Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jy alleen kan so maklik ander mense in die verderf inhelp òf hulle na Christus lei – iets waarvoor jy eendag verantwoording sal moet doen (Rom 5:19)
STRAAT- EN PLEKNAME VAN OU-PRETORIA (3)
Lees reeks by Straat- en Plekname van Ou-Pretoria
JAN PLOEGER
Bourkestraat: Sunnyside
Bourkestraat se oorspronklike naam was Buitenstraat omdat dit die laaste of "buitenste" straat van hierdie deel van Sunnyside was toe dit uitgelê is.
Edmund Francis Bourke is in 1852 in Pietermaritzburg gebore. Hy het hom in die jare net voor 1880 in Pretoria kom vestig waar hy 'n algemene handelaarsaak met twee takke begin het wat later deur John Jack oorgeneem is. Die oostelike tak was op die noord-oostelike hoek van Van der Walt- en Kerkstraat, waar Garlicks tans is. Hy is in 1926 dood en sy graf is in die Kerkstraatbegraafplaas.
Bourke het talle belange by grond en beleggings gehad wat hy vanuit sy kantoor in die Bourke Trustgebou in Andriesstraat beheer het. Die gebou is afgebreek om plek te maak vir die huidige Mutualsentrum.
Hy is tot die eerste Pretoriase munisipale raad verkies (1902) en was burgemeester in 1903-1904. Hy het die Seunsbrigade en die Junior Association Football Club gestig, waarbenewens hy ook meegehelp het aan die daarstelling van die CJV.
Bronberg: Sunnyside
Bronberg is die naam van die voetheuwels van die Witwatersberg wat uitloop tot by die Hartbeespoortdam waar dit as die Skurweberg bekend staan. Die reeks bokant Sunnyside staan nou as Muckleneukheuwel bekend, maar die ou naam word in gedagtenis gehou in die naam van die plaaslike Nederduits Gerefomeerde gemeente.
Die naam Baronsberg kom in inspeksieverslae van 1841 voor terwyl ander spelwyses uit dieselfde tydperk Bronsberg en Berensberg is. Kaarte daarna verwys na die name Elliot en Glastonbury, maar hulle oorsprong kon nie opgespoor word nie.
Bryntirion: Arcadia
Bryntirionlandgoed, of Government Village, soos dit eens bekend was, is die gebied wat strek vanaf Kerkstraat tot op die bopunt van Meintjeskop. Die huise is in die Milnerperiode opgerig en is aanvanklik deur 'n groep senior staatsamptenare bewoon. In 1904 was daar 13 huise en 'n opsigterswoning op die landgoed en na 1910 is van hulle as amptelike wonings vir sekere kabinetslede gebruik. In 1927 besluit die regering dat al die huise vir bewoning deur kabinetsministers gereserveer moet word.
Die naam gaan terug tot 1889 toe John Robert Pritchard die grond by E P A Meintjes gekoop het. Pritchard was 'n bestuurder van T W Beckett se winkel en het die plek die naam gegee ter herinnering aan sy geboorteplek, Bryn Tirion in Carnarvonshire, Wallis.
Bryn, terloops, beteken "heuwel" en tirion 'n "goeie of pragtige uitsig", soos die perseel inderdaad destyds moes gehad het. Dit het in 1902 aan mev H S Johnston, vrou van Andrew Johnston, behoort. Kyk: Johnstonstraat, Sunnyside.
Libertas, amptelike woning van die Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika, is ook in Bryntirion gelee en het in 1934 tot stand gekom toe die Unieregering besluit het dat die woning van die Eerste Minister op die hoogste punt van Bryntirion gebou moet word.
In 1935 is argitekte genooi om aan 'n kompetisie vir die beste ontwerp deel te neem. Die wenner was die bekende Pretoriase argitek, dr Gerard Leendert Pieter Moerdyk, wat ook die Voortrekkermonument ontwerp het. Die woning en terrein is in 1940 teen 'n koste van ongeveer £68 000 voltooi.
Die naam Libertas is deur mev Isie Smuts gekies. Sy was die eggenote van die destydse Eerste Minister, veldmaarskalk J C Smuts (1870-1950). Die naam het gepas voorgekom terwyl die Tweede Wêreldoorlog aan die gang was.
Volgens ander bronne is Libertas na die historiese plaas Libertas by Stellenbosch vemoem. Mev Isie (Sybella Margaretha) Smuts is op die plaas Klein Libertas, ook by Stellenbosch, gebore.
Generaal Smuts het nooit in die ampswoning gewoon nie want hy het sy plaas Doornkloof, naby Irene, verkies.
Burolaan: sentraal
Tydens die neentiende eeu het hierdie smal stegie Kerkplein met Andriesstraat verbind. Toe is daama verwys as Shark's Alley, of Aasvoëlstraat na aanleiding van al die prokureurs en advokate wat hul kantore daar gehad het omdat dit langs die geregshof was, op die noordoostelike hoek van dié laan en Andriesstraat. Die gebou het die eerste Turkstra-koffiehuis in Pretoria geword. Die bynaam Aasvoëlstraat word nog deur ou Pretoriane gebruik.
Burgerspark: sentraal
Burgerspark neem die volle blok begrens deur Andries-, Jacob Maré- en Van der Waltstraat, en Parklaan in beslag. Die park is in 1874 aangelê op aanbeveling van staatspresident Thomas Frangois Burgers (1834-1881), na wie dit ook genoem is. In dié jaar is 18 erwe vir 'n botaniese tuin opsy gesit.
Talle onsuksesvolle pogings is aangewend om die gebied kommersiëel te ontwikkel. Eindelik het die Departement van Openbare Werke in 1889 begin om die park te ontwikkel.
Die orkespaviljoen wat in Skotland vervaardig is, is in 1895 opgerig en die huidige kiosk is tussen 1911 en 1913 gebou.
Talle gedenkbome is geplant. Die oorspronklike koningin Wilhelminaboom is in 1898 geplant om die troonopvolging van prinses Wilhelmina van die Nederlande te gedenk. Die boom is in 1986 vir die derde keer vervang. Die Martha Washingtonvriendskapsboom groei ook daar.
'n Standbeeld van president Burgers deur Moses Kottler versier een van die grasperke en daar is ook 'n gedenkteken ter ere van die Transvaalse Skotse Regiment (4 SA Infanterie) deur P Eagle.
Die hoof-toegangshek in Jacob Maréstraat kom van Parkzicht, die privaatwoning van adv FWH Kleyn (1838-1896) waar die Boere-afgevaardigdes tydens die vredesberaad van 1902 gehuisves is. Parkzicht was langs Melrose-huis, waar die Vrede van Vereeniging, wat die Driejarige Oorlog (1899-1902) beëindig het, op 31 Mei 1902 onderteken is. Melrose-huis is vir George Heys gebou en het later die ampswoning van veldmaarskalk Roberts (1832-1914) en lord Kitchener (1850-1916) geword.
George Heys se nageslag het tot 1967 in die huis gewoon. Dit is toe, met die meeste van die huisraad daarin, aan die Pretoriase stadsraad verkoop. Ná restourasie is dit as museum vir die publiek oopgestel.
Celliersstraat: Sunnyside
Celliersstraat eer die naam van Jacob Daniël (Japie) Celliers wat in Myrtle Lodge, Celliersstraat 144 gewoon het. Dit was op die hoek van Rissikstraat en oorkant Bothahof, die woning van generaal Louis Botha (1862-1919), eerste Eerste Minister van die Unie van Suid- Afrika. Myrtle Lodge is afgebreek om plek te maak vir die Sunnyside-skool.
Pretoria se eerste twee jakarandabome is vir mev Celliers geplant en hulle is nog by die adres te sien. 'n Gedenkplaatjie beskryf die geskiedenis.
Jacob Daniël Celliers is in Wellington in die Kaapkolonie gebore. Hy het in Johannesburg grand gekoop waarop die Paarl Ophirtonmyn in 1886 ontstaan het. Kort daarna vestig hy 'n afslaer- en eiendomsaak in Pretoria en later word hy markmeester. Sy maatskappy het in Sunnyside, Trevenna, Arcadia, Rozen- (Rose)ville en Les Marais erwe verkoop.
Sentraalstraat: sentraal
Sentraalstraat verbind Kerk- en Pretorius- straat. Oorspronklik het die firma Henwood en Seuns en Souter persele in Kerkstraat besit, wat vanaf die K-gebou waar Clicks nou is, ooswaarts gestrek het tot by Ackerman se winkel in Henwood se gebou met die datum 1877 op sy gewel (waar die Standard Banksentrum later was). Die erf het suidwaarts deurgeloop tot by Pretoriusstraat.
Toe Henwood se saak gesluit is, is 'n gedeelte van die grond verkry om die twee hoofstrate te verbind en is die straatjie heel gepas Sentraalstraat genoem.
Kerkplein: sentraal
Kerkplein was oorspronklik die Marktplein (markplein). Kommandant-generaal (later: president) M W Pretorius het die plein laat uitlê met die oog op markgeriewe en 'n kerk.
William Skinner het die werk in 1854 gedoen met die hulp van die Devereux-broers, Louis en Lionel. Jan H Visage (na wie Visagiestraat vernoem is) het in 'n administratiewe hoedanigheid gehelp.
Die eerste kerk op die plein is in 1857 ingewy en die perseel is in 1867 aan die kerkowerheid oorgedra. Die eerste kerk is in 1865 vergroot en in 1883 is dit deur 'n groter kerkgebou vervang wat bekend gestaan het as Franken se kerk. Nadat pogings tot vereninging van die Nederduitsch Hervormde Kerk en die Nederduits Gereformeerde Kerk misluk het, ontwikkel probleme oor die eiendomsreg van Kerkplein. Om hierdie probieem op te los, besluit die Transvaalse regering in 1898 om Kerkplein teen £50 000 te koop. Die geld is toe tussen die twee gemeentes verdeel. Die Nederduitsch Hervormde Kerk bou hierna sy nuwe kerk in Du Toitstraat en die NG Kerk bou die Grootkerk, ook bekend as die Bos- manstraatkerk, op die hoek van wat later Bosmanstraat was, en Vermeulenstraat. (Die oudste kerkgebou in Pretoria, die sogenaamde Krugerkerk van die Gereformeerde gemeente, is in 1896 gebou.)
In 1906 het die oorspronklike kontrakteur die kerk op die plein afgebreek en die koloniale regering het die plein aan die Stad Pretoria oorgedra.
Twee here het hulle beywer om die Plein behoorlik te laat beplan deur die skema in De Volksstem, 'n plaaslike koerant, te adverteer en bekend te stel. Hulle was dr Frans Vredenrijk Engelenburg (1863-198), joemalis, kultuurleier en redakteur, later eienaar van De Volksstem, en W J de Zwaan, argitek.
Vir die ontwerp van die latere plein is 'n kompetisie in 1912 uitgeskryf. Die wenontwerp is ingestuur deur V S Rees-Poole, 'n bekende plaaslike argitek wat sy ontwerp gebaseer het op dié van Trafalgarplein (suidekant) en die Place de la Concorde. Die koste is beraam op £36 000 en die kontrakteur was M G van R Mostert. Dr F V Engelenburg was betrokke by die ontwerp van die stadswapen op die pilare by die suidelike toegang tot die plein.
Kerkstraat: sentraal
Kerkstraat is ongeveer 12 km lank. Die gedeelte tussen Colbyn in die ooste tot by Atteridgeville in die weste word beskou as die langste reguit straat in die land. Dit is duidelik dat die strate in die sentrale deel van ou Pretoria breër is as ander strate. Die landmeter, Andries Francois du Toit, het opdrag gekry om die strate breed genoeg uit te lê sodat 'n wa met 'n vol span van 16 osse 'n U-draai daarin kon maak as dit nodig was.
Clarastraat: sentraal
Hierdie straat is in die minder bekende voorstad, Mareville. Dit is vernoem na Clara Tulleken, vrou van Paul Maré, eertydse prokureur-generaal. Paul Maréstraat is in 1929 na Jacob Maréstraat verander.
Clara E J Maré, gebore Van Hoogenhouck-Tulleken, is in Maart 1915 in die ouderdom van 64 jaar oorlede.
Vervolg...