GROND- ONTEIENING

Meinhard Peters

                                               Lees meer by OORSIG EN REPLIEK                           

Skryf in vir die gereelde gratis volledige uitgawes by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

Vlaag van grondbesettings: diefstal van eiendom

Cyril Ramaphosa het weliswaar die onlangse vlaag van grondbesetttings veroordeel. Dit is egter heeltemal onvoldoende, komende van die regering wat pas die konfiskering van grond as beleidstuk vir die verkiesing van 2019 aanvaar het en bereid is om die grondwet te wysig om dié beleid toe te pas. Terselfdertyd het Ramaphosa saam met Winnie Mandela gevra dat Julius Malema moet terugkeer na die ANC, dit terwyl Malema bekend is as die voorste agitator vir die beslaglegging van blankes se plase en eiendomme. Die belaglikheid van Ramaphosa en Winnie Mandela se uitnodiging aan Malema is onderstreep toe hy die versoek met groot vermaak verwerp het. Deur sy agitasie voort te sit het hy die ANC in ’n dubbele greep: die ANC wil sy stemme terugkry, maar sal dit alleen kan kry (of hoop om dit te kry) indien die ANC na die pype van die EFF dans. Hierdie taktiek is Malema se sterkste hefboom, baie sterker as wat ’n betaalde pos in die regering vir hom ooit kan beteken. Hy besef dit blykbaar baie goed.

Besettings en plakkery

Die besetting van eiendomme oor die naweek van 10 en 11 Maart 2018 was klaarblyklik ’n georganiseerde onderneming, toegespits op eiendomme in Pretoria in en die omgewing van Johannesburg. Dit het aan die lig gekom dat swartes van ander dele van die land gratis standplase aangebied is, standplase wat inderdaad afgemeet en oorhandig is. Hulle het in konvooie opgedaag en honderde hutte begin oprig met skrootmateriaal. Die grondbesetters het verklaar dat hulle dit gratis ontvang het en die reg daarop verkry het. Dié besettings beteken net een ding: die radikale faksies soos die EFF en andere sal voortgaan om die regstelsel te verontagsaam, om die regering te druk vir groter toegewings en om probleme vir blanke eienaars te veroorsaak. Die oogmerk van die besetters is allereers ‘n sielkundige een: om vrees vir grondbesetting op te jaag en eienaars onder die indruk te bring van hoe maklik grond afgeneem kan word.

Die feit dat plaaslike owerhede en nie die nasionale polisie die plakkerprobleme moet oplos, beteken dat die reaksies in verskillende gebiede baie verskil; die polisie was in gevalle traag om op te tree omdat hulle dit aan die metropolisie oorlaat. Daar moet verwag word dat die besettings in verskillende dele van Suid-Afrika herhaal sal word.

Die gebeure sal vir Ramophosa se regering ’n groot politieke kopseer word. Aan die eenkant verwag die ekonomiese wêreld van hom om die ekonomie terug te bestuur na “normaal”. Die gradeerders van Suid-Afrika se status hou hom met valkoë dop. Sy politieke profiel is gebou op die verwagting dat hy die Zuma-verrotting sal omkeer. Aan die ander kant staar hy anargie in die gesig met die belofte dat grond onteien sal word sonder vergoeding en dat die grond sogenaamd “aan die mense teruggegee sal word”.