VOLKSREGERING (40)

Dirk  Denker

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

AFRIKANERVROU

Die Tagtigjarige Oorlog van die klein Nederlandse volk teen die Spaanse Ryk is een van die merkwaardigste gebeurtenisse in die geskiedenis. Die belangrikste lesse uit die lang stryd te leer, is die vurige patriotisme, beslistheid, leeuemoed en die morele waarde van die Nederlandse vrou om onafhanklikheid (apartheid) vir Nederland te herstel. Dit was die moeders wat hul seuns van die vroegste jare af geleer het om al hulle kragte in te span, om alle moontlike pogings aan te wend om die vyand te dwarsboom en nie te rus voor die juk van hul nekke afgewerp is nie. Die mans is ondersteun om vir hulle eie aparte volk te veg. Duisende moeders en dogters het kragdadige grootse werk in stilte gedoen.

 

Die Nederlandse vroue het die mans en broers met nuwe moed besiel en met vasberade morele invloed die manne aangespoor om tot die dood toe te volhard en te oorwin. Dit was sommige van hierdie apartheidgesinde vaderlandliewende vroue wat minder as vier jaar later saam met Jan van Riebeeck na die Kaap gekom het.

Toe die HOIK later besef dat Kaapland uitermate geskik was vir 'n volksplanting en dat Tafelbaai 'n vername strategiese punt geword het, het hulle volkvaste Hollanders aangemoedig om daarheen te verhuis. Een voorwaarde was dat hulle persone van onbesproke karakter en sedelike gedrag moet wees, net soos Jan van Riebeeck. Ons stamouers was versigtig gekeur om karaktervas en meelewend te wees.

Meeste inwoners in die Kaap was ongetroude mans en vyftig meisies van onbevlekte karakter is uit Holland gestuur. Daardie meisies was uit die kamp van die moeders wat hulle geleer het om onafhanklik te wees, kragdadig, beginselvas en eerbaar. Ook Franse en Duitsers wat Kaap toe verhuis het, was veral deur hulle vroue aangemoedig en ondersteun om hul vaderland te verlaat ter wille van hulle gewetens en vaste beginsels. Hier het hulle Afrikaners in woord en daad geword en die apartheidbeginsel saamgebring waar dit goed ingepas het.

Die Voorsienigheid het dit so beskik dat die land waar die Afrikanervolk tot stand gekom het, so bevoorreg en geseënd was deur die inkoming van die beste en edelste bloed van karaktervaste families. Die vroue was in morele reinheid, innerlike waarde en godsdienstige vrug hoogstaande. Hulle het die mans telkens opgebeur. Aan die knie van die moeders het die seuns en dogters die beginsels en leefwyse ingedrink wat soos 'n suurdeeg sou werk deur ons volk se hele geskiedenis. Die eienskappe wat die moeders veral op hulle seuns en dogters afgeprent het, was sindelikheid, eerlikheid, beslistheid, godsvrug, vaderlandliefde en eerbied vir vader, moeder en ouer persone met geloof in hulle voorouers. Die kinders is geleer om Afrikaners te wees en dadelik die nuwe vaderland as hulle tuiste te aanvaar.

Dit was die vroue wat 'n merkwaardig onkeerbare volksgevoel laat ontwaak het. Die gevolg was dat daar by die seuns en meisies van hul vroegste jare af 'n sterk gevoel ontkiem het wat deur die geskiedenis 'n sterk invloed uitgeoefen het. Daardie vasberadenheid is nog vandag by ons vroue teenwoordig. Hulle veg vir hulle beginsels en taal en godsdiens en vryheid, selfs al raak sommige mans bedruk en stoepsitters sonder om die lig aan die einde van die tonnel te sien.

Trotse volkmoeders en dogters besef die geestelike waarde van volkseie.