Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoordigng moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.
BROKKIES UIT DIE BOEK KLEINSKEER (33)
KLEINSKEER
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Waarheen nou?”
Skeer kyk skuins op na die oorhangende rots aan sy linkerkant.
“Ons kyk of ons nie daar bo-op kan kom nie.”
Reg van voor af is daar geen manier om tot bo te kom nie. Dit lyk nogal na ‘n mini-weergawe van die bekende Hangklip ver na die Westekant. Langs die linkerkant van die rots is daar ‘n skuinste, besaai met gruis en klippe, wat die gang baie moeilik maak. Skeer is eerste en hy kan net-net nie tot bo kom nie. Vir die derde keer probeer hy, maar sak elke keer weer terug.
“Nee, ons sal dit nie maak nie.”
“Wat van ek, Oom?” vra Ezra.
“En as jy bo is, wat dan?”
“Dan maak ek iets vas aan ‘n ding, waarmee julle kan vashou en opkom.”
“Wat bedoel jy met ‘n ding?”
“Oom en oom Rob en Bert se belde, wat julle aanmekaar kan las, of so iets.”
“Weet jy, Skeer, dit kan dalk net werk.”
Met die drie gordels aanmekaar gelas, met die gespes deur die leer, is Skeer maar skepties. Daar is egter nie baie ander opsies nie en die rots het ‘n uitsig oor ‘n groot deel van die berggedeelte waar hulle nou is.
Ezra klim sover hy kan en as Skeer hom eers teen die boude en dan onder sy skoensool ‘n hupstoot gee, is hy bo. Hy wig die gespe van een van die gordels in ‘n skeur in die rotsvloer.
“Kom julle nou maar.”
Bert is eerste op, die ligste van die drie manne. Daarna volg Rob en uiteindelik Skeer.
“Jong, jy is ‘n slim man, Ezra! Ons kan bly wees ons het jou saam gebring.”
Die seuntjie blom van trots a die manne hom so prys. Vanaf die rots kan Skeer sien waar die plek moet wees waar Arno nou is en hy waai met sy arms bokant sy kop in sy rigting. Hy wil nie graag skreeu of ‘n drie-skoot aandagtrekker skiet nie. Na ‘n halfminuut sien hy vir Maya sy gebaar antwoord.
“Jou pelle is veilig, lyk dit my, Arno. En tussen hulle en ons kan ons feitlik die hele vallei en berg voor ons sien. En skiet…”
“Dis goeie nuus,” sê Arno, maar met opmerklike gebrek aan entoesiasme.
“Wat pla?”
“As jy nou die soldate was – en jy was mos een van hulle, wat sou jy doen?”
“Hulle weet waar ek en jy is, maar nie waar die ander is nie, of so dink ek. So, hulle kan ons bekruip uit ‘n hoek waar hulle dink hulle is veilig, maar dan is hulle onder skoot van Skeer-hulle. Of…”
“Of?”
“Helikopters. Ek dink nie daar is baie oor nie en die wat wel vlieg is tien teen een nog in die DRK, maar dis moontlik dat hulle iewers een kan kry, ek weet nie. Ons moet maar op ons hoede wees vir wat ookal.”
“Hoe lank gaan ons hier bly?”
“So lank as moontlik, of so lank dit moet. Hoekom, het jy ‘n afspraak of iets?”
“Nee, ek dink maar net dat hulle dalk versterkings kan kry, nie net van spesmagte nie, maar sommer van die hele leër.”
“Nee… sien, Arno, een van die grootste swakpunte van die recce’s is dat ons, nee hulle, baie hoogmoedig is. Ons – hulle – sal nooit erken dat hul die gewone voetsoldate nodig het nie. So, tensy die president self, of ten minste die minister van verdediging, die opdrag gee, sal ons bevelvoerder dit nooit uit sy eie doen nie.”
“Die president?”
“Ja, Arno, die president. Dit weet jy mos net so goed as ek. Hierdie privaat-leër waarmee hulle besig is, mag nie voor die tyd ontbloot word nie. Dan dien dit geen doel nie.”
“Hoe weet jy van hierdie leër? Ek dog heeltyd dis net ek en Skeer, Rob en Bert wat daarvan weet.”
“Hoe weet ek daarvan? Ek was déél daarvan.”
‘n Lang sarsie rondtes uit ‘n masjiengeweer klink op vanuit die vallei. Elke vyfde rondte is ‘n ligspoorkoeël en dit volg ‘n skynbaar luit trajek soos ‘n reënboog na waar Skeer en die ander is. Dit neem Maya ‘n paar sekondes, voordat sy die bron daarvan kan sien – ‘n makker of drie wat die ou MAG bedien van agter ‘n rotsuitstulping aan hulle linkerkant, sowat ses honderd meter weg.
Daar heers ‘n absolute windstilte en sy stel net aan die vertikale turret, skuif reg agter die geweer en sodra sy skiet, raak die masjiengeweer stil. Na ‘n paar sekondes, sekerlik soos hulle die nommer een ruil, begin dit weer, net om weer te staak as sy die volgende skoot trek. Die knalle eggo deur die kloof, vallei en kranse.
“Ek wens ek het eerder die knaldemper-opsie geneem.”
“Hoe bedoel jy?”
“Hierdie geweer is reg vir my, maar hy raas vreeslik. Wat ek eintlik nou nodig het, is iets met ‘n knaldemper.”
“Sal ‘n kleinkaliber pistool met een doen?”
“Soos wat?”
Arno haal onder sy linkerskouer ‘n ou Ruger Merk 1 .22 pistool met ‘n lang knaldemper vooraan uit die holster.
“Soos hierdie?”
“Jou pragtige mens!” Op die ingewing van die oomblik buk sy vorentoe en soen vir Arno vol op die mond. Dis onverwags, maar baie aangenamer as wat hy gedink het dit sou wees.
“Het jy nog ‘n handwapen?”
Arno oorhandig sy .45 pistool. Maya los haar geweer by hom, sluip geluidloos van die rots af en verdwyn in die vallei af. Binne ‘n paarsekondes is sy buite sig.
*
“Are you crazy?!”
“What do you mean, Sir?”
Die land se president is, anders as sy gewone openbare beeld wat gemoedelik en selfs lamsakkig voorkom met sy goed-geoefende en aangeplakte Engelse aksent, buite homself van woede. Die afgelope maande was nie goed vir hom of sy party nie. Nie net is dit duidelik dat niks meer behoorlik werk nie, nadat kader-ontplooïng, BEE, BBB-EE, Transformasie en Regstellende Aksie slegs meegebring het dat die land verwoes word, met onkundigheid wat die plek van behendigheid en intelligensie ingeneem het, die natuurwette wat bepaal as jy nie onderhoud aan ‘n plek of instansie doen nie, dit noodwendig sal ineenstort, en alhoewel jy dit kan probeer regverdig deur die apartheidsverlede aanhoudend die skuld te gee, selfs die mees intellektueel gestremde mens mettertyd sal begin besef dat daar ‘n mishoop in die drinkwater is – in Suid-Afrika se geval letterlik, eerder as figuurlik.
Die afgelope Stand van die Land-toespraak het net negatiewe uitwerkinge gehad, selfs in die buiteland. Minute nadat hy belowe het dat beurtkrag op ‘n einde gaan kom, is dit vanaf ‘n relatief lae Fase 1 na Fase 4 oorgeskakel en kort daarna na Fase 6, wat beteken dat die hele land afwisselend sonder elektrisiteit sit vir tien ure per dag, sonder hoop op verligting.
Niks werk behoorlik nie, vanaf die spoorweë, die paaie, die weermag, polisie, letterlik is daar geen positiewe aspek waaree hy homself kan troos nie. Met die algemene verkiesing iewers om ‘n draai – hy en sy mense kon nog nie hulleself sover kry om hulle aan ‘n datum te verbind nie – en die besef dat die navorsing daarop wys dat sy party nie naastenby soveel stemme as in die verlede gaan kry nie en dalk selfs so laag sal daal as onder veertig persent, is uitstel en afstel moontlik, afhangende hoe hulle die saak kan bewimpel. Die verbrande Phala-Phala episode wil maar ook nie gaan lê nie!
Om die drinkwater (figuurlik) nog verder te vertroebel, was sy party tegnies nog ‘n paar maande gelede bankrot, maar die omkoopgeld wat hulle gekry het om Israel by die Internasionale Strafhof aan te kla, het hulle darem uit die balju se kloue gered en daar kan selfs nog fondse wees om ‘n desperate verkiesingspoging aan te wend.
Die ongeluk is dat die saak oor Israel ‘n baie nadelige nadraai gehad het. Nie net dreig Amerika om Suid-Afrika uit die AGOA-ooreenkoms te gooi nie, wat sal beteken dat belastings en handelsheffings toegepas sal word, maar hy kan sommer aan sy bas voel dat daar nog erger gevolge kan wees. En dis duidelik dat die hele Europa hom by Amerika gaan skaar. Die ander ding waarvoor hulle nie begroot het nie, is dat die ANC se eie vergrype opgediep is en, anders as in die verlede, neem die buiteland nou intens kennis daarvan. Selfs linksgesinde kommentators wys daarop dat Suid-Afrika se binneland verwoes is en die lot van die vermoorde plaasboere begin nou in te sink in die gewetes van die Westerse wêreld. Hoe kon dit gebeur dat hy nou al die kastaïngs uit die vuur moet krap?
Elke nugterdenkende korrupte sal ‘n agterdeur oophou en sy en die vertrouelinge in die NEC s’n is om die mag ten alle koste uit die hande van die opposisie te hou. Hulle kan ook nie die pad van Zimbabwe loop nie, waar die stemme gekook is om die regerende party aan bewind te hou nie – ook ‘n slegte nadraai van die Israel-gemors, dat die onafhanklike waarnemers nie meer aan hulle kant sal wees nie en dat die verkiesing eerliker sal verloop – en hulle dalk net die mag sal verloor, of beste scenario, ‘n koalisie met die DA sal aangaan.
Die nadraai van ’n politieke oorgawe is nie net om nie meer die lekker van magsekstase te kan hê, die vet salarisse, vertoon met luukshede en blouligkarre nie, maar ook dat die diefstalkraantjies toegedraai gaan word, en die aanbevelings van die Zondo-kommissie gevolg gaan word. Hoe kon hy so dom wees om die regter aan te stel? Indien dit wel gebeur, gaan die Armani-pakke verruil word vir sulke mooi oranje oorpakke.
Plan B is om met militêre mag aan bewind te bly, maar die twee uniformmagte, die SAPD en die SANW is doelbewus afgetakel tot waar hulle nie veel beteken nie en juis daarom was dit nodig om hierdie semi-private leër op te bou uit die laaste bastion van wet en orde, naamlik die Spesmagte en ook nie almal nie, maar ‘n uitgesoekte paar-honderd van hulle.
“I repeat, are you plumb crazy?!”
Die generaal voor hom is totaal onkant gevang.
“The moment you deployed our army to eliminate a handful of people, you played right into their hands. What did they have? A few photographs, an affidavid or three, but now you have come into the open and we cannot shove this under the rug, so to speak! Now they have proof!”
Voordat die uniformbeklede homself kan keer, stroom die woorde uit:
“You mean, I should have hid it in a sofa or two?”