblikke vantevore groot en paniekbevange was, kom daar nou verligting in. Deur de malende water is daar ‘n boomstomp en dit slaan vir Gasket van Basjan se arm af, asof alle krag uit hulle albei gegaan het. Gasket verdwyn voor die boom, rivier af. Niemand sou hom ooit weer sien nie.
Na ‘n paar minute is die ergste verby en die rivier word stadigaan kalmer. Dit vloei nog sterk, en sal vir ‘n paar weke vol bly, maar as dit nie weer reën nie, sal die rivieroppervlak stadig sak. Na ‘n ruk sal iemand ver stroomaf die wrak van ‘n nuwe Mercedes-Benz E63 AMG in die sand kry, of waar dit dalk teen ‘n boom sou vasspoel.
Nadat hy ‘n hele paar minute gewag het, loop Basjan terug na die Mercedes Vito-bussie wat die drywers en vir Gasket moes terugvat. Dis gesluit, maar hy slaan die kantruit uit met sy mes se hef, sluit die deur oop en onder die voorste sitplek haal hy ‘n verslete bruin leersak uit. Binnekant is daar net meer as vyftig duisend Amerikaanse Dollar.
Net na tienuur daardie aand hou hy by sy TB (tydelike basis) stil.
*
“Jona, ek hoor al heelnag ‘n geraas hier onder.”
“Ek hoor nie, Bella, waar?”
“Dis omdat jy so hard slaap. Luister mooi.”
Jona sit regop. Dis nog nie heeltemal lig buite nie en uiteindelik hoor hy ook die geluid. Daar is ‘n geritsel in die bosse ‘n ent onder hulle, by die spruit. Dit kom en gaan, soos iets wat ‘n ding probeer, moeg word en weer probeer.
“Nou kom ons gaan kyk.”
Hy vat die .22 en sy mes en hulle sluip versigtig uit. Hy weet nou al dat Bella nie alleen gaan agterbly nie, en gaan haar nie eens probeer oortuig nie.
Buite die grot is die geritsel duideliker. Hulle loop so ‘n vyftig meter langs die smal spruitjie af en dan sien hulle uiteindelik die bron van die lawaai. ‘n Bosbok-ooi is aan haar agterpoot in ‘n draadstrik gevang en van al die gepartel is die been al amper afgesny. Sy gaan lê tussen spartelings en dan vlieg sy na ‘n ruk meer verwoed as tevore regop en veg teen die stuk onsimpatieke bloudraad. Elke keer gaan lê sy en hyg van pyn en uitputting.
Sodra Jona en Bella naderkom, vlieg sy verskrik weer op, maar die draad hou haar terug. Haar groot bruin oë is paniekerig en sy blaas op ‘n tipiese bosbok-manier.
“Jona, ons moet haar red!” Bella gryp Jona se arm en probeer hom nader aaan die bok sleep.
“Ai, Bella, al sou ons haar kon loskry, sy het so seergekry, sy kan nie weer wild losloop nie.”
“Nou wat dan?”
Jona tel die geweer teen sy skouer, maak mooi seker en skiet die bokkie deur die kop. Bella huil en sy loop nader sodra die bok stil lê. Sy vryf oor die warm pels.
“Kyk net haar trane, Jona. Ek wonder of sy kindertjies het. Wat gaan nou van hulle word?”
“Sussie, miskien het Liewe Jesus vir ons die bokkie gestuur, soos vir Abraham toe hy Isak moes gaan offer. Jy onthou mos die storie?”
“Dink jy ons kan haar dan eet? Nee, sy is te mooi. Ek sal nie kan nie.”
“As ons nie, gaan die vleis in elke geval hier lê en vrot.”
Hulle sukkel om die bokkie afgeslag te kry en dit gaan soms maar moeilik. Die groot jagmes is ook nie die regte stuk gereedskap daarvoor nie en Jona moet waak daarteen dat hy homself nie raaksny nie. Uiteindelik is hulle klaar en hulle dra die vleis en die vel stuk-stuk op na die grot toe.
“Wat gaan ons met alles maak, Jona?”
“Ons hou vir ons ‘n stuk uit, genoeg vir ‘n dag of twee… Bella, weet jy, ek dink nounet aan iets. Dis seker maar die mense hier onder wie se meel ons gevat het,” Hy kan homself nie sover kry om te sê “gesteel” nie. “Dis seker hulle wat die strik gestel het, omdat hulle honger is. Kom ons vat die ander vleis vir hulle. Hulle hoef ons nie te sien nie, ons hang dit in ‘n boom op by hulle plek en dan hardloop ons weg. Miskien as hulle sien ons het die bokkie geskiet, dan stel hulle ook nie meer strikke nie.”
Dit klink vir Bella na ‘n goeie plan en sy voel natuurlik ook die opwinding van die avontuur aan. Hulle dra soveel van die vleis as wat hulle kan na die hutte toe, toegedraai in die bok se vel en hang dit aan ‘n boom op, binne sig van die mense.
Dan roep Bella: “Kom haal dit”, en met ‘n giggel draai sy om en hardloop weg. Die geroep het vir Jona onkant gevang, maar hy maak ook dat hy wegkom. Dit alles sorg vir opwinding, maar dit stel hulle ook in gevaar en Jona praat lank en ernstig met Bella daaroor.
“Bella, vir nou is alle mense miskien vyande. Ons kan niemand vertrou nie, nie eens mense wat vriendelik lyk nie. Kyk wat het ons eie plaaswerkers met Pa en Ma gedoen. Verstaan jy?”
Bella se blou oë is groot en blink van die trane.
“Ja, Boetie. Moenie vir my kwaad wees nie.”
“Ek is nie, Bella. Ons moet net versigtig wees.”
“Maar tot wanneer?”
“Tot… ek weet nie, maar ons sal weet as dit weer reg is.”
“Maar Pa en Ma sal nie weer reg wees nie.” En dan huil sy troosteloos.