"POLITIEKE VLUGTELINGE" NA EUROPA

Die internasionale nuus in alle media is die afgelope maande oorheers deur die derduisende "politieke vlugtelinge" wat glo uit die Midde-Ooste en Noord-Afrika na Europa vlug.

Duitsland alleen het verwag dat daar net in 2015 sowat 800 000 vlugtelinge sy grense sou oorsteek. In Oostenryk was dit in Augustus van daardie jaar reeds meer as 100 000. Ander lande, soos Hongarye, skop vas en is selfs besig met die bou van 'n heining om hierdie strome vlugtelinge te keer.

In die meeste Europese lande is die instroming van immigrante uit Noord Afrika en die Moslemwêreld deesdae by verre die belangrikste saak op die agenda van alle politiek. Dis 'n kwessie wat sogenaamde "regse" partye vinnig laat veld wen in Europa. Maar die meeste lande wat deel is van die Europese Unie se regerings aanvaar maar gedweë dat hulle 'n "morele plig" het om hierdie vlugtelinge tussen hul eie mense te vestig.

Soos altyd is daar weer 'n groot mate van misleiding oor die vlugtelinge. Die media speel weer met die emosionele kwessies en wys gewoonlik in hul beeldmateriaal en foto's net die "gesinne" wat ontberings moet deurmaak om van die "oorlog" of "vervolging" in hul eie lande weg te kom.

Foto's van gesinne wat hand aan hand deur grensdrade kruip of van klein bootjies af land toe swem of wat in kampe gehuisves word is algemeen. Feit is egter dat vroue en kinders by verre in die minderheid is as die groottotaal "vlugtelinge" in ag geneem word. Wat die media natuurlik nie altyd wys nie, is die derduisende jong Moslem mans wat op groot stoombote oor die Middellandse see trek om Europa binne te stroom.

Ander kom uit die Ooste landwaarts oor Oos-Europa. Geert Wilders, sogenaamde "verregse" leier van die Nederlandse 'Party vir Vrijheid' is skynbaar een van die min nugter leiers in Europa. Hy het onlangs 'n ernstige beroep op sy land se regering gedoen om nie hul oë te sluit vir die ware krisis wat met die verwelkoming van vlugtelinge geskep word nie. Hoewel Wilders se party tans nie deel is van die Nederlandse regering nie, het steun vir hom so geweldig gegroei, dat meningspeilings in Nederland reeds aandui dat dié party tans die gewildste in dié land is.

Wilders het die vlugtelingkwessie reguit 'n "Islamitiese inval in Europa" genoem. Hy het daarop gewys dat die "vlugtelinge" oorheers word deur jong mans in hul twintigs en dat hulle arrogansie nie getuig van die slagoffers van oorlog wat dankbaar is om deur ander nasies gehelp te word nie. Wilders het daarop gewys dat duisende van dié jong mans reeds in lande in Europa drukgroepe begin vorm het en dat dit 'n algemene gesig is om hulle in die strate te sien met hul vuiste omhoog, terwyl hulle die Islamitiese slagkreet "Allah Akbar!" = "God (Allah) is die grootste!" uit volle bors saamskree.

Ook in Hongarye was daar enkele nugter denkers wat gewaarsku het teen die "vlugtelinge". Laszlo Kiss-Rego, 'n Katolieke biskop in Hongarye, is deur die media as 'n "ekstremis" uitgekryt en daar is gesê sy uitsprake kan dalk die "dialoog" tussen die Christendom en Islam verongeluk. Kiss-Rego se groot sonde was dat hy, soos Wilders, openlik verklaar het dat dit wat nou in Europa gebeur, niks anders as 'n Islamitiese inval is nie.

Intussen was daar berigte dat derduisende jong Moslem mans (tot 'n derde van die wat Duitsland binnekom) uitgevang word dat hulle lieg oor hul herkoms. Volgens hul amptelike getuienis kom hulle uit die oorloggeteisterde Sirië, maar hulle is inderwaarheid afkomstig uit ander lande soos Libië, ander Midde-Oosterse lande of selfs Turkye en Moslemlande verder oos op die wêreldkaart, vanwaar hulle via Turkye en die Balkanstate instroom.

Wat ons dus hier voor ons oë op ons TV-skerms en in die media sien plaasvind, is die grondlegging van 'n krisis in Europa, waarvan die uiteinde ingrypende veranderinge in die mag en krag van die "Christelike Westerse Wêreld" kan veroorsaak. Dit is al in die media Europa se "grootste krisis sedert 1945" genoem en in 'n onlangse artikel maak Leopold Scholtz in Beeld die volgende baie betekenisvolle gevolgtrekking hieroor: "Wat Europa tans meemaak, is niks minder nie as 'n tweede Völkerwanderung, die naam wat geleerdes gee aan die yslike volksverskuiwings wat Europa teen die einde van die Romeinse tyd oorspoel het. Tensy sake taamlik gou verander, gaan dit die Europese bevolkingsamestelling onherroepelik wysig".

Hierdie gebeure bewys weer hoe vinnig dinge oor die wêreld heen kan verander. As die tendens voortduur sal dit verrykende gevolge vir die politiek en die ekonomie van die Europese Unie inhou. Binne een geslag kan Wes-Europa se rus en vrede vernietig word, met enorme gevolge vir die res van die wêreld. Ons leef inderdaad in interessante, maar ook angswekkende tye wat elke Afrikanernasionalis se geloof en beginsels sal toets.

Hierdie artikel word geplaas met erkenning aan die Afrikaner Nasionalistiese Beweging.