HOE NABY AAN ‘N KERNRAMP IS DIE WÊRELD?

Jeanette Koekemoer

14 *Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle *dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede. (2 Pet. 3:14)

Die Bulletin of the Atomic Scientists is ‘n onafhanklike, nie-winsgewende organisasie wat fokus op drie belangrike punte naamlik kerngevaar, klimaatsveranderinge en ontwrigtende tegnologie. Hulle glo dat hulle ‘n rol kan speel om die negatiewe aspekte in bogenoemde te verander na ‘n positiewe werklikheid.

Die Bulletin of the Atomic Scientists het ‘n oordeelsdag horlosie. Die horlosie het internasionaal die aanwyser geword van die omvang van wêreldkatastrofes met betrekking tot kernwapens, klimaatsveranderinge en tegnologiese krisisse.

Die organisasie het die horlosie in 1947 die eerste maal ingestel deur dit op sewe minute voor middernag te stel. Middernag is veronderstel om die begin van die Slag van Armageddon en die begin van die einde van die wêreld aan te dui wanneer daar met bloedvergieting, swael, vuur, en sekerlik kernwapens, vernietiging van die aarde sal plaasvind.

35 *Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.

36 MAAR van *dié dag en dié uur *weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, *maar net my Vader alleen. (Matt 24:35-36)

In 1953 het hul die horlosie aangeskuif na twee minute voor middernag toe die Verenigde State ‘n waterstofbom getoets het. In 1963 is die horlosie teruggeskuif na twaalf minute voor middernag toe die VSA en die Sowjet-Unie ‘n ooreenkoms onderteken het wat die toetsing van kernwapens beperk het. Dit was die “gedeeltelike-toetsverbod-verdrag”.

In 1984 is die horlosiewysers verskuif na vier minute voor middernag nadat die twee supermoondhede sterkter kernvermoë ontwikkel het. In 1991 is die horlosie teruggeskuif na sewentien minute voor middernag toe die Strategic Arms Reduction Treaty (START) onderteken is. Die horlosie is op 8 Desember 1995 na 14 minute voor middernag gestel. Die redes daarvoor was:

  • ·Vier jaar nadat START onderteken is, besit die VSA en Rusland saam meer as 35 000 strategiese en taktiese kernwapens.
  • ·Geen nuwe ooreenkomste om wapens te verminder was aan die gang nie. Die inwerkstelling van START II en die toekoms van die Anti-Ballistic Missile Treaty was in die weegskaal.
  • ·Die regering van die VSA was nie so seker dat Rusland nie weer sal herrys nie. Dit het gelyk of ‘n vyandelike verhouding dalk kop kan uitsteek nadat die VSA nie daarin kon slaag om Rusland in die gemeenskap van demokratiese nasies te integreer nie.
  • ·In Rusland het nasionaliste sterk weerstand gebied teen die vermindering van kernwapens.
  • ·Buite die grense van die VSA en Rusland was daar ‘n paar state wat in die geheim kernwapens begin najaag het. Daar was wesenlike gevaar dat terroristegroepe kernwapens kon bekom. Meer as ‘n duisend ton wapens van hoëgraadse uraan en plutonium wat genoeg was om tien duisende bomme mee te maak, is toe geberg, baie daarvan met ontoereikende beveiliging.
  • Pogings om chemiese en biologiese wapens uit te skakel, is toe nog nie deur die VSA en Rusland goedgekeur nie.

So is die horlosie vir dieselfde soort redes elke jaar later weer al nader aan middernag geskuif. In 2017 is die wysers nog ‘n half minuut nader aan middernag geskuif waarskynlik as gevolg van die gebrekkige benadering in erns teenoor kernwapens en klimaatsveranderinge. Die wêreldleiers het gefaal om die gevare te verminder en het inteeneel, dit vererger met argelose verklarings, dreigemente en aksies. Daaraan was Donald Trump en Kim Jong-un aandadig met hul bombastiese dreigemente van ‘n kernaanval. In 2018 is die wysers van die horlosie weer op twee minute voor twaalf geskuif, die naaste wat dit ooit was.

Nou, in 2019, is dit duidelik dat die argelose retoriek omtrent die gebruik van kernwapens asook die chaos van die ecosisteem ‘n groot bedreiging inhou. Daar is selfs nou in 2019 ‘n volledige raamwerk opgestel waarvolgens landsburgers moet begin met ernstige herorganisering van hul omstandighede.

Intussen beywer en befonds instansies soos die Harris School of Public Policy by die Universiteit van Chicago, die MacArthur Foundation, die Carnegie Corporation van New York, die Holthues Trust, the Ploughshares Fund, die Sisyphus Supporting Foundation en nog ander, die Bulletin se Bestuursraad en organisasie om seker te maak dat die voordele van vooruitgaande wetenskap en tegnologie die lewe op aarde beter moet maak, nie slegter nie.

Die Raad van die Bulletin doen nou ‘n ernstige beroep op wêreldleiers se oordeel om suiwer waarnemings van die wêreldtoestande te maak en daarvolgens reg te reageer omdat hulle glo dat die wêreld tans in die grootste gevaar ooit verkeer.

Intussen bly die horlosie op twee minute voor twaalf, die naaste wat die wêreld aan ‘n kernoorlog was.

Hoe naby is ons werklik aan die Derde Wêreldoorlog?

10 Maar *die dag van die Here sal kom soos *’n dief in die nag,

waarin *die hemele met gedruis sal verbygaan en *die elemente sal

brand en vergaan, en *die aarde en die werke wat daarop is, sal

verbrand.

11 Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, *hoedanig moet julle nie

wees in heilige *wandel en godsvrug nie? —

12 *julle wat die koms van *die dag van God verwag en verhaas,

waardeur *die hemele deur vuur sal vergaan en *die elemente sal

brand en versmelt. (2 Pet. 3:10 - 12)