Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God het in die mens die sterkste krag op aarde geplaas - die krag van keuse en vrye wil. Die mens se lewe sou voortaan die produk van sy keuses wees. Soos hy besluit, sou sy lewe wees. As hy reg besluit, verloop sy lewe reg. As hy verkeerd besluit, dra hy die gevolge!
DIE MOORD OP DR.VERWOERD (1)
J.J.J. SCHOLTZ
Lees reeks by Die moord op dr HF Verwoerd
Op die Kruin
“Vandag gaan ’n geskiedkundige dag word,” het mnr. Koos Potgieter, hoofsweep van die Nasionale Party in die Volksraad, op Dinsdag, 6 September 1966, aan die man in die bank agter horn gesê.
Die volgende oomblik het dit ’n geskiedkundige dag geword, maar gans anders as wat mnr. Potgieter of wie ook al kon droom.
Dr. Verwoerd sou die dag praat. Die openbare galerye was stampvol en die Volksraadsaal het vinnig volgeloop. Daar was ’n duidelik merkbare gevoel van gespanne afwagting.
Die spanning het byna voelbaar toegeneem toe die Volksraad se klokkies om 2.10, soos op elke middag, begin lui om die lede van die Raad na die daaglikse openingsplegtigheid te ontbied.
Dr. en mev. Verwoerd was toe nog in hul motor op pad na die Parlementsgebou.
Vyf minute lank lui die klokkies gewoonlik. Daardie middag sou hulle na 2.15 nog eenstryk deur lui.
Dr. Verwoerd sou praat nadat hy ’n ruk lank buitengewoon swygsaam was. In die vyf weke wat sedert die begin van die Parlementsitting verloop het, het hy aan geen debat deelgeneem nie. Slegs twee keer het hy gepraat, en albei kere was dit kort, formele toesprakies. Die eerste keer was op 29 Julie, toe hy mnr. Henning Klopper met sy eenparige herkiesing tot Speaker gelukgewens het. Die ander keer was op 12 Augustus, toe hy ’n mosie van roubeklag oor die heengaan van mnr. Klopper se voorganger, regter J. H. Conradie, voorgestel het.
Die debat oor die gebruiklike wantrouemosie waarmee die sitting begin het (die keer as ’n mosie van sensuur ingeklee) het hy verby laat gaan sonder om iets te sê. Dit was die eerste keer dat hy as Eerste Minister dit gedoen het.
Vantevore het hy altyd daaraan deelgeneem en soms juis die geleentheid gebruik om ’n belangrike verklaring te doen. So was dit in 1959, toe hy die beleid van vrywordende Bantoetuistes aangekondig het, en in 1960, toe hy die besluit bekend gemaak het om ’n volkstemming oor die republiekwording van Suid-Afrika te hou.
In die kort sitting in die begin van 1966 het hy ook in die wantrouedebat ’n belangrike toespraak gehou: oor die Rhodesiese vraagstuk en die toekomsplanne van sy Regering en party.
Maar in die debat van Augustus 1966 het hy geswyg. Ook in die daaropvolgende begrotingsdebat, een van die groot debatte van enige sitting.
Die hele vyf weke lank het hy af en toe sy opwagting in die Raad gemaak, ’n ruk gesit en luister en dan weer na sy kantoor teruggekeer.
In die maande voor die begin van die sitting het hy ook min toe- sprake gehou. Party koerante het al oor die redes vir sy voortdurende swye begin gis.
Maar op Dinsdag, 6 September, sou sy begrotingspos, die pos Eerste Minister, in die Volksraad aan die beurt koin. Dan sou hy praat.
Die bespreking van die pos moes na regte al eerder plaasgevind het, maar dit is uitgestel omdat dr. Verwoerd ’n belangrike afspraak in Pretoria gehad het. Op Vrydag, 2 September, sou daar ’n ontmoeting plaasvind tussen hom en hoofman Jonathan, eerste minister van Basoetoland, wat die volgende maand as Lesotho onafhanklik sou word.
Dit was ’n geskiedkundige byeenkoms, die eerste ontmoeting op Suid-Afrikaanse bodem tussen ’n eerste minister van Suid-Afrika en die regeringshoof van ’n swart staat.
Die ontmoeting het die belangstelling vir wat hy Dinsdag in die Volksraad sou sê, laat toeneem. Daar is aangeneem dat hy verslag sou doen van wat tussen hom en hoofman Jonathan gebeur het, en na aanleiding daarvan nadere aanduidinge van sy beleid teenoor Swart Afrika as geheel sou gee. Verskeie ander sake sou ook bes deur hom bespreek kon word: die Rhodesiese krisis, die vraagstuk van Suidwes-Afrika, soos dit na die uitspraak van die Wêreldhof daar uitgesien het, die verhoudingsprobleem van Suid-Afrika, met besondere verwysing na die Kleurlinge, en nog meer.
Oor al die verwagtinge en die groot belangstelling het die Maandagmiddag ’n berig op die voorblad van die Cape Argus verskyn onder die dubbelkolom-opskrif “Verwoerd - Keen Interest”. In Die Vaderland het ’n berig op ’n binneblad verskyn onder die vierkolom-opskrif “Belangrike Verklaring van Premier Verwag”. En die volgende oggend het die hoofberig op die voorblad van die Natal Mercury oor dieselfde saak gegaan. “Verwoerd to Tell World” het die blad in ’n opskrif oor agt kolom gesê.
Maar dit was nie net die gedagte aan wat hy dalk kon sê wat mense na Dinsdag, 6 September, laat uitsien het en op daardie dag in groot getalle na die Volksraad laat gaan het nie. Die Verwoerd-figuur alleen was al genoeg om mense se verbeelding aan te gryp, want die man het die politieke toneel in Suid-Afrika oorheers soos geen ander voor hom nie.
Hy was op die kruin van sy lewensgolf.
Op 30 Maart het die party waarvan hy die leier was in ’n algemene verkiesing die grootste oorwinning in die politieke geskiedenis van Suid-Afrika behaal.
Op 31 Mei was hy die hooffiguur by die groot republiekfees in Pretoria, waar ’n ongeewenaarde wapenskou plaasgevind het - ’n demonstrasie van die militêre mag wat Suid-Afrika onder sy leiding opgebou het.
Op 18 Julie het die Wêreldhof in Den Haag uitspraak gedoen in die Suidwes-saak - ’n triomf nie alleen vir Suid-Afrika en die regspan wat ons saak daar gevoer het nie, maar ook vir dr. Verwoerd, wat daarop gestaan het dat die saak end-uit betwis moet word toe andere uit vrees vir ’n nederlaag wou kop uittrek.
Hy was soos ’n generaal wat sy leer deur ’n gevaarlike bergpas gelei het tot op die rand van ’n oop vlakte waar hy sy volle mag sou kan ontplooi.
Hy was ’n leier wat nie alleen strategie bepaal het nie, maar sy aandag ook aan die geringste besonderhede geskenk het. Dit moes iets nietigs gewees het wat onopgemerk aan hom verbygegaan het, ’n onbelangrike besluit waaraan hy nie in een of ander stadium deel gehad het nie.
Sy mense het hom graag laat besluit, hulle onderwerp aan sy groot intellektuele vermoë en oorredingskrag waarteen min mense bestand was.
En hulle het hom op die hande gedra. Op 30 Mei nog is hy gehuldig deur die toekenning van die Hendrik Verwoerdprys, wat ingestel is nadat hy in 1960 aan die eerste aanslag op sy lewe ontkom het. Dit word jaarliks toegeken aan iemand wat op enige terrein groot diens aan Suid-Afrika gelewer het.
Hy was die tweede man wat die prys, ten bedrae van R 10,000, ontvang het. Die vorige jaar is dit aan dr. M. S. Louw toegeken vir sy bydrae tot die ekonomiese opkoms van die Afrikaner. Aan dr. Verwoerd is dit toegeken vir sy bydrae tot die republiekwording van Suid-Afrika. Hy het gevra dat die R 10,000 weer belê moet word en dat die rente daarop gebruik word vir ’n beurs vir nagraadse studie in die geneeskunde. Hy doen dit, het hy gesê, uit erkentlikheid teenoor die mediese beroep, gedagtig aan sy herstel na die aanslag op sy lewe in 1960.
lets meer as drie maande later het die tweede aanslag gekom. Toe kon geen geneesheer nog iets doen om sy lewe te red nie.