VOLKSREGERING (30)

Lees reeks by VOLKSREGERING

Natuurlik   –   Doelmatig

Beskrywing  van  die  enigste regverdige  politieke  bedeling

vir  enige  volk,  hetsy klein  in  getalle  of  groot

Dirk  Denker

WAARDE  VAN  GELOFTES

Bepaalde volkgroeperinge in Suid-Afrika verkondig graag dat die swart volkere eerste na Suid-Afrika gekom het en dus die wettige  "eienaars"  van Suid-Afrika is. Wat hulle versuim om te sê is dat Suid-Afrika as 'n staat voor en ook lank na Jan van Riebeeck se vestiging van 'n halfwegstasie, nie bestaan het nie. Suid-Afrika het eers in 1910 tot stand gekom. Daar kan dus geen aanspraak op  "eiendomsreg"  van die hele Suid-Afrika deur enige volk gemaak word nie. Die Voortrekkers het ook nie. Die voorste swart volk (Kôsas) wat langs die ooste suidwaarts getrek het, was in 1652 ver meer as 1 000 kilometer van die Kaapse skiereiland af.

Dit was eers meer as 100 jaar later wat die suidtrekkende Kôsas en die Trekboere mekaar naby die Kei-rivier ontmoet het. Watter reg het enige swart volk om op die deel selfs wes van die Visrivier aanspraak te maak?

Botsings het gou gekom omdat niemand terugwaarts wou trek nie en die Kȏsas vorentoe gebeur het in die reeds besette grondgebied in. Soos algemeen bekend, kan twee volke met uiteenlopende eie tale, beginsels, lewensbeskouing, denk– en lewenswyse in geen omstandighede saamleef nie. Daar sal altyd struwelinge wees, soos tans ook, daarom het die Trekboere in samewerking met Nederland en later met die Engelse regering die Visrivier as 'n vreedsame en gepaste grens beskou. Die Kôsas het egter voortdurend die grens oorgesteek en onrus het gevolg.

Met verwysing na grond onregmatig in besit neem, Engeland het die Kaap in 1806 sommer net eensydig geannekseer en later die Oranje Vrystaat en Transvaal. Daarna het Engeland die Vrystaat en Transvaal in 1902 na 'n aardeverskroeide oorlog gegryp. Hiervan word selde melding gemaak, want dit was die Afrikaners se geskiedenis en nie die swartes s'n nie.

Alle Afrikaners ken ons geskiedenis. Die Voortrekkers het besluit om vredeliewend om die Kôsas te trek en Natal binne te gaan. Hier het hulle in vrede met die Zoeloes onderhandel om hulself binne bepaalde grense te vestig wat onbewoond was en waartoe Dingaan ingestem het.

Maar ons kyk na die waarde van die Voortrekkers se gelofte. Die Zoeloes se sterk mag het die Kôsas al verder suidwaarts gedryf totdat hulle die Kei-rivier bereik het. As die Voortrekkers die Zoeloes nie by Bloedrivier gestuit het nie, maar die aftog moes blaas of liewer padgegee het, sou die klein getal blankes in Natal, onder meer die Engelse, in die mag van die Zoeloes wees. Hulle getalle sou te yl wees om weerstand te bied.

Met hulle oorwinnings sou die Zoeloes voortbeweeg en voortgaan om die Kôsas vorentoe te dryf totdat hulle die ylbewoonde Oos-Kaap (omdat die grensboere getrek het) heeltemal beset het en verder tot by Kaappunt. Die Zoeloes wou 'n eie volk wees, het die ander volke uitgedelg en so apartheid verkeerdelik gewelddadig toegepas. Hou in gedagte dat Engeland Natal eers geannekseer het nadat die Voortrekkers die Zoeloes se mag gebreek het. Sonder die Voortrekkers het hulle nie daarvoor kans gesien nie.

Dit was immers die gang van die geskiedenis. Die blanke inwoners in die Wes-Kaap sou dan regstreeks in die spervuur wees. Hulle sou moes vlug of tot die Kaapse Skiereiland beperk word. Die Here het egter tussenbei getree deur die Voortrekkers die oorhand oor die Zoeloes te laat kry en daarom is die gelofte op alle Afrikaners en ander blankes van toepassing, ook op die Wes-Kapenaars. Buitendien, waar 'n groep volkgenote so verraderlik behandel is, is dit 'n eerbare natuurlike drang van ander volkgenote om hulle summier te onderskraag. Dit is byvoorbeeld waarom die Vrystaters die Transvalers in die Vryheidoorlog van 1899 – 1902 te hulp gesnel het.

VOLKSVERKLARING  –  9 September 1939

(genl Hertzog, dr Malan, Totius)

Na die skeuring tussen dr Malan en genl Hertzog toe genl Herzog met genl Smuts saamgesmelt het, het genl Hertzog en dr Malan weer herenig en besluit om 'n volksverklaring uit te reik om saam met volkgenote hande te vat en nie weer verdeeld te raak nie. Totius het dit opgestel.

"In hierdie plegtige stond waarin die lug om ons heen van aandoening tril, waarin die gewaad van lof u benoude gees vervang, waarin die Heilige vuur sy vonke van siel op siel laat oorspat, waarin ons nog geen jaar later nie op dieselfde plek staan waar ons as nasie saam verbonde gestaan het, maar nou nie meer met 'n WENS in ons hart nie, maar met die DAAD van volkseenheid voor ons oë in hierdie stond, waarin ons met onuitspreeklike dankgevoel erken en bely dat die heerlike God alleen die Wakkerskudder van ons nasie is, wens ons te verklaar dat die God van ons Vaders aan ons regte Verordeninge en betroubare Wette gegee het. Maar ons moet ook verklaar dat ons as volk daarvan afgewyk het, met die gevolg dat ons almal nie alleen ons hoë volksroeping versaak het nie, maar ook tot ons straf, onder mekaar getwis het.

Gedagtig aan die trou van Hom wat ons nooit verlaat nie, maar ons nog steeds op die regte pad van Suid-Afrika bewaar het, is ons gebed dat Hy aan ons volk die kennis van sy weë mag leer soos dit bewandel moet word in ons persoonlike, huislike en openbare lewe.

Tewens wens ons met hierdie verklaring ons begeerte te openbaar en te beseël dat ons verlang om ons volk te dien, tot opbou en nie tot neerwerping nie, en dat ons mekaar se hand gryp op die pad van Suid-Afrika om dit nooit weer los te laat nie. Dit verklaar ons plegtig met die opheffing van ons hande."

Hierna het die sowat 70 000 volkgenote met die opheffing van die hande hulle onderneming bekragtig. (Bron: Die Transvaler, 11 September 1939. Meer as 70 000 Afrikaners jubel oor hereniging van volk.)

Dit was nie net die teenwoordige 70 000 volkgenote wat hande opgesteek het nie. Baie meer mense het voor hulle radio in gees hande opgesteek en beriggewers van koerante het die boodskap wyd uitgedra. Hierdie volksverklaring was baie naby aan 'n gelofte omdat die Here ook in die saak geken is. Daarom moet ons 9 September as 'n Afrikanerdag gedenk.