COVID-19 SIMPTOME

Alhoewel elke persoon se simptome in ‘n mate sal verskil, is dit tog goed om te weet hoe ander wat die griepvirus opgedoen het, dit ervaar het.

‘n Britse politikus, die 62 jarige Nadine Dorries, en ‘n mediese dokter in Brittanje, die 60 jarige Clare Gerada, het onlangs van die Covid-19 virus herstel. Beide maak daarop aanspraak dat hulle normaalweg fikse en gesonde vroue is.

Nadine vertel dat sy in die begin effens sleg gevoel het maar baie gou koors ontwikkel het. Sy het ook nagtelike sweetsessies deurgeworstel tot op die punt waar sy water uit haar beddegoed kon druk. Haar aanhoudende droë hoes, seer oë, bitter pynlike spiere en lyf het haar laat besef dat sy die virus onder lede het. Nou, na haar herstel, is die hoes nog nie heeltemal oor nie en voel ook haar longe of dit nog nie volkome herstel het nie. Maar, sy is op die pad na volkome herstel.

Dr Clare Gerada het vanaf ‘n konferensie in New York afgekom toe sy baie moeg begin word het. Eers het sy gedink dat dit uitputting agv die vlug was maar kort daarop het sy ‘n koors van 39c gekry en besef dat dit die virus moet wees. Sy het die volgende vyf dae in die bed gebly met koors, ‘n droë hoes, seer keel, erge hoofpyn en spierpyne veral in die bors agv die aanhoudende hoes. Ook het haar eetlus heeltemal verdwyn soos met baie ander pasiënte gebeur het.

Die drie hoofsimptome van COVID-19 is:

  • Koors
  • ‘n Droë hoes
  • Te kort aan asem

Hierdie drie simptome verskyn gewoonlik tussen twee en veertien dae na blootstelling soos met enige griepvirus.

Die meerderheid mense voel vir sowat sewe dae lank of hulle ‘n erge griep onderlede het want hulle het, en dan begin hulle herstel.

Die minderheid mense is gewoonlik diegene met hartsiektes, asemhalingprobleme, diabetes, hoë bloeddruk en kanker. Hulle ontwikkel meesal ernstiger probleme en moet dringend mediese noodhulp ontvang.